Du Toit het altyd ’n bottel rum in sy rugsak saamgedra en daardie aand in die oplêplek haal Steyn die bottel uit en elkeen drink ’n sopie op hul gesneuwelde makker. In die donker verberg hulle Du Toit se lyk in die digte bos ingeval die span onverwags moet begin hardloop vir hul lewe. Getrou aan Recce-tradisie sou hulle nie toelaat dat sy lyk in vyandelike hande val nie.
“Willy Ward was die nuwe spanleier … Die volgende oggend kon ons nie die lyk kry nie, dit was mos donker toe ons by die plek aangekom het. Ons het Kokkie se lyk toe deur middel van die reuk opgespoor.”
Die helikopter kom toe taamlik vroeg in en land in die nabyheid. Onder vyandelike vuur word Du Toit se lyk uitgelig. Steyn, wat beseer was – tydens sy valskerm-boomlanding het ’n tak sy stewel deurboor en in sy voet ingesteek – word saam met die lyk na die Tak HK afgevoer.
Frelimo-soldate was steeds kort op hul hakke en die span begin dadelik weer hardloop nadat die helikopter opgestyg het. Hulle was nou te min in getalle om die Frelimo-oormag die stryd aan te sê. Uiteindelik is die span opgepik en na die Tak HK gevlieg waar ’n nabetragting onder bevel van kapt Hannes Venter plaasgevind het.
* * *
Sedert 1976–1977 het Robert Mugabe se Zanla-guerrillas Rhodesië op ’n gereelde basis uit Mosambiek se Tete- en Gaza-provinsie geïnfiltreer. Zanla se strategiese plan was ook om vanuit die Gaza-provinsie die logistieke roetes in Suid-Matabeleland na Suid-Afrika te saboteer. In die loop van 1976 het die Selous Scouts verskeie logistieke Frelimo-Zanla-basisse in die Tete- en Gaza-provinsie aangeval. Hulle het ook gedeeltes van die spoorlyn tussen Malvernia en São Jorge do Limpopo vernietig of beskadig.
Zanla het sy troepe by Xai-Xai aan die Mosambiekse kus saamgetrek. Hulle het opleiding in Tanzanië ontvang en is daarvandaan kuslangs na Xai-Xai vervoer. Hiervandaan is hulle per pad of spoor afgevoer na Aldeia da Barragem, Frelimo se brigade-HK in die Gaza-provinsie. Weens die Selous Scouts se aksies was die Zanla-guerrillas genoodsaak om te voet of per pad na die Rhodesiese grens met Mosambiek te beweeg.
Gedurende Oktober 1977 het die Selous Scouts die verantwoordelikheid om infiltrasies uit die Gaza-provinsie te beveg, aan die SAS Rhodesië oorhandig. Dit was in hierdie ongenaakbare operasionele area met min water en onbegaanbare sandelhoutwoude waar Suid-Afrika se Recces saam met die SAS militêr teen Frelimo en Zanla opgetree het.
* * *
Die Recces se voorbereiding en beweging na Rhodesië het altyd in groot geheimhouding geskied.18 Sodra die groepbevelvoerders die opdrag ontvang het om operateurs na Rhodesië te ontplooi, het die voorbereiding begin. Uitrusting, wapens en ammunisie is gepak, gekrat en genommer. Die groepsersantmajoor het ’n inhoudslys van elke krat opgestel waarna elke krat geweeg is. Terselfdertyd het die operateurs hul persoonlike gevegsuitrusting nagegaan en gereed gemaak vir die ontplooiing.
Operasionele sekerheid (OPSEK) is gehandhaaf en niemand in die eenheid het geweet waarheen die groep onderweg was nie – niemand het ook vrae gevra nie. Maj Wessel Maree, 1 Recce se logistieke offisier, onthou OPSEK as volg:
“Vanweë die operateurs se deurlopende opleiding het ons as ondersteuningspersoneel nooit geweet of die opleiding vir ’n spesifieke doel was (operasioneel) of net gewone opleiding nie. Sekere operateurs sou met die oggendparade nog in die eenheid wees, net om dan ’n ruk lank te verdwyn en eers weke of maande later terug te keer. 1.1 Kommando het sy eie store en stoorman gehad en die lede kon dus ontplooi word sonder dat die res van die eenheid daarvan geweet het. Niemand het ooit geweet presies wat die operateurs se program en take van dag tot dag sou wees nie.”
Vir sekerheidsredes het die beweging na Rhodesië meestal gedurende die nag plaasgevind, behalwe vir die eerste ontplooiing wat in die dag geskied het. Die groepe het altyd in burgerdrag met al hul toerusting na Durban se militêre lughawe beweeg. Dakota-vliegtuie van die SA Lugmag is gebruik om die groepe na Rhodesië te vlieg. Sodra die vlieëniers gerapporteer het dat hulle in Rhodesiese lugruim is, het die operateurs hul Rhodesiese gevegsdrag uit hul drasakke gehaal en aangetrek. Die burgerdrag is dan in die drasakke gesit.
