Rooiborslaksman. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624089551
Скачать книгу
on>

      

      Rooiborslaksman

      ’n Roman

      Marinda van Zyl

      Tafelberg

      Vir Jannie

      Sentraal-Suidwes-Afrika, 1864-1896

      Familieverwantskap van hoofkarakters

      Die Lamberts:

      Amraal Lambert, gebore in 1774 in Clanwilliam, vestig hom in 1815 saam met sendeling Schmelen in Bethanië. Verskuif in die 1840’s na Naosanabis en Gobabis.

      Amraal se kinders by Hanna, sy eerste vrou: Lambert Lambert en Simon.

      Andries en Eduard is Lambert Lambert se twee jongste seuns.

      Jan Lambert en Kort Lambert is Simon se seuns. Berta is Jan se vrou.

      Trien is Amraal se tweede vrou, ’n weduwee met ’n dogter, Catharina.

      Liesbet is Trien en Amraal se enigste kind, gebore toe Amraal al nege-en-sewentig was.

      Die Vlermuise:

      Piet Vlermuis bevind hom reeds in die vroeë 1800’s noord van die Oranjerivier. In die 1840’s vestig hy hom onder Amraal se kapteinskap by Naosanabis en verskuif saam na Gobabis.

      Moses is Piet se oudste seun.

      Paul, tolk en ouderling, is een van Moses se seuns.

      Frederik is Paul se oudste seun. Mina is Frederik se vrou. Hulle het ’n paar kinders waarvan Jonas die oudste en Drieka die jongste is.

      Mientjie is Drieka se dogter.

      Koekoes is Jonas se vrou.

      Groot Piet en Abraham is Frederik se neefs.

      DEEL I

      1864 – 1880

      1

      Maart 1864

      Die gekwetter van voëls lok Liesbet na die kameeldoringboom. Dis seker weer die kinders wat die voëltjies verpes. Toe sy die geelslang gewaar, steek sy verskrik vas. Sy kronkels lê oor die versamelnes, maar sy kop is versteek in een van die talle gaatjies. Hy wriemel sy lyf net effens as die swerm vaal voëltjies hom takel, pluk sy kop uit die nesopening, pik na hulle en steek dit weer in ’n ander gaatjie. Sy wil weghardloop, maar haar bene wil nie luister nie. Slange moet doodgemaak word voor hulle jou kan pik. Dit het sy geleer toe die pofadder vir ousus Catharina gepik en haar been afgeval het. Sy moet vir Andries gaan roep om die slang te kom skiet. Toe Catharina gesê het sy mag vanmiddag nie naby die wa kom nie, het sy mos nie geweet van die slang nie.

      Sy draf terug wa toe: “Andries, bring die geweer, daar’s ’n slang!” Niemand antwoord nie, en daar is geen beweging by die wa nie.

      Toe sy haar voet op die trappie sit om op die wa te klim, loer Catharina by die waflap uit. “Hoekom raas jy so as ek ’n bietjie wil slaap?”

      Liesbet beduie met gestrekte arms. “Daar’s ’n yslike slang. Waar’s Andries?”

      “Jy suig stories uit jou duim om my te pla. Skoert, of ek sê vir Ma jy was ongehoorsaam.”

      Catharina se vlegsel hang los oor haar skouer en haar roksknope is nie reg vasgemaak nie. Andries en Catharina dink oor sy net tien is, weet sy nie wat mense doen as hulle vry nie. “Dan sê ek vir Ma Andries vat aan jou tieties.” Toe hol sy weg voor Andries haar dalk vang en ’n pak slae gee. Sy hou niks van Andries nie. Dis sy skuld dat Catharina nie meer met haar wil speel nie.

      Die slang lê nog op die nes. Sy hou hom op ’n afstand dop. Die kleur van sy lyf is amper dieselfde as Catharina se vlegsel. Toe sy eenkeer gebid het Liewe Jesus moet vir haar ook sulke mooi hare gee, het haar ma geraas, want mens sê dankie vir die gawes wat jy ontvang het en vra nie vir die onmoontlike nie. Maar haar daarna styf vasgehou en gesê sy moet trots wees om Amraal Lambert se kind te wees en soos hy te lyk, want hy is die grootste kaptein in die hele Namaland met sy meer as duisend onderdane. Hy was baie bly oor haar geboorte, want hy wou graag ’n dogtertjie hê. “Jy was my geskenk aan hom, want hy het hom oor my en Catharina ontferm toe my wit skoonmense ons weggejaag het,” hoor sy nog haar ma sê.

