Louisa du Toit
Omnibus 5
Skepe in die nag • Die huis langsaan • Soetendal se mense • Die goue vuur
Jasmyn
1
Die windjie begin skraal sny noudat die winterson agter die dakke van hoë geboue inskuif. Hier waar die vrou in die powere sinkskuiling van die bushalte wag, trek sy haar jas stywer om haar lyf vas.
Dit is ’n winskoop waaroor sy nog nooit uitgepraat kon raak nie. Meer as die helfte afgemerk, en toe nog ekstra afslag omdat een van die naatjies misgevang is deur die masjien by die fabriek. Dit was sewe jaar terug, en die jas gee nog goeie diens. Alhoewel, dink Makkie Osman, deesdae steek haar roksome onder die jas uit vandat Elna neul en neul dat sy haar rokke langer moet dra, dat sy nie op haar ouderdom en met haar bou meer die korter rokke kan dra nie. Haar dogter Elna reken sy val in ’n ander klas as die res van haar gesin, net omdat sy baie mooi en slim is. Sy het ook altyd die universiteitstorie in haar kop gehad, tot sy maar moed opgegee het voor haar pa se vraag: “Jy wil loop leer … met wat?” Oor die jas self kla Elna ook steen en been: “Ma, die ou jas lyk al verslons. Ek kan verstaan dat ons arm is, maar moet ons arm lyk ook?”
Die vrou in die verslete jas verskuif op die houtbankie en glimlag wrang. Haar swart skoene trap ’n verdroogde lemoenskil raak. Elna praat presies soos haar tante Corlia, kleintyd sommer Struisie genoem. Vandat sus Struisie se man professor geword het, is sy maar bra aanstellerig. Ag, lank voor dit nog. ’n Mens sal sê, dink Makkie vermakerig, dat ons nie as twee susters saam grootgeword het en armoedig daarby nie, Struisie net agtien maande ouer as Makkie. Die verskil is, ou Makkie verstaan nou beter hoe haar ouers se lewe so afdraand kon verloop het, want agteruitgang is ’n bekruiper. Struisie, weer, verkwalik hulle oorlede ouers omdat hulle nie uit die ellende opgestaan het nie. Wat sal Struisie sê as sy wat Makkie is, begin praat? Vertel hoe hulle twee meisiekinders met hulle eie hande saam bamboeslote gekap het om ’n afskorting te maak voor die onooglike voorstoepie? Hulle ouers het meermale op daardie stoepie gesit en drink, en nie koffie of tee nie.
Nee, deesdae mag ’n mens nie eers meer “Struisie” sê nie. Dis nou Corlia, van Cornelia af. En daardie koue vis van ’n seun van haar het sy destyds Christopher gedoop, alte deftig. ’n Mens mag hom ook nie sommer Chris noem nie, dit laat Corlia se oë sommer flikker.
Makkie Osman het rede om vanmiddag onophoudelik oor haar suster te maal. Dié het gebel om te sê sy kom vanmiddag oor om iets te bespreek. Daar roer ’n diepe onrus in Makkie. Wat bespreek? Struisie bel nooit nie, maar sluip altyd vlugtig binne, seker bang om deur hulle geleerde vriende gesien te word.
As dit tog net nie iets oor Elna is nie.
Die beeld van haar middeldogter roer in Makkie se onrustige gemoed, soos ’n weerkaatsing in beroerde waters. Elna is ’n kind wat die oog vang, waar sy ook al gaan of staan. As sy tog net nie iets loop staan en aanvang soos die oudste nie. Moes toe ook trou, Malie. En die mannetjie kan skaars “pap” sê. Nou sit hulle met die woelige kind in ’n plekkie so klein jy kan jou nie draai nie, skaars plek om ’n nat doek op te hang. Miskien was sus Struisie reg toe sy aangedring het dat hulle Malie liewer na ’n gepaste tehuis stuur en die kind laat aanneem. Maar die Osmans wou hulle daardie keer nie laat voorsê nie; wie sê sus Struisie keer nie maar net weer vir haar eie naam nie?
En sy het self groen koring op die land, dit moet sy weet. Daardie Christopher … so diep en donker soos die nag, ’n mens weet nooit wat hy dink of doen nie. Sy wat Makkie is, kan partykeer so ongemaklik in die jong familielid se teenwoordigheid voel. Nie dat sy hom dikwels sien nie, een keer in ’n skrikkeljaar. Corlia pas hom mos soos ’n enigste boklam op. Sy het so gesukkel om hom te kry, heelwat miskrame gehad. En moes maande in die bed lê voor sy geboorte. En na sy geboorte mag niemand vir eers naby hom gekom het nie, seker bang vir kieme. Daar was Makkie haar suster darem ver voor, met vyf gesonde kinders. Die Osmans is natuurlik swak geselskap vir die opgepiepte susterskind. Nee kyk, as hy eendag dokter is, sal sy hom tog nooit met ’n kwaal opsoek nie. Hmf.
Dis altyd Makkie se slotsom as sy oor haar sus Struisie dink: Hmf, ja.
