1 Recce, volume 2. Alexander Strachan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Alexander Strachan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Военное дело, спецслужбы
Год издания: 0
isbn: 9780624085218
Скачать книгу
en 03:00, kom hulle by die Unita-basis aan waar hulle slaapplek kry en hul rugsakke en uitrusting afpak.

      In daardie stadium van die oorlog het Unita nie geweet waar hul leier, dr Jonas Savimbi, hom bevind nie. Die drie Recces se opdrag is om ’n soek- en reddingsoperasie onder uiters riskante omstandighede uit te voer en Savimbi te vind. Dit was die tweede poging nadat die eerste een afgelas is omdat inligting daarop gedui het dat Savimbi nie in die Cuando Cubango-provinsie was nie.

      Die volgende dag ontmoet hulle die basisbevelvoerder, genl Chi­wale, toe hoof van Unita se gewapende magte. Chiwale was ’n lang indrukwekkende man, baie gespierd en ’n aangename persoon. Hy het ’n goeie indruk op hulle gemaak en kon ’n bietjie Engels praat, genoeg om hom te verstaan.

      “Hy sê toe vir ons dat hulle nog nie presies weet waar Savimbi is nie, maar hy is uit die noorde in aantog. Ons hang toe maar daar in die basis rond, het ’n bietjie gewas en so aan. Die laaste paar dae het dinge vinnig gebeur. Sondag was ons nog in Durban, Maandagaand het ons ingespring en Dinsdagoggend word ons in ’n Unita-basis wakker.

      “Daardie aand nooi Chiwale ons vir aandete in ’n mooi plek wat hulle in ’n groot hut voorberei het. En die vreemdste ding van alles is die twee elektriese orkeste daar in die oerwoud, in die middel van nêrens. Hulle het mekaar afgelos. Daar is vroue ook, mooi aangetrek, en hulle kap dit uit op die dansvloer. Ek kan nie glo alles gebeur hier in die bos nie.

      “Ná die ete gaan sit ons weer, maar hulle sê: ‘O, nee, nou moet julle dans!’ Dit was omtrent ’n storie gewees. En die Boere dans en ek sê vir Gert: ‘As ons voorvaders ons nou moes sien het hulle boedel oorgegee, heeltemal boedel oorgegee.’”

      * * *

      Ná Operasie Savannah2 is die laaste Suid-Afrikaanse magte teen 27 Maart 1976 uit Angola onttrek, met die gevolg dat die regerende MPLA en sy weermag, Fapla, die weerstandsbeweging Unita verdryf het uit al die dorpe en gebiede wat onder hul beheer was.

      Die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) het ook alle kontak met Savimbi verloor. Selfs maj Isaías Samakuva, Unita se skakeloffisier op Rundu in die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië), het nie geweet waar sy leier hom bevind nie. Hy het die SAW daar gevra om dringend te help om Savimbi op te spoor en hom vir sy eie veiligheid uit Angola te kry.

      Ná Operasie Savannah was die Suid-Afrikaanse regering heeltemal op sy eie in die SWA-Angola-konflik, sê genlmaj Chris Thirion, destyds adjunkstafhoof Militêre Inligting (MI) in die SAW. Van die verwagte Amerikaanse steun het niks gekom nie. Daar was slegs internasionale veroordeling van alle militêre optrede op Angolese grondgebied.

      Suid-Afrika was dus dringend op soek na militêre bondgenote. Met Portugal se onttrekking uit sy Afrika-provinsies in die middel 1970’s en die onafhanklikwording van Angola en Mosambiek het die situasie in Suider-Afrika ingrypend verander. Angola se buurstate (met die uitsondering van Suid-Afrika) het die MPLA as die land se nuwe wettige regering erken. Dit het die twee Angolese weerstandsbewegings, die FNLA en Unita, spoedig geïsoleer. Die MPLA het onmiddellik sy voortgesette steun aan die South West Africa People’s Organization (Swapo) en sy militêre vleuel, Plan, aangekondig.

      Die buurstate se steun aan die MPLA-regering het Unita van sy hulpbronne afgesny. Met die Russies-Kubaans-gesteunde MPLA as ’n gemeenskaplike vyand het Suid-Afrika en Unita dus gedeelde belange gehad, sê Thirion. “Die sluit van ’n militêre verdrag was ’n logiese uitvloeisel hiervan – ‘my enemy’s enemy is my friend’.”

      Enkele maande tevore nog het Suid-Afrika die Portugese in Angola gesteun en was Unita die vyand. “Maar in die wêreld van die internasionale politiek en konflikte is daar nie permanente vyande of permanente vriende nie – daar is slegs eie belange. Dit het Suid-Afrika gepas dat Unita die uitgestrekte en afgeleë Cuando Cubango-provinsie noord van die SWA-Angola-grens beheer het.”

