Sy aandag word getrek deur iets wat op die stroom na die fontein toe aangedryf kom: iets wat vormloos deur die water beweeg, wat eers wegduik, verdwyn, en dan tussen die swane te voorskyn kom, wat hulle rigtingloosheid naboots en dan meteens teen ’n opdrifsel vashaak en stadig, teen die draai van die horlosie, ál in die rondte begin beweeg. Rondom en rondom wentel dit, soms sigbaar en soms onsigbaar, óm en óm soos ’n minuutwyser in omgekeerde gang. ’n Wit, grys voorwerp, maar wat is dit? En noudat sy baas ook daarvan bewus geword het, ontspan die hond, asof sy aandeel in die spel voltooi is.
Jock Silberstein het intussen sy hoed afgehaal en voor sy oë gehou om die son te keer; hy loer onder die skaduwee van die hoedrand deur en namate sy oë gewoond raak aan die beweging, hulle instel op die beweging, word die voorwerp kenbaar. Jock Silberstein se kop draai al in die rondte soos hy die wenteling volg, met elke voltooide sirkelgang neem sy afgryse toe, wiel sy emosies sigbaar van afgryse, skok, ongeloof, besef, verdriet, terug tot afgryse. Hy is magteloos as sy kop deur al die bewegings gaan en geleidelik word sy bewegings outonoom. Hy staan daar soos ’n groot pop met ’n ingeboude meganisme. En dan begin die trane stadig uit sy oë rol. Sy mond gaan oop en toe en hy huil geluidloos terwyl hy vasgevange is in die nimmereindigende sirkel. Ná ’n rukkie begin hy onwillekeurige geluidjies maak soos iemand wat stom is en probeer praat; later word die geluide harder maar hulle is nog steeds woordeloos en mensloos; uiteindelik gee hy hom ten volle oor aan sy smart en strompel die water in met ’n kreet wat deur die middaglug sny en sonder eggo verdwyn.
Cur?
Hy kom oor die uitgestrekte grasperk aangestap met die druppende voorwerp in sy arms. Dit lyk asof sy gang doelloos is; sy krag is bomenslik; hy loop net aan en aan: by die geboue verby waar hulle deur die ruite na hom kyk, waar hy homself in die ruitspieëls sien. Alle indrukke kom gelyktydig en onsamehangend. Hy strompel voort en sien meteens die beelde van almal verbrokkel in die verskillende spieëls. Hulle kyk uit die spieëls na hom … Hulle kyk met verkykers … Die spieëls versplinter in duisende skerwe en die beelde splinter saam. Die ruite is die soekers van hulle kameras waardeur hulle loer. Hulle spieël na mekaar toe en dan word die lense op hom gerig. Hulle het mekaar versny en nou versny hulle hom waar hy rigtingloos met sy las oor die grasperk stap.
Dan is hy weer alleen, ’n reusagtige figuur op die onmeetlike landskap.
Op ’n sekere tydstip is dit asof hy rigting vind. Hy kom by die fabriek en die kelderkamers. Hy gaan by die groot poort in en daal na benede, verdieping tot verdieping onder die grond, tot die binneste heiligdom waar die fino’s verouder het. Versigtig, op ’n tafel, lê hy die lyk neer. Hier is en was al die dinge wat sy groot liefde omvat, waar alles tot ’n einde gekom het en weer gebore is. Hier is die hele betekenisvolle, onverstaanbare sirkelgang. Hier is alles aanwesig, leweloos en tog lewendig. Hy kan nie meer begin en einde onderskei nie. Hy voel oud, en soos ’n ou man kan hy nie meer tot ’n slotsom kom nie.
Hier is my hele lewe, al my prestasies en al my teleurstellings. Ek kan nie verder dink nie en ek sal vir die res van my tyd op aarde versteen by hierdie punt. Wat is waar? Wat is nie waar nie? Wat het gebeur? Hoekom het dit alles gebeur? Hoekom eindig of begin dit hier?
In ’n sekere stadium loop hy heen en weer in die kelderkamer rond. Die elektriese lig brand uit ’n enkele, kale gloeilamp. Buitekant het dit miskien al begin skemer word. Hy loop heen en weer en dan gaan hy by die voorwerp op die tafel staan. Hy kyk noukeurig na die gesig asof hy dit die eerste keer sien. Soms betas hy die hare en probeer dit regstoot, maar dit is nat en klam en onbeheerbaar van die water. Geringe dingetjies trek sy aandag: die vorm van die neus, die lippe, die wenkbroue, twee merkies op die keel, die punte van die vingers. Daar is ’n druppel bloed wat op die vel gestol het. Hy kyk na die kleur daarvan. Soms trek sekere van die kledingstukke sy aandag en hy wonder waar en wanneer hy dit gekoop het. Hy herinner homself aan die tyd toe hy hierdie en daardie geskenkie gegee het en hoe die paar oomblikke van egte blydskap ’n warm gevoel in sy binneste gelaat het.
Daar is bloed op die lippe en tussen die tande. ’n Aandrif van ontsteltenis oormeester hom en hy loop vinnig deur die gange weg tot buite, tot by die stoomkamer waar die koperpype soos slange in mekaar krul teen die mure. Hy draai die kraan oop en hy wag totdat die stoomgeluid alle klank uitwis en dan begin hy skreeu. Dit hou langer as gewoonlik aan: hy skreeu die vrae teen die rumoerige stilte, maar hy kry geen antwoord en geen verlossing nie. Ook dít moes gebeur: dat die kamer van bieg sy helende krag verloor. Toe hy buitekant kom, het die son al gesak en glinster daar ’n rooi skynsel kwaadaardig op die spuende maskers teen die berg.
Hy loop stadig en vasberade terug na die kelders, tot by die binneste kamer waar die voorwerp op die tafel lê. Eenkant in die hoek is ’n swaar kierie en hy tel dit op.
Presies teen sononder begin die geluide, die lawaai van koper en erdewerk wat gebreek word, die bevrydende verwoesting, die beskerming teen die bose in al sy vorme, die vergete ritueel van ’n Jood van Tripoli, die lawaai sub magiae fugiendae praetextu, die aanslag teen die dood in jouself.
En buitekant die deur, gelok deur die geraas, luister speurdersersant Demosthenes H. de Goede. Hy lyk effens na Jacques Tati in sy rol van ’n briewebesteller. Hy is nie gebore in staat om ’n sin te formuleer nie.
“Pitttt-Pitttttt …,” hakkel hy. “Brrrrr … Psssst. Mmmmmm … ffffffft!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.