Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798156417
Скачать книгу
’n hap van sy hamburger, werk met sy vingers gebraaide uie by ’n mondhoek in.

      “Die sersant bedoel ons sal hulle moet uitvra,” sê die konstabel. “Oor die vermiste gas in kamer 110. Oor sy bewegings, aangesien ons niks op CCTV het nie.”

      “Ek sê mos: niemand het hom ooit gesien nie. Hy’t nie gemeng nie.”

      “Nooit praatjies probeer maak met iemand nie?” vra die sersant. “Net sy naam in jou register geskryf. Wat van sy adres en telefoonnommer, soos die wet vereis van ’n wetsgehoorsame burger?”

      “Ja, dit het ek, sy adres in die Kaap.”

      “As forensies klaar is, en hulle is agterdogtig, sal ons al daardie goed nodig hê. Ons sal ook met jou inslaapgaste kom gesels en na jou CCTV-monitors kyk. Miskien is daar beeldmateriaal van vroeër, voor die lens toegespuit is. Dan sal ons . . .”

      Rabie kyk om, volg sersant Mfundisi se blik na die deur van die kroeg waar ’n jong vrou verskyn het. Dis Jewel, stywe skibroek klewend soos vel aan haar, los T-hemp, geen bra onder die hemp nie. Sy lyk of sy pas wakker geword het, kam haar vingers deur haar hare.

      “Rabie, Mitzi is nog steeds weg,” kla sy temerig. “Ek’s rasend, wat kón van haar geword het? Sy sou nie sommer net wegloop nie, iets moet gebeur het.”

      “Miskien is dit jou gekerm wat haar die pad laat vat het, het jy al dááraan gedink, hè? Miskien kon sy dit nie meer by jou uithou nie. Ék sou lankal weggeloop het.”

      Sy lig haar borste gegrief vir hom. “Jy’s lelik met my, Rabie. Wat het ek gedoen? Ek’s net bekommerd oor Mitzi, dis al.”

      Sy kyk nuuskierig na die twee etende polisiemanne.

      “Jewel is ’n eksotiese danser,” verduidelik Rabie vinnig. “Sy sluk ook vlamme wanneer sy dans.”

      Konstabel Xala, merk hy, lig nie sy oë hoër as Jewel se boesem nie. Sersant Mfundisi kyk darem op.

      “Vlamme, nè? En wie’s Mitzi, wat ook verdwyn het?”

      Rabie kan sien hoe die sersant se kop werk. Hy wonder of dit toevallig is: twéé verdwynings uit die Sleep Inn.

      Jewel stoot ’n heup uit. Die lang wimpers, nog swart en taai van gisteraand se maskara, word nou fladderend op die sersant gerig. “Mitzi is al ’n week weg.”

      Jissus, dink Rabie, drama queen. Haal nie eens die vals ooghare af wanneer sy gaan slaap nie. Hy vat haar aan die elmboog en stuur haar weg.

      “Mitzi is haar vermiste kat,” sê hy oor sy skouer.

      “Swárt kat?” vra sersant Mfundisi.

      Rabie steek vas, draai om, moet ’n oomblik dink voor dit insink. “Gots, sersant, is dít wat hy gedoen het? Hy’t vir Mitzi daar in sy bad geslag?”

      2

      Jake sit voor die TV-nuus, sy aandete op sy skoot. Die spaghetti bolognese met frikkadelle is nog in Checkers se polistireenhouer, net die plastiek afgetrek. Neerdrukkende nuus: aardbewings, oorstromings, ’n asteroïed so groot soos ’n vliegdekskip wat die aarde net-net met 200 000 kilometer mis. Beelde van uitgeteerde vroue en kinders, vaal van die stof, wat te voet uit Somalië in die Dadaab-kamp in Kenia aankom. Ellendige geraamtemense, geboë pikkend soos aasvoëls tussen rommel na enigiets te ete. Swart vlieë in die oë en neuse en monde van stom kinders, vel en been met boepmagies.

      Jake vee ’n straal sous van sy ken af, klik vir ’n ander nuuskanaal, luister na ’n insetsel van die BBC se korrespondent uit Islamabad. Hy staan op vir nog ’n bier om die kos mee af te sluk.

