Louise Rabie het nie kinders van haar eie nie. Sy het haar eerste man vroeg verloor en daarna is sy met ’n wewenaar met twee jong seuntjies getroud. Haar tweede man het haar ná ’n paar jaar ook ontval en haar goed agtergelaat. Die een seun is lankal uit die huis uit en die tweede, ’n jong man van vyf-en-twintig jaar, het nog by haar gebly. “Gebly” was die regte woord. Hy het ’n stoepkamer met ’n aparte badkamer gehad en hulle het hom slegs af en toe met maaltye te sien gekry. Almal, die huisvrou self ook, het gekom en gegaan soos hulle wou en die huishulpe het die huis aan die gang gehou. En as hulle ’n bietjie verbrou, het Louise Rabie ’n paar dae lank agter hulle gestaan en het alles goed gegaan tot haar buitebelange weer haar volle aandag geverg het. Dan het sy maar weer die huishouding aan die huishulpe oorgelaat, tot die volgende keer dat sy weer gedwing word om in te gryp. Teenoor die meisies was sy vriendelik en gaaf, maar sy het hulle hul eie gang laat gaan. En weg van die streng gesag van haar ouerhuis, waar haar pa en ma so nougeset oor hulle dogters gewaak het, het die nuwe, ongekende vryheid Debbie blykbaar ’n bietjie lighoofdig gemaak, die grond so ’n bietjie onder haar voete laat wegsak.
Die eerste paar maande het dit goed gegaan. Debbie was besiel met ’n vurige ambisie om skitterend aan die universiteit te presteer en het hard gewerk en slegs aan universiteitsbedrywighede deelgeneem. En dan het sy gewoonlik saam met haar, Trudie, gegaan, wat altyd ’n wakende ogie oor haar kon hou.
Maar dit kon natuurlik nie lank so aanhou nie. Daarvoor was Debbie te mooi. En toe Trudie haar een aand stralend voor haar spieël aantref en hoor dat sy bioskoop toe gaan, het sy geweet dis die begin van die einde. Toe sy nog boonop hoor dat Debbie se ridder Paul Hugo is, het sy regtig nie geweet wat om te doen nie. Daarna was die gort gaar. Die half skugter, teruggetrokke Debbie, wat tog so vol streke is as jy haar eers goed ken, het Paul se belangstelling al hoe meer gaande gemaak, totdat hy later sy aandag uitsluitlik aan haar gewy het. Vir Debbie, half kind wat sy nog was, was Paul die verpersoonliking van ’n jong meisie se drome: die mooiste, gaafste, slimste man in die ganse wêreld, die prins vir wie sy gewag het.
Waar Paul geroep het, het sy gegaan – eers onwillig en teëstribbelend wanneer dit ’n weeksaand is, maar later, soos die einde van die jaar nader gekom het, al hoe makliker. Dis nie oor haar werk dat Trudie bekommerd is nie. Debbie het die hele jaar hard gewerk. Sy werk nou nog hard. Maar dit beteken dat sy snags laat moet werk en soggens vroeg moet opstaan om by te hou. Debbie is slim, maar sy moet nogtans hard werk om goeie punte te behaal, terwyl Paul blykbaar sonder veel inspanning sy weg deur sy kursus baan.
O, Paul is ’n oulike ou. Sy het self ’n tyd lank droompies gedroom, maar sy het gou besef dat haar sproetgesiggie nooit Paul Hugo se hart sou kon verower nie. Ja, hy is oulik genoeg. Dis net dat sy eie belange altyd eerste kom. En Debbie is so jonk en verlief . . . en so halsoorkop in haar verliefdheid.
Sal die sagte waarskuwing van ’n jakarandablommetjie haar dan tot besinning kan bring?
Trudie tel die blou trossie op, laat dit in haar hand lê en sit dit dan met ’n klein suggie weer terug in die water. Vinnig, ongeduldig, staan sy op en begin die boeke op haar bed wegpak en bêre haar viool op ’n veiliger plek. Sy kan tog niks daaraan doen nie. En soos Debbie self ook sê: Dis nog maar net ’n paar weke, dan gaan hulle almal huis toe en volgende jaar gaan Paul Kaap toe. Dan sal sy belangstelling in Debbie gou verflou. Paul sal seer sekerlik nie lank getrou bly aan ’n meisie wat duisend myl ver weg is nie, al is sy ook Debbie. Voordat hy klaar gestudeer het, sal Paul ook nie aan verloof raak of trou dink nie.
Allermins Paul!
Arme Debbie!
Maar kyk, dit sal in elk geval ’n verligting wees as Paul Hugo aanstaande jaar ’n duisend myl ver van Pretoria af sit.
Hoofstuk 3
Hoofstuk 3
Paul is weer laat, maar Debbie is al daaraan gewoond. Paul is maar selde betyds vir ’n afspraak. Debbie, weer, is altyd presies. Sy laat nooit iemand vir haar wag nie en wag ook nie graag vir ander nie. Maar sy gee snaaks genoeg nie om om vir Paul te wag nie. Sy weet hy sal kom en die vooruitsig om ’n hele aand in sy geselskap deur te bring laat haar die minute wat so stadig omgaan, verbydroom.
Sy is bly dat Trudie, wat ná aandete na ’n orkesoefening toe moes gaan, reeds weg is. Trudie sou net weer snipperig gewees het omdat Paul nie betyds is nie.
Liewe Trudie. Sag en liefkosend streel Debbie die fluweel van haar aandjas. Al is dit Trudie s’n, en al het Trudie ook rusie gemaak terwyl sy die jas aangebied het omdat Debbie weer op ’n weeksaand saam met Paul, wat ook beter moet weet, gaan rondloop, laat die jas haar soos ’n prinses voel. Trudie is verniet onrustig. Paul het haar lief. Hy het dit nog nooit in woorde gesê nie, maar sy is heeltemal seker daarvan. Paul het haar lief.
Paul! Paul! sing dit gedurig in haar binneste. Daar is ’n bruising in haar are. Dat Paul, die wonderlike, begaafde Paul, haar bo alle ander meisies verkies, is ’n wonder wat sy nog nie kan begryp nie. Sy voel maar nog altyd of sy droom, asof sy eendag sal wakker word en sal uitvind dat Paul maar net ’n droom was. Daarom dat sy met alle mag en geweld wil vashou aan die droom. ’n Harde, ongeduldige geklop aan die voordeur laat haar haastig van die bed af opspring en vinnig deur toe loop. Maar toe sy in die gang kom, dwing sy haarself om stadiger te loop en Paul se ongeduldige kneukels tamboer al weer op die voordeur voordat sy dit ewe ongeërg oopmaak.
Toe sy hom voor haar sien staan in sy swart aandpak, so onberispelik netjies en aantreklik, begin haar hart weer onstuimig in haar keel klop. Half skaam steek sy haar hand na hom toe uit.
“Hallo,” is al wat sy fluister, maar in die glinsterende grys oë lees hy alles wat hy wil weet. Sy hand sluit warm en vas om hare.
“Hallo, Debbie.” Sy stem is sag, liefkosend. En dan: “Is jy gereed?”
“Lankal.”
Hy lag saggies.
“Is ek laat? Kan nie wees nie! Nou kom, laat ons gaan.”
In stilte ry hulle deur die swoel skemeraand, geurig van sering en kanferfoelie. Dis of daar ’n bekoring oor die ganse aarde lê. Nog nooit was ’n aand so mooi, nog nooit ’n meisie so gelukkig nie. So moes die eerste lenteaand gewees het, vol van die ewige misterie van die skepping. ’n Aand vol drome en beloftes, ’n aand om met jou geliefde in