Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798156417
Скачать книгу
agent kon wees nie, en hy het met sy martelaarskap gewys waar sy diepste lojaliteit lê. Nasir Raza was deel van daardie beplanning en van die video-opname, van die wasiyeh waarop Humam aan die wêreld verklaar het waarom hy bereid is om sy eie lewe te offer om die bloed te wreek van sy leier, Baitullah Mehsud.

      Dit was molla Burki se opdrag om Sajida en haar ma uit Pakistan te kry, om by hulle familie in Johannesburg te kom rus ná die skok en trauma. Maar wanneer haar ma teruggaan na haar familie in Kanigoram, bly Sajida agter; hier in die molla se huis is haar kamer reeds ingerig. En nou is haar dokumente ook in orde, in Majid se kluis: ’n Suid-Afrikaanse ID en paspoort, want hy en die molla het groot planne met haar.

      Sy oom sit sy bril terug. “Wat van die amptenaar wat haar dokumente uitgereik het?”

      “Dis onder beheer.”

      Voor sy geestesoog sien Majid meneer Heilbron van binnelandse sake met sy spoggerige kar en duur skoene. Hy het tagtig duisend rand gevra om Sajida se dokumente onder die tafel te verskaf. Gesê dis ’n delikate prosedure, hy moet eers ’n geboortesertifikaat ook fabriseer, dis nie sommer net vir druk hier ’n knoppie, druk daar ’n knoppie nie.

      “Geen spore na ons toe nie?”

      “Niks.”

      Die molla vra nie verder uit nie, sit lank kop omlaag in sy stoel, diep aan’t peins.

      “Ek wens ek kon self gaan,” sê Majid. “Vir Sajida in Islamabad gaan ontmoet en haar hierheen bring.”

      Sy oom knik. “Ek weet. Ons wil almal gaan, ons familie daar het ons nodig in hierdie moeilike tyd. Almal is op hulle senuwees, die stresvlakke bly steeds hoog ná daardie besigheid in Abottabad. Die gemoedere sal nie gou kalmeer nie. Maar dis die beste wat ons nou kan doen. Ons stuur geld soos altyd om ons mense daar te help, en ons kry vir Sajida uit. Dan slaan ons hulle waar dit baie seer gaan maak, vir die dood van my broer en sy twee seuns.”

      “Met die grootste wêreldwye publisiteit vir ons Saak sedert 9/11.”

      “Net so. En ons het tyd. Stap vir stap, niks oorhaastig nie. Wat’s die volgende stap?”

      “Die amptenaar,” sê Majid.

      Die molla lyk tevrede; dis wat hy wou hoor.

      Hulle begin gesels oor hulle winkels en die uitbreidings wat Majid beoog: ’n nuwe EasySave in Chatsworth by Durban en een in Mitchells Plain by Kaapstad. En aanbouings aan hulle vlagskip waar Majid se kantoor en administrasie is: die superwinkel in Moroka, Soweto. Meer pakruimte is nodig, meer vurkhysers en operateurs, ’n tweede verkoelingstoor vir bederfbare produkte, vir ingevoerde bevrore hoender, 2 500 bokse per vraghouer, raklewe van 120 dae.

      En meer veiligheidswagte moet gewerf word. Nie plaaslik nie, dié is onbetroubaar. Majid werf sy wagte net in Pakistan. Pashtuns, maar nie uit die stamgebiede nie. Hy soek dié wat reeds hulle tande geslyp het in die kommersiële lewe. Spesifiek in die bloedige labirint van Karatsji se Shershah-motoronderdelemark, die ewigdurende straatoorlog tussen die tradisionele Mohajir-handelaars en die usurpers, die Pashtuns en Balochs wat dié winsgewende bedryf probeer oorneem.

      Majid stuur sy werwers onder Shershah se Pashtuns in, almal oorspronklik uit die noordelike stamgebiede. Die uitgesoektes dink nie twee keer oor die aanbod nie, want in Shershah is jou raklewe maar onseker.

      Faisal en Tariq kom uit Shershah. Hulle is al ’n paar jaar in diens van EasySave in Moroka, eers by die laaiblad waar die lorries die vraghouers vol hoender inbring. Hulle het toesig gehou dat die volledige bestelling in die koelkamer ingaan, op die vragbriewe die bokse afgemerk met boudjies en vlerkies en borsies, die groter bokse met heel hoender, standaard en halaal.

      Nadat hulle hul spore verdien het, hulle toewyding bewys het, is Faisal en Tariq bevorder tot ander pligte. Hulle werk nou buite in die natuur.

