'n Hemelhoë hekkie. Douwleen Bredenhann. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Douwleen Bredenhann
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Социология
Год издания: 0
isbn: 9780624052630
Скачать книгу
>

      

      ’n Hemelhoë hekkie

      Douwleen Bredenhann

      Tafelberg

      Bedankings

      Ons liefste, brawe Liesl wat ons kom aanraak het met haar lewe: Jy het weer ’n stem en ’n nuwe ID-nommer – die ISBN-nommer van hierdie boek.

      Steph Bredenhann, Stephanie Prinsloo en Rosanne Bredenhann: My wonderlike man en dogters vir hul begrip, liefde, bystand en geduld.

      Marguerite Moon vir die die lees van die manuskrip en inspirasie.

      Riana Botha vir die lees van die manuskrip, haar regskennis, skakeling met die Noord-Kaap Hooggeregshof en ander voorstelle.

      Ellen Botha en Hettie Scholtz, my twee goeie feë: Ellen, jy het my laat glo dat ek hierdie boek kan skryf. Dankie vir al die leeswerk en motivering.

      Martha Viljoen en Pouveer vir hul treffende gedigte.

      Tafelberg Uitgewers en in besonder Erika Oosthuysen wat verstaan het in watter mate my hart in hierdie boek is.

      Ria Barnard vir die versorging en afronding van die manuskrip.

      My susters Riana, Sarie en Jurette.

      Liesl se dapper kisdraers: Rosalchen, Sarine (oorlede 1990), Marguerite en Christo.

      Ons ouers wat reeds almal oorlede is: Ma Rosaal, Pa Jurie, Ma Rina en Pa Flip.

      Familielede: Dirk, Dewald, Japie, Jurie (jr), Christine, Alexander, Marlene, Dewie, Ina, Flippie, Nicolien, Marinda, Anton, Lauraine en ons eertydse swaer, Phillip.

      Dss. Van Zijl en Du Toit van die NG Gemeente Diamantveld, Kimberley.

      Vriende: Johanna en Beyers le Roux, Lyn Klemp, Martha Viljoen, Gustav en Lucille Berner, Eljo en Denice Smit, Wini Esterhuizen en Lucas Maree.

      Kaptein J. Crafford vir sy knap speurwerk en sy empatie.

      Diegene wat dinge gesê het wat ek nie wou hoor nie. Dit was ook nodig om my opinie daaromtrent te help vorm.

      Hierdie boek is opgedra aan Liesl Bredenhann

      Jy kon nie self vertel nie, Liesl-ling

      Ek moes vertel

      Namens jou, ons

      en

      almal

      wat hierdie boek mag

      nodig kry

      Stephanie en Rosanne,

      ek is so dankbaar dat ek nie nodig het om

      oor julle ’n boek te skryf nie.

      Julle lewens speel voor my af,

      nie in my kop of op ’n rekenaarskerm nie.

      Ek het deel aan byna alles wat met julle gebeur.

      Vooraf

      Op 26 Februarie 1988 is die relatief ongekompliseerde gesinswêreld van die niksvermoedende Bredenhann-gesin van Kimberley wreed en gewelddadig versteur.

      Vroegaand, net na ete, het die onnoembare met ons oudste dogtertjie, Liesl, gebeur. Op daardie warm Vrydagaand is sy, ’n maand voor haar negende verjaardag, binne ons erf in die agtertuin vermoor. Ons harte het ontplof in ontelbare stukkies. Niks sou ooit weer kon wees soos voorheen nie.

      Die presiese verloop van die gebeure is na meer as twintig jaar steeds onbekend. Dit was nog lig, en een oomblik was Liesl nog sorgeloos besig om haar hondjie kos te gee. Binne die volgende tien tot vyftien minute is sy aangeval en haar polsende hartklop tot stilstand gewurg. Haar klere is versteek in die holte tussen twee aangrensende erfmure en sy soos ’n gebreekte pop eenkant gegooi op die sementblad naby haar geliefde swaai.

      Dié tragedie het ’n enorme ingreep in die lewe van elke lid van my gesin veroorsaak. Dit het gebeur voordat berigte oor moord en doodslag in elke koerant alledaags begin raak het in Suid-Afrika. Kinders het nog kommervry en veilig by hulle ouerhuise gespeel. Ouers het nie nagte lank gelê en tob oor die veiligheid van hul kinders binne die gekoesterde grense van hul huise en tuine nie.

