Geleidelik word sy oë gewoond aan die donker. Hy sien stoele. Rye en rye stoele, styf teen mekaar gepak. ’n Balkon bokant sy kop. Loges. En heel voor ’n orkeskuip met ’n kleinerige verhoog daaragter. Gabriel moet keer of hy bars uit van die lag. ’n Teater! Lekker. Nou is dit sy beurt om vir drama te sorg.
Suutjies sluip hy in die paadjie af. Al kan hy nog niemand sien nie, klink die stemme van iewers naby die verhoog op. Daar gekom, steek hy vas. Die stemme is harder, maar die verhoog is leeg. Of wag, aan elke kant is daar ’n deur. Seker kleedkamers. ’n Flou liggie skyn uit die regterkantse een.
Het hulle!
Ingenome vryf Gabriel sy handpalms teen mekaar. Hy systap die orkeskuip, druk op die verhoog en wip homself na bo. Op sy tone sluip hy tot by die deur en loer om die kosyn. Ha, nes hy gedink het! Drie figure – toegerol in grys duffeljasse – koek om ’n brandende lantern voor hulle op die vloer. Hulle skaduwees dans teen die afgeskilferde mure. Gmf, regte samesweerders.
Gabriel pers sy lippe op mekaar. Dis tyd vir die laaste bedryf. Hopelik sal die element van verrassing en sy vreesaanjaende weerwolfbrul die res doen. Hy gooi sy arms in die lug en spring vorentoe. “Het julle, julle smeerlappe!” bulder hy, maar toe hy sy vriende se name wil uitskree, ontplof dit in sy kop:
Hy kan nie hulle name onthou nie. Nie een enkele naam nie.
Erger. Hy kan niks onthou nie. Niks. Nie eens wie hyself is nie. Ja, ja, hy is Gabriel van Amsterdam, een van vier boesemvriende wat mekaar gedurig poetse bak. Maar dis al. Die res van sy lewe is so leeg soos die teater se stowwerige stoele.
Die volgende oomblik slaan Gabriel se asem amper weg toe die drie figure van die lantern wegdraai en omkyk.
◊ 2 ◊
Whaaa!” Gabriel se gil weergalm teen die mure van die verlate teater. Hy spring agteruit, maar sy voet haak aan ’n vrot vloerplank en hy beland met ’n hik op sy agterstewe. “Whaaa!” gil hy weer terwyl hy op sy boude en elmboë agteruitskuif oor die verhoog, sy oë vasgepen op die kleedkamer se oop deur.
Skielik gee die vloer pad onder hom. Die orkeskuip! val dit hom by toe hy in ’n walm stof neerslaan. Dronkerig skarrel hy tot in ’n hoekie. Iets skerps steek in sy rug. ’n Stukkende musiekstaander. Nie veel van ’n wapen nie, maar darem.
Met sy rug styf teen die wand van die orkeskuip en die musiekstaander soos ’n swaard voor hom, luister hy.
Maar niks. Net die wind wat buite voor die vensters huil en die ou teater wat klink of dit asemhaal. In en uit. In en uit.
Gabriel skep moed. Hy het hom seker net verbeel.
’n Vloerplank kraak. Hy gryp die staander vaster. Sweet drup in sy nek af. Bokant hom bewe ’n liggie. Voete skuifel nader. Die lanternlig glip oor die rand van die orkeskuip. Daar is ’n beweging en Gabriel kyk vas in ’n grynsende kopbeen. Nee, wat makeer hom? Dis nie ’n kopbeen nie, dis iets ergers. Gelaatstrekke bibber in fokus. Poeierwit wange … bloederige lippe. En slagtande.
Vampierslagtande.
’n Tweede gesig verskyn. ’n Vrou hierdie keer. Bleker as ’n doodslaken, met hol gate waar haar oë moet wees.
En ’n derde! Vol plooie met grys takhare wat onder ’n gepunte swart heksehoed uitpeul. Sy staar na Gabriel met dooie, melkerige oë.
Gabriel se botande sny in sy onderlip om te keer dat hy soos ’n baba gil.
Met die agterkant van sy hand vee die vampier oor sy lippe. Langs hom gee die heks ’n aamborstige hoesie en krap aan die moesie op haar ken.
“Wie’s jy?” Die spook se rasperstem klink soos die winterwind wat deur ’n verlate foyer eggo.
Gabriel se tande klapper so, hy probeer nie eens antwoord nie.
