Troukoors
Helena Hugo
Satyn
1
Dis Vrydagmiddag laat en Minette Faber sit nog voor haar rekenaar, besig om haar jongste artikel na te sien. Sy het dit by Global Ecology voorgelê en dis vir publikasie goedgekeur, maar die redakteur van die tydskrif het ’n kontrolelys by sy gelukwensing aangeheg met voorskrifte wat haar soos ’n beginner laat voel.
Sy trek by nommer agt onder die opskrif Figures and tables. Daarvolgens moet sy seker maak dat die materiaal wat sy aangestuur het van hoogstaande gehalte is. Haar moed sak; sy is bekommerd oor een van haar vinkfoto’s.
Sy rol af na die paragraaf getiteld High quality figures. Dan stoot sy haar bril reg en lees met soveel konsentrasie dat sy nie die sagte kloppie aan haar kantoordeur hoor nie. Sy trek by Further instructions on the preparation of figures toe die deur agter haar versigtig oopgestoot word en sy bewus word van mense wat in die gang lag en gesels.
Sy frons en konsentreer harder. Sy hou nie van onderbrekings nie. If not already provided, we will now require … lees sy en skrik haar amper uit haar vel toe ’n hand op haar skouer land.
Dis Paul. Sy hoef nie om te kyk nie. Sy voel sy warmte aan, ken sy unieke aanwesigheid, die geur van die Hugo Boss wat sy vir hom koop en wat hy deesdae so kwistig gebruik. Paul kan haar konsentrasie kom verbreek wanneer hy wil. Want hy is die man met wie sy oor presies ses weke en een dag in die huwelik bevestig gaan word.
“Ons trou die einde van Mei,” sou sy sê as mense vra, maar dan sou hy met sy rustige, diep stem besadig verklaar: “Ons word die einde van Mei in die huwelik bevestig en dit is ’n uitgemaakte saak.”
Die stilte wat daarna op die geselskap neerdaal, het haar telkens weer laat besef dat hul huweliksbevestiging ’n ernstige saak is wat met respek benader moet word – al is dit die afgelope maande die onderwerp van skinderstories en grappies. Paul dwing nog respek af, en niemand sal dit waag om in sy gesig te sê wat Minette al om draaie en agter mure en boekrakke moes aanhoor nie. Soms reguit in haar gesig. Die laaste tyd het dit begin afneem, maar daar is ’n oplewing in die geledere van goedbedoelendes wat taktvol beduie dat die huwelik wat hulle twee beplan ongewoon is en dat hulle miskien weer ’n bietjie moet nadink, of hoe?
“Ons het wel dééglik, dánkie,” antwoord Paul hulle telkens kort en kragtig en slaan dan sy arm besitlik om Minette. Styf teen hom voel sy so veilig en beskut soos vyftien jaar gelede toe sy ’n dogtertjie was en haar pa haar ook so teen sy blad onder sy jas vasgedruk het. Tot daardie laaste winter toe hy die ongeluk by die treinoorgang gemaak het.
Daaraan wil sy nie nou dink nie. Paul is hier.
Sy hande is koel, maar dit stuur ’n reeks elektriese skokkies deur haar wat soos vlammetjies om haar hals dans en haar temperatuur met minstens vyf grade laat opskiet. Hy het die vermoë om haar van kop tot tone te prikkel – haar mentor en minnaar, haar beskermheer en haar ridder.
“Pla ek?”
Sy vingers volg die skuinste van haar nek tot agter haar ore. Saggies masseer hy haar gespanne nekspiere.
“Jy mag maar. Dis lekker.”
“Ontspan, ontspan.” Hy druk-druk aan haar stywe nek.
Sy maak haar oë toe, haal diep asem, geniet dit ’n minuut lank voor sy haar kop draai en opkyk. Sy donker oë glinster onder die swart wenkbroue. Hy glimlag vir haar soos hy altyd glimlag, asof hy wil lag kry oor iets wat net hy weet.
“En toe? Hoe gaan dit met my werkeseltjie?”
“Goed vandat jy hier ingekom het. Met jou?”
“Uitstekend.”
“Hoe was jou vergadering?”
“Middag, professor! Middag, juffrou Faber!” Twee studente wat in die gang verbykom en oorywerig groet.
