Tik. Piet Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Piet Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780624055310
Скачать книгу
Groot-Karoo. Dit is ongelooflik hoe geil ’n daggaplant in die Karoogrond kan groei as jy dit net genoeg liefde en water gee – en hom natuurlik gereeld snoei en gebruik.

      Charlie voel aan die geld in sy broeksak. Nie veel nie, dit is al wat hy het en dit sal lank moet hou. Totdat hy weer ’n kontrak kry. ’n Kontrak sal dit moet wees, want dit is al ambag wat hy ooit geleer het, vrekmaak vir geld. Dit sal moeilik wees om weer te begin, die sindikate sal hom nie maklik vertrou met sulke delikate sakies soos om van hulle ongeliefdes ontslae te raak nie. Nie ná agt jaar in die tronk nie, die Boere het ’n manier om met ’n man se kop te smokkel in die tronk. Hy sal hom eers weer van voor af moet bewys en daarvoor het hy ’n kontrak nodig. En die langloop-.22 op die plafon van Ma se huis.

      Uit sy hempsak haal hy ’n flenter bruinpapier met vetkolle. Ma se nommer, of altans dit was toe hy laas van haar gehoor het. Sy het hom so wragtag in die tronk kom besoek. Eintlik net kom hoor of hy nie ’n “ietsie” vir haar gehad het nie, “net totdat dinge weer beter gaan”.

      Fok! Hy gooi die verbleikte sportsak oor sy skouer en stap in Potgieter af totdat hy ’n telefoonhokkie kry waarvan die gehoorbuis nog nie afgesny en die muntkassie nie oopgebreek is nie – én wat muntstukke vat. Om met ’n kaart te bel het jy geld nodig om een te koop, iets wat hy nie het nie.

      Ja, daar lui die foon tog. Dis ’n begin as dit lui, die nommer bestaan darem nog. Ná ’n ruk hoor hy iemand optel.

      Stilte. Net ’n raserige, hees asemhaling.

      “Ma?” vra Charlie huiwerig.

      “Ja?” Dit is sy; hy kan aan daardie enkele woord hoor dat sy weer moeg en sat gesuip is. Elfuur in die oggend!

      “Fok, Ma! Dis te vroeg om gesuip te wees.”

      “Wie praat?”

      Hel! Wie sê nóg vir haar Ma behalwe hy? “Charlie, Ma, jou laaitie.”

      Stilte.

      “Ma?”

      “Ek het nie meer ’n laaitie nie … Hy sit in die tronk … net soos daardie sleg bliksem van ’n pa van hom.” Haar stem klink moeg, asof selfs praat vir haar te veel is.

      “Bly die boekesmous nog by Ma?”

      “Wie?”

      “Die sleg hel met wie Ma destyds die pad gevat het, ná hy vir die pote van pa se daggaplante vertel het … ek soek hom.”

      Stilte.

      “Hy’t ons hele gesin kom opfok, Ma. Dis ook hy wat die pote op my spoor gesit het. Ná die weeshuis het ek ’n goeie bedryf opgebou, totdat hy …”

      Sy sug, val hom in die rede: “Hy bly lankal nie meer hier nie, Charlie. Hy’t net geloop, een môre toe ek opstaan, was hy weg. Ek … ek hoor hy het die boeksmousery verruil vir dwelms. Glo meer geld. Verkoop makliker.”

      Charlie hoor die gegorrel van drank deur die nek van ’n bottel, hoe sy gulsig sluk. G’n wonder die smous het die pad gevat nie.

      “Wanneer het jy uitgekom?” vra sy nadat sy weer asem geskep het.

      “Nou net. Ek staan voor die tronk in die straat.”

      “Kom jy hiernatoe?”

      “Kan ek?”

      Stilte.

      “Daar het ’n vrou gebel.” ’n Vuurhoutjie knars oor ’n boksie, hy hoor hoe dit opvlam en hoe sy suig om die sigaret brand te maak. “Sy soek jou vir ’n jop.”

      “Watse werk?” Charlie kan hoor hoe haar lippe klap soos sy ’n paar keer hard suig aan die sigaret – heel moontlik ’n daggazol – om die kooltjie soos altyd lank en warm te trek vir ’n groter skop. Meer satisfaksie ná die aksie, sê sy altyd. Hel, watse aksie? Om die bottel se prop af te draai? Daar is ’n rukkie stilte om te wag vir die rook om sy werk te doen voordat sy dit met ’n sug deur haar neus uitblaas.

