Die Naamlose
Mariël le Roux
Tafelberg
Een
Die rooidag vang my op die voorstoep aan die rivierkant van Grootvlei se huis. Ek was die hele nag hier.
Gister het donker gedaantes vroegaand al, toe die son net onder was, soos roetdampe op my begin neersif waar ek ook al binne die mure van die huis skuiling probeer soek het. Tot ek wou verstik. Ek is verswelg deur dieselfde swart slierte wat my lank, lank gelede in die nagdonker van die ou plaashuis verneder het tot ’n bondeltjie angs, onder in die hoekie van my enorme ou klerekas.
Maar ek het nie regtig ontsnap nie. Kleintyd se spoke het saam met my buite toe gestap, my op die stoep geselskap gehou. Veral dié van Pa, van Lena en van die katkoppie.
Op die lendelam bankie in die hoek van die stoep het die ure van die nag omgedraal. My oupa Maans het die bankie vir my ouma Sarie gemaak om haar te plesier. Dit was nie maklik om my ouma Sarie te plesier nie. Die bankie moes haar uitspanplek wees in die noordhoek van Grootvlei se voorstoep. Sy was hoogswanger met my pa. ’n Swangerskap met slaggate, sy moes rus, soveel moontlik, het die dokter gemaan. Oupa Maans het die bankie vir haar skeef in die hoek van die stoep neergesit, dit daarna in die sementvloer vasgebout sodat niemand die hoek waarteen hy dit met sorg staangemaak het, kon versteur nie. Ouma Sarie kon tegelyk die rivier, die wingerde en die granietkoppies op die grens van die plaas sien. Dit was haar begeerte om so oor Grootvlei te kon sit en uitkyk, maar Ouma Sarie het, nog voor my pa se eerste verjaarsdag, vir die laaste keer op die bankie gesit.
Veertig jaar later het Ma Bella, kort nadat ek in die wêreld gekom het, ’n kleipot langs die bankie kom neersit. Sy het ’n rooi malva daarin geplant. Ma Bella se rooi malva was nog vol in die blom toe ek laas hier was. Nou is die pot aan die voorkant van bo tot onder dwarsdeur die klei gekraak en staan dit halfvol kurkdroë kluite.
Ek is verlig toe die eerste strale van die son op die rivier blink. Waar die vlak water oor die klippe spoel, flits liggies vlietend, aan, af, aan, af. Dis soos ’n sein, ’n kode wat my willoos terugneem na ’n lewe lank reeds diep begrawe. Toe ek bang was vir Pa.
Ons het Wilhelm Botha gister in die Bothas van Grootvlei se familiekerkhof onder die peperboom begrawe. My pa het negentig jaar oud geword. Hy moes amper vyf dekades met sy gewete saamleef. Sy enigste salf; die brandewynbottel.
Dit was Sampie, Dora se oudste seun, wat my ’n paar dae gelede by my huis gebel het. “Is dit jy, Carli?” het ’n manstem gevra. Die stem was vaag bekend.
“Ja, dis ek.”
“Dis Sampie wat praat, Sampie van Grootvlei. Ek praat van die buurplaas af, van kleinbaas Danie se foun af. Ma-goed sê jy moet kom, die oubaas lê op sterwe.” Sampie het harder en harder gepraat, seker die afstand aangevoel. Ek was oorweldig, ’n rukkie lank stom. Toe hy, ná ’n paar oomblikke van stilte, die boodskap met selfs meer geesdrif begin herhaal, het ek lewe gekry.
“Genade, Sampie, waar het jy dié foonnommer in die hande gekry?”
“Ma-goed het dit in oorle’ nooi Bella se rooi boekie opgesoek toe ons gister agtermiddag van die hospitaal af gekom het. Die dokter het gesê dinge loop staan einde se kant toe met die oubaas. Ek was voor invaltyd vanoggend hier by die kleinbaas, maar hy het gereken dis bietjie vroeg. Toe sê hy ek moet ná brekfis weer kom, dan vat ons ’n kans. Hy het vir my die hele span nommers in die foun ingesit …”
Die lyn het doodgeklik. Sampie se relaas is stomp afgesny. Ek het verslae met die gehoorstuk teen my oor bly staan.
Liewe Dora. Sy moes Ma Bella se rooi telefoonboekie al hierdie jare bewaar het, die boekie waarin my ma haar neef Alessandro se adres en telefoonnommer, haar lewenslyn soos sy dit genoem het, geskryf het. “Vir ons twee, Carli-kind, vir jou en vir my, vir eendag-op-’n-reëndag,” het sy altyd gesê.
En Dora leef nog! Sy moet ook amper negentig wees. Sy is net ’n paar maande jonger as Pa.
