Droomkrans se engelman. Moryn Hanzen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Moryn Hanzen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085508
Скачать книгу
word die kapokkie se skril stemmetjie stil.

      Dia voel of sy weer normaal kan dink. Sy kan nie net hier staan nie, laat sy minstens van die goed in haar hande ontslae raak voor sy hom probéér keer. ’n Paar keer skarrel sy heen en weer. Sy maak seker sy dra die twee sakke met melk een op ’n slag kombuis toe en stal alles dan in ’n ry op die tafel uit. Dáár. Laat hy gerus sien wat sy van sy goeie raad dink. Gmf!

      Toe hy self nog ’n keer met arms en hande vol pakkies by die kombuis instap, bars hy hardop uit van die lag sodat haar binnegoed skoon deurmekaar en onderstebo rondtuimel.

      Dia, wat stadig omgedraai en probeer vasstel het waar op die betreklik leë kombuiskaste alles gebêre kan word, is verbaas om te sien hoe Han se hele gelaat verander, hoe hy skielik selfs nog aantrekliker lyk wanneer hy lag.

      “Wat is miskien so snaaks?” Die kortaf vraag herstel glad nie die chaos wat hy binne-in haar veroorsaak soos sy vurig gehoop het nie.

      Han se lag droog summier op sodat sy afwagtend en skielik onseker op haar onderlip byt. Hy verminder die afstand tussen hulle met enkele groot treë, sy oë skiet skielik klein geelgroen vlammetjies in hare.

      “Juffrou Malan, as jy jou soos ’n kind wil gedra, moet asseblief nie toelaat dat ek in jou pad staan nie.” Hy vat haar ken liggies tussen sy duim en wysvinger vas sodat ’n rilling teen haar ruggraat afgly en hoendervleis oor haar arms uitslaan.

      Hy is so naby, sy kan elke afsonderlike donker ooghaar sien wat sy oë omraam.

      Op ’n laer stemtoon gaan hy voort: “Maar as jy te hardkoppig is om goedbedoelde raad aan te neem, gaan dit my bloot langer neem om jou hier rond touwys te maak.”

      Dia bly staan êrens tussen skuins kwaad en verleë, terwyl Han sonder ’n verdere woord by die kombuisdeur uitstap. Die perdepote klink al verder tot sy hulle nie meer hoor nie. Die gemmerkat kom skuur miaauend teen haar bene.

      Eers dan kom sy in beweging.

      “Jy het maar net gekry waarna jy gesoek het, Dia.” Sy skud haar kop. Dalk is nóú ’n baie goeie tyd om sommer haar gewoonte ook te laat staan om so met haarself te praat. Die heuwel langs die huis kan haar maar bedek as hy ooit hoor wat alles deur haar gedagtes gegaan het sedert sy op Zoetstroom en Droomkrans beland het.

      Vlugtig soek sy na iets om vir die kat te gee. Nie een van die leë koskaste lewer katkos op nie en sy trek een van die boksies melk nader asof dit ’n ton weeg. ’n Poedingbakkie met ’n getjipte randjie bo uit ’n kas sal maar moet diens doen.

      Sy skink dit vol en sit dit langs die wasbak neer.

      Voor sy die enkele inkopies kan wegpak, val dit haar by dat daar nog ’n hele paar goed in die motor is en stap sy heen en weer tot alles in die kombuis rondstaan. Sy gaan trek die Mini in die motorhuis en stap terug huis toe.

      Die kat se melkbakkie is leeg en hy kyk met groot, hoopvolle groen oë op na Dia.

      Han se oë is byna presies dieselfde skakering. Deksels! Sal alles haar nou skielik herinner aan hom aan wie sy reeds die minste wil dink?

      Tot die kat se genot, word die bakkie hervul. Terwyl sy heen en weer skarrel om bêreplekke vir haar kombuisware te kry, sien sy hoe hy nog ’n keer die bakkie ledig en hom dan baie tevrede begin skoonlek.

      In die ruim oostelike vleuel van die huis staan Dia terug om die deurmekaarspul van goed wat sy in die middel van die hoofslaapkamer se vloer neergeplak het, in oënskou te neem. Die chaos wat steeds kort-kort binne-in haar na bo kolk soos die warrelwind wat sy op Zoetstroom gesien het, kry sy egter net met groot moeite onderdruk. Sy draai na die glasdeur. Dit behoort soggens vir ’n lieflike uitsig te sorg wanneer die son se eerste strale oor die veld opkom.

      Na ’n bietjie speurwerk kon sy vasstel dat oom Petoors en die steeds gesiglose Jans in die westelike vleuel se onderste punt woon. Koulik soos wat sy is, weet sy dit sal nie wys wees om by een van die twee oop kamers daar in te trek nie. Daar sal geen sonlig in die namiddag wees nie en in die winter sal dit saans yskoud wees omdat dit in die skadukant van die heuwel gebou is.

