Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624053712
Скачать книгу
maar hulle uniforms. Hulle kom van die Kasteel en dragonders by ’n huis dié tyd van die nag, kan net moeilikheid beteken.

      “Ek beveel u in die naam van die kommandeur om die deur oop te maak!” skreeu die voorste een wat blykbaar in bevel is. Hy hamer met sy vuis teen die swaar eikehoutdeur. “Maak dadelik oop!”

      Jeanne sukkel om die swaar grendels oopgeskuif te kry. Dan stoot sy die deur op ’n skrefie oop.

      “Wat wil julle hê?”

      “Waar is jou baas? Hy moet saam met ons kom.”

      “Hy is nie hier nie. Ek verwag hom nie voor volgende week nie.”

      Celèste verstom haar oor hoe Jeanne kan lieg sonder om te blik of te bloos. Sy het dít nooit van die ou vrou verwag nie.

      Die dragonders kyk na mekaar en dan stoot die voorste een die deur oop. Jeanne struikel eenkant toe en begin op hulle skel, maar hulle steur hulle weinig aan haar.

      “Armand de Bordeaux!” skreeu die sersant. “Ek kom arresteer jou op aanklag van moord op jou pa!”

      Die huis is stil.

      “Deursoek die plek en sorg dat hy nie wegkom nie!”

      Celèste gaan weer op haar bed sit. Haar hande bewe in haar skoot. Dan het dit uiteindelik gebeur …

      6

      Celèste sit gespanne en luister hoe die dragonders die huis deeglik en stelselmatig deursoek. Twee van hulle is ook na die buitegeboue waar sy Ernest op hulle kan hoor skel. Sy verwag dat hulle Armand de Bordeaux elke oomblik sal kry, maar dit gebeur nie.

      Een van die dragonders stamp haar kamerdeur oop. Hy trek haar hardhandig van die bed af op en lig die matras en beddegoed op.

      Celèste vererg haar. “My baas is nie hier nie, maggies! En hy sal ook nie soos ’n lafaard onder my bed wegkruip nie!”

      Die jong man kyk na haar en haal sy skouers op. “Ek voer net bevele uit, dis al.”

      Hy stap na die venster en kyk uit na buite of hy niemand in die maanlig sien wegvlug nie, maar dis stil buite. Nie eens ’n luggie roer die blare nie.

      Celèste sien verskrik hoe hy teen die los plank leun en hoe dit wegskuif. Dis maar ’n klein openinkie, maar groot genoeg om die sak te kan sien.

      Die dragonder maak die venster weer toe. Sy blik val op die los plank en hy steek sy hand uit om dit weer terug te stoot.

      Celèste se hart klop in haar keel. As hy die sak kry, mag hy dalk raai dat sy dit daar weggesteek het en dan sal hy agterdogtig wees oor die inhoud. As die sak eers in die Kasteel is, sal sy dit nie meer kan beskerm nie.

      Haar hart mis ’n slag toe die jongman frons, die plank verder terugstoot en die sak uit die vlak opening haal. Hy hou dit na haar uit.

      “En dit? Wat is dit?”

      Celèste weet dat sy nou baie vinnig sal moet dink en oortuigend sal moet bieg.

      “Dis … dis briewe van die huis af. Ek bewaar dit daar … omdat monsieur De Bordeaux my sal afdank as hy weet dat ek dit het.”

      “En hoekom sal hy jou wil afdank?” wil die man weet.

      Sy het hom nog geensins oortuig dat die sak aan haar behoort nie.

      “Jy sien …” Celèste sluk hard. “Monsieur De Bordeaux het my uit Frankryk ontvoer. Ek het een ou briefie na my oupa toe deurgesmokkel gekry en nou beraam hy planne om my te kom bevry. Dis daardie planne wat hy nou so stukkie vir stukkie aan my stuur en hulle is vir my baie belangrik.”

      Die man kyk agterdogtig na haar. “Dit klink vir my asof jy lieg.”

      “As jy die sak vat, kom ek nooit hier weg nie …” Sy probeer om aan die huil te gaan en tot haar verbasing is dit nie so moeilik nie. Sy het die afgelope paar uur oorgenoeg skokke beleef om ’n stortvloed van trane tot haar beskikking te hê.

      Die dragonder staan ietwat bedremmeld met die leersak in sy hande. Hy is nie hier om dié onbelangrike ou meisietjie te ondervra nie. Hulle het gekom om na monsieur De Bordeaux te soek.

