Die kafee met lemoenpryse op ’n stuk karton geskrywe, die viswinkel met sy reuk van olie, die parkie met die skewe skoppelmaaie en hobbels wildekweek. Nou is Makkie amper tuis. Sy sien van ver af ’n motor voor die hek staan. Nog nie Struisie se wit karretjie nie, dankie tog. Dis Boet se vriend. Of Elna se kêrel, wie weet? Johnny Ponter is gedurig by Boet, en Makkie begin ’n idee te kry dat dit meer om die hondjie as om die halsbandjie gaan.
Nou ja? Elna moet hom dan maar vat, of hoe? Sy moet net sorg dat sy nie oorkom soos Malie nie. Makkie het nie meer veel illusies wat die bestemming van hulle Osmans betref nie. Elna sal, met haar huislike omstandighede, tog eenmaal nie ’n man uit die boonste rakke vang nie. Dan maar een soos hierdie Johnny Ponter, wat ten minste sy werk hou en ’n redelike kar ry. En hy is baie manierlik, dit lyk vir haar sy ouers het hom ’n ordentlike opvoeding gegee.
Die onrus roer opnuut in Makkie se gemoed toe sy deur die voorhekkie stap. Dis nie eers nodig om dit oop te stoot nie, want dit kan nie eintlik toe nie, die grondpaadjie belet dit. Sy sit al hoe lank, ag, jare, aan Ossie om die paadjie ’n bietjie weg te werk. Boet kon dit ook al gedoen het. Maar jou mansmense wil mos nooit weet jy offer vir hulle op en hulle behoort iets terug te doen nie.
Moeg en gedaan ploeg Makkie die kombuis binne, waar sy haar handsak op die tafel laat neerplof. Ria en Berrie, die twee jongstes, sak onmiddellik op haar toe. “Het Ma iets saamgebring?” wil hulle asof uit een mond weet.
“Soos wat?” probeer Makkie tyd wen. “Julle weet mos ek het rekeninge gaan betaal. Rekeninge, en klaar – dan bly daar buitendien niks oor nie.”
“Maar het Ma niks gebring nie?” Ria se mond blaas op. “In hierdie huis kry ’n mens ook nooit iets nie. Al my maats bring elke dag lekkers skool toe, al my maats.”
“Ria, tog. Help my liewerster. Die kos moet op die stoof kom. Dis ook nie nou tyd vir lekkergoed nie.”
“Dis altyd tyd vir lekkergoed,” brom Ria parmantig.
“Nee, dis jy wat ’n wurm het … knaag en knaag altyd. Hoe dink jy, groei die geld op jou pa se rug?”
“Op sy maag,” mompel Ria net hoorbaar.
“Wat sê jy daar?” Dit skeel min, of Makkie gryp na die eierspaan wat langs haar hang. Ossie kan nou wees wie en wat hy wil, maar iewers uit ’n stoere verlede het die wete by Makkie vasgesteek dat die vrou die kroon op die kop van die man en vader moet hou. Al is hy dan nou Ossie Osman.
En bowendien het Makkie net ’n tikkie aanleiding nodig om rusie te maak. Sy is platsak, moeg met ’n knaende tamheid, en boonop omgekrap oor sus Struisie se aangekondigde besoek.
Wat sou Struisie wil hê? Eerste keer wat sy bél om te sê sy kom.
Terwyl Makkie met haar rug na die kinders by die wasbak werskaf, haal Berrie blitsvinnig die beursie uit haar handsak wat op die tafel staan. Hy help hom aan ’n klompie kleingeld en ewe vinnig laat hy die beursie teruggly en knip die handsak weer toe. Ria wat staan en toekyk, se oogopslag sê duidelik: Ou matie, jy koop vir my ook of ek vertel vir Ma.
Al het Makkie nie gesien wat hy doen nie, kan jy amper sê sy het oë in haar rug, want sy dink: Berrie is nou op die ouderdom waar hy maklik deur maats verkeerd gelei kan word. Nou is hy nog ondeund, maar dit kan maklik onderduims word. Boet het ook so ’n stadium gehad, en hy groei dalk nooit heeltemal daaruit nie. Die twee aard uit en uit na Ossie. Of liewer, Ossie soos hy was. Makkie het hom taamlik reggeruk, want van skelmheid hou sy niks. Wat van die keer, kort na hulle troue, toe hy hot en haar bestellings vir skaapvleis geneem het? Hy sou dan ’n plasie met skaap iewers hê. Hy, wat seker nog nooit ’n lewendige skaap reg van voor in die oë gekyk het nie, en waar sou die plasie nogal vandaan kom? Sy, Makkie, het die storie kortgeknip. Ossie is sedertdien nogal versigtig vir haar oordeel. Dis haar begeerte dat hulle almal die reguit pad moet loop. Dis al hoe jy opkom in die lewe.
