In God se teenwoordigheid. Johan Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315687
Скачать книгу
lyk jou CV? Watter prestasies het jy behaal? Oor watter akademiese kwalifikasies beskik jy? Is jy ’n bekende naam in die sakewêreld? Ek lees onlangs ’n aantal CV’s van mense wat vir ’n belangrike betrekking aansoek doen. Almal uitmuntende persone. Die dinge wat hulle onderskei, is onder meer akademiese prestasies, gemeenskapsdiens en leierskap. Natuurlik is dit alles uitstekende aanbevelings vir ’n persoon wat ’n verantwoordelike pos moet vul. Maar is dit inderdaad die heel belangrikste? Plaas ons nie gewoonweg net te veel klem op waardes wat tog uiteindelik nie ewigheidswaarde het nie?

      Paulus gee, so effens tong in die kies, sy godsdienstige CV hier in Filippense 3. Met daardie CV sou hy in die beste Joodse geselskap loshande ’n pos kon verwerf. Hy is ’n gebore Israeliet, besny, Fariseër, wetsgehoorsaam en ywerig. Is dit nie miskien ook dieselfde soort CV wat baie kerkmense vandag nog voorhou nie? Gebore in ’n Christelike milieu, gedoop, wetsgehoorsaam, ywerige kerkganger. Maar is dit die dinge wat regtig saak maak, vir God saak maak?

      En dan verklaar Paulus waaroor dit ná sy bekering vir hom gaan: Ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde (vers 8). Om Christus te ken – dit het vir Paulus die hoofsaak geword. Want dit is ’n saak van blywende waarde. Ja, die ander goed mag dan ook daar wees. Maar altyd ondergeskik aan die hoofsaak.

      Here, ek wil U graag nog beter en beter leer ken! Amen.

      22 Maart

      Oor watter sekuriteite beskik jy?

      Maar God het vir hom gesê: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie. Lukas 12:20-21

      In die gelykenis van die ryk dwaas gaan dit oor materiële sekuriteite, iets wat vir die meeste mense van groot betekenis is. Hierdie man was ’n agtermekaar boer. Sy sake is reg bestuur en gevolglik het hy die goeie vrugte gepluk. Hy was ’n ryk boer. Soos dit maar met boere is, het hy sy winste in die boerdery teruggeploeg en net nog meer wins behaal. Sy pakplek het te klein geraak. Sy beker van geluk het oorgeloop. Toe besluit hy om die tuig neer te lê. Hy was tog materieel meer as genoeg voorsien. Hy kon met genoegdoening “so ja!” sê en op sy strandhuis se stoep gaan koerant lees.

      Waarom sou Jesus hom dan ’n dwaas noem? Is dit verkeerd om vir jou aftrede voorsiening te maak? Is dit verkeerd om aardse sekuriteite te hê? Nee. Maar dit gaan oor prioriteite. Die vraag is watter rol aardse goed in jou lewe inneem. Ons hoor nie dat hierdie ryk man van God praat of met God rekening hou in sy aftreebeplanning nie. Dis heeltyd net sy eie belange wat ter sprake kom. Hy het vergeet dat hy ’n siel het.

      Ek raak soms benoud as ek sien hoe mense in welvaartomgewings besig is om hulle aardse sekuriteite op te stapel. Goeie mense. Kerkmense. Christene. Dan wonder ek presies in watter mate God deel is van hulle materiële beplanning. Hoeveel van die winste moes nie in God se ryk teruggeploeg word eerder as om dit in jou eie onderneming op te gaar nie?

      Here bewaar my van ’n verknogtheid aan dinge van mot en roes. Amen.

      23 Maart

      Wat is jou status?

      As vir God selfs die maan nie helder is nie en die sterre nie blink genoeg nie, hoeveel te minder ’n mens, ’n blote wurm, ’n mensekind, wat maar net ’n ruspe is? Job 25:5–6

      Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as ’n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel. Jesaja 41:14

      Jy is maar net ’n wurm. Eina! Kan dit regtig so erg wees? Is Job se vriend Bildad nie so effens te kras op die mens nie? Maar in Jesaja 41 is God self aan die woord, en wat noem Hy sy volk? Ja, niks meer as ’n wurm nie! Is dit nou regtig wat ek van myself moet dink? Is dit my status?

