Etienne Leroux
Een vir Azazel
Human & Rousseau
“Daarom is die tragiese figuur van ons tyd miskien dié een wat die skuld op hom trek om ons haat of verdriet vir onsself geldig te maak,” sê dr. Johns.
(Op ’n Stigting soos Welgevonden is alle karakters denkbeeldig en alle gebeurtenisse waarskynlik. Elke persoon wat homself in een van die karakters herken, hoort tuis op Welgevonden.)
OPGEDRA AAN JOHN KANNEMEYER
Ubi?
Die grasperk strek tussen kolle bome en struike wat soos eilande hier en daar opduik: ’n nagemaakte groen see waarop die skepper wandel in geselskap van sy gade, die “slank” Mrs Silberstein, en sy patryshond. Dis ’n pragtige, rustelose dier, met konsentrate en lewertraan gevoer tot wit-en-swart Spaanse trots – ’n vel so sag soos sy, oë donker en vogtig-glimmend vry van ophthalmia, ore flappend en stert kwispelend: ’n nuttelose eindproduk wat grasie verleen aan ’n doellose wandeling. Soms verskyn dit op ’n helling, ’n stukkie lig daar op die groen; en dan verdwyn dit in die donkerte van ’n tak, ’n stomp, ’n skaduwee.
Uit hierdie hoek beleef Welgevonden nog steeds sy renaissance en kon dit twee Medici’s wees, hierdie twee, as mens skouermantels kon bydink, as jy hulle tongval kon verander, as sy nie op daardie oomblik met ’n krakie in haar stem uitgeroep het nie: “Fido!”
Agtien jaar verby jou fleur maak seningtaai waar soepelheid en lenigheid eers was, dit haal die musiek uit jou stem en op sekere toonhoogtes gee die buigsaamheid in en kraak dit “Fido! Fido!”. En wat eers miskien interessante banaliteit was, word blote banaliteit want, helaas, die Medici’s is al lankal dood.
En vir hom ook agtien jaar om bonkiger te word, agtien jaar om daardie breë skouers ’n bietjie krom te trek, om die blou van die oë witter te maak, om ruwe, jeugdige manlikheid van sy jeugdigheid te beroof en reeds te begin knaag aan die manlikheid self sodat eendag miskien net die ruheid sal oorbly om jou te herinner aan – presies wat? ’n Ruheid, dus, in sy stem as hy hom by haar voeg en sy “Fido! Fido! Fido!” die gewenste uitwerking het, want die dier verskyn nou op die kruin van die heuwel, skerp afgeteken teen die horison.
’n Oomblik aarsel hulle en kyk met bewondering getemper deur weemoed na die silhoeët: die gespitste houding, die snoet in die lug, die stert roerloos, die ingehoue konsentrasie wat in die stilte-voor-beweging gelaai is met meer beweging as beweging self, die spanningspunt net duskant voltooiing wat nog ietsie aan jou verbeelding oorlaat – ’n prent van Timomachos wat jou betrek in die verganklike oomblik. En dan, meteens, word die voorpoot gelig en verstyf die dier tot die katatoniese staat wat ’n kenmerk van sy ras is.
“Wat sou hy sien?” vra Jock Silberstein.
“Is hier dan nog patryse?” vra die “slank” Mrs Silberstein.
Hulle haas hulle, hand aan hand, teen die heuweltjie uit, verby die hond, en kyk dan effens bysiende heen en weer oor die grasperk. Jare gelede sou hulle nie so uitasem geword het nie en sou daar iets dartels in hulle bewegings gewees net. Hulle kyk op. In die verte roer die blare van populierbome met duisende diamante teen die lug. Dan gewaar hulle die plastiekswaan, opgeblase, vaalgrys, deur die wind gewaai van die fontein af, óór die struike, déúr die duike tot hier presies in die middel van die grasperk, netjies in posisie, geswolle en verweerd, met krom nek nimmereindigend nog steeds op reis.
“Stel jou voor,” sê die “slank” Mrs Silberstein.
“Ek was altyd onder die indruk dat hulle op reuk afgaan,” sê Jock Silberstein.
Dis iets wat hulle vir hulle vriende kan vertel. Die “slank” Mrs Silberstein streel die hond, wat onmiddellik ontspan, teen haar aansnuffel en dan vinnig wegskiet in die rigting van die fontein. Dis iets wat hulle altyd sal onthou: ’n staaltjie wat telkens voor die dag sal kom, die patryshond en die plastiekswaan wat immer by hulle sal bly, die stukkie kitsch op die kaggelrak van hulle herinnerings.