      “Wel, ek dink jy kan maar net sowel van daardie ou plannetjie vergeet,” sê hy en gooi die sak op die bed neer. “Monsieur De Bordeaux sal nie hierheen terugkeer nie. Vannag nog sal ons hom vang en oor ’n paar dae sal hy dood wees.” Hy lig sy hoed en grinnik. “Vannag kan jy gerus slaap. Au revoir!”

      Celèste slaak ’n sug van verligting toe hy die deur agter hom toemaak. Sy het nie gedink hy gaan haar storie só maklik sluk nie.

      Maar waar is Armand de Bordeaux dan? En aan wie moet sy die leersak nou toevertrou? Nie hy óf sy het aan die moontlikheid gedink dat hy op die vlug sal moet slaan nie.

      Celèste bekyk die seël. Sy durf dit nie breek nie en tog moet sy op die een of ander manier uitvind wat in die sak is. Gestel sy gee dit aan die verkeerde persoon? Wat sal die gevolge dan wees?

      Aangesien De Bordeaux nou nie meer in die herehuis is nie, sal dit seker nie saak maak as sy nog ’n bietjie langer aanbly nie – net totdat sy besluit het aan wie sy die sak gaan gee, probeer sy haar besluit regverdig. Jeanne weet tog nie dat die graaf haar afgedank het nie.

      Skielik hoor sy die dragonders by die voordeur uitgaan en na hulle perde terugkeer. Sy prop die sak onder haar matras in en hardloop na onder.

      Jeanne staan in die voordeur met haar hande in haar sye op hulle en skel. Hulle slaan geen ag op haar nie en oomblikke later verdwyn hulle in die donker nagskaduwees van die tuin.

      Celèste gaan by die ouer vrou staan. “Gaan hulle terugkom?”

      “Daarvan kan jy seker wees. Hulle gaan nie so maklik tou opgooi nie. Hulle wil monsieur De Bordeaux hê en hulle sal weer en weer kom totdat hulle hom onkant betrap.”

      “Waar is hy, Jeanne? Hy kon tog nie so skielik spoorloos verdwyn het nie?”

      Jeanne haal haar skouers liggies op. “Ek begryp dit nie. Toe die ruiters voor die deur stilhou, het hy na die kombuis gekom en net vir my gesê om aan die besoekers te sê dat hy nie hier is nie en dat hy eers oor ’n week sal terugkom. Dis wat ek gedoen het. Hoe hy so spoorloos kon verdwyn, weet ek nie.”

      Hulle stap saam terug na die kombuis. Celèste gaan by die agterdeur uit en kyk lank uit na buite. Die omgewing is stil. Daar roer nie eens ’n blaartjie nie. As Armand de Bordeaux te perd gevlug het, sou ’n mens dit onmiddellik gehoor het. Op sulke nagte trek klank ver.

      Daar is skielik ’n beweging by die stal. Ernest kom uit en lei ’n perd aan die teuels. Dan rek Celèste se oë toe Armand de Bordeaux doodluiters uitgestap kom en op die perd klim.

      Hy kyk ’n oomblik lank vlugtig om hom rond en sy blik val op Celèste wat hom onbegrypend aanstaar. ’n Paar sekondes lank kyk hulle net na mekaar. Celèste weet nie waaraan hy dink en of hy eens met haar gaan praat nie. Sy wens dat hy iets wil sê, iets oor wat vanaand daar in die studeerkamer gebeur het, maar hy kyk net swyend na haar, vat die teuels vaster en skop sy perd liggies in die lieste. Die dier skiet vorentoe en binne sekondes verdwyn perd en ruiter in die duisternis.

      Celèste kan nog lank die hoefslae hoor soos wat dit verdof en uiteindelik verdwyn. Die stilte wat in haar ore suis, laat haar leeg voel. Hy is weg sonder om te groet, sonder om aan haar te sê wat sy met die leersak moet doen. Sy weet nie of hy nog enigiets van haar verwag nie.

      In werklikheid behoort sy verlig te voel omdat sy nie meer vir die sak verantwoordelik is nie, maar sy voel nie so nie. Sy wil nog steeds aan Armand de Bordeaux bewys dat hy haar verkeerd opgesom het. Sy wil hê dat hy goed van haar moet dink. Sy wil hê dat hy moet weet dat hy haar ten volle kan vertrou ten spyte van wat hy vanaand gesê het.

      Maar sy weet nie eens waar om na hom te gaan soek nie. Sy het nie die vaagste benul waarheen hy op pad is nie.

      Sy skrik toe iemand hier by haar skielik uit die skaduwee tree. Die dragonder kyk net vlugtig na Celèste voordat