Dis toe ’n vrou reg agter my opstaan en wil weet of sy karakters op regte mense, lewend of dood, geskoei is, dat Zander de Waal in my rigting kyk. Sy oë vang myne vas – en hou dit vas. Ek wil wegkyk, maar kry dit nie reg nie. Dis belaglik. Dis asof ek deur die bleddie mansmens gehipnotiseer word. Daar is iets … soos ’n slot wat toeklap in die enkele sekondes wat ons mekaar so beloer. My nekhare staan orent. Hier moet ek weg en gou ook. Ek sweer die mansmens het toorkrag in daardie donker oë van hom. Van iemand wat sulke boeke skryf, kan jy enigiets verwag.
Ek bly op ’n veilige afstand toe Lucy na die tyd in die lang ry inval om haar boek te laat teken. “Vir wie is die boek?” hoor ek hom vra sonder dat hy na haar toe opkyk.
“Lucy. Lucy Lombaard, asseblief.” Maar dan lag sy. “Nee, jammer, nie Lombaard nie, Bruwer. Lucy Bruwer. Ek moet nog gewoond raak daaraan.”
“Pas getroud?” vra hy.
“Darem al ’n paar maande. Met Billy Bruwer.”
Nou kyk hy op. “Billy Bruwer, my kamermaat van varsity?”
“Einste. Hy kon nie vanaand hier wees nie, maar hy stuur groete.”
Zander de Waal is soos blits uit sy stoel om Lucy teen sy borskas te druk.
“Funky Feetjie in lewende lywe! Ek is so bly om jou te leer ken.”
Lucy roei behoorlik om uit sy greep los te kom. Ek sou nie, ek sou net daar bly staan het. Vir ’n rukkie in elk geval. Net om te weet hoe dit voel.
“Ek weet als van Funky Feetjie en Wouter Weet-als en hoe hulle mekaar gevind het en daarna getroud is. Billy Bruwer was altyd ’n haan onder die henne, die gelukkige bliksem.”
Daar word gelag en gesels en nog ’n keer drukkies uitgedeel. Ek staan ’n entjie verder weg van Lucy af. En van Zander de Waal. Hier is genoeg vroue wat na hom kyk asof hulle hom wil verorber.
Sulke tye is ek bly Zak is in my lewe. As iemand dalk sou dink ek is so alleen soos ’n krokodil en begeer ’n happie soos hierdie formidabele skrywer, gooi ek Zak se naam gou in die geselskap rond. ’n Meisie met ’n ou beskik oor ’n status wat ’n enkelloper nie beskore is nie. Ek is ’n meisie met ’n ou, ’n kêrel, ’n boyfriend, een van die dae dalk nog ’n verloofde ook. Hoewel ek vreeslik benoud raak as ek daaraan dink.
Maar Zander de Waal sien my tog raak en wink my nader. Ek kyk oor my skouer of daar iemand agter my staan, maar hy wink weer.
“Wie? Ek?” stamel ek.
“Asseblief, ja.”
Die boekwurms maak vieserig vir my plek toe ek nader stap.
“Wat is jóú naam?” vra hy toe ek soos ’n slaapwandelaar langs hom staan.
Vir ’n oomblik is dit asof ek nie seker is nie. “Z … My naam is …” Ek sluk ’n slag. “Zoe,” kry ek gesê. Dis sowaar aansteeklik. Dis nie net Lucy wat tydelik aan ’n identiteitskrisis gely het toe sy naby genoeg gestaan het om hom te kan ruik nie. Ek vererg my – vir hom, maar veral vir myself. “My naam is Zoe Debora Louisa Lombaard.” Shut up, Zoe! Maar Zoe wil nie shut up nie. “My ma … my pa … ek bedoel my ouers, het net die een dogter gehad. Toe vernoem hulle sommer al die oumas wat ek het.”
“Hoeveel oumas is daar?” Watse stupid vrae vra die mansmens my?
“Gelukkig net twee.”
Tik my om met ’n veer – ek weet nie waarom ek so volledig antwoord nie. Ek weet ook nie waarom ek so vreemd voel en so vreemd optree nie. Moet iets wees wat ek geëet het wat nie met my akkordeer nie, sweerlik Zak se Franse brousel van vroeër vanaand, gemaak volgens sy ma se resep. Ek hét nogal ’n sensitiewe maag. Miskien is dit maar goed dat Lucy so neusoptrekkerig was toe hy haar bord nader gestoot het. Dalk het sy iets geruik wat by my verbygegaan het. Klaarblyklik het dit haar nie veel gehelp nie, sy was self vir ’n oomblik of twee heeltemal oorstuur.
