Alexander Strachan
1 RECCE
AGTER VYANDELIKE LINIES
Tafelberg
Opgedra aan al die operateurs
en ondersteuningspersoneel van 1 Recce.
Outeursnota
Tydens die skryf van 1 Recce Die nag behoort aan ons, was dit gou duidelik dat daar te veel materiaal is om in ’n enkele boek te pas. Dié boek is dus geskryf met die gedagte dat nog volumes sou volg om die verkenningseenheid 1 Recce se geskiedenis meer volledig te vertel.
Waar die eerste boek oor die tydperk van 1966 tot die laat 1970’s gaan, begin 1 Recce Agter vyandelike linies in 1977 en dek die gebeure tot einde 1980.
Dit is nie ’n akademiese werk of ’n militêre doktrine nie. Die boek is ’n vertelling van die wel en wee van 1 Recce se operateurs en ondersteuningspersoneel wat aan spesiale operasies deelgeneem het. In kort dus: Hoe dit was om destyds ’n Recce te wees. Die leser kry ’n blik op hierdie uitsonderlike groep mense se daaglikse belewenisse in moeilike situasies.
1 Recce was die moedereenheid waaruit ook die huidige Recces ontstaan het, wat vandag (2020) sterk in getalle en besonder aktief is. Kenmerkend van die Recces dra die hedendaagse groep steeds die maroen baret met die kompasroos asook dieselfde operateurskenteken op die bors. Hulle word aan streng opleiding onderwerp en sit onder groot geheimhouding die Spesiale Magte-tradisie in die nuwe era voort, waar hulle klandestien en onder dekking in die buiteland ontplooi word.
Van die operasies wat behandel word, is dalk bekend, maar met hierdie vertelling word die leser tot binne-in die vliegtuig of duikboot geneem en aan die fyner besonderhede van ’n Spesmagte-operasie blootgestel. Daar word spesifiek na die Recces se ervarings gekyk en veral gefokus op hoe die individu die oorlog beleef het. Die klem val op die besondere en nie die algemene nie – die doel is dus nie om dié eenheid se plek in ’n groter militêre konteks te plaas of te bespreek nie. Die oogmerk is veel eerder om die leser tot in die Recces se “binnekamer” te neem deur nie net inligting oor spesiale operasies te verskaf nie, maar ook anekdotes en persoonlike en humoristiese momente te deel.
Bykans al die destydse spanleiers het tydens operasies aantekeninge gemaak wat ook as dagboek gedien het van hul ervarings as Spesmagte-operateurs. Hierdie persoonlike aantekeninge is die hoofbron waaruit hulle gedurende onderhoude oor spesifieke operasies geput het.
Ek neem kennis van bestaande operasionele verslae, maar het gevind dat die persoonlike aantekeninge wat tydens operasies gemaak is, ’n akkurater weergawe van die “kleiner” dinge gee. In sommige militêre verslae word mense byvoorbeeld as operasiebevelvoerders aangedui terwyl hulle glad nie deel van die operasie was nie. Dit beteken geensins dat operasionele verslae nie steeds ’n goeie oorkoepelende visie van die operasies verskaf nie. Maar die persoonlike aantekeninge gee die leser ’n blik op die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat operateurs ervaar het. Dit laat die leser deel in die reuk van die slagveld en die vriendskapsbande wat gesmee word.
In 1 Recce Agter vyandelike linies steun ek op hierdie persoonlike onderhoude met die betrokkenes. Die inligting is ook vir verifikasie voorgelê aan verskillende mense wat deel van ’n operasie was. So is daar telkens konsensus bereik oor gegewens voordat ek dit in die boek opgeneem het.
In die eerste boek, 1 Recce Die nag behoort aan ons, is heelparty verwysings na die Rhodesiese Bosoorlog – hier word dit nou vollediger behandel. Die Recces was in Rhodesië (vandag Zimbabwe) by so baie operasies aan die sogenaamde “Russian Front” in Mosambiek se Gaza-provinsie betrokke dat almal nie hier ingesluit kan word nie. Daar word dus net op enkele sleuteloperasies gefokus. Dit sal die leser ’n goeie begrip gee van hoe 1 Recce hierdie operasies in die buiteland uitgevoer het.
Heelwat aandag is in die eerste boek aan die vorming van die eenheid gegee en dit word as afgehandel beskou. In 1 Recce Agter vyandelike linies val die klem grotendeels op die operasies en kry die leser minder uiteensettings en meer beskrywings van die Recces se operasionele aanwending.
