Die belangrikste simboliese handeling, of skaduagtige gebruik, van die Joodse Pasga was die slag van die paaslam. Die konteks daarvan was die letterlike situasie van Israel se uitredding uit hulle slawerny in Egipte. Die teenbeeld hiervan is die offer van die Lam van God ter wille van die uitredding van mense uit hulle geestelike verlorenheid wat meegebring is deur die slawerny aan sonde. ’n Ander konteks van hierdie fees van bevryding was die viering daarvan in die lentemaand. Dit dui op die begin van ’n nuwe lewe onder God se sorg.
In die Fees van die Ongesuurde Brood word suurdeeg as ’n simbool van werklike sondes gebruik. Net die Messias se lewe was sondeloos volmaak, daarom is net Hy die vervulling van die simbool van ongesuurde brood. Hy skenk genade om sonde te kan oorkom.
Die Fees van die Eerstelinge het die oestyd in Israel ingelui. Dit was simbolies van die begin van ’n geestelike oestyd wat deur die Messias se kruisiging en opstanding uit die dood ingelui sou word.
Die Pinksterfees was ’n wydingsplegtigheid waarin brode wat van die eerste graan van die seisoen gebak is aan die Here gewy is, sodat die Here die volk kon heilig. Tydens hierdie fees word die ontvang van die wet by Sinai herdenk, maar dit was net ’n heenwysing na die uitstorting van die Heilige Gees, wat die woorde van die Here op die tafels van gelowiges se harte skryf.
In die jaarlikse siklus van sewe feeste is daar ’n gaping van vier maande tussen die lentefeeste en die oesfeeste in die herfs. By Israel was daar nog altyd ’n sterk bewussyn van die erns van die drie oesfeeste as ’n heenwysing na ’n ingryping deur God (tans én in die toekoms) om die regverdiges te beloon tydens Rosh Hashanah (die Fees van die Basuine), die onbekeerlike sondaars te oordeel tydens die sewe verskriklike dae wat op Rosh Hashanah volg, Israel te red tydens Yom Kippur (die Groot Versoendag) en die beloofde Messiaanse koninkryk in te stel tydens Sukkot (die Loofhuttefees).
In die lig van hierdie profetiese verwagtings begin daar reeds ’n maand voor die oesfeeste, op die eerste dag van die maand Elul, ’n tyd van verootmoediging en bekering in Israel. Dit duur 40 dae lank. Na 30 dae, op 1 Tisjri, breek die Fees van die Basuine aan, wat oor twee dae strek, en dit word deur die sewe verskriklike dae van intensiewe bekering gevolg wat beëindig word met Yom Kippur op 10 Tisjri, wanneer die hoëpriester versoening vir al die volk se sondes gedoen het. Indien die volk hulle grondig bekeer en guns in die oë van God gevind het, kon hulle uitsien na die sewende fees, Sukkot, wat ’n vreugdefees ná die finale insameling van die oes is.
Die geestelike boodskap van die Loofhuttefees (Sukkot) word só deur John Parsons2 van Hebrew for Christians verduidelik: “Uit ’n geestelike oogpunt stem Sukkot ooreen met die wete dat jou sonde vergewe is tydens Yom Kippur, terwyl jy ook terugdink aan God se wonderbaarlike voorsiening ná die verlossing uit Egipte. In ’n profetiese sin kyk Sukkot vooruit na die koms van Jeshua as Messias, wanneer al die volke na Jerusalem sal kom om die Here tydens hierdie fees te aanbid (Sag 14:16) … In die lig van wat Jeshua as ons Hoëpriester (Kohen Gadol) in die Nuwe Testament vir ons gedoen het, het ons nou toegang tot die hemelse tempel van God (Heb 4:16). Ons is lede van die tempel van sy liggaam.”
GROTER BEGRIP VIR DIE NUWE TESTAMENT
Vyf van die sewe feeste is eendaagse feeste: Paasfees, Fees van die Eerstelinge, Pinksterfees (Fees van die Weke), Fees van die Basuine en die Groot Versoendag; die ander twee, Fees van die Ongesuurde Brood en die Loofhuttefees, is sewedagfeeste. Die eendaagse feeste het betrekking op sekere dade van God wat eenmalig gedoen is, byvoorbeeld die dood en opstanding van Christus wat net eenkeer op ’n bepaalde dag gebeur het. Sewedagfeeste het betrekking op die geseënde gevolge van die daglange feeste, en sluit breedvoerige riglyne in oor hoe mense hulle lewens in die lig van God se verlossing moet lei3.
Kennis van die feeste sal lei tot groter waardering vir die Nuwe-Testamentiese instelling van die Nagmaal, wat op die eerste drie feeste gebaseer is. So dikwels as wat ons hierdie instelling vier (daar is geen beperking op die aantal kere wat ons dit kan doen nie) vestig ons aandag op God se verlossingswerk deur die Messias, wat reeds in die outydse feeste aan ons geopenbaar is.
