Katryn. Jan Huisamen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan Huisamen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158930
Скачать книгу
van blydskap en geluk. Maar Here, jy kan mos nie stry dat ons Jonisse ook ons kant gebring het nie. Elke Nagmaal was ons in die kerk op Kuboes. Gaan vra maar vir eerwaarde Schmidt of Katryn ooit ’n Nagmaal gemis het. En Here, jy sal onthou ons het nie leëhand Kuboes toe gegaan nie. Van ons vetste lammers en kapaters het ons saam aangeja vir die kerk. Maar ons loop nog so die regte pad, die Godvresende pad, toe begin jy ons te treiter. Jy gaan haal eintlik daai gespuis Klinke Kortdoorn toe en jy kom sit hulle teenaan ons neer. So gee jy vir Abraham Klink die kans waarvoor hy vir twaalf jaar gewag het: om vir Katryn Jonis, nageslag van Willem Goosen, soos die duiwel te vervolg. Ek vra weer, Here, soos ek al so baie gevra het: Wat het ons gemaak om sulke haat te verdien? Jy weet my pa was ’n goeie mens, Here, en ek perbeer mos ook. Waar was jy toe alles net slegter en slegter gegaan het, tot op die dag wat ek in die poeliesbakkie van my mense af weggery is om hier in die tronk te kom sit en wag op die galgtou?

      “Waarom, Here? Kom staan net ’n slag hier by my en dan vertel jy vir my wáárom. Is dit oor Joey se voorkind dat jy hierdie verskriklike ding oor my laat kom het? Ek weet ek het verkeerd gedoen, Here, maar niemand nie, veral nie jy wie se oog orals kan sien nie, kan my daarvoor verkwalik nie. Ek kon nie anders doen as wat ek gedoen het nie, en as die kans nou weer voor my gelê word, sal ek net dieselfde doen.”

      Hulle het nog in Salmon se enkelkamer op Grootderm gebly toe sy die ontdekking gemaak het oor die oppratery. Die vrou wat die voorman se seuntjie oppas, was dié dag siek en toe laat haal die wit voorman haar van die lande af om sy vrou te gaan help met die kind. Katryn het dit al vantevore gedoen en het daar niks van gehou nie, want die kind was woelig en stout. Sy sou eerder die hele dag met ’n graaf in die warm son werk as om kind op te pas.

      Met die intrap het die ma haar georder om buite te gaan loop met die kind. Sy is af rivier toe met hom en by een van die kuile het sy hom gewys hoe om kluite en stokkies in die water te gooi. Twee plaaswerkers het op die wal verbygeloop en toe sy omdraai en hulle groet, hoor sy ’n geskree agter haar. Sy was net betyds om te sien hoe die kind onder die bruin modderwater verdwyn.

      Gelukkig was die twee manne goeie swemmers. Hulle het skoene en klere uitgepluk, ingeduik en na die kind begin soek. Dit was nie lank voor hulle hom gekry het nie, maar vir haar het dit soos ’n ewigheid gevoel. Toe die mans die liggaampie uitbring, was daar geen teken van lewe by die kind nie. En toe gebeur dit: sy kry die snaaksste gevoel oor haar hele lyf, ’n gloeiende warmte wat deur haar loop soos ’n stroom.

      Sy het die kind se hande gegryp en met hom begin praat. Sy het gepraat en gepraat en vir hom gesê om teen die dood te stry en die lewe terug te vat. Een oomblik het die woorde deur haar tande gesis en die volgende oomblik het sy op hom geskel en woorde in sy ore geskree. Vir ’n lang tyd het sy aangehou sonder dat iets gebeur, en toe het sy skielik gevoel hoe die krag uit haar lyf na die kind toe begin vloei. Die kragstroom het al sterker geraak en eensklaps het die kind regop gesit en sy oë oopgemaak.

      Die twee mans het die hele tyd stomverbaas gestaar. Sy onthou hoe sy teen die wal probeer uitklim het met die kind in haar arms, maar sy was te lam en haar knieë het onder haar geswik. Die mans moes haar daar uithelp.

      By die huis het sy vir die witvrou gesê die kind se klere is nat omdat hy in die leivoor gespeel het. Die vrou kon sien sy is siek; sy het haar ’n kopseerpil gegee en haar huis toe gestuur. Daar het sy op die bed neergeval en geslaap tot Salmon die middag van die werk af gekom het.

      Die nuus het gou deur die hele Richtersveld versprei: dat daar weer ’n opprater onder die Namavolk was. Dat sy, Katryn, met dié spesiale gawe gebore is, het sy in haar dag des lewens nooit kon dink nie.

      Toe sy nog ’n kind was, het sy haar ma baie keer uitgevra oor die hele ding van die opprater – altyd net ’n vrou – en dan het haar ma gesê dis iemand wat met ’n baie sterke krag in haar gebore is.

      “Watse krag?” het sy gevra.

      “Dis ’n krag wat sterk genoeg is om ’n mens gesond te maak en uit die dode terug te bring.”

