Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174770
Скачать книгу
word nie, juffrou Naudé. Hy laat een helfte elk aan u en meneer Malan na, op voorwaarde dat julle trou.”

      Sy maak haar mond oop, haal diep asem en gee ’n ongelowige laggie. “Wát? Wat het u sopas gesê?”

      Hy lyk baie ongemaklik. “Ek het u gewaarsku dat die testament baie onortodoks is. U en meneer Malan moet trou en ’n jaar lank …” sê hy en kyk af na die papier voor hom, “’n volle kalenderjaar lank saam op die plaas bly. Die woonhuis, wat u dalk sal onthou, is op die oorspronklike gedeelte van Ouderus. Weier u om dit te doen, word die plaas verkoop en gaan die geld na liefdadigheidsorganisasies.”

      Sy staar na hom in volslae ongeloof. “Dis Middeleeus!”

      “Ek weet,” stem hy saam.

      Sy staan op. “En heeltemal belaglik! Niemand kan verwag dat ek eens hierna luister nie. Verkoop die plaas, ek gee nie om nie.”

      Hy draai sy kop skuins, bestudeer haar waar sy ergerlik voor hom staan. “Wat van meneer Malan?”

      “Wát van hom?” Sy gluur hom vurig aan.

      “Hy ken die plaas, dit is syne. As u weier, verloor hy sy plaas ook.”

      “Foei tog,” sê sy sarkasties. “Is dit miskien my skuld?”

      “Nee.” Hy sug beswaard. “Sit asseblief.” Hy wag dat sy gehoorsaam. “Daar is natuurlik ook kontant wat deel is van die erfporsie. Dit word kwartaalliks vrygestel, mits u getroud is. Indien nie, gaan dit ook na liefdadigheid.”

      Sy begin lag – ’n harde, vreugdelose geluid. “Julle kan nie ernstig wees nie,” sê sy. “Dis die soort ding wat ’n eeu gelede gebeur het om grond in ’n familie te hou of grond by te kry. Gereëlde huwelike.”

      Hy knik. “Ek moet met u saamstem, maar onthou, dis net ’n jaar lank. Meneer Verwey het slegs ’n kalenderjaar as voorwaarde gestel. Ek veronderstel dit staan u vry om na ’n jaar u helfte aan meneer Malan te verkoop en terug te kom stad toe.”

      Sy sit vooroor gebuig in die stoel en kou aan haar onderlip terwyl sy haar kop skud asof sy tot elke prys helderheid moet kry. “En daar is geen ander oplossing nie?”

      “Daar is, ja.” sê hy. “Maar meneer Malan het reeds laat blyk dat dit vir hom buite die kwessie is. Indien een van julle julle helfte aan die ander een verkoop, hoef julle nie te trou nie.”

      Sy lyk verlig. “Dankie tog! Hy kan my stuk koop.”

      “Nee.” Meneer Brink sug. “Ek herhaal, meneer Malan kan dit nie bekostig nie. Ek weet nie presies wat grond in daardie omgewing werd is nie, maar my kollega reken so ’n stuk grond kan meer as ’n miljoen rand kos. Soos u weet, het hulle pas jare van wurgende droogte en swaarkry beleef.” Hy kyk haar weer ondersoekend aan. “Sou dit binne u vermoë wees om meneer Malan se gedeelte te koop?”

      Sy uiter weer ’n vreugdelose laggie. “Nee, natuurlik nie. Ek het my eie tuindiens en daarop skuld ek nog geld. Die kapitale uitleg was groot, ’n bakkie, al die masjiene … Genade tog!” Sy druk haar hand teen haar voorkop. “Waarom sou oom Septimus so iets uitgedink het? Hy het nooit getrou nie en was altyd so simpatiek, die soort man by wie ’n mens kon raad vra. Hy het altyd geluister. Toe ek hom in Julie by my ouers gesien het, was hy ’n … ware steunpilaar.”

      “Kyk,” sê meneer Brink en vroetel weer met die papiere. “Ek dink ons sou die testament hof toe kon neem en …”

      “Nee!” sê sy ru, haar hand afwerend voor haar. “Ek gaan nie weer hof toe nie. Geen hofsake nie!”

      Dit lyk asof hy wil uitvra, maar haar gesigsuitdrukking laat hom seker besef dat dit nie sal help nie.

      “Wat dan?” vra hy. “Is u bereid om die bepalings van die testament te aanvaar?”

