Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624053712
Скачать книгу
mens se kop hang, dink jy sekerlik nie nog aan ander mense nie.

      Teen Donderdagmiddag gaan sy ’n ver ent stap net om haar gedagtes weer skoon te kry en ’n bietjie vars lug te skep. Garcon se beeld keer telkens na haar gedagtes terug, hoe hard sy ook al probeer om dit daaruit te verban.

      Sou iemand dalk die leersak ook daar in Garcon se kamertjie gaan soek het die nag toe hy vermoor is? Dalk het Garcon die persoon daar verras. Dis waarom hy met sy lewe moes boet. Garcon was die enigste een wat geweet het wie vir die soekwerk verantwoordelik was en daarom moes hy doodgemak word. Celèste is seker daarvan dat Garcon sy aanvaller herken het.

      Celèste bestyg ’n hoogtetjie waarvandaan sy die buurplaas waar Madeleine Tredoux woon, kan sien. Blote nuuskierigheid het haar hierheen laat kom. Die Tredouxs woon in weelde en daarom was dit vir haar nuus toe Madeleine die aand aan De Bordeaux vertel het dat haar pa in groot finansiële moeilikheid verkeer. By die Tredouxs se opstal is daar geen teken van ’n tekort nie.

      Sy klouter aan die ander kant van die koppie af en stap tot op die grens van La Montagne. Daar kyk sy rond of iemand haar gewaar en dan draf sy vinnig na die volgende koppie. Bo van dié koppie af kan sy die werf van die Tredouxs se landgoed sien. Die omgewing is doodstil en sy wil net teleurgesteld teruggaan na La Montagne, toe die voordeur van die herehuis skielik oopgaan en ’n man uitsteier.

      Celèste se oë rek groot. Dit lyk asof die man dronk is. Sou die Tredouxs dan nou so vroeg in die dag al begin drink het? Maar dan kom Jacques Tredoux ook by die deur uit. Hy by doodstil staan toe sy besoeker skielik struikel en met die trappe afval tot onder op die grasperk, waar hy doodstil bly lê.

      Tredoux gaan stadig nader en toe hy die man bereik, lig hy sy voet en skop hom genadeloos in die ribbes. Die man krul van pyn en probeer orent kom. Tredoux skop hom weer en weer.

      Die beseerde man kry dit uiteindelik reg om orent te sukkel en met die woede van ’n slang spuug hy na Tredoux, wat hom met ’n vinnige regter weer teen die grond neervel.

      Celèste voel siek oor wat sy voor haar sien gebeur. As dit nie was dat sy op Tredoux se grond was nie, sou sy op hom gegil het. Nou durf sy dit nie doen nie. Hy sal haar hier kom haal en wie weet wat hy met háár sal doen.

      Daar op die plaaswerf strompel die man weer orent en loop steierend na sy perd. ’n Oomblik lank leun hy teen die dier en sê iets aan Tredoux terwyl hy sy vuis vir hom skud.

      Tredoux lag net.

      Celèste bly doodstil staan totdat die man op sy perd gesukkel het. Hy hang half oor die dier se nek toe hy stadig van die landgoed af wegry. Sy sluk hard. Dit het sy nie in haar wildste drome verwag nie. Jacques Tredoux het nog nooit vir haar na ’n wreedaard gelyk nie. Hy was nog altyd stil en stemmig en ordentlik. Wat sou in die man gevaar het dat hy so onmenslik optree? Sy wonder of monsieur De Bordeaux haar sal glo as sy hom sou vertel wat vanmiddag hier gebeur het.

      Terwyl sy versigtig na die grens van La Montagne terugsluip, wonder sy hoeveel Madeleine van hierdie dinge weet. Sy is dalk heeltemal onbewus van wat haar pa doen.

      Celèste besef goed dat sy die stomme drommel nie sal herken as sy hom weer sien nie. Sy was heeltemal te ver om ’n vreemdeling te kan herken. Monsieur Tredoux ken sy reeds baie goed en dit was nie moeilik om hom te eien nie.

      Sy stap vinnig terug na die herehuis op La Montagne terwyl sy wonder of sy enigiets moet sê oor wat sy gesien het. Sy besluit dat dit wys sal wees om voorlopig maar stil te bly. Dit wat sy daar gesien het, kan tog onmoontlik iets te doen hê met die leersak en haar onmiddellike probleme. Later, wanneer alles uitgestryk is, sal sy dit aan monsieur De Bordeaux noem … as hy dan nog daar is, dink sy skielik ’n bietjie ongelukkig en baie bekommerd oor wat die toekoms nog gaan inhou.

      Madeleine kuier nou feitlik elke dag op La Montagne. Soggens ry sy te perd oor na die herehuis en dan bly sy tot lank na middagete. Sy en Armand is gewoonlik buite in die veld of tussen die wingerde en dan kan Celèste maar net verlangend deur die venster na buite kyk terwyl sy lusteloos haar werkies verrig.