“Ja, middag.” Paul klink knorrig terwyl hy loop om die deur toe te druk. “G’n privaatheid in hierdie plek nie.”
Minette hoor die sleutel in die slot draai. Sy voel die hitte in haar nek opslaan. As Paul so maak, raak sy duiselig en koorsig. Maar die laaste tyd word sy maklik warm. Sy weet wat dit veroorsaak.
Dis die troukoors!
Paul sê hy kry dit ook. So ’n louwarm gevoel van opwinding – nie onaangenaam nie.
Die wetenskaplike naam daarvoor? Impaziente matrimonio? Paul het laas belowe om by sy kollegas in klassieke tale te gaan kers opsteek. Die departement dierkunde kan navorsing doen oor die verskynsel en hul bevindinge met medies en sielkunde deel. Die feit dat dit bestaan, kan niemand misken nie.
Minette wikkel haar skouers, vestig kastig haar aandag op die rekenaarskerm en lees: In pdf or eps format …
Paul is agter haar. Sy hoor hom asemhaal, voel hoe hy oor haar skouer na die skerm kyk.
“Waar was ons?”
Sy vingers kruip teen haar nek op, masseer haar kopvel. Amper verloor sy haar plek op die skerm: Please complete the colour …
Pienk, dis haar troukleur, pienk en wit proteas.
Wit koningproteas, pienk suikerkanne. Bergrosies en skaamrosies.
Donkerpienk en ligpienk, lig-ligpienk, amper wit.
Haar trourok spierwit, met pienk pêrels om haar nek en aan haar ore, ’n tiara op haar kop van die kleinste klein bergrosies, haar sluier wit en lig soos spookasem.
Paul buk oor en soen haar op haar kroontjie. Sy bloos, knyp haar oë toe en geniet die hitte wat nogeens in haar lyf afspoel.
“Wat maak jy?”
Sy vingers rus ’n paar oomblikke in die holtes bokant haar sleutelbene, glip af oor haar eerste paar ribbes, die sagte vlees waar haar borste begin.
Sy raak skielik intens bewus daarvan dat sy asemhaal. “E-pos van Edinburg,” fluister sy en haar skouers gaan op en af.
Die skerm voor haar is ’n dowwe ligkol. Sy asem is swaar, dit stoot deur sy lippe. En sy? Sy spin soos ’n klein wit katjie, konsentreer op die op en af van haar skouers, die ligte drukking van sy vingers. Wag dat hulle laer af beweeg.
Hy is so ordentlik, hy trek terug en vryf haar nek met sy duime. “Jy is mos aanvaar? Wat wil hulle nog hê?”
“Perfeksie.”
Sy hou asem op. Moet sy sy hande vat en hulle aftrek tot daar waar sy hulle wil hê? Liewer nie.
Sy hande skulp om haar skouers en boarms. “Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Nie vir jou nie, Mina.”
Mina is sy liefnaampie vir haar en sy hou daarvan. Hy sê dit elke keer met soveel eerbied dat sy voel soos ’n nuutontdekte mirakel, Mina cosmosoma myrodora – ’n eksotiese motjie met dieppersrooi vlerkies, ’n vondeling wat in die binnekant van sy hande tot rus gekom het.
Dís waar sy hoort: by hom op hierdie groen planeet wat hulle so goed ken. Hulle proe saam aan al die Latynse name, liefkoos mekaar daarmee, bestee dae en nagte in die wonderwêreld van diere, voëls en insekte. Huil saam oor spesies wat onvermydelik aan die uitsterf is, oor indringers wat opvreet en uitskuif, lag oor die blydskap van nuwelinge wat rare, soms onverwagte verskynings maak.
“Pierre het gebel,” sê hy.
Ag nee! Weg is die toorkrag van die heilige oomblik.
“Enigiets kan verkeerd loop as jy e-pos,” ignoreer sy sy aankondiging en wys na die artikel op die skerm.
“Hy’t nie e-pos gestuur nie, hy’t gebel, uit Londen.”
Paul praat asof Pierre ’n Baie Belangrike Persoon is. Sy haat dit dat hy Paul met soveel verwagting kan vul.
Vies roer sy haar skouers om ontslae te raak van die gewig van sy hande. Ek praat nie van Pierre nie, wil sy skree, ek praat van my artikel!
“Hulle wil aanlyn ook publiseer,” sê sy, “en ek