Al wat ek kan sê, is dat die Here my toegelaat het om elke dag te geniet soos dit verloop het. Ek het geleef met die vaste wete dat ek maar kan ontspan omdat Hy my sou lei en voor my oë vir my nuwe geleenthede sou skep. My vertroue in die Here groei nou nog elke dag, en ek laat Hom toe om met my lewe te maak wat Hy wil. Nou, meer as twee jaar later, voel ek steeds nederig. Ek besef ek verdien nie die eer vir wat ek tot dusver bereik het nie. Dit is vir my duidelik dat die Here die pad berei het vir alles wat met my gebeur het. Geen geluk of toeval of bygelowe sou my so in verwondering kon laat staan het oor alles wat in my lewe gebeur het nie.
Ek is dankbaar dat ek sekere lesse vroeg in my lewe al geleer het. Een waarheid wat ek besef het, is dat die tyd vinnig verbygaan. As ons ons oor die toekoms bekommer, of ons verknies oor wat ons in die verlede misgeloop het, gaan ons die kans verbeur om die hede vas te gryp en elke oomblik van ons lewe so spesiaal moontlik te maak. Ek weet ek het nog baie om te leer, maar die Here hou aan om vir my te wys hoe getrou Hy is. Hy vervul my hartsbegeertes in soveel besonderhede. Die een oomblik het ek nog gedink ek sal nooit die kans kry om te sing nie, en toe het ek my skielik midde-in ’n lewe van musiek en dans bevind.
Soos baie van julle seker ook, het my begeerte om te reis van my geboorte af saam met my gegroei. Maar buiten ’n fantastiese sporttoer na Argentinië – wat aan my bevestig het hoe graag ek wil reis – het ek net binne die grense van Suid-Afrika gereis. Dit was egter op die punt om te verander. Terwyl ons High School Musical in Johannesburg opgevoer het, het die vervaardigers opwindende nuus met ons gedeel. China het belanggestel om die opvoering by hulle aan te bied. Daar was ’n span afgevaardigdes wat ’n vertoning sou bywoon. Nie lank nadat hulle ons gesien het nie, het ons aansoek gedoen vir visums om China te besoek.
In Junie 2009 het ek saam met die geselskap op my eerste avontuur na Asië vertrek – ’n wêreld so ver verwyderd van ons s’n en tog net ’n halwe dagreis ver. Ek was op pad na die plek wat ek dink het ek net sou kon sien deur ’n baie diep gat in my sandkas te grawe. Hoe ongelooflik! Ek is betaal om te doen waarvoor ek lief is én ek het die kans gekry om die wêreld te sien! Boonop het ek die geleentheid gekry om my liefde vir dans uit te leef, want terwyl ons nog met High School Musical besig was, het ek ’n oudisie vir die musiekblyspel Cats gedoen en ’n rol gekry. Dit het vir my die kans gegee om, omring van beroepsdansers, deel te wees van ’n dansgegronde musiekblyspel. Toe ek hoor hoe veeleisend die opvoering is, het ek geweet dit sou my net nog verder voorberei vir die vereistes van die bedryf.
Nadat ek die rol in Cats gekry het, was ek verseker van werk vir agt maande ná die speelvak van High School Musical tot ’n einde sou kom. In hierdie bedryf word jy as baie bevoorreg beskou wanneer jy werk kry vir ses maande nadat jou huidige kontrak verstryk. Maar daar het dit nie geëindig nie. Voordat Cats begin het, terwyl ons nog aan High School Musical gerepeteer het, en voordat ons na Sjanghai sou vertrek, het ’n produksiespan uit Londen daar opgedaag om oudisies vir Grease te hou. Dit sou vertonings in Kaapstad en Johannesburg insluit, asook toere na Nieu-Seeland en Hongkong. Omdat ek nog net die fliek gesien het, het ek nie juis geweet vir watter rol om ’n oudisie af te lê nie. Ek het ’n bietjie raad gevra, en is aangeraai om ’n oudisie vir die rol van Doody of Roger te doen.
Ná die uitputtendste oudisie ooit, kon ons maar net aangaan met ons lewe … en wag. Maar kort ná ons terugkeer uit Sjanghai het ek gehoor ek het die rol van Eugene in Grease gekry. Al was dit nie die rol waarvoor ek ’n oudisie gedoen het nie, was ek baie dankbaar dat ek deel van daardie ongelooflike musiekblyspel kon wees. Ek was tog ’n bietjie bekommerd dat dit dalk nie so ’n goeie besluit vir my loopbaan sou wees nie, maar nadat ek meer oor die rol uitgevind en met ’n paar betroubare vriende in die bedryf gesels het, het ek besef dit sou die perfekte geleentheid wees om my veelsydigheid te wys, ’n komiese rol te vertolk en my vermoë om toneel te speel te ontwikkel. Dit sou ook die tydperk waarvoor ek reeds werk gehad het van agt maande tot vyftien maande verleng – ’n fantastiese manier om jou loopbaan aan die gang te kry. Dit was die Here se manier om vir my te wys Hy sal altyd vir my voorsien.
