Almal luister aandagtig, Annie ook. Hulle kan hulself nie help nie. Die jong hoof praat met krag en oortuiging.
Sy voorstelle in verband met sport is met geesdrif begroet deur almal behalwe meneer Nieuwenhuys. Hy het ook gemeen om die kinders meer geleentheid te gee vir sport as hy hoof word, maar natuurlik wil die jong snuiter dit hopeloos oordryf.
“Solank dit te vroeg is vir rugby en korfbal,” sê Johan, “sal ons met tennis begin. Meneer Retief het belowe dat die bane binne twee weke gereed sal wees, met balle, nette en vier rakette wat as klubrakette beskou moet word vir die kinders wat nie hul eie kan bekostig nie. Ons het ook uitgevind dat daar oorgenoeg ruimte is om vier ringtennisbane op te rig en dié sal ook dieselfde tyd klaar wees. Ons is meneer Retief oneindig baie dank verskuldig vir wat hy vir ons skool doen, veral omdat ons nie ’n blou duit het om mee te begin nie, maar hy wil van geen dank hoor nie. Hy sê dis maar net ’n ou belofte wat hy nakom.”
Meneer Du Pré glimlag tevrede. As Barry Retief ’n ding doen, doen hy dit goed. Hy het vanmôre op pad skool toe daar verbygeloop om te sien hoe dinge vorder en die bedrywigheid wat daar geheers het, het sy hart goed gedoen. ’n Kaal, lelike stuk grond wat jaar ná jaar gelê het tot nut van niemand behalwe ou Rooi Sarel se donkies nie, word uiteindelik omskep in ’n heerlike speelterrein vir Saailaagte se kinders.
“Natuurlik gaan dit vir ons almal meer werk beteken. Die kinders moet elke middag gehelp word en moet altyd onder toesig speel. Ek verstaan dat julle almal tennis speel. Het iemand beswaar om een middag in die week af te staan en te help?”
Sy stem is vriendelik en aangenaam, maar dit is nie ’n versoek nie. Meneer Nieuwenhuys, wat van plan was om te sê dat Abie Greef in die verlede verantwoordelik was vir sport by die skool, skuif ongemaklik op sy stoel rond en besluit om maar nie beswaar te maak nie. Die res is gewillig, selfs gretig, om te help.
Sy volgende voorstel is ’n skooldebat wat elke Vrydagaand in die skoolsaal gehou moet word. Meneer Kriek, wat jare lank aan meneer Fouché getorring het vir ’n skooldebat, is hoog in sy skik. Andries-hulle sal dit geniet, dink Annie, en kyk meteens op.
“Bedoel jy, meneer De Kock, dat die hele personeel elke Vrydagaand teenwoordig moet wees?” vra sy vinnig, en kan die volgende oomblik haar hare uit haar kop trek van spyt omdat sy haar mond oopgemaak het.
“Dis presies wat ek bedoel, juffrou Celliers. As ons ’n sukses van die vereniging wil maak, moet ons almal saamwerk. En ek wil baie graag julle almal se heelhartige steun hiermee hê. Dit sal nie langer as ’n uur of wat duur nie en behoort nie veel inbreuk op die res van die aand te maak nie.”
Is hy sarkasties? wonder Annie. Sy het haar natuurlik blootgestel aan so ’n aanval. Sy praat nie verder nie en die res is ook doodstil. Sy is al een wat dit gewaag het om te probeer beswaar maak teen enige van die voorstelle, hoewel sy kan raai dat meneer Nieuwenhuys baie te sê sou hê as die vergadering eers verby is.
“En daar is nog een ding: fondse. Ons skool is geheel en al sonder fondse en dis ’n toedrag van sake wat so gou moontlik reggestel moet word. Dus sal daar ’n skoolkermis moet wees en baie gou ook. Dink solank daaroor, dan kan ons volgende week of so ’n vergadering hou. Miskien kan ons die primêre skool ook vra om saam te werk. Sal julle asseblief daaroor dink wanneer julle tyd het?” eindig hy glimlaggend.
“Seker, meneer De Kock,” antwoord meneer Du Pré. “En sal die kinders dit nie geniet nie! En, meneer De Kock,” hy kyk tergend na Annie, “asseblief, ’n konsert later. Ek en Annie, juffrou Celliers, is lankal lus vir ’n konsert.”
Johan kyk ook na Annie, maar sy antwoord koel: “Dink julle nie ons het vir die oomblik genoeg hooi op ons vurk nie?” Meneer Nieuwenhuys stem volkome, dié slag hardop, met haar saam. En daar het hulle dit gelaat.