      Miskien is daar nog veewagters by een van die poele in die rivierbedding. Hulle kan die slang met klippe kom doodgooi. Daar is niemand nie. Sy gaan sit plat op die grond en druk haar voete in die warm sand. Hulle is nou al langer as ’n maand op Rehoboth en sy is so bitterlik alleen hier. Sy wil teruggaan Gobabis toe. Sy wil op Ou Pappa se skoot sit, die plooie op sy gesig natrek met haar vinger tot hy skielik daarna hap en sy maak of sy vreeslik groot skrik sodat hy haar styf moet vashou.

      Hoekom haar ma vir haar en Catharina weggejaag het, en haar nie eens wou toelaat om Ou Pappa te groet nie, kan sy glad nie begryp nie. Hy het by ouboet Lambert Lambert op Twass gaan kuier. Terwyl sy onder by die fontein was, het iemand geroep: “Kaptein Amraal is terug!” en sy het gehardloop om eerste by hom te wees. Haar ma het geskree: “Andries, bring die ander wa! Catharina, Liesbet, kom pak julle goed!” Sy wou by haar ma verbyglip, maar is aan die arm beetgekry en matjieshuis toe gesleep.

      Liesbet knyp haar oë toe en verbeel haar sy ruik Ou Pappa se pyprook. Die seer in haar word te veel.

      “Liesbet, hoekom sit jy hier moedersielalleen en huil?”

      Sy vee haastig die trane met haar roksoom af. Dis oom Jan Lambert se stem wat sy herken. “Oom Jan!” jubel sy. “Oom het ons kom haal!”

      Hy lag en raap haar in sy arms op. “Oupa Amraal het voorwaar ons familie deurmekaar geklits toe hy met jou ma getrou het. My pa sou hom seker wou doodlag as hy kon hoor sy sussie sê vir my ‘oom’. Eintlik moet ek vir jou ‘tannie Liesbet’ sê. Miskien sit my pa en oupa nou saam in die hemel en lag vir ons.”

      Liesbet hyg na asem; hy druk haar te styf vas.

      Hy sit haar neer, maar hou sy gesig weggedraai. “Waar’s Andries en Catharina?” vra hy in ’n snaakse stem. “Dis mos gevaarlik vir jou so alleen in die veld.”

      Dit laat Liesbet onthou van die slang. “Oom moet die geelslang kom skiet voor hy al die voëltjies opvreet.”

      Die skoot ruk die slang se lyf in twee, maar ook ’n yslike gat in die nes. Pienk veerlose voëltjies tuimel saam met die stukke slang grond toe en sy begin weer huil.

      “Toe nou, dis net ’n klein klompie wat dood is,” troos oom Jan. “Daar’s nog baie oor in die groot nes.”

      “Liesbet! Waar is jy?” hoor hulle Andries benoud roep.

      Oom Jan druk die toom in haar hand. “Sal jy my perd hier in die skadu oppas terwyl ek met Andries en Catharina praat?” Voor Liesbet kan weier, want sy is steeds bang vir die slang, loop hy vinnig weg.

      Sy volg hom op ’n afstand. By die wa is mos ook koeltebome.

      Van naby die wa af kom Andries met sy geweer in die hand aangehardloop. “Dag, Jan. Ek hoop dis goeie nuus. Ons is haastig huis toe.”

      “Dit lyk nie juis so nie.” Oom Jan klink kwaai. “’n Man moet darem sy broekflap ordentlik vasknoop as ’n geweerskoot hom so onverhoeds betrap. Wat moet die sendeling en sy vrou van ons Lamberts dink?”

      Andries lag verleë, draai om en roep na Catharina. “Dis net neef Jan. Jy kan maar uitkom.” Verduidelik dan: “Die sendeling en sy familie is Otjimbingwe toe om negosiegoed te koop.”

      “Dis ’n jammerte. Dit sou beter wees as julle hier kon trou, want by meneer Weber gaan julle nie so maklik verbykom nie. As ons op Gobabis kom, moet julle dadelik daarvan werk maak, voor hy snuf in die neus kry van julle ontugtigheid en julle vir ewig onder sensuur sit.”

      “Ai, Jan, hoe trap jy my so voor Liesbet uit?”

      Oom Jan kyk vinnig om en Liesbet bekyk haar tone asof sy niks gehoor het nie. Hulle begin fluister sodat sy glad nie kan hoor nie. Sy sien