Hoor, hoor hoe lag die stuitige Boet in die agterplaas waar hy en Johnny Ponter aan laasgenoemde se motor werk. Johnny is ’n doodgoeie ou, maar Boet Osman is nie ’n goeie invloed vir hom nie. Sy weet dat, as Boet so lag, dit nie oor ’n sitkamergrap is nie. Boet hou van sy grappe soos Oosterse kerrie, te sterk om op die tong te hou.
Maar haar ma. Wat moet jy dink, wat moet jy sê? Soos dikwels tevore, kom Elna tot die besef dat daar gevoelens, woelinge bestaan wat te diep en seer vir woorde is. Sy het lankal agtergekom dat daar net een geslaagde pantsering is, en dit is onttrekking. Loop jou gebaande paadjie: werk toe, huis toe, bed toe.
Soms fliek toe, by wyse van uitvlug, saam met Johnny Ponter. Deesdae gaan sy na die jeugaksie van die gemeente, wat een keer per maand die ander gemeentes in die Ring insluit. Of na ’n vriendin, by wie sy nooit ten volle aansluiting vind nie. Daar is altyd maar die afstand. Miskien gaan dit van haar uit, omdat sy elke oomblik skreiend bewus bly van haar huislike omstandighede. Ja, in elke senuwee pols die wete dat sy verdoem is tot ’n onwaardige bestaan … ’n gedoe rondom die broodlyn, sonder dat daar tyd, plek, geld of begeerte is na die dieper of die hoër dinge.
Waarom kan dit anders wees met haar tant Corlia, wat tog uit dieselfde hout as Makkie gesny is? Waarom kon sy uitstyg, aanpas? Waarom kon sy ’n man kry soos oom Klaas, en ’n seun soos Christopher? Waarom kan sy klere dra wat haar vlei in elke lyn vanweë die onvervalste smaak en grasie, waarom kon sy as getroude vrou ’n graad kry, en waarom kan sy dien op liggame wat naastediens lewer?
Sy weet haar ma het geen goeie woord vir die Ligthart-suster nie. Maar sy weet ook dis suiwer jaloesie en naywer. En om alles te kroon, is haar ma te lafhartig om te wys hoe sy voel. Is tant Corlia hier, sit haar ma met ’n mond vol tande en dis: “Ja, Sustruisie, nee, Sustruisie.” Dit terwyl haar tante opsigtelik terugdeins van die belaglike noemnaam, wat ontleen is aan haar tweede naam, Strauss. Maar sodra Corlia Ligthart weg is, suis die huis. Dan word sy sleggesê dat die see haar nie kan afwas nie. Onderliggend is daar tog seker sustersliefde, maar dis ’n snaakse manier om dit te wys.
Elna voel as mense die murg in hulle pype het om bo te kom, moet dit erken word. Daarom smag sy vanaand spesiaal na iemand met wie sy kan praat, iemand wat sal verstaan. Want het sy self nie vanmiddag erkenning en aanmoediging nodig nie? Sy wat tot dusver al die jare net ’n gewone werker in die tiksterpoel was, kon vandag gerus uit haar vel bars toe sy aangesê word om waar te neem in die plek van die baas se sekretaresse, wat onverwags siek geword het. Sy het haar gevoelens beheers, maar heelpad huis toe het sy gepopel van opwinding. En toe, die ontnugtering van die onderonsie met haar ma.
Terwyl Elna nog radeloos en vereensaam met haar hande die raam van haar vensterbank omklem, hoor sy stemme vanuit die kombuis opklink.
Haar ma … maar katvriendelik nou, in teenstelling met die ruwe stem wat sy flus gebruik het om in die gang af te skree.
Elna loop deur toe en maak dit saggies oop. Nou kan sy haar ma hoor sê: “Nee, Sustruisie, toe jy bel, toe wonder ek, jy bel mos gewoonlik nie voor jy kom nie.”
Die sagter, gemoduleerde stem van Corlia Ligthart antwoord: “Ek wou seker maak dat ek jou tuis vind.”
Elna se hart klop met swaar slae. Oomblikke lank stol die omstandighede: die stukkies stem van Boet en Johnny soos ysterskakels wat teen mekaar rinkel om ’n gebroke gespreksketting te vorm; die strak vorme van die uitgediende meubels in die enigste kamertjie wat vir haar as private toevlug kan dien; die laaste sonstrepe buite wat rakelings oor die afgeskeepte buurt se vensters vee sodat die ruite blind blink. Alles word ’n singende, sprekende stilte, sodat Elna die taal van haar eie hart luid kan hoor. Daar suis ’n pols in haar kop.
Sou Christopher saamgekom het? Dit gebeur nie dikwels nie. Daar was nooit ’n gemoedelike oor en weer gekuier tussen hom en sy niggies en neefs nie. Hulle is so te sê vreemdelinge vir mekaar. ’n Gevolg van die onoorbrugbare kloof tussen die twee susters, dink Elna wrang. Hoe kan hulle ooit selfs in dieselfde asem genoem word, Elna Osman en Christopher Ligthart? Dis om histeries van te lag.
