Maggie: My lewe in die kamp. Maggie Jooste. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Maggie Jooste
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624090267
Скачать книгу
die paleis afgespeel met die prins en prinses se troue en kroning. James was ’n hofknapie en het my goue kroon op ’n silwer kussing ingedra. Die volk sing toe:

      “Heil koningspaar tans in den egt getreden, geluk verzelle uw schreden, nog menig volgend jaar.”

      Mej Van Niekerk het later van my sleep se materiaal vir haar ’n bloese gemaak.

      Vir dieselfde konsert het ek ’n lang resitasie geleer. Dit was “Elisa’s Vlucht” uit die kinderboek De negerhut van Oom Tom.2 Terwyl ek geresiteer het, is die geskiedenis van die slawe in tablo’s vertoon.

      *

      Ons was ’n baie gelukkige gesin in ons groot, mooi huis. Ma het destyds ’n wit meisie in die huis gehad om haar te help. Ek kan veral die sitkamermeubels en die groot, sagte mat onthou. Die lang, roomkleurige kantgordyne voor die hoë vensters het tot op die vloer gehang en was aan die kante opgetrek met ’n gordel met lang tossels. Op die serfyn, ’n soort orrel, het mooi porseleinornamente gestaan, ook op ’n ronde tafel. Die ornamente was met egte goud versier.

      Pa het ’n groot wamakersbesigheid gehad. Dit was die tyd­perk van koetse, landauers3, spiders4, karre en plaas­gereed­skap wat alles herstel moes word. Al die wiele moes van yster­bande voorsien word en die talle perde se pote moes beslaan word. Pa het dus ’n goeie inkomste gehad en hy kon ruim voorsien in alles wat ons groot huisgesin nodig gehad het.

      Ma het ’n lieflike, sagte geaardheid gehad. Sy het veral baie vir haar kerk gedoen en was vir ons kinders ’n onver­geetlike voorbeeld van Godsvrug, deug en opofferende liefde. Sy het 12 kinders gehad maar het steeds al die vroue­vereniginge se bidure gelei. Sy was baie gesond en het ywerig met basaars gehelp, bidure gelei en Sondagskool gehou. Later het ek gehoor dat sy 21 jaar lank ’n Sondagskool-onderwyseres was.

      Sy was besonder knap met naaldwerk en het al ons klere self gemaak, selfs die mans se pakke. Ons drie dogters wat in die huis grootgeword het, het by haar leer kook, bak en huis­werk doen, ook om ons eie naaldwerk te doen. Vandag nog, op 76-jarige leeftyd, doen ek steeds baie naaldwerk. Nou is ek al een van die sewe dogters wat nog leef. Van die vyf broers leef nog net Cornelis, James, en Eddie met die skrywe hiervan.

      So het ons in geluk en vrede geleef tot daardie onvergeetlike September van 1899.

      DEEL 2

      23 Junie 1900

      Ons nagmerrie begin

      Hoofstuk 1

      Die oorlog op ons voorstoep

      Hierdie is nie ’n geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog nie. Daar is al so baie daaroor geskryf en ek was destyds te jonk om die erns van alles te besef. Ná 62 jaar kan ek ook nie alles so agtermekaar vertel nie – dus skryf ek maar soos ek onthou.

      Met die uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899 is alle burgers seker opgekommandeer. Heidelberg was aan die spoorlyn na Natal, so ons kommando het daarheen vertrek om die vyand te keer. Almal het gedink dat die oorlog baie gou verby sou wees en niemand kon droom dat dit tot Mei 1902 sou duur nie.

      Ek kan net vaagweg onthou dat van die Boere af en toe huis toe gekom het. Cornelis het toe in Pretoria by president Kruger as telegrafis gewerk. Gert was nog minderjarig maar het ook op kommando gegaan. Hy het op 6 Februarie 1900 vrywillig aangesluit.

      Hy en baie van Heidelberg se jong kêrels was onder genl Piet Cronjé se bevel. Toe Cronjé enkele weke later op 27 Februarie 1900 aan die Engelse oorgee, het ons nie geweet of Gert saam met die sowat 4 0005 vegtende Boere gevange geneem is nie. Dit was vir ons arme ma ’n vreeslike tyd – Pa was elke uur in gevaar, Cornelis besig met groot verantwoordelike oor­logswerk en Gert, haar troetelkind, gevange geneem. Sy kon nie vasstel of hy gewond is en dalk al dood is nie, want geen nuus het deurgekom nie. En boonop het sy in dié tyd haar elfde kind verwag. Die baba, ’n dogtertjie, is op 6 Maart gebore. Pa het verlof gekry om huis toe te kom en was by toe sy Gertina Hendrieka gedoop is. Hulle het haar na Gert genoem omdat ons toe nog nie geweet het of hy lewend uit die geveg gekom het nie. Later het daar ’n telegram op Heidelberg aan­gekom: “We are prisoners of war.” Daarby was ’n lys name met onder andere dié van Gert Jooste. So het ons gehoor dat hy nog lewe.