Gelowiges in Christus kan geestelik baie baat vind by ’n studie van die Ou-Testamentiese feeste van die Here, deur veral aandag te gee aan die detail van die verskillende seremonies en rituele, want dit sal daartoe lei dat ons ’n dieper studie doen van die betekenis van Christus se versoening vir ons sondes aan die kruis. Wanneer die Ou-Testamentiese skadubeelde goed verstaan word, sal ons die Nuwe-Testamentiese werklikheid beter kan begryp en waardeer.
In die volgende hoofstuk sal ons eers die basiese aard van Bybelse profesieë bespreek, asook die vervulling van Bybelse tipes, omdat dit ons sal help om die tipologiese aard van die paaslam te verstaan, die seremonies wat daaraan verbonde was, asook die chronologiese vervulling van die sewe feeste in die Nuwe-Testamentiese tye.
Wanneer ons aandag gee aan die vervulling van Bybelse profesieë, sal dit ons daarvan weerhou om betrokke te raak by die voortgesette beoefening van skaduagtige gebruike wat reeds in die Messias vervul is. Wanneer sulke rituele en instellings op ’n wettiese wyse beoefen word sonder om ag te slaan op hulle profetiese betekenis as tydelik en as voorlopige gebruike wat daarop ingestel was om Israel op die koms van die Messias voor te berei, is daar ’n baie groot moontlikheid dat Jesus as Messias verloën kan word. Sulke mense is geneig om die feeste en wette van die Ou Testament as hulle finale middel tot verlossing te sien.
Indien ons ten volle bewus is van die profetiese aard van die sewe feeste, sal hulle ’n wonderlike toekomsbeeld oor die Messias ontsluit. Net Hy alleen kan volle gestalte aan die beloftes en tipologiese beelde van die Ou Testament verleen. ’n Onwankelbare geloof in Christus is die grondslag vir ’n ongebroke verhouding met Hom waarin ons daagliks met Hom in verbinding bly deur ons gebede, en ook deur in die Gees te wandel. Ons word opgeroep om voortdurend te bid (Ef 6:18), en dit beklemtoon die feit dat die feeste en heilige dae van die Ou Testament wat dikwels lank uitmekaar gevier is, vervang is deur ’n vorm van volgehoue toewyding wat nie net tot sekere heilige dae of seisoene van die jaar beperk is nie.
Die tempeldiens met al sy rites en seremonies is afgeskaf in die nuwe verbond met die Messias. Die soendood van die Verlosser bied aan alle gelowiges onbeperkte toegang tot die troon van genade (Heb 10:19–23). Die persoonlike verhouding wat ons deur die Heilige Gees met Christus kan handhaaf ná sy eenmalige offer aan die kruis, is nie afhanklik van die middelaarskap van priesters nie. Hulle het tipologiese offers gebring en ook ’n groot aantal simboliese gebare gemaak waardeur hulle God vereer het.
Die godsdienstige lewe van Nuwe-Testamentiese gelowiges het aansienlik meer inhoud weens hulle geloof in Christus. Op grond daarvan geniet ons ’n baie dieper dimensie van geestelike gemeenskap omdat ons deur Christus nader getrek word aan God. Daarom is die beoefening van ons geestelike lewe vereenvoudig en heeltemal losgemaak van veelvuldige rituele aktiwiteite. In ons geestelike lewe kom ons net die rituele van doop en Nagmaal na, wat albei simboliese handelinge is wat na ’n besliste geestelike ervaring verwys.
Die Nuwe Testament vloei voort uit die vervulling van beloftes wat in die Ou Testament gemaak is. Aansienlike geestelike voordeel kan verkry word uit ’n studie van die ontplooiing van God se plan met die mensdom in die Ou Testament, asook die bestudering van persone, gebruike en ervarings wat tipologiese skadubeelde was van die Messias en ons geloofslewe. Ons kan byvoorbeeld beter begryp wat die implikasies daarvan is om ’n tempel van God te wees (vergelyk 1 Kor 3:16–17) indien ons ’n intensiewe studie van die Ou-Testamentiese tempeldiens doen. Die oue is ’n tipe van die nuwe, geestelike tempel en leer ons meer van wat daar van ons verwag word. Op dieselfde manier sal ’n studie van die feeste ons help om beter te kan verstaan hoedat God sy plan van verlossing aan Israel bekendgestel het, wat Hy van mense verwag om in ’n geloofsverhouding met Hom betrokke te raak, en hoedat Hy sy tydlose eis van ’n heilige lewe aan mense demonstreer.
’n Studie van die godgegewe feeste van Israel werp baie lig op die roeping en geestelike bestemming van hierdie spesiale volk. Deur die genade van God het hulle vierduisend jaar van ’n