Droomberig. Luné Olivier. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Luné Olivier
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624086659
Скачать книгу
gebid het. Eers later het ek besef in watter gevaar sy lewe heel dikwels was. Dit was nou wel sy passie, maar sjoe, jy kry joernaliste en dan kry jy joer-na-lís-te. Soos my pa.” Sy skep asem. “Altyd op die randjie van gevaar om die waarheid na die wêreld te bring.”

      “Dalk is dit hoekom, jy weet … dalk kon hy daardie druk nie meer gehanteer het nie?”

      “Wie sal weet?” antwoord Anelia, maar sy weet. Haar pa sou nóóit selfdood gepleeg het nie – daarvoor het hy die lewe, sy gesin en sy werk te lief gehad. “Ons kos word koud,” verander sy die onderwerp en vat ’n hap van haar worsie.

      Hulle kuier verder lekker saam sonder om weer te verwys na enige van die mans in hul lewes. Mercia groet haar met ’n stewige drukkie voordat sy, volgens haar, verder gaan “opmaak” met Shawn.

      Anelia het haar lus vir inkopies verloor en keer eerder terug huis toe om te gaan afstof, vloere mop, badkamer skrop en wasgoed was – na vanoggend se ete het sy baie om oor na te dink, en die alledaagse takies bring vir haar ’n mate van kalmte en berusting.

      Teen vieruur is Anelia lyfseer gewerk. Haar meenthuis is van hoek tot kant silwerskoon. Elke kas is afgestof, tot die lysies teen die vloere is afgevee. Daar is nie ’n vuil rak of tafel te siene nie. Selfs haar DVD-versameling is skoongemaak en die stort se drein geskrop.

      Anelia bekyk die vertrek om haar. Haar blyplek kan dalk skoon wees, maar haar gedagtegang is steeds ’n warboel van emosies en onsekerhede.

      Van die begin van hul verhouding af ontbreek die passie tussen haar en Zack. Ja, Zack gedra hom reeds soos iemand wat deur ’n midlife-crisis gaan, maar hy het haar nog altyd op ’n troontjie geplaas.

      Onder die stort dink sy weer aan die kuier die oggend saam met Mercia. Kan ’n verhouding regtig so allesoorheersend soos Mercia en Shawn s’n wees? Altyd aan die stry, maar met soveel liefde, vonk en vuur. Haar en Zack se verhouding kan eenvoudig nie in dieselfde kategorie geplaas word nie.

      Eintlik kan hul verhouding in geen kategorie geplaas word nie, besef sy hartseer. Voor sy vriende is Zack altyd katjie van die baan en irriteer hy haar eintlik grensloos. Maar wanneer dit net hulle twee is, voel dit vir Anelia asof hulle eintlik alleen en eensaam in die wêreld is. Selfs wanneer hulle oor alles en nog wat gesels en allerlei toekomsplanne saam beraam. Daardie “tiek” waarvan Mercia praat, ontbreek eenvoudig steeds. Selfs Zack se soene is beheers en hou geen belofte van passie in nie. En dit alles laat haar nou nie eintlik begeerlik voel nie.

      Dit bly vir haar ’n probleem dat Mercia nie van hom hou nie, en al sê haar ma niks nie, vermoed Anelia sy is ook nie mal oor hom nie. Is sy dan die enigste een wat Zack se mooi eienskappe raaksien? Die feit dat hy gedrewe, ferm en doelgerig is, is tog ’n pluspunt.

      Sjoe, daardie droom van vanoggend! Die donkerkopman spook tydig en ontydig by haar. Sy bruingebrande arms klem haar lyf teen hom vas sodat hul liggame soos ’n legkaart inmekaar pas. Maar dis onmoontlik. So ’n droomman kan seer sekerlik tog nie werklik bestaan nie? “Tsskk,” klik sy haar tong. Malligheid!

      Sy druk haar kop onder die gietende water en was haar hare driftig. ’n Verhouding soos wat sy en Zack het, is veilig en ongekompliseerd. En dit is hoe sy haar lewe verkies.

      Sondagoggend staan Anelia lui op. Sy weet nie wat om met haarself aan te vang nie. Die huis is klaar skoon na gister se malle geskrop.

      Sy gaan so min moontlik doen. Sy sal eers stort en dan die gemaklikste klere aantrek. Daar is ’n roman wat al vier weke lank in die boekrak staan en wag om gelees te word. Dan gaan sy ’n pizza laat aflewer en vanaand wil sy na ’n romantiese fliek op die televisie kyk, want sy het beslis bietjie romanse in haar lewe nodig. Iemand wat haar van haar voete af sal swiep.

      Die karakters in die boek se liefde is in volle blom en haar pizza reeds halfgeëet toe haar foon lui. Zack!