      Oom Petoors se kamer is sonder twyfel die een wat die deurmekaarste is met die gereedskapkas argeloos in die middel van die vloer. ’n Botteltjie hoesmedisyne, ’n tang, ’n stukkie draad, vier skroewe en ’n hand vol spykers van verskillende lengtes op sy reeds oorvol bedkassie verklap verder dat hy daar slaap.

      Jans s’n is veel ordeliker, met ’n boekrak teen die een muur en ’n lessenaar en rekenaar teen die ander een. ’n Gemakstoel voor die groot plasmaskerm met talle Playstation-speletjies, DVD’s, CD’s, asook ’n klankstelsel wat seker tot by die hek gehoor sal kan word, dui verder daarop dat dit beslis ’n jong man se kamer is.

      ’n Vertrekkie langs oom Petoors se kamer staan byna vol groot batterye. Waarvoor op aarde dit daar is, sal sy maar later probeer uitvind.

      Sy het haar terstond na die oostelike vleuel gehaas en ’n lieflike kamer aangetref waarin al haar besittings nou rondstaan en wag om georden te word.

      Moeg en moedeloos, gaan sit Dia in die middel van die kamervloer. Die dag se indrukke laat hulle nie so maklik afskud nie. Die lang, eensame rit vanaf Pretoria, Die Spens se mense en … Han.

      Hom kan sy beswaarlik in dieselfde asem as die ander noem. Wat moet sy van sy ongevraagde hulp dink, na die afsydige beeld wat tant Souf en veral oom Petoors van hom geskets het?

      Is sy hulp toevallig? Of is dit blote beleefde buurmanskap wat mettertyd sal verflou na ’n kopknik hier en daar?

      En wat wás dit wat daar in die kombuis met haar gebeur het toe hy aan haar geraak het? Die byna fisiek voelbare pyltjies wat sy hele liggaam na hare toe oorgeskiet het toe hy so na aan haar gaan staan het? Sy het nie geweet so iets is eens moontlik nie. Voor sy dit vroeër vandag self ervaar het, sou sy gedink het dis iets wat skrywers van liriese liefdesverhale aan hul lesers probeer opdis.

      Allesbehalwe! Selfs wanneer sy nou weer daaraan terugdink, is die intensiteit daarvan byna onuithoudbaar.

      “O verfdeksels!” Sê nou maar hy het dit ook gevoel?

      Haar uitroep laat dwaal haar aandag vir ’n paar sekondes na haar vriendin Nadia en die dag toe hulle in Dia se kunswinkel ontmoet het.

      “Verfdeksels!” is Nadia se gunsteling-sêding wanneer sy verbaas of vies is. Dia mis haar, maar sien nog nie kans om weer kontak te maak nie.

      Sy blaas haar kuif uit haar oë en fokus doelbewus op die wanorde rondom haar. Waar sal sy tog begin om orde te skep?

      Die groot hemelbed is iets waarvoor sy vir dié Siska van wie sy nog net gehoor het, oneindig dankbaar is. Nie alleen is dit iets wat sy nog altyd begeer het nie, dit verseker ook hierdie moeë liggaam van haar van ’n heerlike, salige nagrus.

      Vir ’n oomblik lê sy terug teen haar kopkussing wat ook tydelik op die vloer neergeplak is. Sy maak haar oë toe en sukkel om Han se tergende en dan weer ernstige oë uit haar geheue te probeer wis. Het sy nou meteens hier op Droomkrans in ’n bakvissie ontaard, of wat? Elke klein herinnering aan Han, van die oomblik wat sy hom die eerste maal in Die Spens se deur gesien het, by die hek tot in die kombuis, loop soos louwarm heuning deur haar sterkste skanse.

      Gedagtes koggel, skiet klein vlammetjies van ongeduld, lag en terg haar onwillekeurig.

      Dia vlieg vinniger orent as wat sy gaan sit het en kom rats op haar voete. Sy het wel vele kilometers afgelê om hier te kom, maar die vet weet, sy sal nie vanaand in hierdie chaos tot ruste kan kom nie. Wat sy met die deurmekaarspul binne-in haar gemoed gaan maak, is ’n heel ander saak, maar sy moet dadelik iets doen om die kamer woonbaar te kry.

      ’n Geskarrel om elke item wat sy saamgepiekel het min of meer te kry waar dit hoort, hou Dia vir die volgende uur en ’n half druk besig. Toe sy haar laaste T-hemp opvou en in die outydse hangkas wegpak, sug sy van verligting en bêre die leë tas voorlopig bo-op die hangkas.

      “Jy’t sowaar klaar uitgepak, dingetjie!” Oom Petoors se rasperstem agter haar laat haar verskrik om tol.

      “Byna