Maggie: My lewe in die kamp. Maggie Jooste. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Maggie Jooste
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624090267
Скачать книгу
koop nie. Baie mense glo dit nie en wil weet waarvan ons dan geleef het. Ja, waarvan hét ons geleef?

      Die nag voordat ons burgers die dorp verlaat het, het Ma en tannie Nonnie Human die hele nag in ons groot buite-oond brood en beskuit gebak en vleis en kos gaargemaak om vir hul dierbares te gee. Gevolglik was byna alles opgebruik. Baie vroue was nes ons, dorpsmense en het nie soos plaasvroue nog ’n sak meel of mieliemeel, of goed soos pampoene, hoen­ders, eiers en melk in die huis gehad nie.

      Ek besef nou eers wat ’n vreeslike ontnugtering dit vir my ma moes gewees het om te hoor sy mag nie uit haar huis gaan nie, selfs nie eens winkel toe om kos te koop nie. En te hoor dat ons kinders ook nie mag gaan nie – en dat alle kos­voorraad in die winkels in elk geval deur die Engelse gekonfiskeer is.

      Waar hulle hoenders en diere soos koeie en varke by huise gesien het, het hulle dit gevat. Ons het ’n mooi hanslammetjie gehad wat hulle met ’n bajonet doodgesteek het.

      Ons het baie Engelssprekende vriende gehad wat graag sou wou help maar hulle het dit nie durf waag nie. Ek is seker die liewe Hemelse Vader het vir ons arme ma ge­sorg. Ons tuin het aan ’n klein spruitjie gegrens waar daar ’n digte populierbos was. Daar het Ma ons koei vasgemaak, so ons het darem melk gehad – maar ek kan nie onthou vir hoe lank nie. Sy is seker later weggeneem. ’n Paar henne het ook in die bos geboer en ons het seker af en toe ’n eier gehad.

      Ek kan onthou dat James en Robbie met seuntjies gespeel het wat in die straat toegelaat is. Hulle het ’n bal heen en weer oor ons muur geskop. Soms het die Kakie-wag ook saamgespeel. Toe kry Ma die plan kry om ’n briefie met geld by ons waterpomp te sit. Die seuntjies in die straat skop dan die bal tot by die pomp en kom drink water. Een vat dan die briefie met geld en kom die volgende dag terug met iets in die boeksak op sy rug en sit ’n pakkie daar neer. Dit was eintlik baie selde maar tog het dit Ma baie gehelp. Dit was winter en alles was kaal en droog in die Transvaal, so daar was ongelukkig niks in ons tuin nie.

      Ek onthou eendag wat ons vreeslik honger was. Ma het bo van die spens se rak ’n bakkie droë semels en ’n klompie ou, uitgedroogde vetkaiings afgehaal. Daarmee het sy vir ons ’n eetmaal gemaak.

      Intussen was daar gedurig kennisgewings wat die vroue gedreig het om hul mans te oorreed om hul wapens neer te lê. Uiteindelik was daar ’n lang dreigement waarin die vroue aangesê is om ’n sekere dokument te teken waarin hulle kla oor hoe swaar hulle kry en hul mans smeek om huis toe te kom. As hulle dit nie teken nie, gaan al die vroue as gevangenes weggestuur word, is gedreig. Sover ek weet het geen enkele vrou dit geteken nie.

      Intussen het die Kakies in die huise gekom en feitlik al die meubels opgelaai. Hulle het bitter min vir die vroue en kinders agtergelaat. Hulle het ook gedurig na wapens en geld kom soek. Die meubels is op die markplein afgelaai, daar waar Heidelberg se groot stadsaal vandag staan. Daar kon swart mense en die verraaiers – of, soos ons hulle genoem het, die handsuppers10 – kom vat wat hulle wou hê. Dit wat oorgebly het, is aan die brand gesteek.

      Ons huis was besonder goed gemeubileer en later het ons eers verneem dat een of ander Engelse offisier dit uitgehou het om self daar te kom woon. Daardeur is Ma daardie smart gespaar want hulle het toe niks van ons geneem nie. Op die ou einde het dit ons niks gebaat nie, want toe ons ná twee jaar huis toe gekom het, was daar nie ’n strooitjie in die huis nie. Die mense wat intussen daar gewoon het, het alles gruwelik verniel, tot die deure en vensters, en dit was vreeslik vuil.

      Die dorpsbewoners wat die eed van getrouheid aan die Engelse geteken het, is toegelaat om met rantsoenkaarte kos te koop. Ook ’n paar weduwees wie se mans gesneuwel het. So kon Elsie Human, weduwee van John Spruyt, kos koop en sy het nou en dan vir Ma ’n blikkie kondensmelk gekry. Elke druppel daarvan is vir klein Gerrie gehou.