Aan die voet van Welgevonden se berg word die forellemeer deur klein lopies gevoed wat êrens tussen die kruine en nat heide begin. Om verspoeling te voorkom, het Jock Silberstein baie jare gelede opdammingsmuurtjies gebou met oorlope in die middel om soveel kuseks per uur deur te laat nadat die damme, wat die slik moet agterhou, gevul is. Dit was gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en omtrent twintig Italiaanse gevangenes moes verkieslik op artistieke wyse besig gehou word. Die eindproduk van maande se gewerskaf het hulle gemoedstoestand weerspieël; elke betonwal is aan die buitekant na die beeld van tragiese maskers gekap met die deurlope uitgehou in die vorm van druipende monde. Dit het die indruk gelaat van ’n reeks reusagtige drakekopspuiers ál teen die hang van die berg af tot in die meer. Daarna is dieselfde motief by die uitloop herhaal van waar nou ’n enkele stroom teen die heuwel af buitel oor Welgevonden se grasperke tot by die fontein. Die fontein, amper ’n meer op sigself, is oortrek met waterlelies, omring deur marmerbeelde en bevolk met plastiekswane. Dit dien werklik as ’n gekamoefleerde reservoir vir al die waterinstallasies op die boerderybedryf, maar dit was nog altyd die beleid op Welgevonden om die funksionele agter ’n estetiese uiterlike weg te steek.
Met verloop van tyd het groen mos die maskers bedek en het allerhande kleure daarteen aangeslaan sodat hulle die indruk skep van iets wat eeue gelede aangebring is – soos beelde wat mens sou verwag om teen die hange van Mediterreense berge aan te tref. Meestentyds vloei die stroompies rustig en kabbelend en dan kwyl die maskers ’n deurskynende rooi bergwater; maar as dit so pas gereën het, soos nou, dan spuug elkeen ’n skuimbelaaide rooi stroom die lug in.
Gedurende die dag blink die son teen die maskers en bewe hulle wasig in lugspieëlings; skemertyd gryns hulle somber en vervul jou met ’n gevoel van naderende onheil; in die nag is jy bewus van die maskers alhoewel jy hulle nie kan sien nie. Hulle het met die jare baie verweerd geraak en is nooit herstel nie: hiér is ’n neus af, dáár is ’n haaslip waardeur die waters syfer. Maar daar is só baie geboue en bosse op Welgevonden dat dit soms dae of maande duur voordat jy die maskers die eerste keer oplet. Daarna kan jy hulle nie vergeet nie.
Op hierdie sonnige middag ná die reën is ’n patryshond in ’n malse bui besig om heen en weer oor die gras te jakker. In die verte kan sy baas en mies gesien word. Hy het vir hulle so pas ’n plastiekswaan aangewys wat van die fontein af weggewaai het. Hy het nou die fontein self bereik en iets het sy aandag getrek.
Quid?
“Daar is iets by die fontein,” sê Jock Silberstein toe die hond die tweede keer bewegingloos word.
Die “slank” Mrs Silberstein bring haar hand na haar mond. “Die fontein …” sê sy en draai haar gesig na die warnet van geboue daar vér onder, asof sy in die doolhowe van Welgevonden gerusstelling sal vind.
“Dis seker ’n plastiekswaan,” sê Jock Silberstein, onrustig met die wete dat patrone herhaal word, dat elke gebeurtenis neig om ’n eggo te vorm na sy eie beeld.
’n Enkele oomblik bly hulle só, word hulle stil van buite: die tablo van ’n hond in sierlik duidende lyn gerig op die onsigbare iets in die fontein, en van ’n tussenganger in die vorm van ’n verdeelde man met sy arms na weerskante gestrek om die gespanne hond te verbind met ’n ontwykende vrou. Die spanning bereik ’n hoogtepunt, krummel ineen en ontbind in die langsame beweging van die vrou wat wég en áf beweeg, na die ronde gewels, die vlammende mure, die eindelose vensters en die komplekse binneplase wat beskerming bied teen ’n gevaarlike eenvoud. Die wind speel liggies met haar modieuse rok, dit breek die strengheid van haute couture tot die ylheid van ’n Botticelli-kleed, dit kreukel en fladder om haar in grasieuse vlug. Die middeljarige Mrs Silberstein word jeugdiger met toenemende afstand; sy verslank in die verte tot die slank Mrs Silberstein van agtien jaar gelede.
“Dis ’n plastiékswaan,” herhaal Jock Silberstein en dan keer hy hom na die hond wat nog steeds in ’n wagtende posisie roerloos bly. Voor hom roer die fontein in ’n gedurige draaikolk namate die water onder die lelieblare aanhoudend deur betonpype op die bodem weggraviteer. Die swaan se dubbelgangers – wit, vaalgrys en opgeblase – dobber rigtingloos rond. Op ’n