Die Sewe Feeste. Johan Malan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Malan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316011
Скачать книгу
die Sabbat, en gebruik ook net Hebreeuse name vir die Here. Hierdeur stel hulle die verlossing en vryheid wat hulle in Christus het, in gevaar.

      ’n Terugkeer na die wet kan hoogs nadelige gevolge in mense se geestelike lewe hê. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal 5:4). Indien Jesus Christus nie meer die absolute sentrum van ons lewe is nie, kan groot probleme intree. Mense wat onder die Nuwe Verbond van die Messias leef, is nie onder die wet nie maar onder die genade (Rom 6:14; 10:4). Die Messias het nie die wette en feeste afgeskaf nie, maar vervul (Matt 5:17).

      Wat die simbool van die olyfboom in Romeine 11 betref, moet daarop gelet word dat dit in werklikheid net die takke is wat die volk Israel voorstel. Hulle is weens ongeloof afgebreek, en ons is beslis nie in die afgebreekte takke ingeënt nie! Israel het sy oorsprong uit God, daarom verwys die wortel van die Olyfboom na God wat die belofte van die Messias aan hulle gegee het. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die wortel en geslag van Dawid” (Op 22:16). Hoewel Hy as ’n mens in die koninklike familie van Dawid gebore is, is Hy ook die Wortel, of Oorsprong van Dawid asook die wortel van Israel as die uitverkore volk.

      Abraham, as die stamvader van Israel, is slegs belangrik omdat hy ’n geloofsverhouding met God gehad het as sy geestelike anker: “En hy [Abraham] het in die Here geglo; en Hy het dit hom tot geregtigheid gereken” (Gen 15:6). Die diep betekenis wat die wortel vir Israel en die nasies inhou, is nie die Joodse volk wat van Abraham afstam nie, en ook nie hulle wette en rituele nie, maar die Messias wat uit hierdie volk gebore is. Jesus is die Saad van Abraham, daarom kon Hy vir die Jode sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh 8:58). Dit is die rede waarom God aan Abraham gesê het: “… in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen 12:3). Die Messias, wat die Verlosser van die hele wêreld is, sou uit Israel gebore word. Paulus verwys na die groot betekenis van die Messias se kruisiging: “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Gal 3:14).

      Christus is die bron van alle seëninge, en omdat Israel Hom verwerp het, het hulle oor die hele aarde verstrooid geraak. Slegs nadat hulle weer met Hom herenig is, sal hulle in die Olyfboom teruggeënt word waarin ons reeds is (Rom 11:23–26). Dan sal hulle in die Messias ’n seën vir alle nasies wees (Rom 11:11–12). Ons moenie probeer om hulle nou na te boots nie, maar slegs aanhou om in die Messias se voetspore te volg. Ons moet hulle jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien. Ons moenie hierdie opdrag nietig maak deur te probeer om Israel se guns te wen deur aan kulturele en godsdienstige aktiwiteite deel te neem waarin Jesus Christus nie duidelik en openlik as die Messias van Israel erken word nie.

      Wat die vervulling van die laaste drie feeste aan die einde van die oesseisoen betref, het ons veel meer inligting in die Nuwe Testament oor gebeurtenisse wat verband hou met die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk op aarde, as wat in die Ou Testament se oesfeeste geopenbaar word. Ons moet hierdie profesieë bestudeer en ’n aktiewe verwagting op sy wederkoms opbou, eerder as om op die onderhouding van Ou-Testamentiese tipes ingestel te wees. Hoewel ons baie uit hierdie tipes kan leer, kan hulle nooit met die meer konkrete Nuwe-Testamentiese openbarings vergelyk word nie.

