Donderdag 19 Januarie
Lees Deuteronomium 11:13–21.
Hulpmiddels tot volheid
Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul (Deut 11:18).
“Is hierdie glas half vol of half leeg?” is die toets wat ons soms gebruik om te weet of iemand ’n optimis of ’n pessimis is. God is egter nie tevrede met ’n halwe glas of ’n halwe lewe nie. Hy wil ons lewe vul. Hy wil deel wees van elke aspek van ons lewe. Elke kamer in ons lewenshuis is syne: die sitkamer, die slaapkamer, die studeerkamer, die werkkamer, die gesinskamer, die speelkamer – elke een. Hy wil elke kamer met sy vreugde en vrede en liefdevolle teenwoordigheid vul.
In vandag se gedeelte het ons weer gelees van verskeie hulpmiddels wat Moses aanbeveel om ons te help om hierdie volheid te ervaar. Die geheim is om daardeur die woorde van die Here te ken. Daarom lees ons elke dag in die Bybel, nie net uit nuuskierigheid nie, maar om ons lewe te verander. En ons moenie die dinge wat ons daarin ontdek, vir onsself hou nie. Ons moet met mekaar deel wat ons gelees het, sodat ons mekaar kan aanmoedig op die pad van die Here.
Die Here se woorde kan ons lewe nie vul as ons dit nie memoriseer nie. Onthou jy nog die teksverse wat jy as kind en jongmens uit die kop geleer het? Dit is mos juis daardie teksverse wat jy vandag nog kan aanhaal. Kom ons memoriseer sommer vandag se teks, en waar dit staan, sodat ons ook in die toekoms kan onthou om ons spens vol te hou met die goeie dinge uit die Woord.
En wat is die beste manier om ons kinders vir die lewe voor te berei? Eenvoudig om te maak soos Moses hier sê: om hulle ook te leer om die Woord te ken. Dan het hulle die wapens wat hulle nodig sal hê as die tye van versoeking kom.
GEBED: “Here God, vul my hart en lewe met u woorde.”
Lees vanaand Deuteronomium 11:22–32 en let op die gevolge van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid.
Vrydag 20 Januarie
Lees Deuteronomium 12:1–12.
Fokus op die Here
Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop ander nasies hulle gode dien nie (Deut 12:4).
“Daardie beelde in die glaskaste langs die paaie is nie almal van Hindoe-gode nie. Sommige is van Christen-heiliges,” verduidelik ons kollega in Sri Lanka. Hoe verder ons gery het, hoe duideliker was dit dat daar weinig verskil tussen die Christene, die Boeddhiste en die Hindoes was. Dit was een kultuur. Dit was miskien een manier om Christenvervolging te vermy, maar die uniekheid van Christus het in die slag gebly. Christenskap was maar net nog ’n godsdiens, en een met ’n uitlandse God daarby. Min mense het die uniekheid van redding uit genade alleen verstaan. Geen wonder dat Boeddhiste daar die ander godsdienste probeer uitroei nie.
Moses het dieselfde probleem ervaar. Daarom moes hy baie sterk maatreëls tref om die volk te help om op die Here alleen te fokus. Hulle moes al die aanbiddingsplekke van die ander gode vernietig, sodat hulle nie versoekings vir Israel sou wees nie. Die tempel moes die fokuspunt van die volk se godsdiens word, wat ook die eenheid van die volk sou bevorder. Daar was nie streeksgode wat bykomend gedien moes word nie.
Sedert Christus gekom het, hoef ons nie meer te stry oor die regte plekke vir aanbidding nie. God is daar waar mense Hom deur die Gees en in waarheid aanbid (Joh 4:24). Daarom hoef ons nie vandag meer na Jerusalem te reis om met Hom te praat nie. Hy is nou hier waar jy hierdie woorde sit en lees. Kom ons geniet sy teenwoordigheid!
GEBED: “Here, U is so gans anders as die mensgemaakte gode. Help my om elke dag ’n lewende verhouding met U te bou.”
Lees vanaand in Deuteronomium 12:13–19 oor die rol van eetplekke in die godsdienstige lewe, en die feeste vir die Here.
Saterdag 21 Januarie
Lees Deuteronomium 12:20–32.
Alle godsdienste is nie gelyk nie
Moenie sê: “Hoe vereer hierdie nasies hulle gode? Ek sou dit ook so wou doen” nie (Deut 12:30).
