Narkose van die hart
Helena Hugo
Hartklop
1
Saranie kyk na die bondeltjie mens in haar arms, na die toe ogies afgerond met welige goue wimpers, die dun ooglede deurtrek met fyn aartjies. Wat sal hierdie babatjie wat so rustig asemhaal nog alles in die lewe aanvang? Hy is nou nog volmaak onskuldig en sonder enige kwaadwilligheid, maar dalk sal hy ook eendag iemand seermaak, iemand diep teleurstel.
Nie vandag nie, besluit sy en buk af om die blonde koppie saggies met haar lippe te streel. Sy kry die reuk van melk en babapoeier en sy moet keer of die lastige klamheid in haar oë bring haar in die skande en haar hart beland op haar mou vir almal om te sien hoe sy regtig voel. Hoe sal sy haar trane kan wegpraat? Daarom knyp sy hulle weg en kyk nie op voor sy haar emosies in bedwang het nie.
Die vernedering gister by die troue is nog te vars. As sy nou huil, huil sy sommer daaroor ook en wat haar betref, het sy nie meer trane nie. Hartseer en pyn is iets wat sy lankal op ’n afstand bejeën. Dit gebeur met ander, nie met haar nie … tot sy ’n slag huis toe kom en met verlore kanse gekonfronteer word en lastige vrae moet antwoord.
Mense is ongevoelig, sy ken hulle so – selfs dié wat siekes verpleeg en veronderstel is om genade te hê. Sy weet ook nie wie die ergste is nie: dié wat skimp of dié wat reguit vra. Maar hoe kan sy die res van die dorp verkwalik as haar broers en haar eie familie haar ook treiter? Almal wil weet hoekom sy nog nie getroud is nie, en hulle hou nie op nie.
Vra sommer reguit oor haar matriekliefde uit en of sy nog onthou hoe geheg hulle aan mekaar was. Geheg! Ha! Wat ’n woord!
Sy het gedink sy het vergeet, maar sy het nie. Toe sy in sy oë kyk, het alles weer teruggekom en vyftien jaar het eensklaps weggeval. Hulle was weer agttien. Hy en sy. Of is dit net sy wat so gevoel het?
Dit was nie die eerste keer dat sy hom gesien het vandat hulle matriek geskryf het nie. Maar dit was die eerste keer dat sy hom en sy vrou en kinders raakloop – nogal by haar kleinnefie Louis se troue. Die eerste keer dat sy soos die oujongnooitante voel wat hoopvol in sy oë soek na iets wat aandui dat hy ook soms terugkyk.
Hy was vriendelik. “Nog alleen?” het hy gevra.
“Jip, getroud met die werk.”
“Gedink jy’s teen dié tyd al getroud met ’n gesiene spesialis.”
Sy het nie daarop gereageer nie. “Jou kinders is pragtig.”
“Ja, die oudste gaan volgende jaar hoërskool toe.”
“Baie geluk!”
Die meisietjie het skaam geglimlag, ’n mooi kind. Hoe anders met so ’n pa … en ma.
Mejuffrou Graanvlokkie of Mielieblaar of wat sy ook al was, is toe selfs mooier as vyftien jaar gelede. Maar koel en afsydig, al het sy Saranie nie met die eerste oogopslag herken nie.
“Nou ja, geniet Louis se troue,” het hy gesê. “Hoop nie ek beland eendag onder jou mes nie!”
“Jy sal nie, ek is nie ’n chirurg nie.”
Dit het gelyk of hy verder wou uitvra, maar sy seuntjie het begin neul en sy mooi vrou het hom daaraan herinner dat hy die kind toilet toe sou neem. Hy het verskoning gemaak en die gesinnetjie het aanbeweeg.
Wat die seerste gemaak het, en wat haar die kwaadste gemaak het, is dat hy hom nie eens verwerdig het om weer naby haar te kom en ’n verdere woord met haar te praat nie!
By die onthaal was hulle heeltyd iewers tussen die gaste. Saranie het hom wel van ver af by die buffettafel gesien, besig om saam met sy vrou kos te skep. Gelukkig, intiem saam. Sy wou dit nie sien nie, maar daar was dit reg voor haar oë: ’n gelukkige huwelik. Sy moes haar kop skaamkwaad laat sak.
Is sy die nare heks in die storie? Sy is, as sy haarself aanhou jammer kry en hom sy geluk misgun.
