Talla vlieg regop en stamp haar kop teen die boonste bed, helder wakker. Haar hart bons wild.
Vir die eerste keer in maande het sy weer van die trap gedroom. In die droom is sy klein, sy kyk by ’n trap af en begin stadig val. Af en af en al vinniger na ’n klompie mans wat na iets aan die onderpunt van die trap soek. Sy haat hierdie nagmerrie, die gevoel van geen beheer nie en die aanhou val en val sonder om ooit by die soekende mans uit te kom.
10
Die kombuis ruik nog na spek, eiers en koffie, maar ontbyt is reeds voorgesit en die klimmers is almal weg, berge toe. Talla sluk stadig aan haar koffie en wonder hoekom sy nie meer chaispeserye ingepak het nie. Koffie proe nie na veel sonder die byt nie. Sy oorweeg dit om dorp toe te stap. Dalk kan sy ’n paar pakkies gemaalde speserye by die Co-op kry en iets aanmekaarflans. Belangriker, sy moet kos gaan koop, sy het gisteraand weer saam met Neil-hulle geëet en wil nie hul gasvryheid misbruik nie.
Die derde personeellid, David, was skottelgoed en Teodor droog af. Talla het David gisteraand ontmoet. Aantreklik met sy donker hare en oë, maar ’n redelike stug Skot. Hy het eers ná sy tweede whisky effens ontdooi.
Hy kyk oor sy skouer na Talla. “Jy kan die Co-op probeer, maar hulle is baie duurder as Morrisons in Fort William. Dis nie so ver nie, sestien myl. Jy kan die bus soontoe haal. ’n Halfuur en jy is daar.”
Dis vyf-en-twintig kilometer, bereken Talla, en besluit om die elfuurbus te kry. “Gaan een van julle saamkom?” vra sy en staan op. Soos hulle verduidelik, is die bushalte reg voor Morrisons in Fort William en kan ’n mens nie verdwaal nie, maar sy is lugtig. Sy was nog nie verder as die Co-op op die dorp nie.
David en Teodor moet werk, sy is op haar eie.
“Dalk wil Mikey saam met my gaan.”
“Hy is saam met Neil in die stoor, help hom die plek opruim,” roep David agter haar aan. In haar kamer kry sy haar muntebeursie, jas en serp. Sy trek haar tekkies uit en haar stapstewels aan. Reg vir die elemente.
Mikey kom saam, maar hy is stiller as gister terwyl hulle na Glencoe-dorp toe stap. Talla wonder ná ’n kwartier of sy nie ’n fout gemaak het om hom te vra om saam te kom Fort William toe nie. Dalk is hy nie lus nie en voel hy net verplig. “Is jy seker jy gee nie om –”
’n Groot swart voël kom verby hulle geswiep en gaan sit op ’n boomtak ’n ent verder in die pad af.
“Vrek, skrik ek,” sê Talla. “Wat is dit?”
“Corbie,” sê Mikey en kyk die voël agterdogtig aan.
“Wat is dit?”
“Raaf. Vieslike goed. My ma het geglo hulle bring slegte tyding.” Hy skud sy kop en hou sy oë op die raaf. “Ek glo nie aan sulke stories nie. Wat ek wel vir seker weet, is dat hulle pasgebore lammers se oë uitpik.” Hy gaan staan stil en kyk na Talla. “Ek het dit self eendag gesien.”
Die voël vlieg van die tak af en gaan sit in die pad, ’n entjie voor hulle. Talla voel in haar jas se sak vir ’n sigaret.
Mikey vee oor sy oë. “Slim voëls maar afstootlik.” Toe swaai hy sy arms wild en begin in die pad afhardloop. “Shoo! Shoo!” Uiteindelik vlieg die voël lui op en verdwyn oor die boomtoppe. “Hy is weg.” Hy draai om en stap terug na Talla. “Ek is hier. Ek sal na jou kyk.”
Hulle kry skaars hul sit in die bus of Mikey begin praat oor Ben Nevis, wat teenaan Fort William lê. Dis die oorblyfsel van ’n vulkaan wat miljoene jare gelede onaktief geraak het, Captain. Die hoogste berg in die Verenigde Koninkryk, gewild onder klimmers. Baie van hulle dink die Ben is maklik om te klim.Dis jammer dat ’n mens die berg nie van Glencoe se kant van Fort William af kan sien nie, dit is ’n ontsagwekkende gesig. Soms is die lagie sneeu bo-op yl en herinner dit hom aan die versiersuiker wat sy ma kleintyd oor sjokoladekoeke gesif het. Talla glimlag en kyk na sy geskifte hempskraag, die plooie in sy nek.
