Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315595
Скачать книгу
gekom het?” Die rabbi kyk hulle twee skerp aan.

      “Dat ons daaruit sal leer …”

      “Verstaan jy Adonai se optrede effens beter, Chanok?”

      Henok knik.

      “Maar Israel self het nog nie geleer nie …” sug die rabbi.

      “Rabbi,” praat Marc vir die eerste keer weer toe hy stilbly, “Kan ek vir u ’n gedeelte lees uit ’n baie ou vertaling in die taal van my geboorteland?”

      “En dié land is?”

      “Suid-Afrika.”

      “Nu, Marc, waarom nie? Ek sal dit in my eie Bybel volg. Waar lees jy?”

      “Openbaring 21 vers 3 tot 5.”

      Marc trek sy verslete weergawe van die 1933-vertaling uit sy skildertas langs sy stoel en sy hande bewe toe hy vir die rabbi die plek in Openbaring aanwys. Sy stem tril toe hy lees:

      “En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: ‘Kyk die tabernakel van God is by die mense en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God sal self by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie, ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het vir my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”

      Toe huil die ou rabbi geluidloos, sy trane drup in sy yl baard en val op die tafeldoek.

      Eindelik bedaar hy en verduidelik: “Dat HaShem die trane van ons oë sal afvee … Ek het onlangs die verhaal gelees van een van die Jode wat voor die Duitse oorname in 1939 in Chodecz, ’n stad in Sentraal-Pole, gewoon het. Dit het my geweldig aangegryp …”

      “Wil u ons vertel?” vra Marc sag.

      Die rabbi knik. “Kort na die Duitsers die stad oorgeneem het – hy was toe maar ’n seun van twaalf – moes hy sien hoe Jode van die omgewing in ’n bos digby sy woning bymekaargejaag en doodgeskiet word. Hyself het ontkom, maar kort daarna moes hy ook die dood in die gesig staar. Die SS se distriksbevelvoerder het ’n Duitser van daar rond gevra om vir hom ’n eendejag op die meer te reël. Die seun, Roman, saam met twee ander is aangesê om saam te gaan, as helpers. Die SS-bevelvoerder het kort voor lank sy eend geskiet. Hy het na een van die seuns gedraai en hom beveel om uit te swem en die voël te gaan haal. ‘Maar ek kan nie swem nie,’ het die seun gesê. Hy het ook ’n kardoesbroek aangehad wat vol water sou raak. Maar hy is met ’n vuurwapen gedwing om ál dieper die water in te gaan tot sy voete nie meer kon grond raak nie. Hy het woes met sy arms begin slaan en in die water gespartel tot hy onder die oppervlak verdwyn het. Roman het gestaan en kyk, versteen van vrees. Ná ’n paar minute was dit duidelik dat die seun verdrink het.”

      Henok sis geskok deur sy tande.

      “Die SS-man het net gelag en na die tweede seun gedraai. ‘Ek kan ook nie swem nie,’ het dié gesê. Hy is aangesê om huis toe te hardloop. Toe hy omdraai om te gaan, het die Duitser hom summier doodgeskiet. Roman was ’n goeie swemmer en dit het sy lewe gered. Hy het die eend gaan haal en hulle het vir hom gesê hy kan huis toe gaan. Hy sê toe hy wegstap, kon hy die Duitsers se oë op sy rug voel en het hy asem opgehou vir die skoot.”

      “Verskriklik!”

      “Wat het later van hom geword? Leef hy nog?”

      “Wel, hy het drie jaar gelede nog geleef toe ek die storie gelees het. Hy het daardie episode oorleef en ook die hongersnood in die Lotz-ghetto. Net om toe na Auschwitz gedeporteer te word. Daar is hy onderwerp aan dr Josef Mengele se keuring tussen dié gevangenes wat sterk werkers sou uitmaak en dié wat net vir die dood sou deug. Dít het hy ook oorleef. Toe is hy as ’n slawe-arbeider na Dresden gestuur.”

      “En dié stad is geweldig deur die Geallieerdes gebombardeer,” merk Henok somber op. “Aan die einde van die oorlog …”

      “Dis reg. En, byna ongelooflik, het hy selfs dié aanslag oorleef. Maar almal wat hy geken het, was dood – sy ma, pa, oupa, broers, susters, tantes, ooms, bure, vriende … Almal is uitgewis, asof hulle nooit hierdie aarde bewoon het nie.”