      Niks het nog verander nie. Hy kan haar sien sit by die telefoon, kruisbeen op die plankvloer. Kamerjas, krullers in die hare, bottel op die grond en die siegret vasgeknyp tussen twee geel vingers van dieselfde hand wat die gehoorbuis vashou – sy moet darem ’n hand los hê vir die bottel.

      Stilte. Sy moes vergeet het van die vrou met die werk.

      “Ma?”

      “Wat’s dit nou?”

      “Die vrou, die werk. Wat is dit?”

      “Sy’t nie gesê nie … net ’n nommer gelos. Ek … ek sal moet soek …” Haar tong sleep oor die s’e en haar stem raak afgetrokke. “Kom oor … Ek … ek sal … solank … soek …” Sy laat val die gehoorstuk op die mikkie.

      Hel! Al waarna sy nou gaan soek, is die slaapkamer, dit weet hy. Dit is asof hy ook die bed voor sy geestesoog kan sien: deurmekaar opgefrommelde vuil beddegoed, ’n vuil bord met ’n paar stukke harde broodkorsies en doodgedrukte stompies daarin op die tafeltjie voor die bed, langs ’n glas met ’n rooi lipstiffiekring aan sy rand en die bruin oorblyfsel van gisteraand se nightcap op die bodem. Soos in die ou dae.

      Laat sy maar eers haar roes afslaap, totdat hy daar kom.

      Miskien lê die pistool nog op die plafon waar hy dit destyds weggesteek het voordat die pote hom kom haal het. Dan is hy weer in besigheid.

      3

      Sy het hom geframe! Die verdomde teef met die groen katoë het hom in sy moer in geframe.

      ’n Vriendelike drywer van ’n koletrok het Charlie op Emalahleni opgelaai en by die Wimpy op Volksrust afgelaai. “Ons hardloop met die energy crises nou gereeld met die steenkoollorries deur Natal toe, Oom. Jy sal maklik ’n lift kry verder, as jy Durbs toe wil gaan. Die weer is dié tyd van die jaar orraait daar en daar is baie slaapplek op die strand. My ma se broer is ook op die pad. Hy like weer Margate, sê die mense daar gee nog om en die vakansiegangers se beursies is oop vir ’n perd met bokkerol.”

      Oom! Lyk hy dan soos ’n ou trêmp? Hy’t net baie myle en tronktyd op.

      Maar die drywer was reg, hy hét ’n lift gekry. Die witkop met die groen oë het hom twaalfuur die nag daar opgelaai, en hom afgelaai by die plaashek op ’n godverlate stuk sinkplaatpad iewers tussen Volksrust en Vrede.

      Om haar ou man te skiet was maklik. Ja, ’n kind sou dit kon doen, want die ou donner in die rolstoel was klaar geskiet! Iemand anders het twee holpunte deur sy ou gryskop gejaag. Hy het nie eens geweet van die ou vrou nie, sy was nie deel van die kontrak nie, maar toe hy in die slaapkamer na die kluis gaan soek waar sy pay veronderstel was om te wees, lê sy voor die kluis – die leë kluis, fok! ’n Skoot deur haar nek het die slagaar gesny en sy het gebloei soos ’n vark, van die kombuis af tot in die agterste kamer voor die kluis, asof sy tot daar gekruip het. Daar lê sy nou met ’n geraamde gesinsportret wat sy vasklou. Charlie kan die ou man in sy rolstoel herken, die ou vrou ook – dit moet sy ma wees, die familietrekke is daar. En daar is die witkop met die katoë ook, met ’n witkoplaaitie langs haar op ’n stoel.

      Hy’s veronderstel om ’n ou aap in dié game te wees, een wat nie meer sy ketting laat rattle nie. Hy moes geweet het daar is fout toe sy daarop aangedring het om die pistool self te verskaf. Nie dat hy ’n keuse gehad het nie, die verdomde boekesmous is weg met die .22 wat op die plafon was.

      Die stront is net dat dié ou kliphuis nou sy handtekening dra: sy DNS, sy vingerafdrukke en selfs sy verslete tekkies se spore is afgedruk in die bloed van die ou vrou in die gang. Hy kan net so wel sy vinger in die bloed druk en teen die muur skryf: Charlie Stevens was hier. Daaronder ’n skets van ’n kop met twee onnosel oë en ’n lang neus wat oor ’n baksteenmuur loer. Soos Kilroy.

      Die pote is op pad, daarvoor sal sy sorg – dis vir seker deel van haar plan.

      Maar iets van die ou vrou in die kamer pla hom, steek nou al ’n ruk in sy kop vas. Charlie loop vinnig in die gang af na die kombuis. Daar is net een uitweg. Hy skop die paraffienverwarmer