Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ettie Bierman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624084549
Скачать книгу
lewensredders?”

      “Of branderplankryers … Daai hunks op die strand. Is daar nie een by wie jy ’n pass kan maak nie? Een wat jou uit jou armoede en verveling sal verlos?”

      “Ek kom nie juis op die strand nie.”

      “Ja, omdat jy nie van hunks en spierpaleise hou nie. Sê mos jy vertrou nie ’n mooi man nie. Verkies mos sulke ondervoede bleeksiele wat net oor Confucius en Goethe kan filosofeer. Ek weet nie wáár jy uitval nie. G’n mens sal glo ek en jy het dieselfde gene nie. Besit jy darem ’n bikini?”

      “Nee.”

      Vita sug. “Jy verdien nie om in Durbs met sy Goue Myl te woon nie.”

      “Ek weet. Maar ek is nou hier, en ek kan nie blindelings oppak en trek nie. Wat doen ek met my meubels?”

      “Is daar nie vakatures by ander koerante of tydskrifte nie?”

      “Niks, ek het gekyk.”

      “Skryf ’n boek wat die Hertzogprys wen, dan kan jy aftree en doen wat jy wil.”

      “Wens ek kon, maar die M-Netprys betaal eintlik meer. Dalk moet ek samoesas op Kingsmead gaan verkoop, of bunny chows op die strand. Enigiets is beter as om weer vir Arno du Plessis se dwalende hande te moet vlug.”

      “Ek is ernstig: jy het nog altyd daaroor gedroom om eendag ’n boek te skryf. Jy het die talent, die verbeelding en die taalkennis. Die dissipline en alles wat nodig is. Nou is jou kans. Jy sal nooit weet as jy nie probeer nie.”

      Iets roer in Carmia se binneste. ’n Fladdering van opwinding. Maar sy is skepties. “Ek sal nie weet waar om te begin nie.”

      “Dis maklik: begin by die begin, skryf tot jy by die einde kom en tik ’n punt.”

      “Jy laat alles altyd so maklik klink! Gaan sit net voor die rekenaar en laat waai …”

      “Hulle sê skryf is 99% sweet en 1% weet.”

      “Dis daardie 1% wat my pla.”

      “Jy het mos al ’n kortverhaal geskryf wat gepubliseer is. Dit wys jou jy kan.”

      “Dit was lank gelede en ’n gelukskoot. Dalk het die keurder my jammer gekry ná my tiende probeerslag, of wou hy maar net van my ontslae raak.”

      “Carrie, ek’s lief vir jou, maar soms wil ek jou skud. Moenie so negatief wees nie! Hou op om te dink jy’s lelik en dom. Jy het massas talente. Haal hulle uit, stof hulle af en woeker met hulle. Skryf daai boek.”

      “Ek kan nie. Dis baie moeiliker as ’n kortverhaal. Ek het nie ’n benul hoe om so ’n enorme stuk werk aan te pak nie.”

      Vita druk skynbaar die gehoorbuis toe en praat met iemand op die agtergrond. ’n Manstem antwoord. Dan kom sy terug na haar suster toe. “Hierdie oproep kos jou ’n fortuin. Ek het nog tonne om kwyt te raak en jou mee te breinspoel, maar my kombuis staan vol honger mans wat ontbyt soek. Ek maak gou emma necks, dan bel ek jou terug, dan kan ons rustig gesels.”

      Carmia het vergeet dis nou oggend in Aussieland. “Emma necks? Het die skape deesdae name? Of is dit hoendernekke?”

      Vita lag dawerend. “Ek moet daai een vir Andy vertel! Nee, dis Strine – ’n afkorting vir ‘Australian’ – vir ‘ham and eggs’. Die Aussies praat nie van ‘bacon’ nie, hulle noem dit ‘ham’, soos die Amerikaners. Ek het hulle geleer om poetoepap daarby te eet, met ’n tamatie-sheba bo-oor geskep. Ek moet wikkel! Gaan maak vir jou koffie of kyk TV. Ek bel jou terug, so oor ’n uur.”

      2

      Carmia is in die bed met ’n boek toe die foon eindelik weer lui, amper elfuur.

      “Jammer, dit het bietjie langer geduur,” maak Vita verskoning. “Daar was ’n dingo by die lammers. Groot konsternasie! Ek het ook agternagehardloop om te gaan kyk. Die ding lyk soos ’n mak hond, net groter en meer aggressief. Waar was ons gewees? O ja, by Margo Vermeulen …”

      Vita het nog altyd die manier gehad om rond en bont te spring en dan te verwag jy moet byhou by wat in haar kop aangaan. Carmia frons onbegrypend. “Wie?”