Deel van die prys wat ek in die High School Musical-realiteitsprogram gewen het, was ’n vakansie van vyf dae vir twee in Londen, met ’n West End-vertoning van ons keuse ingesluit. Ek het besluit om te wag totdat ek langer as vyf dae in Londen kon bly sodat ek by al my familie en vriende daar kon gaan kuier.
Met die wete dat ek vir langer as ’n jaar werk sou hê, het ek kort nadat ek van Sjanghai teruggekeer het vir drie en ’n half weke Londen toe vertrek. Ek het soveel moontlik West End-opvoerings gaan kyk, uiteindelik my wonderlike familie daar ontmoet en my tyd in Londen ten volle geniet. Ons het my mondigwording daar gevier en dit was vir my ’n onvergeetlike ervaring. Ek was in ’n land wat ek van kleins af al wou besoek, omring van familie, goeie vriende uit my kinderdae (wat daarheen verhuis het), en vriende wat ek ontmoet het sedert ek in die vermaaklikheidsbedryf begin werk het. Dit het vir my gevoel asof my verlede, hede en toekoms alles op daardie dag bymekaargekom het. Ek was verstom oor hoe vinnig dinge in ’n kort tydjie verander het.
Ek onthou ek het ná my vakansie op ’n Vrydagoggend in Suid-Afrika aangekom, en die Maandag het ons aan Cats begin repeteer. Die volgende ses weke was baie taai, met repetisies ses dae per week van halftien die oggend tot sesuur in die aand. In dié tyd het ek gevorder van iemand wat in sy lewe nog nooit ’n dansles gehad het nie tot ’n deelnemer aan een van die mees gesogte musiekblyspele vir dansers. Boonop was ek vir die eerste keer ’n instaanspeler vir drie verskillende rolle. Ek het soveel geleer en so baie gegroei. Ek het die uitdagings van elke dag geniet – die stryd met beserings of die nabetragting ná elke vertoning oor die hoeveelheid werk wat dit van begin tot einde van ons geverg het. Dit was ’n verstommende ses maande wat ek vir altyd in my hart sal bewaar. My familie in die musiekwêreld was ook besig om uit te brei. Met twee produksies agter my naam het ek tuis begin voel in ’n bedryf waarvan ek as kind bitter min geweet het.
Toe Cats klaar was, het ek die kans gekry om drie weke huis toe te gaan. Ek kon saam met almal kuier en het heerlike tye saam met my familie en hegte vriende deurgebring. Daarna is ek Kaapstad toe om aan Grease te begin repeteer. Met die jong en energieke rolverdeling het ons van die begin af geweet dit sou spesiaal wees. Ons sou weer saam met ’n West End-produksiespan werk, en ek was opgewonde om te sien hoe die opvoering sou verloop. Ons het vyf weke lank gerepeteer, en van Februarie tot Junie 2010 in Kaapstad en Johannesburg opgetree.
In hierdie stadium van my lewe het ek ’n geestelike transformasie ondergaan. Ek het die Here nie net gedien nie, maar Hom werklik leer ken. Ek het soveel gegroei in my verhouding met Hom deur tyd vir Hom opsy te sit en Hom toe te laat om kennis en openbaring in my hart uit te stort. Ek kan eerlik sê dit was van die heel beste maande van my lewe.
Die einde van die Suid-Afrikaanse speelvak van Grease het te gou aangebreek. Dit het beteken ons sou begin toer. Ons het in Nieu-Seeland begin, waar ons ’n maand lank opgetree het. Ná die laaste vertoning het ek twee weke lank daar agtergebly om die res van Nieu-Seeland te verken. Toe is ek twee weke lank huis toe. Daarna is ons Hongkong toe, die stad wat bekend is daarvoor dat dit nooit slaap nie. Die vyf weke daar het vir my verbygevlieg, en voor ek my kom kry, was ek op ’n vliegtuig na Korea om vir my broer Paul, skoonsuster, Gerri, en hulle nuwe baba, Olivia, te gaan kuier. Hulle gee al die afgelope ses jaar onderwys in Korea en besoek Suid-Afrika net een keer per jaar. Maar ek wou nog altyd by hulle gaan kuier het, en omdat Korea so naby aan Hongkong is, het ek gedink dit sou die perfekte geleentheid wees. Nieu-Seeland, Hongkong en toe die geleentheid om waardevolle tyd saam met my dierbare familie in Korea deur te bring – iets wat onmoontlik gelyk het, het ’n werklikheid geword. Boonop is ek, terwyl ek in Hongkong was, weer die rol van Troy aangebied vir ’n speelvak van High School Musical in Taiwan. Dit het beteken ek moes vyf dae Taiwan toe gaan vir ontmoetings met die media. Daardie vyf dae het in die middel van my vakansie in Korea geval. Die tydsberekening kon nie beter gewees het nie. Ek is vir ’n week Korea toe, daarna was ek vyf dae in Taiwan, en toe is ek terug na Korea voordat ek huis toe moes gaan.
Só gaan my reis voort. Elke oggend word ek wakker met nuwe uitdagings om te trotseer en met nuwe verlangens wat my hart vul. Mense vra my dikwels of ek bekommerd is oor my toekoms