En net omdat hy so ongepoets suinig was, het Saranie besluit om volgende keer tog iemand saam te neem plaas toe, iemand soos Corné. Hy is op slot van sake haar beste vriend. Sy wens net hy wil ophou om haar met sulke sieklike leepoë aan te staar.
“Jy’t belowe om my saam te vat.”
Lees hy gedagtes?
“As ek ooit weer eendag gaan.”
“Dag jy’s so familievas?”
“Ek is, maar hulle maak dit vir my moeilik.”
“Hoekom?”
“Soek alewig vir my man.”
“Neem my saam, dan wys jy hulle.”
“Wys ek hulle wat?”
Asof sy nie weet wat hy bedoel nie.
Hy bondel sy papierservet in die sopbord. Die frommels vou oop soos die tentakels van ’n vreemde gogga. Hy kyk nie op nie. “Dat jy self kan kies.”
“Jy is my beste vriend,” sê sy en sy bedoel dit. “Hulle weet, ek’t hulle gesê.”
Toe kyk hy op, sy oë effens mistig. “Dis die beste kompliment wat ek in jare gekry het.” Sy uitdrukking raak mismoedig. “As ek jou net kan glo, Saranie.”
Sy voel laer as seeskuim. Sy sukkel al byna twee jaar lank om hom op ’n afstand te hou. Sy weet hy is dolverlief op haar, maar sy kan nie reguit vir hom nee sê nie. Daarvoor is sy vriendskap vir haar eenvoudig te veel werd.
Gelukkig hoef sy nie nou op sy beskuldiging te reageer nie. Anna sit die skinkbord met drie koppies koffie op die tafel neer en Saranie hoef niks verder oor die naweek uit te wei nie. Hulle praat oor die oggend se pasiënte en operasies, en waag selfs ’n aanmerking of twee oor Glenda Olckers wat te min respek vir haar hospitaalpasiënte het.
“Ek weet nie hoekom sy nog hier kom werk nie, haar praktyk in Brooklyn floreer.”
“Kastig om ’n bydrae te lewer,” sê Saranie.
“Nee, julle meisies, julle het dit mis. Dis om die halsbandjie,” sê Corné geheimsinnig en grawe in sy sakke na die botteltjie pille wat hy altyd saamdra.
“Watter een nou?” vra Anna.
“Die Walskoning, wie anders?” grinnik hy.
Anna se oë rek. “Franz Strauss? Nooit!”
Corné skud ’n pilletjie uit en sit dit onder sy tong. Hy sluit sy oë en knik dramaties.
Dit voel of Saranie wil flou word en doodgaan. Dis asof hy ’n vurk in haar ingewande gesteek het en haar belangrikste organe daarmee uithark. Glenda Olckers is bekend daarvoor dat sy mans om haar pinkie draai.
Anna sit regop. “Hóm kan sy vergeet.”
“Sê jy. Maar ek het hulle gesien.”
“Ag nee!” Anna lyk platgeslaan.
Saranie se mond is kurkdroog. As Franz Strauss Glenda se volgende slagoffer is, kan sy net sowel met Corné Vermaak afhaak. Of nog erger: teruggaan plaas toe en haar aan Gerhard de Lange oorgee.
3
Franz Strauss. Dis hy, haar geheime liefde.
In Glenda Olckers se arms!
Anna en Corné vind die situasie so prettig dat hulle gelukkig nie agterkom hoe Saranie sit en kook nie.
“Ek’t hulle betrap!” Corné is so dramaties asof hy weer op ’n moetie-moord afgekom het. Dit was ’n jaar gelede die geval. Toe het hy ook eerstehandse inligting gehad.
“Waar?”
“In sy spreekkamer. Ek wou een van my pasiënte met hom bespreek, ons het ’n afspraak gehad. Ek klop dus aan, stap in en daar staan sy voor hom, hande op sy skouers, reg vir die soen.”
“Hoe weet jy sy wou hom soen?”
“Mekaar – hulle wou mekaar soen.”