      “Maar wie gee vir haar daai krag, Ma?”

      “Niemand weet nie, nie eens die opprater self weet dit nie. Sy sal vir jare die krag met haar saamdra en nie daarvan weet nie, tot sy dit op ’n dag verskriklik nodig kry en ’n sterwende mens gesond sal praat. Van daai dag af weet sy dat sy ’n opprater is, en die volk weet wie hulle nuwe opprater is. ’n Opprater werk net met jong kinders, sy mors nie asem op ou en sieklike mense nie.”

      “Is dit ’n soort kerkding?”

      “Nee, dit het niks met kerk te doen nie. Hulle sê as jy hoor hoe die opprater raas en skel en die kind slegsê, sal jy weet dis nie ’n kerkpraat nie. Al ding van oppraat wat almal wat dit gesien het vir jou sal sê, is dat daai krag nie ’n bietjie krag is nie, hy’s soos ’n weerligstraal. Kinders by wie jy die oggend nie meer die asemhaling kon sien nie, speel teen die aand weer met hulle maters. Die gesond word is ook nie ’n halwe gesond word nie. Die kind blý gesond en hy raak groot.”

      “Het Ma al self so ’n oppratery gesien?”

      “Nee, maar jou ouma het my vertel hoe jou oumagrootjie haar broer se kind opgepraat het nadat ’n geelslang hom gepik het. Almal het gedink die kind is al dood, want die twee-twee gaatjies van die slang het so gesit in sy gesig en teen sy nek. Sy het die voormiddag begin praat en oor die middag gepraat en aangehou praat tot die son al begin koel raak het. Toe staan die kind net so op om by die ander kinders te gaan speel. Hulle sê sy was so moeg dat hulle haar huis toe moes help en sy het geslaap tot die volgende dag.”

      Ná die storie met die voorman se kind is Katryn al oor ’n tyd gevra vir die oppraat van ’n sterwende kind. Dit was harde en senutergende werk wat haar gespanne en moeg gemaak het. Eenkeer het hulle twee kinders binne ’n week na haar gebring, en daarna was sy so swak dat sy ’n paar dae in die bed moes bly. Agterna het Salmon haar altyd vertel hoe dankbaar die ouers was. Daarvan het sy min geweet, want sy was te moeg ná die oppraat.

      Gelukkig kon sy al die kinders help wat na haar gebring is. Sy kon almal lewend en gesond aan hulle ouers teruggee . . . behalwe Joey Klink se dogtertjie.

      Dit was die dag ná die verminking van die Jonisse se spogbokram, en die kwaad het nog soos ’n vuur in Katryn gebrand. Ant Sophy Klink het dié Sondagoggend met Joey en die meisiekindjie by hulle huis aangekom. Toe Katryn die bodeur oopmaak, was haar oë nog so geswel van die huil dat sy byna nie die twee Klink-vrouens herken het nie.

      “Asseblief, antie Katryn,” het Joey gesmeek, “asseblief, asseblief, help gou!”

      “Wat is dit?” het Katryn gevra.

      “Dis my pa, antie. Hy’t vir Lenatjie op die melkwa gevat en sy’t uit sy hande onder die wiel geval. Maak gou, antie!”

      Binne-in Katryn was dit ’n bakleiery. Aan die een kant wou sy die kind help soos sy nog elke kind gehelp het wat hulle na haar toe gebring het. Aan die ander kant het haar verbittering teen die Klinke soos sooibrand in haar keel opgestoot. Maande se treitering en lyding en vernedering het deur haar kop geflits. Sy sien weer haar bloeiende stoetram wat soos ’n hoender in die reën by die kraal staan, sy balle teen sy lyf afgesny.

      Toe sê sy: “Waar’s jou pa? Hoekom het hy nie self met sy kleinkind gekom nie? Of wil hy nie op die werf kom waar hy ’n duur ram se teelkliere afgesny het nie? Vat jou kind terug na jou pa toe en sê vir hom hý het haar doodgemaak. En sê vir hom Katryn Jonis sal nie ’n woord spreek voor hy nie self voor haar kom staan lat hierdie kwaad uitgepraat kan raak nie.”

      Joey het gehuil en gesmeek en ant Sophy het gehuil en gesmeek.

      Toe het ant Sophy op Katryn begin skel en gesê: “Oppraatkrag is nie joune nie, dis die Namas s’n. Elotsê het dit vir jou gegee en jy mag dit nie van ’n Namakind terughou nie.”

      Maar Katryn se besluit was finaal.

      “Dit weet ek, en ek sal my krag van geen Namakind terughou wat voor my gebring word nie. Maar vir die kleinkind van Abraham Klink gebruik ek dit nie – dit kan julle maar sê vir enige Nama in die Richtersveld wat my wil aanhoor. En as Elotsê sy krag van my wil wegvat, moet hy dit maar doen. Ek het hom hoeka nie daarvoor gevra nie.”