      “Die bekende ontspanningskryfster. Jy weet mos van Margo Vermeulen? Sy skryf liefdesverhale en reisverhale.”

      “Ja, natuurlik, almal weet van Margo. Maar hoe het jy by háár uitgekom?”

      “Ek ken haar, onthou jy dan nie? Ek het ’n tyd lank met haar kleinseun uitgegaan. Deneys Vermeulen. Boeing-kaptein en ’n beeld van ’n mansmens. So ’n sexy smoocher, jy wil hom net gryp en kamer toe sleep. Maar so befoeterd jy kan met hom ploeg. Dwars en dominerend. Toe ons uitmekaar is, het dit op ’n rusie uitgeloop wat my ’n week lank migraine gegee het. Hy’s moeilik, maar sy ouma is ’n engel, die totale teenoorgestelde van hom.”

      “Ek onthou jy en Deneys was nogal ernstig. Jy’t gesê hy’s jou droomman. Tot en met die groot rusie. Waaroor was dit nou eintlik?”

      Vita antwoord vaag: “’n Simpel misverstand, toe ruk hy hom op. Dis tipies hy – ’n droom as jy dieselfde deuntjie as hy hoor, maar ’n nagmerrie as daar ’n vals noot kom.”

      “Ek dog hy is Margo Vermeulen se seun?”

      “Nee, kleinseun. Sy ouers is dood in ’n motorongeluk toe hy klein was, en Margo het hom grootgemaak. Sy is versot op hom, en dit moet ek toegee: hy is erg oor haar ook. Baie liefdevol en beskermend. Die Vermeulens is van KwaZulu-Natal se uitgelese aristokrasie, die sogenaamde suikerbaronne. Hulle woon noord van Durban, naby Ballito, op ’n spoglandgoed genaamd Skamanga. Een of ander Zoeloewoord, ek weet nie wat dit beteken nie.”

      “Dit beteken wildepiesang. Ek het die naam in ’n tuinboek teëgekom. Maar hoekom op aarde het jy nou aan Margo Vermeulen gedink?”

      “Omdat sy jou kan touwys maak oor hoe om ’n boek aan te pak,” sê Vita selfvoldaan. “Die kwaaivriendskap is tussen my en Deneys, nie tussen my en Margo nie. Ons het nog steeds kontak. Laas het sy gekla die artritis keil haar op. Haar vingers trek krom en is party dae só pynlik dat sy glad nie kan tik nie. Sy werk op ’n bandmasjien en die bure se dogter het haar manuskrip vir haar getik, maar dié is nou terug varsity toe en Margo sit gestrand. Sy het dringend hulp nodig – ’n permanente assistent of sekretaresse, en iemand met kennis van taal en grammatika. Die buurmeisietjie swot glo B.Com. en is beter met syfers. Sy is half Engels en haar spelling is beroerd. Margo moes agterna weer die manuskrip deurgaan om al die foute reg te maak. Dis tydrowend en dubbele moeite.”

      Vita skep ’n slag asem, maar gaan dan onstuitbaar voort: “Die jop is nommerpas vir jou! En dit kom asof dit gestuur is. Terwyl ek besig was met die pot pap het ek van Margo onthou en besef julle twee is ideaal vir mekaar. Jy sal mal wees oor haar – sy is wat Ma sal noem ’n lady. Meer as honderd boeke op haar kerfstok. Jy kan by haar kers opsteek oor waar om te begin en te eindig, wie soen vir wie, wie baklei met wie en wie trou op die end met wie. Maklik!”

      “Hokaai, stop die lorrie!” keer Carmia. “Wie sê sy het nie intussen dalk al iemand gekry nie?”

      “Sy het nie.” ’n Tevrede grinnik slaan in Vita se stem deur.

      “Hoe weet jy?” vra Carmia agterdogtig.

      “Hoe ken jy my, lief-sussie?” vra Vita vroom. “Ek sit nie en hanna-hanna nie. Die lewe is te kort – as ek ’n ding wil doen, dan doen ek dit. Ek het haar gebel so tussen die pap en die dingo deur. Sy was vreeslik in haar noppies en kan nie wag om jou te ontmoet nie. Ek het belowe jy sal haar môre bel.”

      Carmia is ontsteld. “Dis te gou! Ek het nog nie eens finaal by die koerant bedank nie.”

      “Vir alle doeleindes hét jy – skriftelik én geestelik. Die SeeSterretjie het geval, in ’n doodloopstraat. Jy sal nooit bevordering kry nie, en volgende keer kry daardie seksmaniak jou in een van die fotograwe se donkerkamer beet. Moenie nou kleinkop trek nie, Carrie. Hierdie is ’n kans in ’n leeftyd, op ’n skinkbord vir jou gegee.