“Probeer? Wat probeer?”
“Om jou te soek, maar ek kon nie. Ek was skielik … Alles het skielik teruggekom. Al die herinneringe wat ek …” Hy kyk nie na haar nie. “Hoe dit was toe ek van die skool af teruggekom het en sy net weg was. Toe het ek die flits gevat en rivier toe gehardloop, maar dit was ’n onbegonne taak. Te donker. Ek het nie geweet waar om te begin nie.”
“Ag, André.” Impulsief leun sy vorentoe, tel sy hand op en druk dit ’n oomblik lank teen haar wang. “Ek is jammer. Ek het nooit gedink jy sal bekommerd wees nie. Jy weet mos ek loop altyd rond, maar ek ken al my pad. Moenie jou oor my kwel nie. Belowe my jy sal nie. Ek is soos die spreekwoordelike kat: ek kom altyd terug.” Sy besluit dis nie nou die aangewese oomblik om hom daarop te wys dat sy oor enkele maande wel permanent weggaan en dat hy hierdie ooreenkoms in gedagte moet hou nie. “Miskien bietjie nat en verskeur.” Sy wys na haar voet en glimlag. “Met ’n paar krapmerke by, maar ek sal nie onnosel goed aanvang nie. Vertrou my.”
Hy staan vinnig op. “Ek gaan maar toesluit en slaap. Sal jy vir Radar versorg?”
Sy knik en bly lank langs die stoof staan nadat hy uit is, haar gevoelens te deurmekaar om enige sin te maak.
Hoofstuk 9
Julia ry ingedagte dorp toe. Sedert die storm twee weke gelede het dit nog nie weer gereën nie, maar dis koud en bewolk. Sy moet kruideniersware gaan koop en voel eintlik sommer lus om op die dorp rond te loop. André was nie by die huis toe sy gery het nie, maar sy het ’n briefie op sy lessenaar gelos en vir Mieta gevra om hom te sê waarheen sy is.
Die afgelope twee weke het sy baie gedink en die belangrikste gevolgtrekking waartoe sy gekom het, is dat André glad nie soos Wilhelm is nie. Sy besef dit is byna vanselfsprekend – geen twee mense is dieselfde nie – maar dis tog vir haar ’n deurbraak. Sy kan André nie behandel asof hy Wilhelm is nie. Hy is in der waarheid presies die teenoorgestelde.
Wilhelm het nog altyd gekry wat hy wou hê. Hy was ’n enigste kind, soos sy, en sy ouers het hom baie bederf. Waarom hy hom dus voorgedoen het as ’n onseker mens wat haar liefde en ondersteuning nodig gehad het, sal sy nooit weet nie. Dit was alles doelbewus sodat hy sy sin kon kry. André, aan die ander kant, is te alle tye onselfsugtig; hy vereis niks van haar nie, behalwe dat sy blykbaar nie sommer moet verdwyn nie. Noudat sy weet hoe traumaties sy kinderdae was, is dit die minste wat sy kan doen.
Hy is baie stil sedert die aand van die storm. Volgens hom het hy baie papierwerk om te doen en saans sit hy agter sy lessenaar en werk, eerder as om by haar te sit. Sy vermoed dat hy ook skaam voel oor alles wat hy daardie aand gesê het en sy laat hom dus in vrede.
Op die dorp gekom, gaan sy eers na die supermark toe en loop daarna by die winkels rond. In ’n winkelvenster sien sy ’n pragtige geruite wolbaadjie en gaan in om dit aan te pas.
Sy koop dit en pas sommer nog klere aan sodat sy uiteindelik uitstap met ’n hele klomp pakkies en ’n gevoel van tevredenheid. Sy was nog nooit iemand wat baie winkels toe gegaan het nie, miskien ook weens Wilhelm se voorskrifte. Om klere te koop is ’n mors van geld, het hy haar verseker. Die geld moes gespaar word vir hulle eie huis. Sy het gedink dat dié projek die moeite werd is en het elke sent gespaar en baie geld aan die huis bestee nadat hulle dit gekoop het. Dit was eers na die tyd dat sy besef het hoe goed Wilhelm aantrek, dat hy hom nooit te kort sou doen nie. Dit was sy wat die opofferinge moes maak, nie hy nie.
Sy verwerp hierdie gedagtes. Sy is dors en stap na die teekamer waar sy altyd tee drink, maar toe sy die deur oopstoot, bly sy staan en tree dan vinnig terug. By ’n tafeltjie, ernstig aan die gesels, sit Wilma en André. Sy druk die deur toe en loop vinnig weg, kortasem van skok. Daar is ’n ander kafee op die hoek, nie so gesellig nie, en sy loop hierheen, gaan sit moedeloos by ’n tafeltjie en gooi haar pakkies op die stoel langs haar neer.
