Anzil Kulsen
Lux Verbi
Dianè
Sy staal haarself toe sy linkerhand uitskiet en sy vingers om haar arm krul; hy is buite homself van woede.
“Jy maak my seer,” kners sy tussen haar tande deur. Dit was ’n goeie aand tot nou, voordat hy hom vir haar vererg het.
“Robert, jy maak my seer …”
Deur haar gedagtes flits ’n duisend en een redes hoekom sy haarself nie die één keer kon bederf het met die oorbelle wat sy so lank al begeer nie. Oorbelle waaroor sy eers by hom gekoer het. Net ietsie kleins, maar duur genoeg om haar te laat voel sy verdien iets spesiaals.
“Wat probeer jy doen, vroumens?” sis hy deur sy tande.
Sy maak haar mond oop om haar optrede te regverdig. Dis nie geld wat sy op die huishouding moes spandeer nie. Dit was ’n lekker vet ekstra wat sy verdien het met die stilering van die bruid en haar gevolg se hare vanoggend. Boonop het die juwelier langs haar salon die oorbelle afgemerk. Dis uniek, want hy’t dit self ontwerp en gemaak. Sy moes dit net hê.
“Ek het nie geweet jy wil dit nog vir my koop nie, ek het die geld …”
“Dan ruik jy nog na drank ook!” Met sy regterhand kry hy haar aan die keel beet terwyl sy elmboog met geweld teen haar diafragma stamp. As die muur nie agter haar was nie, was sy sweerlik nou op die grond.
“Ek het … ek …” Sy het een glas wyn gehad terwyl sy slaai gemaak het. Sy was in ’n vrolike bui. Die salon het die laaste week besonder goed gedoen. Maar toe hy die oorbelle sien, vind hy sommer fout met die slaai en met haar … en alles foeter in ’n oogwink uitmekaar.
“Die kinders …” prewel sy. Hy was nog nooit só buite homself nie. Sy kon dit aan sy houding sien die oomblik toe hy by die deur ingestorm het. Moeilike dag op kantoor, het sy gedink. Hy moes hom wéér op ’n Saterdag in sy kantoor afsloof, alles sodat een van die grootste bankgroepe in die land nog meer welvarend kan word.
Sy sien hoe woede in sy oë blits, sy sien die uiterste selfbeheersing wat hy probeer toepas, hoe sy kake op mekaar klem en die aartjies langs sy slaap klop. Sy gaan flou word.
“Robert …”
“Pappa …” Om haar begin die wêreld duisel. Sy het hom gewaarsku die seuntjies speel in die leefvertrek. Die woonstel is te klein hiervoor.
“Johan …” Robert verslap sy greep om haar nek. Sy voel hoe haar bene onder haar ingee.
“Pappaaaaa!” Dianè kan op hierdie oomblik sweer Johan se gil word kilometers ver gehoor. Sy sak op die vloer neer. Doodmoeg. So, so moeg. Wat is besig om tussen haar en haar man te gebeur?
Die knop op haar maag span stywer, raak groter. Sy voel hoe die geklop in haar slape haar wil oorweldig, dis net die geprewel van haar gebed waaraan sy nou kan vasklou. Oor ’n maand is dit hulle huweliksherdenking, sy en Robert wat die wêreld saam sou verower. Haar held, haar mooi man. Dieselfde man wat haar voete onder haar uitgeslaan het, het in hierdie onvoorspelbare wese verander wat nou langs haar inkruip.
Waarheen het hy verdwyn nadat Johan hulle tydens die insident betrap het? En hoekom is hy so vinnig terug? Sy wens sy was nou al salig in droomland. As hulle soos ander normale paartjies ná ’n groot rusie elkeen in ’n aparte kamer kon slaap, was sy nie nou so ’n stresbol nie. Maar die woonstel het nie ’n ekstra kamer nie, en die outydse imbuiabanke van Robert se ma wat in hulle sitkamer staan, is uiters ongemaklik. Hy sal ook nie by die seuns gaan slaap nie; Johan sal vrae vra.
Sy hoor hom langs haar woel. Hy maak hard keel skoon, draai ’n paar keer om voordat hy homself op sy rug tuismaak. Wat sal hy doen as hy agterkom sy is wakker? Sal hy hom verontskuldig oor sy optrede vroeër vanaand? Dis altyd haar skuld, sy doen altyd alles verkeerd. Hy het vroeër groot geskrik toe Johan gesien het wat hy aanvang; die woede op sy gesig het binne sekondes plek gemaak vir iets soos angs. Hy was wasbleek toe hy ’n verskoning in Johan se rigting gemompel en hom na buite gehaas het.
“Mamma!” hoor sy Johan uit die kamer langsaan roep. “Mamma, ek is dors, my keel jeuk.” Sy hou haar asemhaling reëlmatig.
