Landskap met diere. Welma Odendaal. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Welma Odendaal
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798153645
Скачать книгу
vlugtig gedruk en vriendelik vir hulle gewaai.

      “Kom jy?”

      Maar sy het nie gegaan nie, nie dié keer nie, hoewel dit ’n dag was wat sy vir ewig en altyd sou onthou: die dag toe sy met Teresa de Ridder kennis gemaak het.

      Kort daarna het Teresa se ma gebel en gevra of Juliana die volgende dag na skool by haar dogter kan kom speel. Háár ma, wat ’n sekretaresse van ’n prokureursfirma in die stad was, was beïndruk. “Dis regter De Ridder se vrou.”

      Haar pa het met sy gebruiklike minagting vir “geleerde” mense skepties ingestem, maar het haar na ete, terwyl hulle twee by die tafel sit en dambord speel, breedvoerig oor die De Ridders uitgevra. Sy het nie veel gehad om hom te vertel nie. Later in haar bed met die lig af, het sy skaars die geluide in die oorkantste buitekamers en die gekerm van die wilde katte gehoor, haar gedagtes by die volgende dag se moontlikhede.

      Die volgende middag het Teresa se ma hulle twee in haar geel-en-wit DKW’tjie by die skool kom haal. Sy het agter gaan sit en Teresa voor, langs haar ma. Teresa het oor die sitplek agtertoe geleun en aanmekaar gebabbel totdat haar ma haar naderhand stilgemaak het. “Ounooi, jy gee vir arme Juliana nie ’n kans nie.”

      Teresa-hulle het in ’n pragtige ou huis met ’n groot tuin en yslike bome gewoon. In die huis het sy kort op Teresa se hakke gebly. Sy was bang dat, as sy haar uit die oog verloor, sy nooit deur die gange en vertrekke en houttrappe haar weg na buite sou vind nie.

      Eers het hulle aan tafel gaan sit om te eet. Daar was koue hoender, slaaie – beetslaai wat geproe het na iets tussen soet en suur – en dikgesnyde bruinbrood. Na ete moes hulle eers in Teresa se kamer gaan rus, en terwyl hulle langs mekaar op die bed lê en giggel en fluister, uitgevind hulle is albei aanhangers van die Tarzan-prentjiesboeke. Hulle het ’n wilde avontuur, wat verlore skatte en afgryslike afgronde ingesluit het, vir die middag beplan. En daar, in die koelte van Teresa se kamer met sy boekrakke en leeslampie en twee beddens het sy vir haar vriendin gesê dat sy haar Buddy kan noem.

      “Buddy? Dis oulik. Waarvoor staan dit?”

      Sy het ’n oomblik gehuiwer. “Dis my spesiale naam …”

      “Dis pragtig, perfek! Van nou af gaan ek jou net Buddy noem. Buddy-buddy-biedie, blinkie, blankie, blonkie …” sing Theresa en begin haar met ’n kussing slaan, en hulle lag en rol en stoei op die mat totdat Teresa gillend opspring en weghardloop. Sy het Teresa begin jaag, af met die trappe, deur die huis, oor die grasperk, verby die tennisbaan van hardgestampte rooi klei, deur die koel laning akkerbome, weer terug tot in die kombuis waar glase grenadella-koeldrank met pitjies en ys in en ’n bord met winkelbeskuitjies op hulle wag.

      Dit was ’n lang middag van helder son en groen loof. Hulle het bome geklim en Tarzan gespeel. Wild geroep en hulle eie stories deur die middag gevleg, skoolrokkies in die broeke gedruk, waaghalsige akrobate oor die groen grasperke en in die groot ou bome. Dit was die langste middag, maar ook die kortste.

      Van hoog bó in die loof van ’n ou akkerboom het sy haar pa met ’n turkoois-en-roomwit Ford Fairlane met witgeverfde wiele en blink bumpers by die wye hek van Teresa de Ridder se huis sien inry. Hy het nou tweedehandse motors verkoop en dikwels met ouer modelle “van die vloer af” huis toe gekom. Sy het meer motorname as enigiemand geken, selfs haar nefies van Johannesburg kon nie altyd die Amerikaanse karre uitmekaar ken nie.

      “1956 two-tone Ford Fairlane coupé …” het sy gespog.

      Maar Teresa de Ridder het met ’n kwaai stem geroep: “Kyk hoe ry daai lokasie-taxi by ons hek in! Dis seker iemand wat my aia kom haal. My ma gaan niks daarvan hou nie!”

      Soos ’n ratse aapkind is Teresa af met die stam van die boom, sy versigtiger agterna. Haar pa het op die voorstoep by die voordeur vir haar gestaan en wag. In die oop deur was Teresa se ma, haar arms styf om haar bors gevou. Sy het voor langs haar pa op die roomkleurige vinielsitplek gaan sit en laag weggesak teen die breë rugleuning. Hulle het in stilte huis toe gery. Naby die woonstelgebou teen die heuwel het hy by ’n kafee stilgehou, vir hom ’n koerant en vir haar ’n roomys gekoop; die duur soort in die vorm van ’n rocket, romerige soet ys met ’n vet sjokoladepunt.