      “Pakistanse soldate wat die Taliban in Suid-Waziristan beveg, het ’n sleutelvesting van Oezbeek-vegters in die dorp Kanigoram omsingel,” gaan die korrespondent voort. “Tot ’n duisend Oezbeek-insypelaars skuil vermoedelik hier in die berge tussen die burgerlike bevolking en in ’n doolhof van tonnels. Die Pakistanse veiligheidsmagte sê gevegte in Kanigoram is hewig en hulle verwag hoë ongevalle, veral onder burgerlikes in die kruisvuur. Die dorp is berug dat hy vroeër ook skuiling gebied het aan ondersteuners van Baitullah Mehsud, leier van die Pakistanse Taliban voor sy dood in ’n CIA-lugaanval . . .”

      Jake se selfoon lui. Hy sit sy vurk neer, stel die TV sagter, vee met die agterkant van sy hand oor sy lippe en sê: “Diamond.”

      “Jake Diamond?”

      “Dissy.”

      “Die joernalis?”

      “Wie praat?”

      “Luister, Jake, ek’t ’n storie vir jou, as jy belangstel.”

      “Ek stel belang, dis my werk. Wie praat?”

      “Maak nie saak nie,” sê die manstem. “Jy’t ’n berig geskryf, dis waar ek jou naam gesien het. Daardie vyf amptenare wat gearresteer is oor korrupsie.”

      Jake skakel sy digitale opnemer aan, gekoppel aan die telefoon. “Was ’n Sapa-berig uit Durban. Ek’t net plaaslike kommentaar gevra.”

      Die man lees ’n paragraaf uit die berig: “In ’n polisieklopjag is vyf amptenare van die departement van binnelandse sake in ’n streekkantoor in Umgeni, KwaZulu-Natal gearresteer. Hulle word van korrupsie verdink nadat hulle na bewering huweliksertifikate vir sogenaamde gerieflikheidstroues tussen Suid-Afrikaanse burgers en vreemdelinge uitgereik het. Sulke troues word gereël om buitelanders te help om Suid-Afrikaanse burgerskap, identiteitsdokumente en paspoorte te bekom. ’n Woordvoerder van binnelandse sake het aan die Rekord gesê die arrestasies verteenwoordig ’n geïsoleerde geval en die departement gee sy volle samewerking aan die polisie. Die woordvoerder het aantygings van wydverspreide korrupsie in die departement ontken.”

      “Só,” sê Jake, “wat’s die storie?”

      “Glo jy haar, die woordvoerder wat sê dis ’n geïsoleerde geval?”

      “As sy so sê.”

      “Ek’t daar gewerk, my maat, voor die skop onder my gat by die deur uit. Gaan kyk weer na daardie ander berig wat in julle koerant was – in Junie. Dit was in al die koerante, ook op TV. Gaan lees dit weer en vra vir jouself: Is dit ’n geïsoleerde geval, of wat?”

      “Van watter berig praat jy?”

      “Google dit.”

      “Wat moet ek google?”

      “Daniel Robinson. En nadat jy dit gelees het, bel jy ene meneer Heilbron by binnelandse sake se streekkantoor in Johannesburg. Jy sal die nommer in die gids kry.”

      Die foon klik en Jake sit met die sel teen sy oor en luister na die lyn wat sag zoem. Hy skakel die opnemer af, druk ’n halwe frikkadel in sy mond en trek sy skootrekenaar nader. “daniel robinson” in die soekvenster van die Rekord se elektroniese argief lewer sewe en dertig resultate.

      ’n Berig van Associated Press interesseer hom:

      Terrorists exploit SA corruption

      Associated Press: Pretoria – When an alleged mastermind of al-Qaeda attacks on US embassies was killed in East Africa, officials said he was carrying a fake South African passport, thus refocusing attention on warnings that corruption in South Africa is being exploited by terrorists.

      Security experts have been warning for years that corruption in South Africa is allowing terrorists to get documents to hide their identities and make it easier to travel. In 2004 already then Home Affairs Director General Barry Gilder told Associated Press that South African passports were found in the hands of al-Qaeda suspects and associates ‘in a number of instances’. Then Police Commissioner Jackie Selebi reportedly said ‘boxes and boxes’ of South African passports were found in the hands of an al-Qaeda suspect in London.

      The Home Affairs Department on Monday said it was investigating reports that the suspected head of al-Qaeda in East Africa, Fazul Abdullah Muhammad, who was killed in Mogadishu, had a South African passport in his possession.

      According