“Hoe kan jy teen iets praat wat jy nog nie self ervaar het nie?” is die redenasie waarmee baie mense deur dwelms, drankmisbruik, okkultisme en satanisme gevang word. Mense is mos nuuskierig. “Ek wonder hoe dit voel.” “Is daar regtig so iets?” “Sê nou dit werk?” “Daar is tog niks mee verkeerd om glasie-glasie te speel, of om by ’n partytjie ’n Ouija-bord te gebruik nie?” “Ag toe, net een keer sal tog nie skade doen nie?” En so trap ons in die slagysters wat die duiwel vir ons stel.
Vir die Israeliete het daar ook baie slagysters in die pad gelê. Ongelukkig het hulle baie gou van Moses se waarskuwings vergeet, en keer op keer maar weer in afgodediens verval. En elke keer was die gevolg dat die Here hulle in die hande van hulle vyande oorgegee het. Ons lees hier van mense wat hulle eie kinders lewend verbrand het om hul afgode te dien (32) en selfs dít het later onder die Israeliete voorgekom (Jes 57:5).
“Maar Ma, almal maak tog so,” is al eeue lank die argument van kinders wat graag soos die ander wil wees. Groepsdruk is iets vreesliks, en ’n kind wil nie “uit” wees nie. Ons moet hulle dus deur ons voorbeeld en ons woorde help om te verstaan dat “almal” nie noodwendig reg is nie. Dis dom om altyd te wil wees en doen soos die ander doen. Die staat het besluit alle godsdienste is gelyk. God stem nie saam nie. Vir wie gaan ons vandag en môre luister?
GEBED: “Here, U is heilig en U is die enigste Here. Ek wil U alleen met my hele hart dien.”
Lees vanaand in Deuteronomium 13:1–10 hoe ernstig ons gewaarsku word teen profete, vriende of familie wat ons na dwaalleringe wil verlei.
Sondag 22 Januarie
Lees Psalm 35:1–10.
Die God van verdruktes
Here, wie is soos U wat die swakke bevry van dié wat sterker is, die swakke en die arme van dié wat hom beroof? (Ps 35:10.)
“Wat maak ek as onreg teenoor my gepleeg word?” is die vraag waarmee meer as een gelowige worstel. Dit gebeur soms dat ’n mens uitgebuit word, dat mense onredelike eise stel, dat jy voor die hof gesleep word en valslik aangekla word. Dit kan wees dat die hofuitspraak teen jou is, en dat jy die slagoffer van oneerlikheid word. Jy openbaar korrupsie, en in plaas daarvan dat jy bedank word, word daar nou teen jou gediskrimineer. Jy verloor jou werk deur regstellende aksie of omdat ’n ander maatskappy julle s’n uitkoop. En vandag gaan jy kerk toe met hierdie swaar las op jou hart.
Dawid het dit ook ervaar. Maar hy het geleer dat ’n mens met alles, ook die slegste dinge, na God toe kan gaan. Ons lees vandag hoe hy sy lot bekla en selfs God se straf op sy vyande afsmeek. Ons kan maar eerlik wees as ons met ons hemelse Vader praat. Hy ken ons deur en deur, en weet ook waarom Hy soms onreg toelaat. Maar Hy belowe dat alles vir ons ten goede sal meewerk, as ons Hom vertrou (Rom 8:28).
Ons kan dus vandag eerlik en vrymoedig vir die Here presies sê hoe ons voel. Hy is aan die kant van die verdrukte en die swakke, sê ons teksvers. Hy is aan jou kant, as dit is wat tans met jou gebeur. Ons kan Hom nou al in die geloof dank vir die uitkoms (Ps 35:9). En kom ons gaan loof Hom met ons hele hart, as uitdrukking van ons geloof. Daar by die kerk kan ons mekaar bemoedig en mekaar ondersteun.
GEBED: “Here, dankie vir tye wanneer dit nie goed gaan nie, want dit dryf my na U toe.”
Lees vanaand in Psalm 35:11–18 van die meineed, ondankbaarheid en spotlag van die goddeloses. Hoe moet ons daarop reageer?
Maandag 23 Januarie
Lees Deuteronomium 13:11–18.
Keer die kwaad
Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so ’n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie (Deut 13:11).
“Bring asseblief die doodstraf terug,” het meer as 80% van die deelnemers