      Onder teen die heining skel en lag die vroue. “Hoei, kleintjie, kom hier,” roep een. Sy kruip agter die rotse uit en stap versigtig nader. Die vrou skep ’n emaljebakkie vol stywepap, strooi ’n vleissousie met donkergroen marogblare bo-oor en gee dit vir haar aan. “Oppas, hy’s warm.”

      Sy gaan sit eenkant op die baksteenmuurtjie. Die vroue gee geen verdere aandag aan haar nie en klets lustig onder mekaar. Soos hulle maak sy haar drie middelste vingers bak en eet die warm kos met haar hand, totdat die bakkie blink en leeg is.

      Die aand hoor sy haar ouers in die kombuis argumenteer. Haar ma se stem word skril. “Maar hoekom? Juliana is so gelukkig in hierdie skool.”

      Sy hoor nie haar pa se antwoord nie, maar weet dat hulle weer die pad gaan vat na elders; ’n nuwe plek, ’n nuwe skool, ’n ander wêreld.

      Hulle vertrek vroeg op ’n Saterdagmiddag, toe die strate stil is, uit Bloemfontein. Dit is bedompig in die kar. Sy rus met haar arms op die agterste sitplekleuning en staar na die pad wat lank en ver agtertoe strek. Teen laatmiddag hou hulle in die koelte by ’n plaat doringbome met ’n sementtafeltjie en bankies stil. Haar ma pak die piekniekmandjie uit: louwarm tee in ’n fles, wit toebroodjies met geel kaas en tamatie wat die brood deurdrenk, en frikkadelle wat in dun lagies gestolde vet onder in die bak lê.

      Sy sê sy wil ’n draai gaan loop en klim deur die draad, stap die veld in tot diep tussen die doringbome. Sy gaan sit op haar hurke en kyk op, op tussen die takke en wit haak-en-steek-dorings deur, na die wolke wat soos skimme deur die blou lug trek, en verbeel haar sy is in ’n wonderlike, vreemde wildernis van oerwoude en watervalle, ’n plek met hoë bome waar sy saam met die bosape baljaar. Totdat Teresa de Ridder in ’n wit, bollende gewaad van sagte satyn, soos ’n gladde, glimmende swaan, viets met haar tone na weerskante gepunt en lang vlegsel blink agterna, voor haar neus verbygly. En net toe sy agterna wil sweef in die verleidelike wêreld in, is dit haar pa wat voor haar staan.

      “Buddy?” Hy troon bo haar en keer die sonlig uit haar oë. “Kom nou, Buddy, die pad is nog lank …”

      Sy kyk hom lank aan, skud dan haar kop. “My naam is nie Buddy nie,” sê sy, “moenie my weer só noem nie,” en staan op van die rooi grond.

      Mister Universe

      Barrie en ek lê in sy kamer op die bed. Hy het ’n kers aan en sê die lig is sagter só. Maak met sy vingers patrone teen die muur: krom duim, stywe voorvinger, kneukels oop en toe. Ons lag. Barrie se toks hang teen die oorkantste muur onder ’n driehoekige Springbokvlaggie en ’n Huisgenootfoto van Frik du Preez. Frik grinnik skeef, oopbek. Die wind waai en die poinsettia teen die venster maak ratse patrone teen die plafon. Barrie se geweer is in die kas, die deur staan halfoop en ek kan die kolf in die flou lig sien blink.

      Dis Barrie en ek langs mekaar; ek drink ’n Coke, hy rol ’n skyf. Hy praat weer van die ou afgebreekte fort wat hy bo-op die koppie ontdek het, sê hy wil my gaan wys, sê daar lê patroondoppies rond, maar alles is oorgroei met aalwyne en bos. ’n Mens sal mooi moet soek. Ek is opgewonde oor die doppies. Barrie sê daar is koeëls ook, sommige nog lewendig. Dalk kan ons vroeg Saterdagoggend vir brekfis gaan en ons rugsakke vat en ’n pan. Ons kan by die fort vuur maak soos die verkenners. En wag vir die son om op te kom. Miskien is die maroelas nou al ryp.

      Barrie sê hy sal sy geweer saamvat.

      Hy steek sy skyf aan. Die brandende vuurhoutjie maak sy oë lank en nou. Hy blaas die soet rook by die halfoop venster uit. Die wind ruk. Barrie het sulke knop-gebarste vingers, altyd swart van sy bike se ghries.

      “Wanneer het jy laas met Lenie gepraat?” vra Barrie.

      “Nee, ons praat nie meer nie, jy weet mos. Laas het ons nog baklei oor Anke se rolskaatse, ek het jou vertel, man.”

      Barrie is stil. Hy suig aan die skyf. Ek trek my bene op en stamp aan hom. Hy lê sy arm op my knie; sjoefftt, suig hy. Die kers