Titelblad
DR. HENRY CLOUD
DIE EEN OPLOSSING VIR
DIE LEWE
Waardevolle strategieë om ’n balans te handhaaf
tussen jou werk, gesin & geloof
LUX VERBI
Opdrag
Aan my ouers,
Henry en Louise Cloud, wat albei oorlede is terwyl ek hierdie boek geskryf het.
Dankie vir jul albei se geïntegreerde lewe. Julle het ons gewys dat dit moontlik is om werk, gesin, geloof, diens en pret te verenig. Daar is baie wat julle nagelaat het waarvoor jul gesin, vriende en gemeenskap dankbaar kan wees. Ons sal julle mis. Mag ons almal daarna streef om aan elke aspek van die lewe reg te laat geskied soos julle dit vir meer as negentig jaar gedoen het.
Deel 1
DEEL 1:
Fondamente
Hoofstuk 1
1
Identifiseer die probleem – en die oplossing
Maria, die hoof- uitvoerende beampte wat nie die sneller kan trek nie
Maria is die hoof- uitvoerende beampte van ’n tegnologiemaatskappy en het ’n span met uiteenlopende funksies, van finansies tot bemarking en kleinhandelverkope, wat aan haar verslag doen. Sy dra die uiteindelike verantwoordelikheid vir die onderneming se prestasie en die kultuur binne die organisasie. Die maatskappy toon ’n paar jaar reeds goeie winste en daarom kon sy, wanneer daar tyd was om na te dink, ’n probleem wat haar soms pla, ignoreer.
Stan, een van haar visepresidente, is ’n swak skakel in die ketting. Sy weet dit, en die ander weet dit ook. Hy is ’n gawe man, maar presteer nie na wense vir iemand in sy posisie nie. Die momentum van die onderneming het gesorg dat die geheelbeeld bevredigend genoeg was om die waarheid waarvan almal op daardie vlak bewus is, te verdoesel. Stan is nie opgewasse vir sy taak nie en behoort vervang te word. Ander spanlede voel om twee redes ongelukkig oor sy teenwoordigheid. Eerstens voel hulle dat hul prestasies hom suksesvol maak en dat dit onregverdig is. Tweedens weet hulle dat hulle almal beter daaraan toe sal wees as Stan vervang word en dit ontmoedig hulle die meeste. Hulle voel hulle word verkul uit wat hulle kon hê as ’n ware presteerder in sy posisie was.
Daarom voel hulle ongelukkig oor hul situasie, wrokkig teenoor Stan, wat so ’n gawe ou is, en wrokkig teenoor Maria, wat niks omtrent hom wil doen nie. Toe ek vir Maria gevra het waarom sy nie die situasie regstel nie, het sy gesê: “Ek kan hom nie net afdank nie. Hy is so gaaf. Hy is vyf en vyftig jaar oud, op die toppunt van sy loopbaan en dit sal sy einde beteken. Waarheen kan hy gaan? Ek weet nie. Ek weet ek behoort iets te doen, en ek moet dit doen, maar tot dusver kon ek net nie sover kom nie. Ek stel net die onvermydelike uit.”
David, die bestuurder wat nie sy man kan staan teenoor ’n boelie van ’n baas nie
David is ’n middelvlakbestuurder in ’n bedryfspan. Hy is verantwoordelik vir projekbestuur en om produksieprogramme op koers te hou. Gevolglik kry hy met talle afdelings en verskeie spanne te doen. Hy hou van die komplekse aard van sy werk, maar verduur ook baie spanning aangesien hy aanspreeklik gehou word vir baie dinge wat buite sy beheer is. Hy het nie ware gesag oor party van die mense van wie hy onderling afhanklik is nie.
Sy baas, Kenneth, begryp nie hierdie werklikheid nie en is ’n boelie. Hy raas met David as die produksie agterraak, hoewel dit teenproduktief is. Ná sodanige onderonsies voel David ellendig oor alles en veral ongelukkig oor homself, maak nie saak hoe geesdriftig hy oor die werk, die maatskappy of sy eie doelwitte was nie. Dit krap hom om dat Kenneth soveel mag oor sy gevoelens het.
Ongelukkig is dit nie net David wat onder die situasie ly nie, maar ook sy gesin. Baie keer kan hy nie die jongste onderonsie afskud nie en Kenneth het nou deel geword van David se huis en sy huwelik. Baie aande wanneer hy tuis kom, is hy nie so toeganklik vir sy vrou en kinders as wat hy graag wil wees nie omdat die ongelukkigheid van die werksituasie hom bybly.