      Hulle is later na die eiland St Helena6 gestuur en daar aan­gehou. Hy was nou wel ver weg, maar vir die res van die oorlogjare het dit met hom beter gegaan as met ons en ons ouers. Op St Helena het hulle in tente gebly en was ten minste beskut, gekleed en gevoed (hoe skraal ook al) en kon boonop onderwys ontvang.

      Gert het eers op 14 September 1902, maande ná die vredesluiting in Mei 1902, in Durban geland en na die Howick-kamp gekom waar ons aangehou is. Wat ’n vreugde was dit om almal weer bymekaar te wees. Net Pa was toe nog op die eiland Bermuda7 waarheen hy as krygsgevangene gestuur is. Ons is nie toegelaat om na Heidelberg terug te keer voordat Pa nie ook wou glo dat ons die stryd verloor het nie.8 Hy het op 1 Oktober op Heidelberg aangekom en ons kon eers op 26 Oktober van Howick na Heidelberg terugkeer.

      *

      Die vyand het al dieper in die Oranje-Vrystaat en ook van Natal se kant ingedring. Toe breek daardie vreeslike dag van 23 Junie 1900 vir ons aan.

      Ons was die vorige nege maande alleen in ons huis en het geen inkomste gehad nie. Daar was ook niemand wat Ma kon bystaan nie. Sy was alleen met ons ses – ek, wat toe 14 jaar was, James, Robert, Dolly, Hettie en Gerrie. Ons was sonder skool en sonder ’n bediende en moes elkeen maar ons bes doen om Ma te help.

      Hewige gevegte het intussen in Natal en die Vrystaat gewoed. Ons het gedurig tyding gekry van ons dorp se burgers wat gewond is of gesneuwel het.

      Cornelis was nog saam met president Kruger as sy tele­grafis tot net voordat die vyand na Heidelberg deurgebreek het. Toe Pretoria ingeneem is, is hy saam met die president tot op Machadodorp [in die hedendaagse Mpumalanga]. Voordat president Kruger die land verlaat het, is ’n groot som geld aan Cornelis – en miskien ook ander offisiere – gegee wat hy aan ons vegtende offisiere moes gaan uitbetaal.

      As telegrafis moes Cornelis tydens die oorlog ’n heliograaf9 beman. Soos ’n spioen moes hy alleen oral ’n hoogte soek van waar hy die vyand kon dophou. Dan moes hy aan die kommando’s sein waarheen hulle moet beweeg. In daardie jare van swaarkry in die veld kon ons net in gedagte saam met hulle wees want ons het nooit ’n woord van mekaar gehoor nie.

      Op 23 Junie 1900 het ons die kanonne naby die dorp gehoor. Toe sien ons hoe die Kakies soos ’n vaal stroom in die straat voor ons huis verbyloop na landdros FDJ Wepener se huis. Hy het hom by ’n groot aantal burgers geskaar wat verkies het om eerder hul land te verraai en hul wapens aan die vyand af te gee.

      Daardie dag het die vroue en kinders wat agtergebly het se onbeskryflike smart en angs van langer as twee jaar begin. Dit het gevoel of die mans en groot seuns na wie hulle moes gaan vir hulp en beskerming, vir altyd weg was. Daar was vreeslike gerugte van vroue en meisies wat aangerand is en van wreedheid teenoor hulle. Ons het dit eers later, nadat ons self weggevoer is en van honderde ma’s en dogters se onder­vindinge gehoor het, verstaan en geglo.

      Ek was onbewus van wat aangaan omdat die ouer mense destyds nie voor ’n kind van my ouderdom oor so iets gepraat het nie. Ek kon ook nie verstaan nie waarom ek altyd ’n kappie moes dra wat my gesiggie heeltemal toemaak. Ook nie hoekom ek al daardie maande nooit op ons voorstoep mag gekom het nie.

      Ek onthou so baie, maar oor wat die daaropvolgende ses maande tot Desember 1900 met ons gebeur het, kan ek nie alles in besonderhede vertel nie. Van die eerste dag van Heidelberg se besetting het die vroue wie se mans op kommando was, kennis gekry dat hulle en hul kinders nie uit hul erwe mag kom nie.

      Daar was dag en nag ’n gewapende wag voor ons deur. Ons mag ook nie ná donker kerse opgesteek het nie. Sodra daar ’n liggie brand, is daar op die huis geskiet. So het hulle een nag byna my ouma, Pa se ma, raak geskiet.

      My arme ma