      VERVULLING VAN DIE WET

      As ons gewortel en gegrond is in die liefde van Christus sal ons sy goddelike liefde, wat alle kennis oortref, ten volle begryp sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef 3:17–19). So ’n persoon sal nooit terugkeer na die elementêre beginsels en skaduagtige gebruike van die Ou-Testamentiese wet nie omdat hy wat werklik liefhet, die wet vervul het (Rom 13:8–10). Hy staan voor die uitdaging om uitvoering aan die meer verhewe eise van God se liefde te gee, soos die navolging van Christus, vervulling met die Heilige Gees, volkome heiligmaking, aanhoudende gebed, wêreldevangelisasie, die verkondiging van die Woord by elke geleentheid, die verwerping van die verdorwe beginsels van ’n vervalle wêreld, en betrokkenheid by geestelike oorlogvoering deur die volle wapenrusting van God aan te trek en elke gedagte tot die gehoorsaamheid aan Christus gevange te neem. Die Ou-Testamentiese wet kom nie eers naby aan die bevordering van sulke Christelike deugde nie.

      Ons word nie van sonde oortuig deur die Tora nie maar deur die Heilige Gees wat ons Leidsman en Leermeester is. Die standaard waarteen ons gemeet word, is nie die wet nie maar die sondelose lewe van Christus. Die maniere waarop ons uitvoering gee aan sy wet van die liefde bepaal die aard van ons geestelike lewe. Ons gehoorsaam slegs die enkelvoudige gebod van die liefde, alhoewel dit baie verskillende toepassings het. Jesus het aan sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh 13:34). ’n Veranderde hart is nodig om aan hierdie opdrag gehoor te kan gee, en dit is presies wat die Heilige Gees vir ons kom doen het (Rom 5:5).

      Op ’n soortgelyke wyse bestudeer ons die Ou-Testamentiese feeste om beter te kan verstaan hoe ons onsself aan God moet toewy en Christus daagliks beter te kan dien. Dit word gedoen sonder om die feeste van Levítikus 23 in hulle oorspronklike vorm te vier. Ons let op hulle tipologiese en profetiese aard en ondersoek dan die Nuwe Testament om te sien hoe die eerste vier feeste vervul is, en ook om vas te stel hoe die laaste drie vervul gaan word. Hoewel nuwe aspekte van God se plan vir die mensdom openbaar word, bly sekere beginsels, asook sy basiese program, onveranderd.

      Die Sabbat is diep in die hart van Judaïsme gevestig en is ’n sentrale deel van die Joodse lewe. Die Sabbat en die besnydenis is twee belangrike kenmerke van Judaïsme. Niemand kan in die rabbynse sin as ’n ware gelowige Jood beskou word sonder dat hy beide onderhou nie. Sabbat beteken rus. Dit is by uitstek en spesifiek ’n Joodse rusdag wat deur God by Sinai aan die kinders van Israel gegee is deur sy dienskneg Moses … Die Sabbat is eksklusief Israel se erfenis wat onder die wet gegee is aan mense wat onder die wet is. Die nakoming van die Sabbat soos oorspronklik deur God bepaal is, veronderstel die bestaan van ’n heilige tempel, ’n priesterlike orde wat deur God ingestel is, asook ’n offerdiens (vergelyk Núm 28:9–10). Soos wat omstandighede vandag is, kan ’n Jood nie die Sabbat onderhou in sy Bybelse verband nie, omdat die noodsaaklike toestande vir die nakom van sulke voorskrifte nie bestaan nie. Wat die Jode vandag probeer onderhou is die rabbynse weergawe van die Sabbat. Dit is egter ’n aansienlik veranderde Sabbat en dit is selfs nog meer onmoontlik om dit streng na te kom.

      In die vroeë kerk was daar ’n hewige stryd teen die Judaïseerders wat geglo het dat nie-Jode wat Christene word, eers Jode moes word wat aan al die vereistes van die wet voldoen. Die hoofgroep het egter geglo dat Christene nie onder ’n verpligting teenoor die wet gestaan het nie. Op ’n spesiale vergadering van die apostels in Jerusalem is daar besluit dat gelowiges uit die nie-Joodse volke nie onder die wet is nie (Hand 15:1–29). Riglyne is gegee vir behoorlike morele gedrag, maar sonder enige melding hoegenaamd van die Tora en die Sabbat.


e-mail: [email protected]