Met die eerste ontplooiing het 1 VK se Bravo-groep onder bevel van kapt Hannes Venter gedurende die dag in twee Dakotas vanaf Durban na die Buffalo Range-vliegveld naby Chiredzi in Rhodesië gevlieg. Nadat hulle die Limpopo-rivier oorgesteek het, het die vlieëniers ’n hoogte van sowat 90 m bokant die grond gehandhaaf, wat binne reikafstand van AK47-vuur was. Die vlieëniers was onervare en het gereken hulle vlieg laag genoeg. Hulle het boonop ’n formasie gevorm met die tweede Dakota wat ’n vliegtuiglengte skuins agter die voorste Dakota gevlieg het.
Dit het die vliegtuie baie kwesbaar gemaak en Venter het die gesagvoerder van die Dakota, kapt Jaap du Preez, gevra om eerder op boomtophoogte te vlieg. Du Preez het hom nie aan dié versoek gesteur nie. Met die terugvlug het hulle dieselfde roete gevolg en net voor die Limpopo-rivier onder hewige AK47-vuur deurgeloop. Du Preez se Dakota was vol koeëlgate. Dit was ook die laaste keer wat die Dakotas nie op boomtophoogte gevlieg het nie.
Ná ontplooiings is die groepe weer in Rhodesië by die voorste taktiese vliegveld opgepik en na Durban se lugmagbasis gevlieg. Sodra die vliegtuig in Suid-Afrika se lugruim was, het die operateurs die Rhodesiese uniforms uitgetrek en hul burgerdrag aangetrek. Hulle het meestal in die nag by Durban se lugmagbasis aangekom. Voor sonop was die operateurs al terug in hul basis op die Bluff – nog voordat die res van die eenheid vir die dag se werk aangemeld het.
Soms het die Recce-groepe direk van Durban na die voorste taktiese vliegvelde soos Mabalauta gevlieg, mits die aanloopbane geskik was vir die Dakotas om daar met ’n swaar vrag te land en op te styg.
Venter en AO2 MJ (Yogi) Potgieter het vóór die 1 Recce-ontplooiings die SAS, Selous Scouts en RLI besoek om meer van die Rhodesiese operasionele doktrine, uitrusting, beplanning, uitvoering, en so meer te wete te kom. Dit was ’n inligtingsbesoek van drie weke en hulle het die geleentheid gebruik om ook die Tak HK’s te besoek. Terwyl Venter by die Selous Scouts was, het hy saam met hul bevelvoerder, ltkol Ron Reid-Daly, beweeg. Hulle het onder meer ’n Joint Operational Centre (JOC) besoek en Reid-Daly het aan almal vertel dat Venter sy adjudant is en dat hy hom in die reserwemag gewerf het. Dit was ’n ongemaklike situasie maar skynbaar het almal Reid-Daly se verduideliking aanvaar en geen vrae gestel nie.
Van Desember 1977 tot Desember 1979 is groepe van 1 Recce bykans voltyds ontplooi, hoofsaaklik in Mosambiek se Gaza-provinsie. Hierdie gebied het onder die operateurs as die Russian Front bekend gestaan weens die groot aantal Russiese en Oos-Duitse raadgewers wat saam met die vyandelike magte ontplooi was. Operasies is ook in Zambië en elders uitgevoer maar op kleiner skaal.
Die Russian Front het ook so bekend gestaan as gevolg van die ongenaakbaarheid van die terrein en die aggressiewe Frelimo-opvolgaksies. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse soldate na die Russiese oosfront verwys as die Russiese Front en dit is as ’n straf beskou om daar ontplooi te word. Net so het die Rhodesiese magte tong in die kies na Gaza verwys as die Russian Front.
In die twee jaar is sowat 143 Recce-operateurs van 1 VK, 2 VK, 4 VK en 5 VK in Rhodesië ontplooi. Hulle is hiervandaan na Mosambiek ontplooi met die doel om die vyand deur middel van gevegspatrollies te ontwrig en ook hul logistieke steun in die wiele te ry. In Gaza is daar hoofsaaklik op die spoor- en kraglyn tussen Malvernia en Maputo en op die aangrensende pad gekonsentreer. Die Recces se ander teikens was die gewapende observasie- en masjiengeweerposte wat in ’n lugafweerrol ontplooi is om Dakota-infiltrasies aan te val.
Valskermafgooistroke was ongemerk en die springers het gewoonlik in bome geland – dit was eintlik wonderbaarlik hoe min beserings voorgekom het. Een van die ernstiges was lt Douw Steyn wat in ’n sandelhoutwoud deur die bome geval het. Met die landing het ’n droë tak deur sy Waxie-stewel in sy voet gesteek. Die besering was van so ’n aard dat hy later afgevoer moes word.
Tydens een van die valskerminfiltrasies in Januarie 1978 het sers Jack Greeff tussen klippe in die Lebombo-berg geland en sy enkelligamente geskeur. Hy het egter uitgehou en is saam met die span na hul teiken, ’n spoorlyn, en is eers later uitgevlieg. Onder die ander valskermbeserings was dié van kpl FL (Frik) Gouws wat met sy