Toe die vergadering oor was, het meneer Kriek ’n ent saam met haar huis toe gestap, in die wolke oor die nuwe wending wat sake uiteindelik geneem het, maar Annie is ontevrede.
Ek wil glo, dink sy toe hy wegdraai en sy alleen verder stap, dat meneer Kriek in sy skik is. Hy is so ’n ou hen dat daar niks is wat hy liewer sou wou doen as om die kinders op te pas en hulle te leer om tennis te speel en om skooldebat te hou nie. Maar waarom moet ék al my vrye tyd aan hulle wy?
Meteens skaam sy haar oor haar onwaardige gedagtes en vinnig hardloop sy met die leiklippaadjie langs tot op die breë, koel stoep voor die huis, asof sy haar weerspannige gedagtes buite wil laat.
Meneer Nieuwenhuys is binne die vesting van sy eie huis openlik veragtend toe hy die vergadering met sy vrou en seun bespreek.
“Die jong man probeer hoog vlieg,” sê hy smalend terwyl hy ’n lekker stuk gebraaide vleis op sy bord sit en groente hoog daar rondom opstapel. “Dis tennis en ringtennis en rugby en korfbal met interskoolwedstryde, dis skoolkermisse en skooldebat en die joos weet wat alles. Ons rustige, ordelike skool sal verander word in ’n malhuis van skreeuende, dissiplinelose kinders – die meneertjie wil mos hê ons moet dit eers met hom bespreek voor ons een van die kinders lyfstraf toedien. Dié bedorwe klomp goed wat vir niks anders as ’n rottang respek het nie! Dis maar ’n treurige dag vir ons skool as dissipline en orde oorboord gegooi word.”
Frederik sê niks nie. Hy weet baie goed wat sy pa met dissipline bedoel.
“Probeer hy regtig om al daardie dinge te doen, James?” vra mevrou Nieuwenhuys. “Dit klink of hy ’n jong man met groot ondernemingsgees is.”
“Hy is ’n onnosele snuiter,” snou hy haar toe. “En hy sal sy rieme gou styfloop.”
Dat Frederik deel van die geselskap uitmaak, hinder hom glad nie. Hy het nog nooit ag geslaan op die ongeskrewe wet dat onderwysers nooit voor hul leerlinge bespreek, veel minder gekritiseer, mag word nie, en Frederik is in die verlede vryelik toegelaat om saam te praat.
“Die seuns hou van hom,” sê Frederik terwyl hy weer groente op sy bord skep. Hy weet dis ’n bietjie gewaag om in sy pa se teenwoordigheid so iets te sê, maar hy waag dit tog. Meneer Nieuwenhuys snork van verontwaardiging.
“Natuurlik sal hulle van hom hou. Watter seun hou nie daarvan om die gek te skeer nie? Of hul ouers heeltemal soveel daarvan sal hou, is nou weer ’n ander storie. Ons resultate was nog nooit briljant nie en dit sal ongetwyfeld aan die einde van die jaar hopeloos wees.” Meneer Nieuwenhuys hoop vuriglik dat hy reg mag wees.
Hoofstuk 5
Op die plaas Wag ’n Bietjie is alles in rep en roer. Die tyd vir Barry Retief se jaarlikse waatlemoenfees, wat al feitlik ’n instelling op Saailaagte geword het, het weer eens aangebreek.
Ou Janewarie, vanaand baie haastig, kom op ’n vinnige drafstappie met die melkemmers van die kraal af na die huis toe. Vanaand sal dit weer lewe op Wag ’n Bietjie en hy wil tog niks van die gedoente mis nie.
Barry, tot nou besig om die laaste reëlings te tref vir die fees vanaand, vertoef nog ’n oomblikkie buite.
Tevrede gaan sy oë oor sy erfenis van veld en rant, bly dat Wag ’n Bietjie in ’n feesgewaad van kleur en geur sy besoekers kan ontvang. Wag ’n Bietjie is soos ’n mooi vrou vanaand, dink hy, in die volle bloei en krag van haar lewe met die geur van rose en kanferfoelie aanloklik om haar heen. ’n Meer ideale aand vir die fees kon hulle nie begeer het nie en as die volmaan netnou sy blink, goedige gesig bokant die slapende rante uitsteek, sal skoonheid en volmaaktheid weer eens hoogty vier.
Maar hy moet ’n begin maak as hy nog gou in die dam wil spring om die stof en warmte van die dag af te spoel, of sy eerste gaste betrap hom onklaar. En terwyl hy na die dam stap wat so ’n entjie van die huis geleë is, wonder hy weer waarom Annie so botweg geweier het om vanaand saam met Johan de Kock te kom.
“Nee,