Ek wou nie kom nie. Twee dae lank het ek met myself gestry. Ek skuld Pa niks, ek ken hom nie. Ek wil hom nie onthou nie, nie sy gesig nie, nie sy stem nie, nie sy lyf nie. En tog is ek hier. Op Grootvlei. Ek het die lang reis onwillig aangepak. Feitlik die hele nag op die vliegtuig het ek regop in my stoel gesit, vasgemaak, my hele lyf snaarstyf. Ek was alreeds onder die juk van die plaas.
“Die plaas en al u vader se ander bates is vir u nagelaat,” het die prokureur gister laatmiddag ná die begrafnis vir my gesê toe hy die testament kom voorlees het. “Hier staan dit in u vader se eie handskrif.”
Dit was net ek en hy in Grootvlei se voorhuis. Die man het seker die ongeloof op my gesig gesien. Hy het die vel papier vir my gegee om self te lees. Daar was slegs enkele sinne op die vergeelde bladsy. Bewerig, met ’n vulpen, het Pa die paar lyne geskryf en dit onderteken onder ’n datum, lank voor Ma Bella in sy lewe gekom het. Die laaste wil en wens van Wilhelm Botha was baie duidelik. Sy ma, my ouma Sarie, sou al sy besittings erf, sou sy haar seun oorleef. Kom sy egter voor hom te sterwe, kry sy afstammelinge die volle voordeel van sy boedel.
“Waar kry jy hierdie ding?” Ek kon die irritasie in my eie stem hoor.
“Die testament was vasgespeld aan die verkoopkontrak waardeur die plaas op u vader se naam oorgedra is. Dit was bykans sewentig jaar in veilige bewaring in ons kluis.” Selfvoldaan. Gladdebek. Hy was trots op die sekuriteit wat sy kluis bied en hy het sy bors bietjie uitgestoot, homself regop gedwing in die pap, flenterige kussings van die sofa. “Ek het by die bank gaan seker maak, daar is geen ander testamente ná hierdie een opgestel nie.”
“Jy het die baas van Grootvlei se sake deeglik ondersoek. Waarom?” Ek was bakleierig sonder dat die mannetjie my iets aangedoen het.
“Ek kan dit seker maar in u oor fluister,” het hy half agter sy hand gesê, “daar is lewendige belangstelling vir die aankoop van die grond. U sal verstaan dat ek ongelukkig nie name bekend kan maak nie. My praktyk is gewillig om namens u enige sake te behartig. U hoef net die woord te spreek.” Hy was in sy skik. “Die algemene aanvaarding in die kontrei is dat u u nie ná al hierdie jare hier op Grootvlei sal kom vestig nie. Is dit korrek?” Hy het vraend na my gekyk, maar ek het hom nie geantwoord nie.
Ek het vasgekeer gevoel so saam met die tevrede, jong vreemdeling in die donker voorhuis. Ek moes uit. Toe ek opstaan en deur se kant toe stap, het hy my gevolg. Op die voorstoep het hy op die boonste traptreetjie vasgesteek. Hy het sy hande dramaties voor hom uitgestrek en stadig van kant tot kant gedraai. “Alles net vir u, as enigste afstammeling van die oorledene,” het hy professioneel gesug. Asof ek die eerste prys gewen het, asof hy gestuur is om dit aan my te oorhandig.
Grootvlei. My eie stuk verdrietige aarde.
Pa was bewusteloos, grysbleek in sy gesig en blou om sy mond, toe ek ’n paar dae gelede by die hospitaal aangekom het. “Beroerte,” het die dokter saaklik gesê.
“Op sy ouderdom niks ongewoons nie,” het die saalsuster my getroos. Sy het met een hand ’n paar grys haarslierte van Pa se voorkop af kant toe gevee. “U is welkom om te bly solank u wil.”
“Dis goed.” Ek kon aan niks anders dink om te sê nie. Ek het ’n tree nader aan die bed gegee omdat ek kon sien die suster verwag die een of ander vorm van toenadering of emosie. Ek was versigtig. Ek wou nie aan Pa raak nie. Sy het die deur agter haar toegetrek toe sy uitgaan.
Enkele minute later was ek weer in my huurkar. Die kamertjie was te klein vir my én Pa.
Ek het daarna weer hospitaal toe gegaan, ’n paar keer. Later kon ek dit ’n bietjie langer in die kamer uithou, maar ek het die deur oop gelos. My pa het nie weer wakker geword nie. Toe hy die laaste keer teen die kussings na sy asem snak, die lug hortend uit sy longe pers, het ek ’n bevryding ervaar, het ek die jare ná Ma Bella se dood alleen saam met hom in die plaashuis voor my sien wegskuif. Soos ’n donker gordyn waaragter die verhoog in helder lig nog altyd versteek was.
Hy het nooit weer sy hand vir my gelig ná die dag waarop Lena verdwyn het nie. Hy het, om die waarheid te sê, nooit weer aan my geraak nie.
Maar Pa was woedend.