“Toe, hoe gaan dit met ons troureëlings?” Isadora se stem, dik en diep, ’n donker alt.
Minette kyk op, klap die tydskrif toe. “Goed. En met jou, Isadora?”
“Redelik, ek was mos siek.”
Genade, ja, haar stem was vir ’n paar dae stil, die gange van dierkunde rustiger. “Ek wou nog vra.”
“Soos jy kan sien, weer fighting fit. Ek hoor Pierre kom Sondag.”
“Ja.”
“En hoe voel jy?”
“Hoe moet ek voel?”
Isadora buk af en fluisterpraat, maar só hard dat die hele salon, Helmut Lotti inkluis, vir ’n oomblik asem ophou.
“Hy is meer jou portuur – ’n pragtige eksemplaar van die Hagen-spesie. Niemand sal jou verkwalik as jy die oue vir die jonge inruil nie.”
“Ek is verloof, Isadora,” antwoord Minette hard en duidelik genoeg vir almal om te hoor. “Ek het Paul lief en ek het belowe.”
“Ag, so getrou, is dit nie mooi nie!” roep Isadora uit en kyk om haar rond of almal gehoor het. Almal het, want hulle kwyl en kweel soetsappig saam.
Maar die volgende woorde is ongewoon sag vir Isadora en net vir Minette bedoel.
“Wag tot jy sy seun sien. Lekker dag.”
Met ’n geklingel van armbande en halssnoere stap Isadora by die salon uit.
3
Die aand gaan Paul en Minette nie uit nie. Hy wil vroeg gaan slaap sodat hy vars is as hy môre die snelweg lughawe toe moet aanpak. Die vliegtuig land negeuur, wat beteken dat hulle nie die vroeë kerkdiens sal kan bywoon nie en reeds halfsewe op pad moet wees. Minette het aangebied om te ry, maar Paul weier volstrek dat sy aan sy nuwe BMW se stuurwiel raak.
“Waarom so vroeg?” wil sy weet. “As die vliegtuig eers negeuur land?”
“ ’n Mens weet nooit hoe dit daar lyk nie en ons moet nog parkeerplek soek. Jy weet van die bouery by die lughawe, en enigiets kan op pad gebeur.”
Minette moet haarself keer om nie te sug nie. Sy is ’n perfeksionis, en Paul laat nooit ’n kans verbygaan om haar daarop te wys nie, maar hy is neuroties verby oor snelweë. En hy raak altyd senuweeagtig oor afsprake en stiptelikheid, gevolglik kom hulle gereeld eerste by partytjies aan en moet soms tot ’n uur lank vir mense op plekke sit en wag.
Wat Minette veral pla, is dat hul geselskap dan opraak en hulle soos houtpoppe vir mekaar sit en kyk. Veral as hulle iewers moet wag waar Paul nie eens haar hand wil vashou nie, omdat dit teen sy waardigheid indruis om in die openbaar vryerig te raak.
Vanaand sit hulle langs sy swembad in die agterplaas. Dis skemer en die tuinligte is reeds aan. Dit gooi ligstrepe oor die water en op die boomvarings aan die oorkant. Trosse rankrose hang oor breë blare van reusevarkblomme en ander monsterplante.
“Ek moet die Monstera deliciosa laat uithaal,” sug Paul en sit sy glas neer.
“Hoekom? Dit vertoon so mooi. En Laetitia het dit geplant.” Minette is juis besig om haar te verstom aan die plante wat hul eienaardige blomknoppe op hul tyd uitstoot.
“Isadora reken dit oorgroei die asaleas.” Hy klink ongelukkig, want hy hou nie daarvan om Laetitia se handewerk te vernietig nie.
“Isadora het weer baie te sê, van wanneer af?”
“Sy was vanoggend hier toe jy by die winkels was, ’n mandjie met koekies en beskuit vir Pierre gebring. Sy sê hy het dalk al vergeet hoe tuisgebak smaak, sy bring later nog vars brood ook en moskonfyt. Ek wou jou nog sê dat jy haar kan bedank.”