Saranie haal diep asem. Niemand mag weet dat sy soms nog haar ou skoolfoto’s uithaal en wonder hoe haar lewe sou gewees het as mejuffrou Mielieblaar nie haar verskyning op die dorp gemaak het nie. Sy sou miskien nie verder studeer het nie, maar sy sou darem al ’n mevrou en ’n moeder gewees het. Sy sou beslis nie nodig gehad het om die meeste van die tyd met Corné opgeskeep te sit nie.
Corné … Sy sluk as sy aan hom dink, skuldig oor sy haar selfoon eergister afgeskakel het, en die enigste SMS wat sy vir hom gestuur het: Veilig aangekom.
Sodat sy tog maar net ’n dag of drie van hom ontslae kan wees.
Daar is deesdae iemand wat sy naas haar matriekliefde bewonder, blond en helder soos die vuur wat hy in haar aangesteek het, nie donker soos Corné nie. Niemand weet van hom nie, net sy. En sy hou dit al maande lank streng geheim. Sy is behoorlik bang om in sy rigting te kyk, ingeval iemand anders raaksien hoe haar hart in haar tekere gaan.
Oor hom sê sy nie ’n woord nie, al is haar liefdeslewe en wat sy van die huwelik dink kort-kort die onderwerp van bespreking. Dié dat sy op Madeleine se baba konsentreer, omdat Madeleine ook in en uit is en haar aanhou peper met moedswillige vrae.
“Dink jy dis regverdig dat party vroue alleen deur die lewe gaan?” het sy ’n rukkie gelede gevra en die baba vir haar aangegee. “Vandat ek getroud is, oorlaai die lewe my met kinders,” het sy gesug en uitgestap om springmielies te maak.
Saranie het nie geantwoord nie. Sy wil ook trou en kinders kry, maar sy sal dit nie erken nie. Sy sal liewer maak of haar werk die begin en einde van haar bestaan is.
Iewers in die kombuis hoor sy Madeleine lag, en ’n diep manstem – só hartlik dat selfs Harry Potter en die televisie oorweldig word.
Gerhard de Lange van Sandheuwel.
Hy het gearriveer – die nuutste potensiële trouman wat haar familie vir haar uitgesoek het, haar metgesel vir die naweek. Klink soos hy.
Toe Saranie haar kop oplig, staan die tweejarige Johannie haar en aanstaar, tipies kind, asof hy presies weet wat in haar gedagtes aangaan. ’n Kwartbottel sjokolademelk hang aan die tiet wat hy tussen sy tande vasknyp. Hy weier om sy “bottie” te los, veral noudat die baba hier is wat omtrent heeltyd in sy ma se arms lê – arms wat eens net aan hom behoort het.
Saranie glimlag simpatiek vir hom.
Hy frons en pluk die tiet só skielik uit dat daar ’n straal van die soet vloeistof teen haar wang vasspuit. Sy vee dit met haar skouer af. Haar hare klou aan die taaiheid. Die opdringerige reuk van sjokolade hang suurderig om haar.
Goed so, dalk verdryf dit haar besoeker.
“Myne,” sê Johannie en beplak die baba met natterige persbruin soene.
Die kleintjie raak kriewelrig en kerm benoud.
“Johannie, los die baba!” Madeleine staan in die gesinskamer se deur met ’n bak springmielies in elke hand, ’n fris geboude jong man agter haar.
Saranie se moed sak in haar skoene.
Gerhard is gewas en gekam en gelaai met video’s, paaseiers en biltong wat hy belowe het, en wat hy en Saranie nog later vanaand saam moet geniet. Op die oomblik sit Madeleine se kinders ingeryg voor een van die Harry Potter-films, maar die Godfather-reeks, wat Gerhard as klassiek beskou, en “ander verrassings” vir ná middernag is net vir hom en Saranie.
Sy maak of sy hom nie regtig sien nie, sus liewer die baba. Maar voor die huilbekkie kan ontspan, is Madeleine by. Sy skep haar jongste uit Saranie se arms en druk hom teen haar vol borste.
“Ek gaan hom voed, dan kan jy en Gerhard in vrede kuier. Kinders, hoe ver is Harry? Julle moet opskud en moenie so mors nie! Pasop, die popcorn!”
Springmielies saai oor die mat. Johannie sit ’n keel op oor “sy” baba, die ander stry met mekaar oor wie se skuld die popcorn is.
Ek en Gerhard in vrede kuier? flits dit deur Saranie se gedagtes. Ek sal dit plesieriger vind om nou in vrede in my kar te klim en huis toe te ry.
“Ma, ons kan nie hoor