“Ek glo darem nie. Franz Strauss is te gereserveerd en ordentlik.”
“Mag wees. Maar my ouma het altyd gesê as ’n vrou haarself op ’n skinkbord aanbied, moet jy nie die man kwalik neem wat vat wat hy kan kry nie.”
“Dis wat Nico ook sê: party vroue is erger as mans.”
“Ek glo nie dis die geval hier nie. Hy’t vir my akuut geïnteresseerd gelyk.”
Saranie kan haar nie meer inhou nie. “Geïnteresseerd of geëmbarrasseerd?”
“Gewát?”
“Was hy nie ongemaklik nie?”
“Sy het voor hom gestaan, half oor hom, ek kon nie alles in detail sien nie.”
“Het sy hom nie in ’n hoek gehad nie?”
“Nee, in die middel van die kamer.”
“Reg om hom te verskeur?”
“Eerder vir my.” Corné rol sy oë dramaties. “Sy’t haar omgeruk en haar naels vir my gewys, tande ook. Eerlikwaar, sy’t gelyk of sy my gaan uitmekaarruk. Hoe daai kat ’n dokter kan wees …”
Corné laat sy sin in die lug hang; hy kyk van Anna na Saranie.
Saranie klou haar koppie vas. Corné het ’n verskuilde agenda. Hy weet dat sy ’n Franz Strauss-bewonderaar is. Maar almal is – selfs Anna, wat hom dikwels al as koud, kil en passieloos beskryf het.
Sou Corné vermoed hoe sterk haar gevoelens in werklikheid is? Is hy besig om haar voor Anna uit te lok?
“Glenda is ’n goeie dokter,” probeer Saranie haar ware gevoelens verbloem. Haar stem klink vir haarself vreemd vals.
“Sy’s ’n feminis, sy veg vir vroueregte. Vroue wat haar nie ken soos ons haar ken nie, hou van haar,” sê Anna.
“Jip, en sy sweep hulle op. Hou julle nou skielik van haar?” vra Corné.
“Wel, as daar iemand is wat Franz Strauss uit sy koma kan opwek, is dit Glenda Olckers. Hoog tyd dat daar lewe kom in sy ysige ledemate en uitdrukking op daai Nazi-gesig van hom.”
Dis eens te veel vir Saranie. “Franz Strauss is nie ’n Nazi nie! Hoekom noem jy hom altyd ’n Nazi?” Weer uit voor sy kan keer.
“Ek sê nie hy is ’n Nazi nie, ek sê hy het ’n Nazi-gesig. Hoekom verdedig jy hom?”
“Omdat …” Saranie voel hoe sy rooi word.
Anna sit haar koffiekoppie hard op die piering neer. Sy kyk na Saranie asof sy diep teleurgesteld is. “Is jy van die Franz Strauss-bewonderaarsklub?”
“Ek’s nie die enigste een wat ’n bewondering vir hom het nie! Wat van jou? Jy het al gesê hy is ’n briljante dokter – en nou is hy skielik ’n Nazi.”
Anna kyk Saranie aan asof sy iets sien wat sy nog nooit voorheen gesien het nie. “Goed, Saranie, ek sal nie weer sê dokter Strauss is ’n Nazi nie,” paai sy asof sy ’n kind kalmeer.
Haar hele houding sê: Jy steek iets groots vir my weg en ek is jou beste vriendin. Ek vertel jou alles van my en Nico, maar jy kom met alles behalwe die waarheid. Wag maar, ons sal weer praat.
Saranie weet nie waar om te kyk nie. Teen haar sin voel sy ’n knop in haar keel. Sy sluk en sê niks.
Corné geniet blykbaar die wapenstilstand. Het hy hierdie konfrontasie beplan? wonder Saranie. Het hy dit uitgedink – die kastige omhelsing wat hy gesien het? Is dit waarvoor hy die hele naweek gewag het? Sy hou nie van hierdie donker kant van Corné nie, en dis asof dit die laaste tyd die oorhand begin kry.
“As iemand ’n