“Ek kritiseer nie, Annie.”
“Jy het alle reg om te kritiseer.”
“Nee. Daardie tydperk behoort tot die verlede. Maar niemand kan ons nou keer nie. Daar is net so baie wat ek nog graag wil doen.”
Sy antwoord nie en ’n paar sekondes later kom hulle tuis.
“Annie,” sê hy toe hy stilhou, en sy stem is weer tergend, “as ek ’n dogter gehad het met so ’n mooi stem sou sy seker ook maar bederf en selfsugtig gewees het.”
“Dis nie ’n kompliment nie,” antwoord sy, haar stem sag, byna onhoorbaar.
“Dis so bedoel,” antwoord hy plaend en vervolg: “Sê vir my, Annie, jou keuse van sangstukke vanaand … Was daar êrens ’n berisping vir ’n Bolander bedoel?”
“Die Bolander vlei homself,” antwoord sy koel en Johan moet maar lag. Saam stap hulle die donker paadjie op na die huis en toe hulle daar kom, nooi Annie hom binne.
“Ja, dankie,” sê hy, “ek sal wag tot jou ouers kom. Ek wil graag weer vir mevrou Celliers dankie sê.”
En daar het hy gesit nog lank nadat haar ouers gekom het. Meneer Celliers het vir hulle elk ’n drankie geskink en hy en Johan het oor visvang begin gesels en kon blykbaar nie uitgesels raak nie. Meneer Celliers was ook op sy dae ’n geesdriftige hengelaar gewees en Johan en Barry sou die volgende dag met hul visvangvakansie vertrek. Daar moes natuurlik raad gegee word oor die beste aas om te gebruik en daar was ’n stryery oor waar die grootste kabeljou gevang kan word. Eers ná twaalf het Johan met ’n skuldige glimlag opgespring.
“Ek is vreeslik jammer, mevrou Celliers, ek het nie besef dis so laat nie. En u is seker baie moeg ná die vermoeiende dag.”
“Ek is glad nie moeg nie en het julle gesprek baie geniet. Sorg nou maar net dat julle ’n paar grotes uithaal, hoor.”
Toe Johan weg is, het Andries, wat nie ’n woord van die gesprek gemis het nie, vir sy pa gesê: “Hoe kan Vader dan nou vir meneer De Kock sê hoe en waar om vis te vang? Oom Barry sê vir my hy vang al vis vandat hy groot genoeg is om ’n stok vas te hou en daar is nie ’n plek aan ons kus waar ’n vis van belang al uitgehaal is wat hy nie van weet nie.”
Dít van Andries wat eens op ’n tyd, ook nie so lank gelede nie, gedink het sy pa se gelyke met ’n visstok moet nog gebore word.
Mevrou Celliers het met ondeunde oë haar man se verontwaardigde gesig waargeneem en dit was Annie wat hom te hulp gesnel het. “En wie sê hy het al ooit self ’n vis van belang uitgehaal? Die Bolanders kan maar baie grootpraat.”
Andries wou haar eers ’n verpletterende antwoord gee, maar bedink homself en met ’n trek van ag-wat-weet-jy-tog-jy-is-maar-net-’n-onkundige-meisiemens op sy gesig het hy gaan slaap.
Die konsert is eindelik verby en Johan staan op om ’n paar woorde te sê voor die skool sluit. Op sy gemak, seker van homself soos hy van die begin af was, doen hy dit. Met reg ook, dink Annie, is hy so seker van homself. Hy ken sy eie krag. Die afgelope kwartaal, wat volgens haar mening tog die moeilikste was, het skitterend afgeloop.
Maar ag, Johan, dink sy, moet jy so bly lyk omdat jy weer Boland toe gaan? Het ons jou dan so sleg behandel hier? Is dit dat jou hart en gees maar net juigend vooruit gaan by die gedagte dat jy die berge van jou geboortewêreld weer gaan sien; is dit die lokstem van die see waarvoor jy so lief is wat jou vandag so roep; of gaan jou hart maar net weer huis toe na daardie Bolandse nooientjie van jou?
Johan, sy toespraak klaar, is besig om te groet onder die laerskool se personeellede en hy lyk so jonk en so opgewonde soos ’n skoolseun. Hulle gesels klaarblyklik oor sy hengelvakansie en is besig om hom te terg, want meneer Lubbe wys skertsend met sy hand na ’n tamaai groot vis en die klomp om Johan lag almal heerlik.
“Haai, Annie!” Abie kom nader en neem haar arm. “Wat staan jy so en droom! Hoe lyk dit vir my jy hou al klaar vakansie?”
