Marico se mambas. Piet Swanepoel. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet Swanepoel
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798153348
Скачать книгу
stap Koos by die kombuisdeur uit. Hy gee twee tree en steek vas. In die weste lê ’n swart wolkbank. Ná ’n rukkie kan hy sien dat dit vinnig opkom met blitse wat aanhoudend daarin speel. Ná nog ’n ruk kon hy ook die donderweer hoor rammel. Dit is ’n groot weer. Koos dink aan Jock en vir die eerste keer voel hy bekommerd, al weet hy nie mooi hoekom nie. Dit is asof hy weet Jock hou ook die weer dop.

      Ligte windvlae begin speels deur die bos swiep en toe bedaar dit. Die lug is skielik doodstil, die bome roerloos, asof in afwagting. Groot druppels begin neerplof. En toe skielik bars die storm in al sy geweld los. Blitse en donderslae skeur die lug en ’n stormwind laat die bome buig en kraak. Groot takke word afgeruk en deur die bos gedryf en deur dit alles heen stort die water in strome neer.

      Ná ’n halfuur of so begin die geweld van die storm afneem. Koos staan en kyk oor die kombuis se onderdeur na buite. Hy draai om en haal sy hoed en baadjie van die kapstok afl. Annie hou hom dop.

      “En nou, ou man, waar gaan jy heen? Dit reën nog.”

      “Nee, ek wil maar gaan kyk hoe lyk dit daar by ou Jock, hoe lyk sy dam.”

      Annie het hom deur die oop bodeur staan en agternakyk tot hy tussen die bome weggeraak het. Toe het sy met ’n sug omgedraai en na die stoof toe gestap waar sy begin besig raak het met die aandete. Sy hoop maar die damwal het gehou.

      Ná ’n halfuur of so strompel Koos by die deur in. Sy klere is geskeur, sy hoed weg en sy oë amper toegeswel. Hy lyk sleg. Annie staar hom aan, slaan haar hand oor haar haar mond: “Koos! Wat nou? Wat het gebeur?”

      “Nee, darie verdomde Skot is mal! Ek stap hier af en toe ek by die klein dammetjie kom, toe sien ek hy is heeltemal onder water. Jy sien gans niks van hom nie, net ’n hobbeltjie in die water waar die wal is. Die groot dam is vol, hy loop sterk oor, en ek dink, dit kan nog reën vannag. Dan is daar moeilikheid. Toe loop ek na die Skot toe en klop aan sy deur. Toe hy oopmaak, sê ek vir hom: ‘Joor little dem foel en joor biek dem foel to-e-e!’

      “Toe begin hy sommer slaat aan my!”

      DIE SANDKLIPHUIS

      In ’n klein Vrystaatse dorpie, in ’n deel van die oudorp, staan ’n stewige ou sandkliphuis, nie baie groot nie, net ’n gemiddelde ou boerewoning met ’n breë stoep voor. Dit was die huis van oom Groot Koos Dempers en tant Stienie. Eers onlangs maar het ek die storie van dié ou kliphuis gehoor. Ek het een middag by tant Eysie gaan koffie drink. As jy iets van ons ou dorpie wil weet, veral uit die vroeë jare, dan gaan kuier jy by tant Eysie. Sy is al oor die negentig, maar haar oë is nog net so helder en koringblommetjieblou as die dag baie jare gelede toe ’n jongkêrel haar “Eysie” genoem het oor daardie selfde blou oë.

      Ek het die middag sommer gaan kuier om te hoor hoe dit met haar gaan. So nou en dan het ek vir haar klein werkies in en om die huis gedoen. Ons het in haar ruim ou sitkamer gesit en koffie drink en oor ditjies en datjies gesels. Op pad na haar toe het ek gemerk dat die ou groot doringboom in oom Groot Koos se erf omgeval het. Ek het dit vir haar genoem. Sy het so ’n rukkie stilgesit en toe gevra: “Het ek al vir jou die storie van daardie ou kliphuis vertel?” Ek het nee geantwoord en geweet hier kom ’n goeie storie. Tant Eysie het ’n rukkie so by die oop voordeur sit en uitkyk en toe begin vertel:

      “Daardie jare was dit nog tradisie by die dorpsmense om elke Nuwejaar by die dorpsdam te gaan piekniek hou. Daar was ’n groot kol werfkweek onder die ou reusewitstinkhoutbome so halfpad na die damwal toe, en daar het ons jong klomp dan gebaljaar en ons vermaak met allerhande speletjies soos ‘Ellie Rose’, knikkertjie, derdemannetjie, en nog vele meer. Die grootmense het maar so onder die bome rondgesit, melktert geëet, gemmerbier gedrink en oustories vertel. Nou ja, daar het Koos een Nuwejaar vir Stienie van Wyk ontmoet en die mooi swartkopnooi het sy voete skoon onder hom uitgeslaan en die lang, skugter jonkman het ook dadelik in haar hart gekruip.