      Op reëndae is Madeleine en Armand in die biblioteek waar hulle met gedempte stemme sit en gesels of lees. Dit is duidelik dat Madeleine vasbeslote is om haarself hier op La Montagne te begin ingrawe en dat die graaf De Bordeaux hom dit laat welgeval. Om die waarheid te sê, dit lyk asof hy haar aandag terdeë geniet.

      Dit is juis dít wat Celèste seermaak. Elke besoek van die skone Madeleine is vir haar ’n pyniging. Die meisie se tabberds is die beste wat geld kan koop; haar juwele is duur en uitsonderlik. Selfs Madeleine se skoonheid is buitengewoon. Haar grys oë is groot en omraam met dik, swart wimpers. Haar vel is roomglad en bloesend en haar koringblonde hare blink soos goud in die sonlig. Geen man kan dit verhelp om op haar verlief te raak nie, dink Celèste ongelukkig.

      Sy beskou haar eie spieëlbeeld en voel nog meer terneergedruk as tevore. Haar blink, donker hare is altyd weggesteek onder die kappie wat sy as bediende moet dra.

      Sy sug diep. Ek sal nooit ’n ander man as een uit die arm stand kry nie, dink sy ongelukkig. My drome oor Armand de Bordeaux sal my net al hoe ongelukkiger maak.

      Buite sien sy hoe Madeleine by Armand inhaak en teen hom aanleun terwyl hulle stadig deur die tuin wandel. Sy sien hoe die mooie meisie verlief opkyk in Armand se oë, hoe hy afbuk en die goue kroontjie van haar hare soen.

      Celèste sluk hard aan die pyn in haar binneste. Trane brand agter haar ooglede. Dis onsinnig, dink sy dof. Dis onsinnig om langer hier voort te gaan. Die graaf sal iemand anders kry om hom te help. Ter wille van myself, moet ek hier wegkom …

      Tog gaan sy nie. Sy raak net stiller en in haarself gekeer. Jeanne kyk ondersoekend na die meisie en wonder of die kind dalk nou op Ernest verlief geraak het. Dan skud sy haar kop liggies. Dit moet iets baie ernstig wees as Celèste só lyk.

      Sondagmiddag na ete kom Jacques Tredoux en sy dogter op La Montagne kuier. Madeleine straal toe sy Armand sien. Sy lyk pragtig en verleidelik in haar wasige tabberd en ligblou organza. Dis met linte, kant en borduurwerk versier en Celèste kan haar net vergaap aan die pragtige tabberd. Dit is die mooiste wat Madeleine nóg gelyk het. Waarom is Madeleine juis vandag so uitgevat? Gaan hulle nie dalk verloof raak of ’n huwelik bespreek nie?

      Sy kan nie na haar kamer toe vlug nie, want Jeanne sal nooit alleen in die kombuis oor die weg kom nie. Half bleek en baie bekommerd doen Celèste haar werk en probeer om nie na Jeanne se geklets te luister nie.

      Later neem sy verversings na die biblioteek waar Armand en sy gaste hulle tuis gemaak het. Voor die half-oop deur moet sy die skinkbord vervat om die deur te kan oopmaak en dis tóé dat sy monsieur Tredoux hoor sê: “Armand … jy gaan nie ongenaakbaar wees met ’n ou man nie, gaan jy?” Daar is ’n pleitende toon in die man se stem wat Celèste verbaas. Waar is die wreedheid en die bravade nou?

      “Ek kán u nie help nie, monsieur,” kom Armand se antwoord half teësinnig. “Ek het nie die sak nie. En buitendien, al het ek dit gehad, sou ek dit nie aan u kon gee nie. Daardie sak is al wat tussen my en die galg staan. Kan u dit dan nie begryp nie? Is u bereid om my onskuldig vir ’n daad te laat boet net omdat u bang is dat Le Blanc u sal afpers? Dink u dit is ’n regverdige ruil … my lewe vir u geld?”

      “Jy stel dit nie baie mooi nie, Armand …” Dis Madeleine. Haar stem is fluweelsag. “Natuurlik wil ek jou nie dood hê nie, maar ek wil ook nie hê dat … dat my pa alles moet verloor deur … Le Blanc nie.”

      Daar is ’n paar sekondes lank stilte en Celèste kyk vinnig om haar rond om seker te maak dat sy nog alleen is. Dan hoor sy Armand de Bordeaux sê: “As ek iets daaraan kon doen, sou ek dit gedoen het, maar ek is magteloos om julle te help.”

      “Armand,” sê Madeleine en haar stem is byna net ’n fluistering. Dis duidelik dat sy baie na aan trane is. “Le Blanc sal ons vernietig. Hy het nie ’n gewete nie en ken ook geen genade nie. Dit waaroor hy my pa wil afpers, het jare gelede gebeur … Dis tog verby en …”

      “Le Blanc sal jou nie leed aandoen nie, Madeleine, dit belowe ek jou,” sê Armand vertroostend. “As jou gewete skoon is, kan hy jou tog niks aandoen nie.”

      “Maar