“Maar dit is mos al klaar vakansie,” skerts sy terug, haar lippe styf, maar sy laat toe dat Abie haar nadertrek na die klomp.
Dit is ’n deurmekaar gegroetery en tot siens-sêery en toe kom hy by haar.
Meneer Du Pré het net vir hom gesê: “Nou toe, Johan, kerrie vir my een van daardie grotes. En bring hom saam, hoor, of ek glo wragtie nie jy kan visvang nie.”
“Ek sal hom bring,” belowe Johan laggend en toe is haar hand in syne, die grys oë kyk in hare.
“En wat moet ek vir Annie saambring?” terg hy.
“Niks nie, dankie,” antwoord sy snipperig. “Ons het darem alles hier wat ons nodig het.”
“Ondankbare skepseltjie,” lag hy en ná ’n warm handdruk is hy weg.
Toe hulle die middag aan tafel sit, sê Annie se ma: “Pappie het jou kaartjie gekry, Annie. Het jy al begin pak?”
Sy het nooit een maal gedurende die loop van die oggend weer daaraan gedink dat sy vanaand met die trein na haar tante in Pretoria gaan nie.
Hoofstuk 10
Die tweede kwartaal het sommer uit die staanspoor teen ’n vinnige pas begin.
Die eerste rugbywedstryd om die Pienaar-beker sou binne ’n paar weke plaasvind en Johan en Abie was aan die begin byna elke middag met die seuns op die rugbyveld besig; Annie moes die dogters afrig vir korfbal, die skoolkermis was om die draai, die tenniswedstryde nog aan die gang, en met dit alles is geen verslapping van skoolwerk toegelaat nie. Want die seuns het baie gou al geleer dat Johan nie van plan was om rugby ten koste van hul skoolwerk aan te moedig nie. Daarvoor was hy al te lank onderwyser en hy het geweet dat die ouers maar baie skeef sou opkyk as hy ’n klomp voetbalgeesdriftiges oplei wat nie terselfdertyd die paal haal in hul eindeksamens nie.
Sy metode was eenvoudig. As ’n seun of dogter se werk nie die dag bevredigend is nie – vanmiddag geen voetbal- of korfbaloefening nie. Ouderwets, maar dit het wonderlik gewerk met die sportentoesiaste. Met die paar wat nie belang gestel het in sport nie het hy op ’n ander manier te werk gegaan, en Annie kon eerlik nie sien dat al die buitemuurse bedrywighede van die kinders, wat dit so geniet, enige afbreuk doen aan hul werk nie. Daarby was hul lewens voller, interessanter en veelsydiger as ooit tevore en is die belangrike vrye tyd goed in beslag geneem.
Dit was waarlik ook ’n plesier om die genot en geluk te sien wat die kinders uit die lewe put. Maria was natuurlik die ooglopendste van al die gevalle. Sy was klein en rats en het ’n natuurlike aanleg vir sport gehad, en sy het haar verlustig in die buitewêreld waarvan sy so lank uitgesluit was. Baie gou was sy ook heeltemal ’n ander meisie. Haar bleek gesiggie het geblom soos ’n rosie en die bruin oë het getintel van lewenslus en plesier. Haar werk was weliswaar nie so volmaak soos vroeër nie, maar ná die eerste paar weke het dit haar skynbaar nie veel gehinder nie. Annie het egter besorg begin opkyk toe die peil van Maria se werk stadig maar seker meer en meer daal.
Een middag, kort nadat die skool begin het, kom Johan, op pad na die voetbalveld wat net langs die korfbalveld geleë is, kyk hoe die meisies oefen. In ’n kort voetbalbroekie, bruingebrand ná sy onlangse vakansie, staan hy op die kantlyn en wag tot die meisies se rustyd aanbreek en Annie na hom toe kan kom.
“Dit lyk of julle goed vorder, Juffrou.”
“Ja, heeltemal goed. Ons verdedigers het nog ’n bietjie oefening nodig.”
Op dié oomblik het die korfbal waarmee die meisies besig was om doele te gooi na hul kant toe gespring en Maria het dit voor hul voete kom wegraap.
“Middag, Meneer,” glimlag sy skaam en is onmiddellik daarna weer weg met die bal.
Johan kyk haar agterna, sy oë sag, vol goedkeuring, en Annie kyk jaloers en ongelukkig weg. Dat Maria sy gunsteling is, het sy lankal vermoed, maar dit help nie om die onstuimige gewaarwordinge hier binne-in haar hart tot bedaring te bring nie.
“En toe,