      “Wat het na die oorlog van hom geword?”

      “Dit weet ek nie presies nie. Toe ek die storie in 2007 gelees het, was hy ’n man van 79, welgesteld met ’n groot huis in Londen. Sy kinders was almal gevestig en goed daaraan toe.”

      “Daar moet groot oorlewingsvermoë in ’n Jood se DNA wees,” sê Henok droog.

      “Inderdaad.”

      “Het hy nooit weer sy ouerhuis gaan opsoek nie?” vra Marc.

      “Hy is wel weer ’n keer terug Chodecz toe om te sien wat van die huis geword het. Maar daar woon uiteraard nou Pole wat hom alles behalwe goedgesind was. Hulle dag hy kom terug om die huis op te eis. Wat hy natuurlik nie meer in staat was om te doen nie.”

      “Ek en my vrou is in 2008 Litaue toe,” vertel Marc. “Ons was in Vilna en toe na Kovno. My grootmoeder aan my pa se kant het in ’n shtetl daar grootgeword voor hulle in 1939 na Suid-Afrika gevlug het. Dit was ’n ontroerende ondervinding.”

      “Was julle by die Ponar-woud?”

      Marc knik.

      “Wat het daar gebeur?” vra Henok.

      “Die Nazi’s het vier en sewentig duisend Jode uit die ghetto’s by Vilna gehaal en daar op die rand van massagrafte doodgeskiet … en die liggame met stootskrapers toegestoot.”

      “O, natuurlik, dis waarvan Zvi ons vertel het. Die storie van die Joodse meisie wat nie dood was nie, maar onder die lyke uitgekruip het en Jode kilometers daarvandaan gaan vertel het wat aangaan.”

      “Sarah Menkes,” sê die ou rabbi somber en vee vermoeid oor sy voorkop.

      “Ek het van ons Israelse gids verstaan dat dit steeds taamlik anti-Semities in Litaue is. Is dit so?”

      “Wat sal ek sê? Jy sien, die anti-Semiete was onder dié wat teen Hitler geveg het. Hulle was nie meelopers nie; daarom is hulle nie ná die oorlog deur die bewind uit die gemeenskap verwyder soos gebeur het in Duitsland en ander plekke waar die bevolking die Nazi’s gesteun het nie. In Pole het anti-Semitisme ongestoord bly voortbestaan. Individuele Jode is nog altyd vermoor en bloedbaddens het steeds plaasgevind, soos die een in Julie 1946 by Kielce, waar veertig Jode doodgemaak is. Is Jodehaat vandag nog daar aan die orde van die dag? Dit sal ek nie sê nie, maar ek kan ook nie sê dat Jode daar besonder geliefd is nie.”

      “Waar ís hulle?” vra Marc wrang.

      Jerusalem, Motzi Shabbat 30 Januarie 2010

      Adoni, vir die eerste keer na ’n baie, baie lang tyd kom ek weer woorde voor U skrywe. Kan ’n man van 32, ’n pa van twee seuns, nog in sy joernaal met HaShem praat, vra ek myself af. Maar waar gaan ’n 32-jarige dan anders as sy hart ontsteld is? Abba, vandag, Shabbat, het Israel Tu’Bshvat gevier, die Nuwejaar vir bome. Buite reën dit en by tye sneeu dit hewig, maar in Independence Park bloei die amandelbome spierwit. Die eerste teken, terwyl dit nog hoogwinter is, van voorjaar en nuwe lewe. Vanoggend by Tora-studie het ons daarvan gepraat dat die eerste keer dat die amandelboom in die Tora genoem word, in B’resheet 43 in verband met seën in die Beloofde Land is.

      Vir mý het dit maar die een wonderbare betekenis. U wat vir die droewe ou Yermiyahu vra: Wat sien jy, Jeremia?” en hy antwoord: “Ek sien ’n amandeltak.” En U antwoord: “Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.”

      Eenmaal toe my vrou se lewe aan ’n dun draadjie gehang het, het U daardie woord volbring. Ek kom voor U staan dat U sal sien ek is nog ’n keer voor U met ’n amandeltak in my hand. My vrou het uit Haïti teruggekom, ’n ander vrou as die een wat gegaan het. As ek haar wil vashou, bewe sy, toe ek netnou met haar ná Shabbat wil liefde maak, huil sy. As ek haar oor en oor vra wat dit is, wat gebeur het, bly sy sê dis niks, niks het gebeur nie,