'n Hemelhoë hekkie. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Социология
Год издания: 0
isbn: 9780624052630
Скачать книгу
is terselfdertyd ook ’n laaste eerbetuiging aan haar, en dit sou onvanpas wees om dit onder skuilname die wêreld in te stuur.

      Op grond van persoonlike redes het ek egter besluit om skuilname vir die moordenaar en sy ouers te gebruik en nie hul identiteit openbaar te maak nie. Daar word na hulle verwys as Piet Strydom, Leana Strydom en Thomas Strydom.

      Die lewe glimlag

      Geliefde kind,

      Ek skommel ’n trommel vol Haai, onthou-jy?

      en put uit jou menswees so lank reeds verby.

      Daar’s soveel te sê, steeds gedrewe deur pyn,

      maar ook jou uniekheid wat helder voortskyn.

      28 Maart 2009

      Liewe Liesl,

      Vandag is die herdenking van jou geboortedag. In ’n ideale wêreld sou ons dit saam met jou rondom ’n koek met dertig kersies op gevier het. In stede daarvan stel ek oor die eters heen ’n heildronk in op jou, saamgestel uit die ryke skat van herinneringe wat jy nagelaat het.

      Ek glo jy weet waaroor hierdie boek gaan. Hierin vertel ek van jou dood en die feitlik onbegonne proses om daarmee vrede te maak.

      Maar daar was ’n tyd toe ons nooit met harte vol droefheid aan jou gedink het nie. Op ’n maand na was jy nege jaar lank elke dag bruisend deel van ons lewens, en jou bestaan ’n ligkol vol vreugde en baie lag.

      By jou het ek baie geleer, reeds van voor jou geboorte af. Elke nuwe gewaarwording en mylpaal wat moeders ervaar deur middel van hul ongebore babas, het ek en jy saam bereik. En ons moes omtrént saamstaan en saamwerk in die Marifont in Pretoria sodat jy hierdie wêreld kon betree.

      Soos die meeste mammas en pappas het ons ook jou vingers en toontjies getel en bekyk. Alles was volmaak. Jy het Pappa se tone gehad, en het seker gemaak dat ons jou handjies tussen duisende ander sou uitken: Jou linkerpinkie was effentjies krom, en aan die buitekante van albei pinkies het jy dieselfde klein knoppies gehad wat ek weer van ouma Rosaal geërf het.

      Jy was ’n fyn baba met digte, donker haartjies wat al in die kraaminrigting ’n spoggerige draaikrul op jou kop gemaak het. Wanneer die oumas en oupas met besoektye agter die glas na die babas kom kyk het, was jy ’n paar maal die enigste een wat wakker was. Dan het die suster jou opgetel en het jy almal aangekyk met wyse ogies wat stadig knip. Die oumas het ge-oe en ge-aa oor jou terwyl hul eie kleinkinders onversteurd bly slaap het. Jou peetouers, Marieta en Jackie van Schalkwyk, het een aand net voor die einde van besoektyd die reëls oortree en ingesluip om ook te gaan loer. Net of jy spesiaal vir hulle gewag het, was jy kiertsregop die ene nuuskierigheid op die suster se arm. Sommer van kleins af het jy mense bekoor en gesorg dat jy genoeg aandag kry.

      Ouma Rosaal en jy het onmiddellik ’n band gevorm tydens haar kuier. Die eerste klompie nagte tuis het jy so soet en stil geslaap dat sy partykeer gewonder het of alles nog wel was met jou. Dan het sy haar wang naby jou mondjie gehou totdat sy jou warm asempie liggies daarteen kon voel.

      Ons het na ons eerste eie huisie in Faerie Glen getrek toe jy net ’n maand oud was. Die uitpakkery het kwalik begin, toe kom kuier ouma Rina, oupa Flip, Lauraine en Marinda al. Hulle kon net nie langer wag om met jou kennis te maak nie. Dit was ’n voorreg om spesiaal vir jou ’n kamer in die nuwe huis in te rig. Nie dat jy nou juis beïndruk was daarmee nie. Jy wou nie daar slaap nie. Om die waarheid te sê, wou jy nêrens slaap daardie eerste paar maande nie.

      Toe jy twee maande oud was, het jy een aand op my bors gelê en slaap. Dit was een van die min maniere waarop ons wel flentertjies slaap kon inpas. Ek het wakker geword van ’n smakkende suigaksie naby my gesig. Jou gulsige bekkie het my neuspunt beetgekry en hard en lustig melk daaruit probeer forseer!

      Ten spyte van jou melkallergie en die slaapdramas het jy goed gegroei. Wanneer ons inkopies gedoen het in die Hyperama, het mense my dikwels gestop om seker te maak die slapende baba in die stootwaentjie is nie dalk ’n pop nie.

      As jonggetroudes met ’n nuwe huis was ons geld maar skraps, maar jy het drie deftige uitgaanrokkies vir spesiale geleenthede gehad. Niks minder as een van daardie rokkies was goed genoeg toe ek jou die eerste maal by my vorige werkplek gaan wys het nie. Dit was omtrent ’n optog in die middestad met die hele pakkaas van die parkeerplek tot by die Departement van Statistiek.