      Volgens Thirion is ’n “strategiese tipe militêre samewerkings­ooreenkoms” toe voorgestel. Die probleem was egter dat Savimbi nie in die hande gekry kon word nie. Hy het iewers in Oos-Angola ’n oorlewingstryd gevoer en nie eens sy eie mense het met hom kontak gehad nie. Dit het tot maj Samakuva se versoek gelei dat die SAW moet help om hul leier op te spoor en te red.

      “Die soek- en reddingsoperasie, uitgevoer onder uiters riskante omstandighede deur ’n klein groepie Spesiale Magte-operateurs van 1 Recce, was ’n belangrike gebeurtenis,” sê Thirion. “Dit was die eerste stap in die vorming van ’n militêre verdrag wat aan die SAW noodsaaklike taktiese beweegruimte sou bied wat oor langer as ’n dekade sou strek.”

      * * *

      Bepaalde prosedures is gevolg voordat die opdrag gegee word om so ’n reddingsoperasie in die buiteland uit te voer.

      Spesiale Magte (Spesmagte) is onder direkte beheer van die hoof van die SAW en nie die hoof van die leër nie. Die hoof van staf Militêre Inligting (MI) moet versoeke aan Spesiale Magte se bevel­voerende generaal voorlê, wat dan sal besluit of dit ’n taak vir Spesmagte is en of dit uitvoerbaar is. Indien wel, doen hy aanbevelings oor hoe dit uitgevoer kan word. Dit word dan aan die hoof van die weermag voorgelê vir kommentaar en finale goedkeuring.

      Eers daarna kan die gesamentlike beplanning tussen Spesmagte en die kliënt voortgaan, waarna Spesmagte die operasie sal uitvoer. Die kliënt in hierdie geval was MI, wat die SAW en in werklik­heid Suid-Afrika se steun aan Unita beheer het.

      Met die eerste soektog na Savimbi het 1 Recce se bevelvoerder, kmdt Jakes Swart, van die Spesmagte-HK opdrag gekry om ’n klein­span te aktiveer. Die lede was maj Hennie Blaauw en twee Angolese, ssers Mourão da Costa en sers Amilcar Queiroz. Al drie was in Durban gestasioneer.

      Hulle het dadelik na Pretoria vertrek. By die Spesmagte-HK is hulle ingelig om na Rundu te vlieg. Daar moes hulle aansluit by die MI-skakeloffisier wat met Unita se skakeloffisier saamgewerk het. Die span sou dan verdere instruksies ontvang en voortgaan met die beplanning van en ontplooiing vir die operasie.

      Die probleem was egter dat Unita nie geweet het waar Savimbi is nie. Die Unita-skakeloffisier stel toe voor dat hulle in die ooste van Angola begin soek, in die Cuando Cubango-provinsie, wat aan Zambië grens. Unita se sekretaris-generaal, maj Nzau Puna, was in daardie stadium ook op Rundu.

      Hulle het na Bagani gery waar hulle met die brug oor die Okavango-rivier is. Daarna is hulle op ’n ou Portugese bospad al dieper Angola in.

      Amilcar Queiroz het ’n interessante geskiedenis. Hy was in ’n vroeë stadium van Operasie Savannah nog ’n aktiewe Unita-lid maar het Unita later in die konflik verlaat en hom by die Suid-Afrikaanse Spesmagte aangesluit. Hy was ’n besonder waarde­volle lid omdat hy, buiten sy ander hoedanighede, ook Portugees en Frans magtig was.

      In sy vroeë oorlogsdae het hy op dieselfde bospad geloop wat die groepie nou in hul soektog na Savimbi gevolg het. Fapla en die Kubane het tydens ’n operasie ’n hinderlaag op die pad gelê. Quei­roz het die aanval oorleef, maar een van sy makkers, Klein-Robbie Ribeiro, is daar dood.3 Queiroz het ná die aanval suid met die rivier langs na die dorpie Dirico geloop, en daarvandaan na die SWA-grens waar hy hom weer by die Suid-Afrikaners aangesluit het. Toe die Recces nou die plek van die hinderlaag bereik, het Queiroz die oorblyfsels van die loopgrawe aan Blaauw uitgewys.

      Jagters en houtkappers het vroeër die pad gebruik om noord na Coutado do Mucusso in die Cuando Cubango-provinsie te gaan. “Dit was ’n sanderige tweespoorpad wat byna toegegroei was en mens aan die kaplyn4 herinner het,” vertel Blaauw.

      ’n Klein Unita-eskort op twee Unimogs wat MI beskikbaar ge­stel het, het die drie Recce-operateurs vergesel. Die eskort het ook opgetree as ’n soort lyfwag vir Puna, wat ook saam was.

      Hulle het die hele dag aan die sowat 120 km gery en laat die middag by Coutado do Mucusso – ’n klein Portugese nedersetting aan die Luiana-rivier – aangekom. “Daar was ’n klein Unita-element wat nie eintlik na ’n militêre organisasie gelyk het nie. Ons kon geen inligting by hulle kry nie,” vertel Blaauw, “want hulle het geen idee gehad waar Savimbi is nie. Om die waarheid te sê, hulle het nie eens geweet wat ons daar