Tog kom hy soms saam, wanneer hy en sy ma byvoorbeeld op dieselfde vervoer aangewese is. Dan staan hy half in die deur, haastig, onpeilbaar, soos ’n geroskamde stalperd, stamboeksoort. Een wat kan skop, of uitreik in aanvaarding. Wie sal ooit weet wat om van hom te verwag?
Onkeerbaar beweeg Elna in die rigting van die stemme. Sy het haar tante Corlia mettertyd tot rolmodel verhef. ’n Vrou wat sonder ophef bo haar omstandighede kon uitstyg. Toe sy die sitkamer nader, hoor sy sag, maar duidelik, die stem van Corlia wanneer dié weer praat. En elke woord word ’n druppel warm lood wat drup op die kwesbare gemoed van die luisterende meisie.
“Elna is seker nog nie tuis nie, Makkie. Daarom wou ek so vroeg kom. Christopher sê vir my dat hy haar nou die aand by die kerk se jeugaksie gesien het.”
“Ek weet nie, Sustruisie, jy moet weet ek kan nie vir Elna oral oppas waar sy …” Makkie klink skuldig, verdedigend.
“Ja, ja, toe maar, sy het niks verkeerds gedoen nie, ek wou maar net … Ag, jy weet, Christopher gaan uit met ’n meisie, haar naam is Phoebe van Duifhuis, die dogter van die dekaan van Klaas se fakulteit. Ag, dalk is ek belaglik … maar as Phoebe nou net nie die gedagte kry dat Elna kompetisie is nie? As hy en Elna mekaar byvoorbeeld soengroet en gesels. Phoebe en Christopher gaan nog nie lank uit nie, dit kan so maklik doodloop. Jy het ook jong kinders, jy weet tog hoe ’n mens net altyd hulle belange op die hart dra.”
Die stem, die sagte, gemoduleerde stem, praat voort. Dit word ’n swellende golf wat die skuim van pyn voor hom uitrol.
En op ’n ver strand wag die meisie dat die golf ten volle oor haar moet breek.
2
Die tuin van die Ligtharts is ’n lus, winter of somer. Dit is Klaas se heel spesiale stokperdjie, hierdie tuinmakery. Die blommerande strek golwend en kleurvol om die grasperk. Laasgenoemde skyn selfs nou in die winter groen, want Klaas het ’n spesiale ingevoerde saad gebruik om ’n grasperk te verkry wat nie doodryp nie.
Dis in hierdie tuin wat Corlia vertoef voordat sy binnetoe gaan. As sy by haar suster Makkie was, voel sy altyd lus om in die buitelug te staan sodat ’n koel wind haar kan laaf en … ja, jy kan amper sê reinig. Want die toestand van Makkie se huis huiwer op die rand van vuilheid. Ordeloosheid, in elk geval, in ruime mate. Wat op aarde wil ’n mens doen met leë margarienbakkies en vleisekstrakbotteltjies, koffieblikke en ou koerante? Gevra daarna, sal Makkie wel ’n antwoord hê: in die margarienbakkies kan jy jellie maak. Ou koerante wil sy onder die tapyt lê as Ossie vir die gang een koop. Dis so presies wat hulle oorlede ma sou gesê het.
Corlia blik na haar skemerende huis, ’n huis wat aanvanklik klein en ongerieflik was maar in die regte buurt, en wat hulle mettertyd uitgebou en verfraai het. Haar gedagtes is halfpad tussen weëigheid en wrewel: waarom moet sy altyd skuldig voel omdat sy goed lewe? Kom daar nooit ’n dag dat jy dit net kan geniet nie? Moet daar altyd in jou agterkop die wete krap van jou bloedfamilie wat moeiliker leef, wat so min ontvang dat daar niks is om in die samelewing terug te ploeg nie?
Makkie raak haar in die besonder omdat sy hier naby woon. Voorheen was daar etlike jare van gemoedsrus, toe die Osmans net ’n ver gedagte was. Behalwe een keer, toe hulle kom kuier het. ’n Week lank. Die oudste dogter, Malie, was klein. Dis iets om nooit te vergeet nie, en Corlia ondervind nou nog verleentheid as sy daaraan dink. Die stomme Klaas. Sy onthou nog sy beleefde glimlaggies as hy eintlik vir ’n klas moes voorberei, maar noodgedwonge na Ossie Osman se grootpratery moes sit en luister.
Die beste ding wat met hulle oorlede ouers kon gebeur het, is dat hulle net die twee dogters gehad het, nie ’n tros kinders nie. Hulle was albei reeds in die dertig toe hulle getroud is. Die tweede beste ding is dat hulle oorwerkte lewers maar opgepak het sodat hulle albei kort na mekaar dood is, skaars in die vyftig. Dis nie dat Corlia koud