      Hierdie vertelling verwoord my persoonlike belewing daarvan. Die volgorde van gebeure is so noukeurig moontlik weergegee, hoewel dit hier en daar effe mag verskil van die oorspronklike verloop daarvan. Ek mag moontlik insidente ingevoeg of uitgelaat het wat ander rolspelers as onbelangrik of belangrik sou beskou, of anders ervaar het.

      Die dood van ’n geliefde kind is geweldig pynlik en onverstaanbaar. Wanneer dit op so ’n brutale wyse plaasvind, is dit selfs nog moeiliker om te verwerk. Hoe kon so iets nou juis met jóú kind gebeur?

      Ouers se keuses oor wat om daarna te doen, is beperk. Daar is sekere basiese handelinge wat uitgevoer moet word. Sodra dit afgehandel is, begin die pynlike proses om aan te hou leef sonder jou geliefde kind. Op papier gestel, klink dit nie so ingewikkeld nie en selfs haalbaar. Daar is selfs boeke wat die rouproses stap vir stap uiteensit.

      Die werklikheid is nie naastenby so logies en ongekompliseerd nie. Om te rou is ’n intens persoonlike ervaring. Elkeen wat daardeur geraak word, sal dit op ’n ander manier beleef.

      Op soek na troos en ’n mate van gemeensaamheid het ek elke beskikbare boek gelees wat deur ouers geskryf is na die dood van hul kinders. By elkeen van daardie verhale kon ek slegs tot op ’n sekere punt aanklank vind omdat die betrokke kinders meestal die slagoffers was van padongelukke en terminale siektes. Hul lewens is nie doelbewus deur iemand beëindig nie. Hiermee bedoel ek nie dat hul dood vir hul ouers minder erg was of dat hulle dit makliker kon aanvaar en verwerk nie. Maar die beelde wat ons in ons koppe rondgedra het, was verskillend van die beelde in daardie ouers se koppe. Ek het nodig gehad om te lees dat ’n ander ma of pa iewers ook worstel met die pynlike nalatenskap van ’n moordenaar wat hul kind vir sy of haar siek doeleindes gebruik het en toe sommer net gaan weggooi het.

      Nêrens kon ek iets daaroor vind nie. My frustrasie daaroor het geleidelik omgesit in die besef dat ek dan daaroor sou moes skryf. Dan sou ander wat dieselfde behoefte ondervind, se soektog nie vrugteloos wees nie. Dit was ’n moeilike besluit en dit het lank geduur om my verdedigingsmeganismes te stroop totdat ek gereed was om oop te maak oor dinge wat vir my soos heiligskennis voel.

      Die skryfproses was op sigself ’n hoë hekkie om te oorbrug. Gedeeltes daarvan is uiters emosioneel en persoonlik van aard, en by tye het die herlewing daarvan dit feitlik ondraaglik gemaak om voort te gaan. Tog het ek nooit getwyfel of ek moes voortgaan nie en het eenvoudig aangehou met skryf. Sommige mense het dit openlik bevraagteken dat ek die hele pynlike proses wou herleef. Ek het nie verwag dat hulle sou verstaan nie. Daar is iets onverklaarbaars wat ’n mens dryf nadat jou kind se lewe só kortgeknip is. Vir my is dit ’n voorreg dat ek die skryfwerk self kon behartig. Elke woord bring hulde aan ons kind wat ons nooit weer kon vashou nie.

      Die vertel van hierdie verhaal is nou selfs meer relevant as twee dekades gelede, omdat kinders wat gewelddadig sterf nie meer ’n rariteit in ons land is nie. Dit gebeur nou heel dikwels. En elkeen van daardie kinders het ouers, broers, susters, oumas, oupas, ander familielede, maats en vriende; mense wat moet probeer sin maak uit iets wat hul verstand nie kan of wil aanvaar nie.

      Dit was hoog tyd dat iemand die moed bymekaarskraap en vertel presies wat so ’n ervaring vir die ouers van vermoorde kinders behels. Die boek swaai nie ’n resepmatige towerstaf rond of versag enige feite nie. Dit vertel openlik van die grusame voorval en die hoë hekkies op die lang pad daarná waarvoor ons te staan gekom het.

      Daar is nie moeitelose deurgange nie. Oor heelparty hekkies kan ’n mens uiteindelik klim, maar aan ander sal daar altyd ’n stukkie van jou nerf bly kleef. Nie omdat jy nie hard genoeg probeer het nie, maar omdat dit die beste is wat jy kon doen.

      Aanvanklik het ek dit oorweeg om skuilname te gebruik, maar na deeglike oorweging daarteen besluit. Die moord op ons weerlose dogter het haar gereduseer tot ’n aangetekende geval in die land se register van moordstatistiek. Sy kon self niks daarvan vertel nie. As