      Job verdedig homself voor God deur na sy goeie lewe te verwys. Bildad meen egter dat ’n mens niks het om homself oor te verbeel nie. Veral nie voor God nie. God is so groot dat sy glansryke heerlikheid selfs dié van die maan en sterre oortref. En in Jesaja gesels God met sy volk wat ongelukkig is omdat Hy skynbaar nie na hulle luister nie. Hulle is tog vername mense. “Nee wat,” sê die Here, “julle is niks meer as ’n klompie wurms nie. So klein en nikswerd. Moet julleself tog nie te veel verbeel nie.”

      Dit lyk vir my dat dit die vertrekpunt is vir die vasstelling van jou status voor God. Jy is niks meer as ’n brose skepsel nie. So klein, so breekbaar, so hulpeloos … totdat … Totdat God jou optel en aan jou status gee. Totdat die Heilige van Israel, jou Verlosser, vir jou help. Of anders gesê: totdat jy jou absolute afhanklikheid van die Here besef. Erken eers jou wurmstatus voordat jy jou oor jou skoenlapperkleure kan verheug.

      Here, in die lig van u heilige heerlikheid is ek so oneindig klein . . . Amen.

      24 Maart

      Jy is vir God kosbaar

      Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Jesaja 43:1, 4

      Hoe voel jy, wurmpie? Klein en broos en afhanklik? Wel, dan is jy op die regte spoor! Want in Jesaja 43 ontdek jy jou regte status, of liewer: jou volledige status. Ja, jy bly maar klein en broos, maar jy is in God se hand. Hy hou jou vas. En Hy sê jy hoef nie bang te wees nie. Hy, jou Skeppergod sal jou beskerm en vir jou sorg.

      As jy dus aan jou status wil dink, blaai terug na Genesis 1:28. Daar hoor jy dat jy na God se beeld geskape is. God se beeld, sy wese, moet in en deur jou lewe geopenbaar word. En die Here sê voorts dat Hy jou op jou naam geroep het. Hy ken jou by name. En Hy het ’n saak met jou, daarom roep Hy jou. Hy trek jou as’t ware by name nader aan Hom, want jy is sy kosbare eiendom.

      Kosbaar vir God. Is dit nie een van die wonderlikste dinge wat jy oor jouself kan weet nie? God gaan nog verder: Hy sê dat Hy vir jou ’n hoë agting het. God dink baie van jou. Jy is vernaam in sy oë. Hy dink so baie van sy kosbare eiendom dat Hy selfs mense se lewens in jou plek gee sodat jy kan lewe. Aan die kruis het Hy die lewe van sy eie Seun in jou plek gegee sodat jy Hom jou Vader kan noem.

      Dít is jou status: kind van God!

      Here, baie dankie dat ek u kind is. Dankie dat ek vir U kosbaar is. Amen.

      25 Maart

      Hoe sterk is jy?

      Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Korintiërs 12:7–9

      Terwyl jy besig is om van jou lewe bestek te neem, is daar heelwat dinge waaroor jy baie opgewonde kan raak. Daar is soveel Skrifgedeeltes wat jou verseker dat God vir jou lief is en dat Hy jou in die holte van sy hand hou. Uit jou eie lewenservaring is daar waarskynlik ook talle voorbeelde van God se verrassende genade. Maar … . Ja, daar is altyd ’n lastige “maar”. Maar dit gaan tog nie altyd so voor die wind met jou nie. Ja daar is die heerlike hoogtepunte en die sekere wete dat jy aan die Here behoort, maar daar is ook die af dae, en erger nog: daardie knaende doring in die vlees.

      Paulus kon van die wonderlikste geestelike ervarings getuig. En tog was daar in Paulus se lewe iets wat hom so geweldig gehinder het dat hy dit as ’n doring in sy vlees beskryf. Hierdie doring het hom op sy knieë gehou. Ons weet nie wat dit was nie, maar dit moes iets baie ernstig gewees het as hy met soveel drif gebid het dat die Here dit tog moet wegneem. Maar die Here het dit nie weggeneem nie. Tog het die Here vir Paulus ’n antwoord gehad: My genade is vir jou genoeg. En dan kom Paulus tot die gevolgtrekking dat God se krag deur sy swakheid tot openbaring kom.

      Here, hou my tog baie nederig, op my knieë, sodat u krag in en deur my lewe tot openbaring