'n Uur van lig. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315861
Скачать книгу
ook nie soos ander mense te bid nie. Om die waarheid te sê hóéf gebed glad nie eens woorde te hê nie. Wanneer jy stil word en in aanbidding voor God kniel, is jy dalk besig om die heel beste soort gebed te bid wat daar is, dié soort gebed waarin God die meeste plesier vind. Dit is juis wanneer jy soos ’n kind met jou hemelse Vader kommunikeer dat Hy van jou liefde en omgee weet.

      Here, ek loof U dat ek mag weet dat U altyd na my gebede luister en hulle sal verhoor. Amen.

      5 Januarie – Gebed en die Heilige Gees

      5 JANUARIE

      Lees: Romeine 8:26–30

      Gebed en die Heilige Gees

      Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. – Romeine 8:26

      Baie mense het hulp nodig met gebed. Dit kom nie vir almal maklik of natuurlik nie. En ons kan dit maar nie regkry om soos Jesus te bid nie. “Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,” skryf Paulus tereg aan die gemeente in Rome (vgl Romeine 8:26). En God verstaan baie goed dat ons maar net mense is en dat ons Iemand nodig het wat namens ons vir God die dinge sal gaan vra wat ons werklik nodig het – nie nét die dinge wat ons graag wil hê nie.

      Die meeste van die gebedsversoeke waarmee ons God so toegooi, is nie nodig óf goed vir ons nie. Net soos God sy Seun stuur sodat ons kán bid, gee Hy ook vir ons ’n Helper om ons te leer bid – die Heilige Gees wat in ons woon. Dié Gees pleit vir ons met versugtinge wat nie in woorde omgesit kan word nie. God kyk na ons harte wanneer ons bid. Ons gesindheid is vir Hom belangriker as die woorde waarmee ons ons gebede inklee. Die Heilige Gees wil jou ook leer bid. Meer nog, Hy bid reeds vir jou. Hy neem dié dinge wat jy werklik nodig het direk na God se genadetroon en sy gebede is altyd in ooreenstemming met God se wil.

      Heilige Gees, sal U my asseblief self leer bid. Dankie dat U nog méér as dit doen: dat U vír my bid, volgens die wil van God; dat U Self my gebede na God neem. Amen.

      6 Januarie – As jy sukkel om te bid

      6 JANUARIE

      Lees: Psalm 103:8–18

      As jy sukkel om te bid

      Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. – Psalm 103:13–14

      God ken ons deur en deur. Hy het ons immers gemaak. Daarom dra Hy ook kennis van die feit dat ons almal by tye gebedsukkelaars is. Baie min mense is gemaklik daarmee om in die openbaar te bid. Ons vergelyk ons gebede met dié van ander, ons is bang dat ons woorde sal opraak, ons bloos en stamel wanneer ons gevra word om te bid. Ook wanneer ons alleen in ons binnekamers is, herhaal ons meestal elke dag dieselfde gewoontegebede.

      Jesus het Self gesê dat jou Vader wéét wat jy nodig het, nog voordat jy dit van Hom vra (vgl Matteus 6:8). Maak nie saak as jy sukkel om te bid nie. Die enigste voorwaarde is dat jou gebede opreg moet wees, dat jy werklik die dinge sal bedoel wat jy vir God sê of aan Hom belowe. Dit maak ook nie saak wat jou gebedshouding is of watter woorde jy gebruik nie – solank jou gebede uit jou hart kom, sal God luister én antwoord.

      Hemelse Vader, soms sukkel ek só om te bid. Dankie dat U weet waarvan ek gemaak is én weet wat ek bedoel wanneer ek bid. Amen.

      7 Januarie – Voor jy begin bid

      7 JANUARIE

      Lees: Job 26:5–14

      Voor jy begin bid

      Dit is maar die begin van sy dade, ons hoor net die gefluister van sy woorde. Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan? – Job 26:14

      Nadat Job hoofstukke lank kla dat God hom onskuldig gestraf het, kom hy uiteindelik tot die gevolgtrekking dat ’n mens nie God se dade kan begryp nie. Dit is Hy wat die lugruim soos ’n tent oopsprei, wat die aarde deur sy krag in plek hou. Hy is verantwoordelik vir die weerpatrone en kan die fondamente van die hemel laat bewe. Hy skep die horison deur die waters te skei en skep die dag en nag … Sy skeppingskrag skep orde in die skepping en hou dit elke dag in stand. En dié wonders wat ons in die natuur kan waarneem, is maar net die begin van sy dade, die gefluister van sy woorde. Die volle krag van sy dade sal nooit deur nietige mensekinders met hul beperkte verstand verstaan kan word nie. Hoe groot is God nie!

      Ek hou daarvan om soms Lied 519(vers 1, 3 en 4) te lees voordat ek begin bid:

      Wees stil en weet: Ek is die Heer.

      Ek spreek, en wind en golwe bedaar,

      Ek sal ook jou getrou bewaar.

      Wees stil en weet: Ek is die Heer.

      Kom bring na My jou kommer en vrees.

      Ek sal vir jou ’n toevlug wees.

      Wees stil en weet: Ek is die Heer.

      Bly waak en bid; volhard in geloof.

      Vader, U is soveel groter as wat ek met my verstand kan besef. Ek wil nou heeltemal stil word en weet dat U God is; dat U almagtig is en dat U altyd by my is soos U beloof. Amen.

      8 Januarie – Die inhoud van jou gebede

      8 JANUARIE

      Lees: Efesiërs 3:14–21

      Die inhoud van jou gebede

      [Ek bid] … dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om … te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. – Efesiërs 3:17–18

      Paulus was iemand wat geweet het hoe om te bid. In die derde hoofstuk van sy Efesiërbrief bid hy dat God vir hulle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Jesus deur die geloof in hul harte sal woon, dat hulle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees, maar veral dat hulle die geweldige omvang van God se liefde vir hulle sal besef en met sy volheid vervul sal word.

      Wanneer ek Paulus se gebede vir die Efesiërs gelees het, het dit my elke keer getref hoe selfsugtig die inhoud van my eie gebede is. Ek bid wel baie gereeld vir mense wat ek liefhet – ten minste twee keer per dag vir my familie – maar die inhoud van hierdie gebede laat veel te wense oor. Ek bid dat my kleinkinders veilig sal wees en goed sal vaar op skool, dat my seuns die regte werk sal kry en dat my siek familielede weer gesond sal word – maar nog nie eens één