      “Praat asseblief gou, dis ’n ongeleë tyd,” sê Anelia kortaf sonder om te groet, nog steeds kwaad vir hom. Na verlede naweek se moles bel Zack nog elke dag, daarom dat sy maar eerder antwoord, anders gaan hy haar in elk geval net aanhou pes.

      “Lyk my dit is altyd ongeleë wanneer ek bel. Jy antwoord nooit meer my oproepe nie.”

      “Ek is besig by die werk, Zack. En eerlikwaar, ek is nog kwaad vir jou oor die fiasko laas Saterdag. Jy kan nie elke keer wat jy saam met jou vriende is so handuit ruk nie.” Sy kan presies hoor hoe suur en preuts sy klink.

      “Ag, prinses, ek het so min tyd omdat die werk my so besig hou. Dit was ’n geleentheid om saam met jou te ontspan. Ek het so na jou verlang.”

      Anelia bly eerder stil voordat sy iets sê wat kon gebly het.

      “Geniet jou dag, prinses. Ek bel jou in die week sodat ons my nuwe kontrak kan vier.”

      Anelia onthou nou dat hy op pad na die braai so iets genoem het. Zack is ’n senior vennoot in ’n maatskappy wat op die oop mark met aandele spekuleer. Sy nuutste triomf is die kontrak met Western Werne wat hy losgeslaan het, en dié firma is invloedryk. Hy leef vir sy werk en is ambisieus en droom daarvan om eendag baie geld te hê, wat seker ook ’n goeie eienskap is.

      “Tot siens,” groet Anelia en druk die foon dood. Kan die man nie ’n slag dink en twee en twee bymekaar sit nie? Maar hieroor gaan sy haar beslis nie vandag kwel nie. Sy vou die boek weer oop en lees verder, maar word later die middag onderbreek toe Zack weer bel.

      Sy ignoreer die oproep en leun terug teen die bank.

      Die res van die dag verloop soos wat sy beplan het. Sy klim die aand kommervry in haar warm bed.

      2

      Maandagoggend maak Anelia vroeg reeds reg vir die insetsel wat hulle gaan skiet. Dit is die jaarlikse Decorex-uitstalling by die konferensiesentrum en hoewel sy elke jaar dreig om te gaan, val daar gereeld iets voor.

      Sy is steeds vies vir Zack en het nog nie weer na gister se telefoonoproepe van hom gehoor nie. Sy grimeer met sorg en trek ’n gemaklike broekpakkie aan. Met een laaste blik in die spieël, gryp sy haar motorsleutel sodat sy Lewis, haar kameraman vir die dag, by die kantoor kan ontmoet.

      Dis lekker gesellig by die ateljee waar almal met koffiebekers rondstaan. Sy gaan maak gou ’n draai by Donovan, die ateljee se stilis, net om haar grimering af te rond.

      Toe haas sy haar na die koffie-area.

      Lewis kom reeds na haar toe aangestap met sy kamerasak oor sy skouer. “Ek is reg as jy is,” sê hy sonder om te groet, soos sy hom al leer ken het. Spaarsamig met woorde.

      Anelia knik net haar kop.

      “Dit lyk nie of jy baie lus is vir die affêre nie?” gesels sy op pad na die skou.

      “Nee wat, huisgoed is mos nou nie ’n man se ding nie. Hulle kan gerus volgende keer een van die vroue saam met jou stuur.”

      Allesbehalwe entoesiasties.

      Gelukkig demp dit nie Anelia se opwinding nie. Sy en Lewis stem dadelik saam dat hulle so gou moontlik ’n geskikte plek moet kry om die toerusting op te stel.

      Kort na hul eerste onderhoud, lui Anelia se selfoon. “Middag, Anelia, dis Bernice.”

      “Hallo, daar. Het jy al klaar ’n volgende storie wat ons moet doen?” groet Anelia vriendelik.

      “Dis eers vir môre, maar sal jy asseblief later, wanneer jy terug by die ateljee is, net ’n draai by my kom maak. Geen haas nie, hoor, kuier gerus eers bietjie rond by die ekspo. Ek sien jou later.”

      Skaars twee ure later is hulle klaar met die oorsig: onderhoude gevoer, interessante sjefs in aksie verfilm en ook die nuutste tendense in interieur op film vasgelê.

      “Ek dink ons het goeie beeldmateriaal,” spog Lewis ingenome terwyl hy op die klein kameraskerm na die ongeredigeerde video kyk.

      “Ja, ek stem saam. Jy is seker nie lus om ’n bietjie saam met my rond te loop nie? Om die skou sonder ’n kamera te geniet nie?” stel Anelia voor.

      Lewis