Toe Ossie destyds hierheen verplaas word, was Makkie nogal bly. Gedink dan is sy naby sus Struisie; hulle was tog saam jonk, het baie dinge saam beleef en saam ontbeer. Hulle kan oor hulle kinders gesels en resepte en patrone uitruil. En sy het nogal gedink Ossie sal baat by sy swaer Klaas se goeie voorbeeld.
Sy het nooit voorsien dat sy vir haar suster ’n verleentheid sal word nie.
Dit herinner Makkie skerp aan Struisie se aanstaande besoek. Dis soos geboortepyne, hierdie wete. Dis los jou net vir ’n paar sekondes, dan keer dit erger as tevore terug. As Struisie …
Maar ’n ander, dringender gedagte het vir Makkie opeens stil geslaan. Haar hande verstar, so ook haar gelaatstrekke. Haar lippe trek nie eers nie, nóg in wrewel, nóg in verset. Die gedagte aan geboortepyne … nou weet sy waarom is sy so kragteloos en tam. Nou weet sy opeens met ’n grondelose moedeloosheid. Sy het gedink alles en nog meer is sommer die oorgang wat begin het. Sy is tog al in die veertig.
Makkie gaan sommer op die naaste stoel sit. Daar sit sy nog toe Elna inkom.
“En nou, as Ma so sit?”
’n Diep, onpeilbare behoefte om enige ander mensesiel in haar vertroue te neem, oorweldig vir Makkie. O, om tog net ’n vingerhoedvol begrip te ontvang.
“Ek voel so moeg,” bely Makkie tranerig. Sy kyk na haar mooi dogter, wonder terloops waar sy en Ossie aan hierdie kind gekom het wat heuningbruin hare het en na hoë musiek luister, en net weet hoe om ’n haarband te dra. Haar oë lyk mos soos ’n beertjie s’n, of iets. Soos Ossie met ’n skaap, het Makkie nog nooit ’n beer reg in die oë gekyk nie; sê dan maar die kind se oë lyk soos sirkeltjies lapferweel. Daardie sagte oë moet tog kan voel, al was daar nog nooit juis noemenswaardige kontak tussen hulle twee nie.
“Seker maar oor Ma dorp toe was,” meen Elna. Sy staan nog met haar handsak oor haar skouer, asof sy ontuis in hierdie kombuis is.
“Nee, Elna, Ma dink …” Die tranerigheid versterk. “Ma het nou net daaroor gedink … gewonder, of daar nie dalk …” Haar woorde steek vas. “Iets op pad is …”
’n Groot ontnugtering begin in die bruin sirkeltjies van Elna se oë groei. “Nee …” fluister sy. “Ag, nee. As dit so is, moet Ma … ek bedoel, is daar nie iets wat ’n mens daaraan kan doen nie?”
Die moederdier spring in Makkie Osman orent. Verby is die week oomblik van kontak soek. “Wat myne is, is myne,” sê sy fier, “en dis nie ’n skande nie.” Sy het harder gepraat as wat sy bedoel het. Om die waarheid te sê, het sy ’n vasgestelde stempatroon vir haar kinders: harderig, taamlik emosieloos, meestal vermanend indien nie selfbejammerend nie.
“Nee,” sê Elna, en haar stem is koud soos die winterwind flus om die sinkbushalte. “Maar in armoede en … en eenvoudigheid.” Sy wag nie op die woede wat noodwendig ontketen sal word nie, maar stap die kombuis flink uit op haar resiesperdbeentjies. Net lank genoeg, en net slank genoeg, die bene.
“Dié sê ek vir jou, hiervan sal jou pa hoor!” skree Makkie magteloos in die kort, skemer gang af.
En wat kan hy tog doen? wonder Elna soos ’n vasgekeerde dier toe sy haar kamerdeur agter haar toepluk. Wat hy nie alreeds gedoen het nie? Dan word daar van die jeug gepraat. Soveel onverantwoordelikheid, as al die apteke in die stad tot jou beskikking is. Kon haar ma nie kop gebruik het nie? Haar pa kon ’n heining gewees het, so breed is hy en soveel winde breek hy. Sy voel skuldig oor so ’n oneerbiedige gedagte, maar dit druk haar ontsteltenis uit. Dis hy wat haar weggekeer het van verdere studie. Sy moet eerder uitspring en geld verdien, het hy gesê. Asof sy ’n jack-in-the-box is wat vrolik uitspring om geldnote uit die lug te vang. Hy self het niks bereik nie omdat hy nie wou nie, dus belet hy ook sy kinders daardie voorreg. En nou verwek hy nog een. Sy neem haar voor: as dit ’n dogtertjie is, sal sy ’n rol in die kind se lewe speel, sal sy toesien dat haar ouers nie nog ’n lewe skeef stuur nie.
Hoe sleg voel sy tog oor die onsimpatieke woorde wat sy haar ma toegevoeg het. Dit behoort tog iets teer te wees, so ’n aankondiging. Maar sommer daar in die kombuis, die knieë wyd van mekaar af op die mankolieke ou stoel, die roksoom