Mikey knip sy oë vinnig. “Meestal lê die sneeu lekker dik dié tyd van die jaar. Wonderlike gesig. Probeer die berg van die Mallaigpad af beleef. It’s always grand. Dit lyk soos ’n walvis se rug – jy kan hom van ver af sien as jy van Mallaig af kom. Daardie berg is niemand se maat nie. Daar is amper twintig klimmers die afgelope klompie jare op die Ben dood. Weet jy wat beteken die naam in Gaelies?”
Talla skud haar kop.
“Gifberg.” Sy oë is rond toe hy na Talla kyk.
11
Talla sit by die internetstasie, ’n beker stomende chaikoffie langs haar. Sy het Zani se oudste e-pos, die een wat Saterdagoggend gestuur is, oopgemaak:
Het die bak dig toegebly? Hoop vir jou part so. Jitte, dis grim. Maar ek glimlag tog.
Talla trek haar mond onwillekeurig op ’n plooi. Die bak was Zani se idee. Willie, soos gewoonlik ongeorganiseer en laat, het Vrydagmiddag, twee uur voordat Zani haar lughawe toe moes neem, die fles met Theresa se as vir haar gebring. Zani was ook al by die huis.
“Die metaalfles gaan nie werk nie,” het Zani gesê en die fles by Willie aangevat. “Dit kan nie scan nie en buitendien, aan die vorm is dit duidelik watter soort fles dit is. Kon jy nie maar ’n meer moderne een gekies het nie, Willie?”
“Mag ’n mens dan nie as oorsee vat nie?” Talla was reeds senuweeagtig oor die vlug en die vreemde, sy het nie hierdie potensiële komplikasie nodig gehad nie.
“Ek weet nie.” Willie het op sy selfoon geklik. “Ek sien niks op SAA se website nie.”
“Moet ons hulle nie bel nie?” Talla het na die fles in Zani se hand gekyk. Liefste Theresa, ek gaan my bes doen.
“Moenie slapende honde wakker maak nie,” het Willie gesê.
“’n Mens moet seker ten minste Theresa se doodsertifikaat saamvat. Willie, het jy dit?” Zani, prakties soos gewoonlik. “En papierwerk van die krematorium af?”
“Nee, dis by die huis.” Willie het op sy horlosie gekyk. “Dis nie ’n probleem nie. Ek gaan haal dit gou. Sien julle oor ’n uur.”
’n Uur later het hy gebel. Hy het sy huis omgekeer; hy kry nie die doodsertifikaat nie en kan nou nie onthou of die krematorium wel vir hom iets gegee het nie. Sy nuutste minnaar, Cedric Iemand, het met die reëlings gehelp, dalk het hy iets. Maar hy is in ’n belangrike vergadering met voornemende kliënte en sy selfoon is af.
Op ’n Vrydag? wou Talla vra. Seker ’n liquid meeting. Haar maag het luide draaie gemaak.
“Is dit jou maag?” het Zani gevra en Talla het haar oë gerol.
“Ontspan,” het Zani getroos en ’n bottel wyn oopgemaak. “Ons het dit nodig. Ons gaan die as in ’n gewone houer sit, jy gaan dit in jou tas sit en alles gaan goed afloop. Indien daar ’n probleem is, is ek mos op die lughawe. Dan haal ons die as uit jou tas en ek bring dit terug huis toe. Maar die eerste prys is dat jy Theresa se as in ’n spesiale plek in Skotland strooi.”
“Ek kan dit nie doen nie. Hoe kan ek die as net so oorgooi in ’n ander houer? Dis makaber.”
“Dis hoekom ons wyn drink.”
“Ek sien nie kans nie, Zani.”
Zani het lig gefrons en haar glas wyn in een teug afgesluk. “Bring vir my ’n groterige houer wat dig toemaak.”
“Hoe groot?”
“Ek weet nie!” Zani het ook gespanne begin klink.
Talla het in die kombuiskas gaan krap en ’n tweeliter-roomysbak uitgehaal.
“Is daar nie ’n ordentlike houer nie?”
“Wat’s fout met dié een?”
“Het ons nie Tupperware nie?”
Talla het weer haar oë gerol en na Zani gestaar. Toe vat Zani die bak en fles by Talla aan en stap by die voordeur