“Zoe Debora Louisa Lombaard … Mooi naam,” gee Zander de Waal sy goedkeuring.
Hy trek ’n boek nader. Aan: Zoe Debora Louisa Lombaard, skryf hy voorin.
“Nee!” keer ek, al is dit te laat. “Ek … ek het nie ’n boek gekoop nie.”
“Ek sien so. Dit is ’n geskenk.”
“Maar … hoekom? Ek wil dit nie hê nie.”
“Want ek sien die muse op jou skouer sit,” antwoord hy dromerig. “En ek wil haar nader nooi.”
Ek vee amper oor my linkerskouer, gretig om ontslae te raak van die muse of wie of wat ook al daar mag sit. Ek weet dis swak maniere, maar ek lig my hande afwerend. “Ek lees nie eintlik jou boeke nie, jammer.”
“Dis oukei, jy hoef nie. Maar dis al wat ek het wat ek vir jou kan gee.”
Ek neem die boek asof dit enige oomblik in my gesig kan ontplof. Dan mompel ek iets wat hopelik vir ’n dankie kan deurgaan en stap sonder omkyk tussen mense deur in die uitgang se rigting.
“Die muse op jou skouer …” sê Lucy droomverlore agter my. “Hy gaan jou seker as ’n karakter in sy volgende boek gebruik.”
Daarvan hou ek niks. “En my seker op die wreedste moontlike manier vermoor.”
“Wat ’n eer! Ek wens dit was ék.”
“Ek wens ook dit was eerder jy.”
As ek gehoop het om ongemerk weg te kom, het ek my misreken.
“Sien jou môre, Lucy se niggie, Zoe Debora Louisa Lombaard!” roep Zander agter my aan.
Ek steek in my spore vas.
My weer sien? Hy wat Zander de Waal is? Vir wat? Waar en hoe en hoekom? Môre nogal? Is die man mal, of wat?
“Ek dink nie so nie,” help ek hom reg.
“O ja, baie beslis.” Daar is ’n tergklankie in sy stem.
Dit raak stil om ons, asof ons die hoofspelers is in ’n slapstick-komedie waar daar nou enige tyd terte heen en weer gegooi gaan word en die ander mense hierso almal ekstras is. Ag, dêmmit tog. Al wat ek vanaand wou doen, is om ’n lae profiel te handhaaf en so gou moontlik hier weg te kom en aan te gaan met my doodgewone, effens saai lewe. Wat darem nie meer só saai is vandat ek ’n kêrel het nie.
Nou hou Zander de Waal aan om met my te neuk, probeer my vir die gek hou. Verwag seker van my om te swymel en voor sy voete neer te val. Wat sou sy storie wees? Probeer hy Salomo na-aap met die vroue wat hy versamel? Ek besef my beperkinge, ek weet ek sal nie kwalifiseer vir een van die sewehonderd hoofvroue nie, hoewel dalk as een van driehonderd bywywe as hy desperaat genoeg is om sy harem voltallig te hou. ’n Bloubaard van ’n stoetbul moet seker sy naam gestand doen, selfs al moet hy soms sy standaarde aanpas sodat iemand soos ek nie gediskwalifiseer word nie. Jammer, maar ek waardeer dit glad nie dat hy my uitsonder nie. Vir wat? Dis ’n speletjie wat hy speel, ek weet, dis wat hy doen, speel yo-yo met vroueharte, foeter hul lewens op en gaan dan voort on his merry way.
“Ek … ons gaan môre rugby toe,” probeer ek hom koudlei.
“Die hele wêreld gaan môre rugby toe,” verseker hy my. “Dis waar ons mekaar weer gaan sien.”
Ek haal my skouers op, kamma nonchalant. Toe draai ek my rug op hom en stap verder. Mekaar sien? Mekaar raakloop? Tussen sestigduisend ander mense? Wat is die kanse?
Maar toe is dit nie so onmoontlik soos ek gedink het nie.
“Billy het gevra ek moet Zander nooi om môre by ons aan te sluit vir die rugby,” verduidelik Lucy toe ons verder stap. “Hy het ’n ekstra kaartjie vir hom saamgegee.”
“By ons? Op die peanut gallery?”
“Dis jou kêrel wat aangedring