Langs haar hoor sy Robert vinnig regop kom. Hy’s ’n goeie pa, al kla hy soms oor Johan se veeleisendheid.
“Mamma!” Sy kners op haar tande. Met die deurmekaarspul wat in die McClean-huishouding afgespeel het, het sy nie vroeër vanaand vir Johan ’n kopmassering gegee nie. As sy dit doen en by hul skedule hou, slaap hy minstens vir ses ure. As sy dit nie doen nie, wag ’n lang nag vol onderbrekings op hulle. Sy sug dankbaar toe sy hoor hoe Robert rustig met hul oudste seun praat. Hartseer brand in haar keel.
“Pappa is moeg, Johan, heeltemal oorwerk,” hoor sy enkele van Robert se woorde. Robert gebruik soms ’n haarborsel waarmee hy oor en oor deur Johan se krulkop kam om hom te help ontspan en insluimer. “Vanaand moes nooit gebeur het nie, dis nie hoe ’n man met vroue werk nie …” Sy stem is gedemp. Sy weet dis nie vir haar ore bedoel nie; dit gebeur selde dat hy aanspreeklikheid aanvaar vir sy woedebuie.
Vanaand se chaos en Johan se toegetrekte keel is haar skuld, het hy beweer, al weet hy sy kan nie altyd beheer hê oor Johan se allergieë nie. Gelukkig het die kind gou genoeg die sesamsade op sy broodrolletjie ontdek, anders het die aand veel slegter afgeloop.
“Slaap nou, grootman, slaap nou …” hoor sy Robert hul seun paai. Johan se “andersheid” is besig om sy tol te eis. Robert het nog nooit die kinders seergemaak nie, en hy probeer hard om sy woede voor hulle in toom te hou. Dis net sy wat dit moet ontgeld, asof sy nie ook al raadop is met hulle situasie nie.
Sy het slaap so bitter nodig. Net een salige nag van deurslaap, bid sy wanhopig toe Robert terugkom bed toe. Oor en oor laat sy die aand afspeel in haar kop. Wat was die sneller? Wat het hom so laat ontplof? Die briefie van Johan se skool oor sy gedrag? Johan se allergiese reaksie? Of die slaai? Kon dit regtig die slaai wees wat hom so omgekrap het? Liewe Here, net U alleen sal weet. Ek kan nie meer nie.
Toe Robert terug is, begin hy byna dadelik snork. Uit die kinders se kamer kom daar nie weer ’n gekla van Johan nie. Sy bid weer dat die kind vanaand rustig verder slaap. Net hierdie een keer in sy byna ses jaar.
Dit gaan ’n lang nag wees, dink sy toe sy begin skape tel en op haar asemhaling konsentreer. Maak nie saak hoeveel Robert se gesnork haar pla nie, sy durf hom nie saggies wakker stamp en vra dat hy op sy sy draai sodat sy kan slaap nie. Hy koel gewoonlik vinnig af na ’n woedebui, maar hy bly bitter kort van draad.
Hoeveel keer het sy al vir die Here dankie gesê dat Robert nie drink nie? Die feit dat sy graag ’n bier of ’n glas wyn drink, is iets waaroor hy haar al dikwels in die verlede veroordeel het. Soveel so dat sy gedink het hy sou minder suur gewees het en dalk selfs vroliker as hy nou en dan ’n bier drink. Sy ril by die gedagte aan watse soort drinker hy sou wees, humeurig en bakleierig. Nee wat, dankie.
Vir baie lank het haar gebede net bestaan uit danksegging vir hierdie man van haar. Toe hy destyds van haar siekte uitgevind het, het hy ook eers sy humeur verloor. Hy was kwaad vir haar, kwaad vir haar ma en kwaad vir haar destydse kêrel wat haar laat glo het sy is nie maer genoeg nie. Daarna het hy haar op die hande gedra, want hy wou nie weer ’n vrou verloor vir wie hy lief is nie, het hy vertel. Die eerste vrou was sy ma. Dianè het nogal spesiaal gevoel omdat hy so kort na sy ma se afsterwe vir haar gesê het hy is lief vir haar.
Vanaand weet sy nie meer hoe om te bid nie, want kort na Johan se geboorte het alles verander. Robert en sy plofbare humeur het vir haar onvoorspelbaar geword.
Here, wat gaan met Robert aan? Verdien ek regtig om heeltyd op eiers te loop net omdat hy my met al my skete aanvaar en liefgekry het? Ek kry die gevoel dat hy meer van my gehou het toe ek nog so verpletter was, met stukkende kneukels en nie wou glimlag nie.
Die slaai en salm wat sy vroeër die aand so keurig voorberei het, stoot