Die konflik het in intensiteit toegeneem en spesialisoperasies is klandestien uitgevoer, seewaarts, landwaarts en lugwaarts. Die Recces is nie meer by infanteriewerk of basisaanvalle betrek nie. Verkenning en sabotasietake was nou die oogmerk. Daar is gefokus op strategiese operasies, onder meer om vliegtuie neer te skiet, brûe en treintonnels op te blaas en brandstofbergingsplekke te saboteer. Nuwe operateurs het na vore getree en daar was ’n groot ontwikkeling in gevorderde tegnologie, waaronder moderne uitrusting, radio’s en wapentuig.
Angola bly ’n belangrike gegewe in die Grensoorlog. Die boek begin dan ook in dié land met ’n soektog na die Unita-leier, dr Jonas Savimbi, in die beboste en afgeleë oostelike deel van Angola. Daarna skuif die fokus 2 000 km weg na Rhodesië en word ’n verskeidenheid bosoperasies behandel – almal deel van die oorkoepelende Operasie Acrobat. 1 Recce se Alpha- en Bravo-groep los mekaar in hoogs geheime omstandighede in Rhodesië af. Hulle tree vanaf hul operasionele basis op Mabalauta militêr in Mosambiek se Gaza-provinsie teen Frelimo en Zanla op. Die Recces deel dié basis met die Rhodesian Special Air Service (SAS)1. Hulle het beperkte lugsteun en word by geleentheid ook saam met die Rhodesian Light Infantry (RLI) ontplooi.
Die Rhodesiese ontplooiings word gekenmerk deur hewige vuurgevegte, oorwinnings en ook verliese. In Desember 1979, met dié land se demokratiese verkiesing op hande, word begin om die Recces net so stil en geheimsinnig as wat hulle gekom het, uit Rhodesië te onttrek. Hoewel die oorlog aan die Angolese front nooit gedurende die Rhodesiese fase onderbreek is nie, fokus die Recces ná hul onttrekking nou weer ten volle op Angola.
Met al die operateurs terug in Angola was daar ’n aantal unieke bosoperasies in dié landstreek waaroor geskryf word, onder meer die neerskiet van vyandelike vliegtuie en die sabotasie van strategiese teikens. Die boek sluit af met ’n epiese seewaartse operasie aan die weskus van Angola – ’n operasie waarin die Recces by uitstek op hul veelsydigheid moes staatmaak onder omstandighede totaal anders as in die Rhodesiese Bosoorlog. Die Recces se verkenningspan is in ’n duikboot na die teiken gebring en in ’n opvolgoperasie het die sabotasiespanne in aanvalsvaartuie geïnfiltreer. Dit het bekend gestaan as Operasie Amazon en het uitsonderlike deursettingsvermoë en inisiatief vereis.
ALEXANDER STRACHAN
Inleiding
Recces raap Savimbi voor vyand weg
“Dit was omstreeks 23:00 toe die vlieënier sê ons nader nou die gebied waar ons gaan uitspring. Die vliegtuig skakel oor na die Unita-frekwensie en Unita antwoord sowaar en sê: ‘Reg so, maak gereed om die springers af te laai’. Hulle sê hulle kan die vliegtuig hoor en gaan nou die vure aansteek … En wragtig, doer onder sien ons hoe die driehoek vure skielik helder begin brand.
“Ons is so effens van lyn af en die vlieënier moet ’n geringe aanpassing in sy aanloop maak. Toe gaan staan ons al drie agter in die vliegtuig op die ramp. Die laaimeester lê by die deur uit, hy wys met sy duim op. Op daardie oomblik gaan die groen springlig aan en hy swaai sy duim ondertoe – die teken waarop ons gewag het. Ons hou aan mekaar vas en gaan in ’n linked exit uit.”
Oomblikke ná die sprong loer Hennie Blaauw vinnig en sien dat hulle feitlik regoor die drie vure is – meer akkuraat kon hulle nie gespring het nie.
“Ons los mekaar, beweeg weg en maak die valskerms oop. Toe ek weer afkyk, sien ek ja, ons is steeds regoor daai drie vure.”
Dit was ’n helder maanligaand en Blaauw en sy twee makkers – Amilcar Queiroz en Gert Eksteen – land sonder probleme naby mekaar in die shona waar die vure aangesteek is. Hulle groepeer vinnig en sorteer die valskerms uit.
“Toe staan ons daar in die maanlig. Nie lank nie of ons sien hier kom gedaantes uit die donker na ons toe aan.”
Queiroz, ’n Angolees, praat Umbundu vlot en hy daag hulle. Umbundu word in Unita-kringe gepraat terwyl die regerende MPLA se soldate Kimbundu praat. Dit was die drie Recces se eskort wat hulle ingewag het.
“Die groep vat ons valskerms oor en daar