      Ma het gelukkig heelwat kontant gehad – destyds goue ponde – en sy moes dit gedurig op een of ander plek wegsteek. So onthou ek goed hoe ek haar ’n paar keer gehelp het om snags in die pikdonker êrens ’n gat te maak waar ons die bondeltjies kon wegsteek – in die ou hoenderhok of in die hoek van ’n buitekamer. Net ek het daarvan geweet. Later het Ma ’n gordel van linne gemaak wat styf om my middel kon vaskom en het ’n deel van die geld daarin gesit. As sy weggeneem sou word, moes ek daarmee vir die klein­tjies sorg.

      Nie ver van ons nie het ’n mnr Ahrbeck gewoon. Sy vrou was lankal dood en hy en sy vyf dogters was baie Brits-­gesind. Van die dogters het dikwels tot by ons tuinhek geloop en ge­vra om ons baba te sien. So het dit gekom dat ek die kinderwaentjie tot by die hek stoot en hulle dit dan ’n entjie op en af in die straat stoot. Die Kakie-wagte het ook al begin laks word en het hulle nie juis aan die waentjie gesteur nie.

      Ma het toe ’n plan bedink om allerhande van ons kleinig­hede in die waentjie te pak met die baba bo-op. Later het sy die baba selfs nie eens meer in die waentjie gesit nie, net die songordyntjies goed toegetrek. Die dogters het dit tot by hul huis gestoot waar hulle die goed dan oral opgehang of uitgestal het asof dit hulle s’n is. Meer as twee jaar later het hulle dit toe alles weer aan Ma terugbesorg. Ons het dit baie waar­deer want die paar goedjies is al wat ons van ’n hele huis vol huisraad teruggekry het.

      Onder die goed was portrette wat vandag nog in ’n goeie toestand is en in Cornelis se huis hang. Daar was twee vergrote portrette van Pa en Ma (ingekleur), asook die portrette van 1896 se Sondagskool-konferensie en groot piekniek in die kloof en ander gesinsportrette. Ek dink ook dokumente van my pa. Ek weet by wie ons mooi porselein en ander ornamente en blompotte beland het, maar dit het ons nooit teruggekry nie, dus noem ek nie hul name nie.

      Toe Elsie se man, John, gesneuwel het, is sy toegelaat om na sy begrafnis te gaan. Hy was ’n broer van genl Cornelius Spruyt. Sy is toegelaat om ’n man vir beskerming saam te neem en my twaalfjarige broer, James, het saamgegaan. Hulle moes ook ’n petisie van die vroue saamneem waarin gevra is dat die burgers hul wapens moet kom neerlê, maar nie een het dit gedoen nie.

      Elke keer met die aankoms van nuwe gevangenes kon ons weer iets van die buitewêreld hoor. Baie mense het dan gehoor hoe dit met hul dierbares gaan wat agtergebly het. Ma het nou en dan ’n brief van Gert op St Helena ontvang, maar geen woord van Pa of Cornelis gehoor nie.

      Ná die oorlog het ons gehoor dat ons Heidelberg-kommando in dieselfde tydperk ’n trein laat ontspoor het. Hulle het onder meer ook die possakke gebuit en daarin was verskeie briewe en ook ’n portret van vriendinne en bekendes. So het hulle begin verneem waar hulle familie was.

      Hoofstuk 2

      Ons word weggevoer in veetrokke

      Die gesinne van die vegtende burgers het ná ses maande baie swaar gekry en die meeste se huisraad en geriewe is alles weggeneem. Niemand is toegelaat om iets te verdien nie. Hulle kon nie by hul vriende uitkom nie en het nie geweet hoe dit met die mans op kommando gaan nie. Nie my ma of een van die ander vroue het ooit vir die Engelse kos, klere of medisyne gevra nie. Hulle het baie gely maar wou nie afhanklik wees nie. Maar toe die Engelse ’n verskoning wou hê om die vroue gevange te neem, het hulle voorgegee dat ons “refugees” is en dat hulle op dié manier beter vir ons kon sorg. Ons het altyd baie duidelik ons adres aangegee as Vroue-krygsgevangenes11.

      Ons beurt om weggevoer te word het op 5 Desember 1900 aangebreek toe twee Engelse offisiere by ons huis instap en vir Ma sê dat sy met haar ses kinders die volgende oggend op die spoorwegstasie moet wees om weggestuur te word. Waarheen en vir hoe lank? Ons het nie geweet nie! Alles moet net so in die huis gelaat word en ons mag net ons klere en ’n klein mandjie met kos neem. Wat ’n vreeslike gedagte was dit nie om alles wat ons besit net so vir die vyand agter te laat! Die onsekerheid oor wat voorgelê het was ondraaglik. Die arme hulpelose vroue, bejaarde en siek mense en kinders kon nooit droom watter smart en ellende op hulle wag nie.

      Ma wou weet wat van Gert se goed gaan word aangesien hy deur hulle as krygsgevangene gehou word. Hulle het haar verseker dat al Gert se goed bewaar sou word. Dus het ons die laaste nag nog van die beste meubels en beddegoed in een kamer bymekaargesit vir hom!

      Wat ’n verkwisting van ons laaste kosbare ure daar. Ma het ons bietjie kontant verdeel en om haar lyf en om