      “Nee,” sê sy, “natuurlik nie. Ek is hoegenaamd nie van plan om te trou nie. Nie hier nie, nie met iemand wat ek ken nie en seer sekerlik nie met ’n volslae vreemdeling nie. Verkoop die plaas en gee die geld vir liefdadigheid.” Sy staan op. “En nou moet u my verskoon; ek het werk om te doen.”

      “Juffrou Naudé,” keer hy terwyl hy ook opstaan. “U moet aan meneer Malan ook dink. Die plaas is al wat hy het. U besluit beïnvloed hom ook.”

      “Waarom sal ek my oor hom kwel?” vra sy ongevoelig. “Hy moet sy eie potjie krap.”

      “Die plaas ís sy potjie,” sê hy, en hy glimlag effens asof hy baie humoristies was.

      “Dit het steeds niks met my te doen nie,” sê sy.

      Hy tel ’n pen op, skryf iets op ’n kaartjie en hou dit uit na haar. “Hier is sy telefoonnommer. Ek sou tog voorstel dat u hom bel. Op slot van sake is hierdie vreemde testament julle albei se probleem. Ek dink dis niks minder as reg dat u hoor wat hy te sê het nie.”

      Sy vat die kaartjie, maar kyk daarna asof dit besmet is. “Hy is seker bereid om dit te doen, net om sy heilige stuk grond in die hande te kry.”

      “Nee, so ver ek weet, was sy reaksie dieselfde as u s’n, maar ja, ek dink tog daar is meer vir hom op die spel. U het ’n ander lewe hier, u eie huis en onderneming …”

      “Presies.” Sy druk die kaartjie in haar sak. “Ek kan nie dink dat enigiets sal verander deur met hom te praat nie.”

      “Miskien moet u na die plaas gaan kyk. Ek hoor dis ’n pragtige plek. ’n Groot gedeelte is berggrond en …”

      “Wat sal dit aan die saak verander?”

      “U verander miskien van plan. Dis maklik om van hier te sê: verkoop die plaas en gee die geld weg. As u dit eers sien en besef dat dit aan u behoort, mag dit tog u besluit beïnvloed.”

      “Nee,” sê sy koud. “Nie as dit nog steeds beteken ek moet ’n jaar lank met ’n volslae vreemdeling saamleef nie.”

      “Dink daaroor,” sê hy en steek sy hand uit om te groet. “Dis so ’n onregverdige testament dat ons, soos ek gesê het, miskien daarby baat kan vind om hof toe te gaan.”

      “Nee,” sê sy, haar stem kwaai. “Ek het gesê geen hofsake nie.” Sy knik in sy rigting en loop by die deur uit.

      Heelmiddag, terwyl sy in die warm son werk, bevele gee, toesig hou, vuil en sweterig word, dwing sy haar gedagtes weg van die belaglike testament af. Dis nie moeilik nie; daar is iets so sprokiesagtig daaromtrent dat sy dit nie ernstig kan opneem nie.

      Maar toe sy teen vroegaand saam met Sandra by haar lessenaar sit nadat hulle die dag se sake afgehandel het, vertel sy haar die storie.

      “Het jy al ooit in jou lewe iets so belaglik, so vergesog, so verspot, so gewoon banaal gehoor?” sluit sy af.

      Sandra loop in die kamer rond, trek droë blare van die potplante af, stoot ’n venster wyer oop, streel Plato oor sy kop.

      “Nee,” erken sy. “En ook nog nooit soveel byvoeglike naamwoorde om dit te beskryf nie.”

      “En meneer Brink verwag dat ek daaroor moet nadink,” blaas Julia stoom af. “Ek het gesê hulle moet die plase verkoop en my nie langer pla nie.”

      “Haai, nee!” Sandra draai om en gaan sit, haar blou oë berispend. Sy is fyn en blond en popmooi, ’n voorkoms wat misleidend kan wees. Sy is hoogs intelligent met ’n skerp sakebrein. Die feit dat sy byna permanent verlief is en op die oomblik versot is op ’n jongman wat die grond aanbid waarop sy loop, doen nie afbreuk aan haar vermoë om koelkop te bly nie. “Ek sou nie so vinnig reageer nie.”

      “Jy verwag tog nie óók dat ek regtig daaroor moet nadink nie,” protesteer Julia. “Ék? Na alles wat gebeur het?”

      Sandra kruis haar bene en vou haar hande op haar skoot. “Ek sou eers vra waarom oom Septimus dit gedoen het,” sê sy kalm. “Begin altyd by die begin.”

      “Waarom?” Julia gooi haar hande in die lug. “Ek weet nie! Ek kan aan geen enkele rede dink nie. Ek was laas