Minette moet haar tong vasbyt voor sy hom vertel dat Isadora by die haarkapper was en só naar met haar was dat sy regtig nie lus is vir haar koekies en konfyte nie, nog minder om haar te bedank.
“Ek sal ’n briefie skryf,” sê sy gedweë en voel oud en getroud.
Paul gee die bakkie met aartappelskyfies vir haar aan en stap na die gasbraaier om die vis om te draai. Die wingerdhoutvure wag vir Pierre. Hulle beplan om Meimaand dikwels te braai, want Pierre hou daarvan en Minette kan tog nie kos kook nie.
Minette kan. Haar tant Marga het haar goed geleer. Sy kry net nie kans nie, want Isadora maak dit haar missie om elke Maandag sewe bevrore etes vir een by Hagenhof af te laai.
Minette het Paul in die twee jaar wat hulle uitgaan skaars twee keer vir ete na haar meenthuis genooi, en hy het dit baie geniet. Maar Isadora se bevrore etes is al so ’n instelling dat sy wonder of die vroumens darem daarmee sal ophou as Paul die dag getroud is. Sy durf nie vra nie.
Paul staan by die braaier en hy lyk so alleen dat sy soontoe loop, haar arms van agter af om hom slaan en haar kop teen sy rug laat rus. Hy laat haar begaan, selfs toe sy haar hande onder sy oorhanghemp insteek. Maar toe sy oor sy bors begin vryf, wikkel hy sy skouers en staan eenkant toe.
“Wil jy hê ons moet op die braaier inmekaarval?”
“Nee,” sê sy afgehaal. “Ek wou jou net ’n bietjie vashou.”
“Daar’s ’n tyd vir alles, Mina,” sê hy streng en draai die rooster met die vis. Lig dit dan op en bekyk dit van nader.
“O, en gister toe ek met my vinke besig was?”
Hy sit die rooster neer. “Wat toe?”
“Toe het jy agter my kom staan en my skouers gemasseer.”
“Jy het nie vinke oor ’n oop vuur gebraai nie en ek het nie aan jou gehang nie. Dis gaar.”
Sy wil stry, maar dan is hulle môre nog kwaad vir mekaar en sy wil nie hê Pierre moet agterkom hulle maak rusie nie. Sy slaan haar oë neer. “Ek is lief vir jou. Ek wil hê jy moet dit weet.”
Hy draai die gasvlam af en maak sy hande skoon met die nat lap wat hy byderhand hou. Toe kom staan hy reg voor haar, trek haar aan die een hand onder die stoeplig in en kyk haar met soveel konsentrasie aan dat sy wil smelt.
“Wat het die haarkapper met jou hare aangevang?” vra hy net toe sy haar arms oplig om hulle om sy nek te gooi.
Sy laat sak haar arms. “Ek het gewonder wanneer jy dit gaan raaksien. Hou jy daarvan?”
Dis die positiewe benadering, het sy eenkeer in ’n tydskrifartikel gelees. As jy nie met jou man wil rusie maak nie, bly positief en aanvallig, nie negatief en aanvallend nie.
“Wat is dit?”
“Heuningstrepies. Tina het gesê ek lyk ’n bietjie moeg en dit sal my ophelder.”
“Vir wie?”
“Vir jou, wie anders?”
“Dis die eerste keer dat jy so iets doen.” Hy lyk wantrouig.
“Wel, professor, ek het nuus vir jou: ek was lankal my hare met ’n kleursjampoe.”
“Ek dag jou hare blink omdat die lig daarop skyn,” brom hy. “Ek hou nie van hierdie soort strepe nie.”
Minette se geduld raak dun geskaaf. Haar hare lyk goed. Sy hou daarvan en sy gaan nie dat Paul dit vir haar bederf nie. Sy sit haar arms om sy nek en kyk guitig in sy oë. Altans, sy probeer, want hy frons só erg dat sy swaar oogbanke skaduwees maak wat sy oë in twee onleesbare swart splete verander.
“Ons vroue het ons geheimpies,” pruil sy en probeer geheimsinnig klink.
“Hm, dis wat my bekommer.”
“Haarkleursel?”