      “Stienie was die jongste van vier dogters. Sy het nog twee ouer broers ook gehad. Haar pa, oom Ben van Wyk, het met bees en skaap geboer en vir eie gebruik ’n paar akkertjies mielies geplant. Hy was baie presies op sy boerdery en sy drade en hekke was altyd netjies en heel. Hy was ook ’n ouderling in die kerk en sy kinders is goed grootgemaak deur hom en sy vrou, tant Lenie. Toe Groot Koos nou kom vra of hy by Stienie kan kom kuier, het die twee ouers ná ’n bietjie beraadslaging hulle konsente gegee.

      “Omdat Groot Koos by sy ouers op die dorp gebly het, het hy natuurlik nie ’n ryperd gehad soos die plaaskêrels nie en Saterdagaande het hy maar die paar myl na die Van Wyks se plaas met ’n ou dikwielfiets afgery. Sondae het hy Stienie voor die kerk ingewag en dan het hulle twee bo op die galery gaan sit. Hulle was duidelik baie verlief en van hul vriende het al begin bespiegel wanneer die twee verloof gaan raak.

      “Met Stienie se agttiende vejaardag het haar ouers vir haar ’n groot partytjie op die plaas gereël. Al haar vriende en baie ander jongmense van die omgewing het gekom vir die groot Plesier, soos dit in daardie jare genoem is. ’n Gehuurde orkes was nie nodig nie, want in daardie jare was daar nie dinge soos TV en bandspelers nie en baie jongmense kon een of ander musiekinstrument bespeel. So, vir die dansmusiek het hulle self gesorg en daar was genoeg musikante sodat hulle mekaar kon afwissel en elkeen darem ’n dansbeurt ook gekry het.

      “Saam met ’n paar jongmense van die dorp het ’n onbekende, donker jongman gekom. Omdat hy vreemd was, het almal hom natuurlik raakgesien, maar die meisies het twee maal gekyk, want hy was ’n aantreklike kêrel met swart krulhare en donker oë. Sy vriende het hom voorgestel as Antonio. Hy was van Italiaanse afkoms, en het op Kroonstad gewoon. Hy was op besoek in die dorp om ’n bietjie rond te kyk na handelsmoontlikhede, want hy was van plan om hom in Suid-Afrika te vestig.

      “Hy het saam met sy vriende by ’n tafeltjie plaasgeneem en die jong klomp op die dansbaan dopgehou. Een van die meisies in die geselskap het hom ná ’n rukkie gevra om met haar te dans en dit was gou duidelik dat die kêrel dansopleiding gehad het, want sy bewegings was grasieus en vol vertroue. Daarna het hy met een of twee ander meisies ook gedans, en toe, ná ’n kort pousetjie, het hy baie beleefd vir Groot Koos gevra of hy met Stienie mag dans. Dit was half onverwags. Koos het ’n oomblik na Stienie gekyk, en toe sy glimlag, na die Italianer gedraai en sy kop ja geknik. Die kêrel het galant voor Stienie gebuig en haar toe op die baan gelei.

      “Stienie, wat ’n natuurlike aanvoeling vir ritme en beweging gehad het, het met grasie oor die vloer gesweef en net gou was alle aandag op die paar gevestig. Ná die wals het die Italianer met ’n ligte buiginkie vir Koos dankie gesê en toe weer by sy vriende gaan plaasneem. Groot Koos was nie meer lus om te dans nie en was bly toe een van sy vriende vir Stienie kom vra vir die volgende dans. Sy blik het so nou en dan na die Italianer gedwaal en hy het gemerk dat die man vir Stienie dophou en dat hy vir haar glimlag as sy toevallig na sy kant toe kyk. Die Italianer moes Groot Koos se blik op hom gevoel het, want hy het skielik na hom gekyk. Groot Koos het nie weggekyk nie.

      “Die volgende Saterdag moes Groot Koos sy oom op dié se plaas langs die Vaalrivier met beeste gaan help. Die seisoen se aanteel moes gebrand en gemerk word en daarna moes die droë koeie en van die jong beeste na ’n weiplaas tien myl verder geneem word. Hy sou dus nie voor Sondag weer by die huis wees nie.

      “Stienie het die oggend saam met haar ouers dorp toe gery en terwyl hulle hul besigheid gedoen het, het sy en twee vriendinne wat sy raakgeloop het in die hoekkafee gaan tee drink. Hulle vertel toe dat ’n groep jongmense die middag by die dorpsdam gaan piekniek hou. Die twee haal Stienie oor om saam te gaan. Haar ouers het nie beswaar gehad nie, want hulle het belowe om haar die aand huis toe te bring.

      “Toe hulle by die dam aankom, merk Stienie Antonio is ook daar. Net gou is komberse onder die bome oopgesprei, piekniekmandjies uitgepak, en daar word gelag en gesels en geëet en gedrink. Daarna volg die speletjies: aljander, aljander, so deur die bos, swartvark, en nog ander gewilde pandspeletjies.

      “Antonio het by Stienie aangesluit. Hy het effens moeilik gekommunikeer, want hy het nog ’n bietjie gesukkel met die Afrikaans, maar sy vreemde aksent was vir haar pragtig. Hy was totaal anders as die jongmans wat sy geken het; effens skugter, maar tog vriendelik en sjarmant. Hy het maklik gelag en met aandag geluister wanneer sy iets vertel.

      “Ná