Skielik vee die vampier oor sy ken. Tot Gabriel se verbasing gooi hy sy kop agteroor en begin lag. “Wha-ha-ha, die stomme seun! G’n wonder hy lyk so verskrik nie.” Met een beweging van sy hand trek hy ’n masker van sy kop af en ’n spits gesig met ’n bokbaardjie verskyn. Van onder ruie grys wenkbroue glimlag twee leiblou oë in Gabriel s’n.
Die heks gee ’n aangeplakte kekkellaggie en trek ook haar masker af. Gabriel smoor ’n uitroep toe hy vaskyk in die pienk gesig van ’n ronde man met ’n kuiltjie in sy wang.
Die man knipoog vir die “vampier”. “Dit was nogal lekker om weer vir ’n slag voor ’n gehoor te speel, nie waar nie, Elian? Wys jou net ons hét dit nog!”
Die “spook” buk en steek haar hand uit. “Kom seun, jy kan nie heelnag net so daar sit nie. Vertel ons wat jy hier soek.” ’n Harige manshand vou om Gabriel se boarm. Hy wil nog rem, maar die hand pluk hom boontoe en voor hy mooi weet wat, lê hy op die verhoog tussen drie paar gestewelde voete.
Toe Gabriel ná ’n paar sekondes nog nie ’n geluid kan uitkry nie, beduie die “vampier” wat as Elian aangespreek is, met sy kop vir die ronde man wat steeds met die heksmasker in sy hand staan. “As ek reg onthou, is daar nog ’n slukkie van ons ou medisyne onder die los vloerplank, Bartel.”
Bartel knik en verdwyn blaas-blaas oor die verhoog. Gou waggel hy terug met ’n bottel waarvan die etiket lees: Old cabin still whiskey. “Hier.” Sy asem fluit. Hy draai die prop af en hou dit uit na Gabriel.
Die “spook” maak keel skoon. “Dink julle dis die regte ding?” rammel sy diep stem. “Die seun is skaars veertien.”
“Kom nou, Kasper,” keer Elian. “Jy kan mos sien hy ly aan skok.” Hy lig sy elmboog en beduie Gabriel moet sluk.
Gabriel huiwer.
Sy hele lyf bewe en sy kop is net so deurmekaar. Hy lig die bottel en ’n sluk van die drank glip in sy keel af. “Ugh!” Hy stik en spoeg, terwyl die whiskey ’n rooiwarm pad tot in sy maag skroei.
“Hônou!” Elian spring vorentoe en gryp na die bottel voor dit uit Gabriel se hand val. Sy adamsappel beweeg op en af terwyl hy verlangend daarna kyk, maar hy sit dit op die vloer langs hom neer. “Beter?” vra hy.
Gabriel knik, al is hy nie seker of dit die waarheid is nie. Ten minste klap sy tande nie meer so nie. “W-wie is julle?” Die vraag stotter oor sy lippe.
Elian klik sy tong en maak ’n effense buiging. “Ek vra om verskoning vir ons swak maniere.” Met ’n swaai van sy arm sluit hy homself en sy vriende in. “Elian, Bartel en Kasper tot jou diens. Voormalige lede van die garnisoen en befaamd vir ons debuut in die opvoering van De Papegaai. 5 Maart 1803. Dit was onvergeetlik, sê ek jou. Onvergeetlik!”
“Genoeg, Elian!” Kasper sak op sy hurke af. Hy het die masker afgehaal en druk sy bebaarde gesig teen Gabriel s’n. “As ek mag vra, wie’s jy? En wat soek jy hierdie tyd van die nag in Di Schouwburg?”
Di Schouwburg? Gabriel deins terug vir die twakasem wat in sy neusgate opwalm en skud sy kop. Daarvan het hy nog nooit gehoor nie.
“Toenou,” kom Bartel tussenin. “Jy lyk nie soos ’n droster nie. Ontmoet jy ’n meisie hier?” Hy proes, haal ’n sakdoek uit en druk-druk daarmee teen sy mond. “Jy kan ons maar vertel. Ons bewaar geheime soos die graf.”
“Nee … ek …” Gabriel lek oor sy lippe. “Ek weet nie!”
Elian frons. “Jy weet nie? Hoe bedoel jy, jy wéét nie?”
Gabriel kan dit nie meer hou nie. “Ek weet niks!” gil hy. “Ek weet nie waar ek is nie. Ek weet nie hoe ek hier kom nie. En ek weet ook nie wie ek is nie. So daar het julle dit!” Hy begin weer bewe en vou sy mantel stywer om sy skouers.
’n Swaar stilte sak soos ’n fluweelgordyn oor die verhoog. “Jy weet nie wat jou naam is nie?” vra Elian ná ’n rukkie.
“My naam is Gabriel. Gabriel … Dumonsceau,” kom die van skielik vanself oor sy lippe.