Ryan, die MBA-gegradueerde wat nie sy tyd kan bestuur nie
Eenvoudig gestel: Ryan is oorweldig. Hy weet nie hoe om die trein tot stilstand te bring – of selfs net die spoed te verminder nie. Sy werkure is skynbaar nooit genoeg nie. Dit lyk of die projekte net groter en meer word, en die omvang van alles begin hom onderkry. Maar dit is nie die ergste nie. As ’n pas afgestudeerde MBA-student is hy gewoond aan enorme werkladings. Harde werk maak hom moeg, maar hierdie werk is anders. Dit mergel hom uit.
Ryan voel asof hy al meer tyd en energie afstaan aan dinge waaraan hy geen erg het nie en al minder aan dinge waarvan hy hou. Daar is meer vergaderings en afsprake en sperdatums – wat sy energie tap sodra hy hulle op sy kalender sien – as aktiwiteite wat hom geesdriftig maak. Hy kom agter dat hy die meeste van sy tyd gebruik vir dinge wat nie juis sy passie, talente of selfs beste vaardighede of vermoëns benut nie. Dis nie waarom hy so hard gewerk het aan sy nagraadse studie nie.
Ryan voel dieselfde oor sy persoonlike lewe. Hy en sy vrou val saans dikwels uitgeput in die bed. Hulle sê vir mekaar dat dit lyk asof hulle nooit meer tyd vir mekaar het nie en nooit tyd afstaan om die dinge te doen waarvan hulle hou met die mense met wie hulle die graagste tyd deurbring nie.
Net soos sy werk, het hul lewens ’n trapmeule geword. Sy werk is ook deel van die probleem. Hy is saans dikwels besig met e-posse, beantwoord oproepe tydens ete of kyk na sy Blackberry wanneer hulle uitgaan of uiteindelik kans kry om ’n ent te gaan stap. Ryan se vrou vra dikwels: “Moet jy dit nou doen?” Hy voel hy moet, en wonder dan soms waarom. Sy ergste nagmerrie is die gedagte dat sy leefwyse oor twintig jaar dieselfde gaan wees. Hy stel hom voor hoe hy dan steeds doen wat hy nou doen – dit voel asof hy niks anders doen as werk nie en dat dit op die een of ander manier nie die regte ding is nie.
Sophie, die skeppende direkteur wat nie kan fokus nie
Sophie kry deurlopend twee parallelle reaksies van haar base en kollegas. Hulle hou baie van haar en is beïndruk met haar skeppingsvermoë, visie, sjarmante omgang met mense en haar vermoë om almal met haar nuutste plan te begeester. Terselfdertyd raak hulle uiters gefrustreerd met haar verstrooidheid, haar onvermoë om dinge af te handel en die chaos van byna alles wat sy doen.
Vir ’n lang tyd was Sophie se skeppingsvermoë en al die ander goeie dinge so opwindend en begeesterend dat mense graag saam met haar wou werk. Maar deesdae verminder die entoesiasme om te midde van haar gebrek aan struktuur en orde te werk. Haar kollegas raak moeg daarvoor en die negatiewe aspekte maak hulle tans ook onwillig om saam met haar te werk. Trouens, party mense verkies projekte waarin hulle glad nie op haar hoef staat te maak nie en selfs haar baas het so te sê genoeg gehad.
Sarah, die assistent wat nie haar baas kan konfronteer nie
Sarah is aangenaam, aantreklik, spontaan en baie gesteld op haar werk. Sy hou daarvan en wil graag haar baas tevrede stel. Sy het nog altyd alles gedoen wat hy wou hê sy moes doen en meer as sy kon – deur meer werk te aanvaar, haarself te verontrief, wat ook al nodig was. En haar baas het dit waardeer.
Die afgelope tyd het sy waardering egter ’n nuwe gedaante aangeneem. Dis asof dit minder met haar werk en meer met haar te doen het. Hy praat minder oor haar goeie werk met hierdie of daardie opdrag, en meer oor haar persoonlik.
Aanvanklik het sy dit net as komplimente beskou en dit geniet. Sarah was bly dat haar baas so ’n goeie opinie van haar het. Maar nou voel dit asof sy komplimente meer opdringerig raak en hy minder praat oor eienskappe wat met haar werk te doen het en meer oor haar voorkoms, persoonlikheid en begeerlikheid.
Sarah weet nie hoe om haar gevoelens te verwoord nie, maar sy voel tans baie ongemaklik in sy teenwoordigheid. Hy het begin om al later by die werk te bly tot almal behalwe hulle weg is. Sy voel al hoe meer ongemaklik. Maar sy voel ook dit sou onvanpas wees om iets te sê aangesien hy niks spesifiek gedoen het waarna sy onomwonde kan verwys nie.
Sy voel net in haar binneste dat sy optrede verkeerd is.