Die vrou langs Makkie op die bankie kyk gesteurd op, sodat Makkie verleë besef sy het die geluid hardop gemaak. Sy vroetel sommer kastig in haar handsak asof sy iewers iets vergeet het.
Sy is haastig, en koud, en dors. Tuis wag ’n deurmekaar huis op haar. Dit weet sy sommer, met kinders wat omkrap en mors, en nooit ’n huishulp nie. En dis ook nie dat Elna haar uitsit om te help nie. Haar eie kamer hou sy wel netjies, maar kom sy smiddae van die werk af, is sy reguit kamer toe en daar kry jy haar nie bra uit nie. Speel net gedurig plate, maar dis nie plate met ’n behoorlike wysie wat jy tog kan saamneurie nie. Alles daardie hoë goed. Waar sou Elna aan die opstêrse streep kom?
Netnou, toe sy haar laaste rekening betaal, kom daar toe juis ’n bode en plaas ’n koppie tee voor die betaalklerk neer. Maar waar kry Makkie Osman toe so lus vir daardie koppie tee, dat haar mond te veel water om “Sestien rand sestig” behoorlik te kan sê. Self het sy nog nooit tee of iets vir haar in ’n eetplek bestel nie, sy is bang dat sy nie sal weet wat die regte manier is nie, en dis ook ’n mors van geld en tyd.
Makkie glimlag suur. Eintlik is dit net ’n sekere trek van die mond en dis nogal volop, veral wanneer sy alleen is. Dis nie juis ’n teken van vermaak of plesier nie. Veral nie wanneer sy aan “Sustruisie” dink nie. Makkie is dikwels alleen as man en kinders by die werk of skool is. Aangesien hierdie alleenwees dikwels gepaardgaan met berge wasgoed en skottelgoed, het Makkie die balans van oorvloedige gedagtes nodig. Werk jou liggaam jou gedagtes vooruit, of andersom, gaan ’n mens maklik van jou trollie af. Jy moet ewe veel werk en dink. Dis Makkie Osman se eenvoudige filosofie. En sodoende is sy gedurig aan ’t werk, aan ’t dink en aan ’t mond trek – óf suur, óf vermakerig. Af en toe geamuseerd, want Makkie is nie sonder ’n humorsin nie. Sy en Struisie was jongtyd vol grappe en sports.
Die bus ratel en blaas tot stilstand. As Makkie eindelik ’n leë plekkie kry en neersak in die klein kolletjie bestaanswarmte wat handsak, jas en kopdoek haar bied, sink sy vermoeid teen die rugleuning terug.
Sy sien al vir sus Struisie op ’n bus ry, hmf. Altyd die blink gepoetste motor, die ene weelde binne-in en die reuk van goeie leerkussings in die son. Voetmatte so saf soos ’n sitkamer s’n. Ander se sitkamer, natuurlik. Nie die Osmans s’n nie.
Dit wys jou darem wat trou kan doen. Struisie het reg getrou. Klaas Ligthart was destyds wel ook ’n platsak jong man, niks meer of minder as Ossie Osman nie. Maar sedertdien het ’n mens gesien wat geleerdheid kan doen. Kyk hoe het hulle opgekom in die lewe. Klaas het glad twee doktorsgrade. Nou leer die seun ook, dis rakke en rakke vol boeke. Hulle het ’n kamer in hulle huis wat hulle die “biblioteek” noem. Nie eers “kantoor” of “studeerkamer” nie. Net so: biblioteek. Vir Makkie, in die jare toe daar tyd was vir lees, was ’n biblioteek ’n plek waar jy mooi boeke gaan uitvat om vinnig deur te lees, een per dag. Waar alles gelukkig eindig. Anders, waarvoor lees jy dan? Iewers moet iets tog gelukkig eindig, aangesien dit nie in die normale lewe maklik gebeur nie. Maar Corlia, wat toe ook skielik loop leer het na haar troue, trek duidelik haar neus vir Makkie se boeke op.
Nou wat wou sy nou weer … o ja, trou. Nee, toe gaan trou stomme ou Makkie mos verkeerd. Wat help dit nou dat Ossie Osman destyds hard kon wegtrek met ’n kar, die dansvloer kon vat dat die sweet deur sy hemp slaan, en ’n doring in die donker was? Wat, ja, wat? Nou kan jy maar sê hy is ’n dagloner, en dit sal hy lewenslank bly. Loop soggens voordag met sy soetkysie die huis uit, klingeklang die straat af op sy ou fiets, en kom saans terug met vuil vingernaels en baardstoppels waaraan hy klou soos aan ’n loterykaartjie. Tuis is hy doodtevrede om voor die klein TV-stel in ’n stoel te sit en dommel en winde opbreek, of kaalvoet agter sy groot maag aan deur die huis te loop.
Nee, kyk … en Struisie is die een wat op dik matte loop en vir wie ’n huishoudster in ’n netjiese uniform tee op ’n silwer skinkbord na die “biblioteek” toe aandra.
Dof staar Makkie deur die weerkaatsende ruite van die stampende, dreunende bus. Sy sien ’n lewe by haar verbyflits, ’n volle lewe. Vir haar bestaan dit net uit twee soorte mense: dié