      Die volgende oggend vra Majid sy persoonlike assistent om Faisal na sy kantoor te ontbied. Hy bespreek die amptenaar met Faisal en sê hy soek terugvoering oor elke beweging van meneer Heilbron.

      Die terugvoering geskied deur Majid se PA, nooit enige direkte elektroniese kommunikasie tussen hom en Faisal nie.

      Drie dae later, drie-uur die Vrydagmiddag, kom die PA by Majid se kantoor in. “Faisal het nou net gebel.”

      “Ja?”

      “Hy sê meneer H sit op ’n lang middagete saam met ’n joernalis. Hy vra of jy enige opdragte het.”

      “Sê vir Faisal hy moet meneer H uitnooi vir ’n kuier by Easy-Save. Hy moet hom so gou as moontlik bring, ek wil sommer vanmiddag nog met meneer H gesels.”

      13

      Dis die skoene wat Jake eerste opmerk toe meneer Heilbron opdaag, ’n halfuur laat vir hulle afspraak. Die enkelstewels met silwergespes wat skitterend die son vang, Aviators opgeskuif op sy kop. Gesig en kop glad geskeer, vel blinkend soos gepoleerde amaranthout.

      “Wasim noem julle staatsamptenare kripvreters, maar dit lyk vir my na goeie geld wat julle daar by binnelandse sake kry, meneer Heilbron. Wat’s jou skoene, slang, volstruis?”

      Meneer Heilbron bestel filet, sê vir die skraal kelner hy soek dit net geskroei, wil nog die bloed sien. En ’n dubbele Chivas, skoon, sonder ys. Jake vra vir ’n glas chardonnay saam met sy slaai.

      Die kelner stap weg en meneer Heilbron kyk oor die tafel na Jake. “My skoene? Jy’s ’n smartass. Probeer jy sê ek vat iets onder die tafel? Ek mag nie van mooi skoene hou nie?”

      Jake hensop met sy hande. “Hei, nie nodig om te stres nie. Ek bewonder dit net, dis al.”

      “Paciotti,” sê meneer Heilbron kalmer. “Van krokodilvel.”

      Jake stoot sy been langs die tafel uit, wys na sy skoene. “Hush Puppies. Persoonlik is dit my smaak, vir gerief, al kan ek ook handgemaakte skoene bekostig, van . . . van potoroovel.”

      Meneer Heilbron teug aan sy drankie en smak sy lippe. “Potoroo? Wat’s potoroo?”

      Jake wuif afwerend. “Jy’s ’n soort grootkop daar by binnelandse sake?”

      “Jy kan so sê. Toesighouer, streekkantoor-statusdienste, dis my amptelike titel.”

      “Statusdienste, watse status?”

      “Burgerskap, paspoorte, identiteitsdokumente, rekords van geboortes, sterfgevalle, huwelike.”

      Jake kyk hoe meneer Heilbron nog ’n sluk Chivas vat, agtien jaar oud. Hy dink aan “Counter Corruption and Security” op binnelandse sake se webwerf, die sewe waarskuwingstekens vir moontlike korrupsie. Veral die eerste een: An official living way beyond his/her means. In sy hempsak is ’n digitale opnemer met outomatiese stemrespons, kan vir ’n selfoon aangesien word.

      “En dis ’n goeie pos? Goeie geld?”

      “Nee, ons word sleg betaal. My vrou is die een met die geld. Wel, haar pa eintlik, entrepreneur. Sy hou daarvan om vir my duur geskenke te koop. Waaroor wou jy met my praat?”

      Die kelner bring die kos en Jake bekyk die filet. Hy sou ook graag sy tande in so ’n sagte vleisie wou inslaan, maar hy moes oor sy cholesteroltelling ’n caesar kies: vars blaarslaai met krotons, parmakaas, geroosterde hoendervleisrepe, Worcestershire vir die sout ansjovissmaak, growwe swartpeper, olyfolie, spatsels suurlemoensap.

      “Soos ek oor die foon gesê het, dis Wasim wat jou aanbeveel het . . .”

      “Ek’t in my rekords gaan kyk. Kry g’n Wasim Khan nie.”

      “Uhm . . . ek’t mos gesê Wasim is ’n vriend van ’n vriend wat jy gehelp het. Ken nie die naam nie, is dit belangrik?”

      “Persoonlike verwysings, dis al hoe ek werk.”

      “Hy’t gesê meneer Heilbron hou nie daarvan as sy kliënte name rondgooi nie.”

      Jake merk hoe meneer Heilbron hierdie brokkie bepeins.

      “Waarmee het jy hulp nodig?” vra hy oplaas.