“Koffie, asseblief,” sê sy vir die kelner. Sy vou haar hande op die tafelblad en is verbaas om te sien dat hulle bewe. Sy het geen reg om so te voel nie, maar daar is ’n kol op haar maag. Is dit waar hulle mekaar ontmoet?
Toe die koffie kom, drink sy so vinnig dat die eerste mond vol haar lippe brand. Haar opgewondenheid is gedemp; sy wens sy het liewer by die huis gebly. Nee, maan sy haarself tot kalmte, sy mag nie so reageer nie. Wilma is sy vriendin; hulle het ’n verstandhouding gehad, hoe informeel ook al, totdat sy wat Julia is, op die toneel verskyn het. Wanneer sy vertrek het, sal hulle hulle verhouding voortsit. Maar sy voel nogtans siek en sit in die niet en staar.
Dis vreemd, moet sy erken. Sy het nie so gevoel toe sy Wilhelm en sy meisie in haar woonkamer sien sit het nie. Toe was sy kwaad, nou is sy teleurgesteld.
André sit oorkant Wilma en luister na haar gebabbel. Sy vertel hom van haar leerlinge, ’n lang en nie baie interessante storie nie. Hy was by die koöperasie en die bank en het by die teekamer ingeloop om gou iets te drink. Sy was reeds daar en hy het by haar gaan sit omdat hy nie eintlik ’n keuse gehad het nie.
Terwyl sy praat, bekyk hy haar. Haar blou oë blink, haar gesig en hande beweeg voortdurend terwyl sy praat. Sy skud haar kop, lag, haar krulhare wip heen en weer.
Julia is altyd stil, dink hy afgetrokke. Dis net haar grys oë wat alles wys. Haar bewegings is ekonomies, sy waai nie haar hande en lyf rond nie. Hy hou daarvan om na haar te kyk wanneer sy met iemand anders praat of sommer net na die televisie sit en kyk. Die twee streng lyne langs haar mond het bykans heeltemal verdwyn. Haar gesig het ontspan sedert sy op die plaas gekom het. Sy glimlag nou maklik, lag meer ontspanne.
“Jy luister nie na my nie,” sê Wilma beskuldigend.
“Jammer,” sê hy, “ek het iets onthou wat Julia …”
Wilma se gesig verstrak; sy trek haar mond op ’n plooi. “Hoe gaan dit met haar?”
“Goed, dankie.”
Wilma lag goedig. “Foei tog, sy probeer so hard om ’n goeie boervrou te wees.”
“Wat bedoel jy?” vra hy, sy stem merkbaar koeler.
“Die koeksisters wat sy vir die basaar gemaak het. Ek het haar gebel en gevra of sy wil help.”
“Wat was fout met die koeksisters?”
“Pure kluitjie,” lag sy vrolik. “Ek blameer haar nie; ek het self gesukkel toe ek ’n kind was en my ma my geleer het.”
Hy lewer geen kommentaar nie, lig net sy teekoppie en drink klaar. Dis nie lekker nie; die tee smaak vrank. Julia is die enigste mens wat regtig lekker tee kan maak – warm genoeg, nie te sterk of te flou nie.
“Gelukkig het ek eers een geproe,” gaan Wilma onbekommerd voort. “Ek het dit toe maar teruggehou. Haar reputasie is veilig.”
Sy wenkbroue skiet op. “Haar reputasie?”
“Jy weet hoe is mense,” sê sy goedig. “As hulle haar koeksisters gekoop het en uitgevind het …”
Hy kyk na sy horlosie, tel die rekening op en skuif sy stoel agteruit. “Gelukkig is Julia nie die soort mens wie se reputasie afhang van iets so belaglik soos soetgoed nie,” sê hy kalm. “Sal jy my verskoon? Ek het nog dinge om te doen. Dankie vir die geselskap.”
Sy staan ook op, haar gesig verkreukel, haar onderlip uitgestoot. “Julle moet kom kuier,” sê sy bot.
“Ons sal.” Hy betaal, stoot die deur vir haar oop en knik dan. “Totsiens.”
Sonder om te wag, stryk hy aan, maar toe hy verby die kafee op die hoek loop, vat hy aan sy sak en stap binne om sigarette te koop. Terwyl hy wag, kyk hy onbelangstellend rond en sien vir Julia. Sy sit met haar rug na hom en hy stap verras nader.
“Julia!” sê hy. “Jy het nie gesê jy kom vanmiddag dorp toe nie.”
Sy ruk om, haar oë donker en smeulend. “Jy was nie daar nie,” sê sy koud. “Ek het vir Mieta gesê.”
Hy gaan sit oorkant haar nadat hy die pakkies op ’n ander stoel