      Een van my kollegas daar, Lorraine du Pré, was absoluut gek oor jou. Sy het aangebied om een aand na jou te kyk terwyl ek en Pappa ons grootmensbatterye gaan herlaai het in ’n restaurant. Jy was toe darem al vyf maande oud en ons het geweet jy was in die beste sorg, maar ons kon net nie ontspan nie. Pleks daarvan dat ons die beste gemaak het van die kos en die skaars alleentyd saam, het ons heeltyd gewonder of jy ons nie te veel mis nie. Natuurlik was jy piekfyn; óns het al die verlangwerk gedoen.

      Ma’s is mos hierdie moederhenne wat glo die beste plek vir hul kuikens is veilig teen die moederlyf aangenestel. Soms het ek my verniet bekommer oor kleinighede, ander kere was daar wel rede om bekommerd te wees. Partymaal het ek taamlik paniekbevange met jou van Faerie Glen af ingejaag stad toe wanneer jou koors gevaarlik hoog was en dit nie wou afkom nie. Sodra ons dan voet in die spreekkamer sit, was daar geen teken van koors nie en het jy blakend gesond gelyk. Tipiese babagedrag.

      Toe jy agttien maande oud was, het Pappa se universiteitskamermaat, Eljo Smit, vir ons sy jong bruid kom wys. Denice was ’n paar jaar jonger as ons en sy het my mateloos beïndruk met haar goeie aanvoeling vir klein kinders. Sy het amper haar vingers velaf gebrei aan die groen dungaree-langbroekie wat ’n spesiale geskenk vir jou was.

      Eljo en Denice is nou nog van ons heel naaste vriende. Sy is ’n groot hondeliefhebber en het deur die jare gewoonlik meer as een hondekind gehad. Ek dink dikwels terug aan ons Gordonsbaai-vakansie in 1987, toe jy jou so geskaam het vir ’n opmerking wat Stephanie gemaak het. Dit was ’n paar jaar voor die geboorte van hul seun Charl. Ons was op pad terug na ons vakansie-chalet na ’n kuier by hulle in Somerset-Wes. In die motor het julle gewonder waarom Denice en Eljo nie kinders het nie, en Stephanie het met die wysheid van ’n vyfjarige vertroulik vir jou gefluister: “Lyk my tannie Denice kan net honde verwag.” Vir ’n oomblik was dit tjoepstil. Ek het geamuseerd na Pappa geloer en gewonder of ek moet help verduidelik. Dit was nie nodig nie, jy het jou oë gerol en kopskuddend geantwoord: “Dit werk nie so nie, Stephanie; ménsvrouens kan nie hónde verwag nie!”

      Jy het redelik vroeg begin praat en ’n “l” klank aan die einde van ’n woord uitgespreek as “ou”. ’n Borsel was vir jou dus ’n “borsou”, en jy het jouself “Liesou” genoem. My naam het jy vereenvoudig na “Dôlien.” Eintlik het jy ’n hele titel vir my gehad: “Die ma Dôlien.”

      In daardie jare het kinders nie ontwerper-verjaardagpartytjies gehad soos deesdae nie, en ma’s het meestal self die verjaardagkoek vir die partytjie gebak. Ek het my bes probeer om al die gewilde soorte koeke vir jou te bak, met wisselende mate van sukses. Die popkoek, feetjiekoek, treintjiekoek en ’n paar ander het heel goed uitgekom, maar die een wat my die meeste hoofbrekens besorg het, was die ma-eend en kuikens vir jou tweede verjaardag. Al drie moes regop staangemaak word met behulp van tonne “versiersuikergom” wat veronderstel was om na ’n ruk te verhard. Dit was baie warm en niks van die aard het gebeur nie. Die botter in die versiersuiker het olierig gebly en daardie dekselse ma-eend het bly omval, wát ook al ek probeer doen het. Dwarsdeur die nag het ek tevergeefs gesukkel met die eendema wat net wou lê. Teen 05:00 moes ek my van haar wegskeur, anders het sy sekerlik in die asblik beland. Kort voor die maatjies die middag sou opdaag, probeer ek toe ’n laaste keer, en daar staan sy jou waarlik toe lank genoeg dat ons kon foto’s neem en jy die kersies doodblaas.

      As jong baba en kleuter het jy ’n paar spesiale maatjies gehad. Hulle was die kinders van skool-, universiteits- en weermagvriende met wie ons oor die jare heen nog gereelde kontak het. Jou heel eerste maatjie in Pretoria was Danie, die seuntjie van Pieter en Marna Struwig. Hy was drie weke jonger as jy en ek en Marna het saam gewag op die koms van ons eerstelinge.

      Tot ons groot vreugde het hulle ook later na Kathu getrek. Hul familie het toe reeds uitgebrei en nog ’n boetie en sussie, Franz en Anita, ingesluit.

      Kathu