Trompie Omnibus 6. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798176637
Скачать книгу
rand se lekkers vir jou?” Trompie rol sy moue op. Die verkoopsman is nou in aksie.

      Die seun neem eers weer ’n groot hap van die sjokolade en dan sê hy: “Vyftig sent s’n.”

      “Hè?!” Trompie se mond val oop. ’n Hele paar omstanders begin lag.

      “Ek het net vyftig sent,” sê die outjie met sy mond vol sjokolade.

      Trompie en sy drie vennote kyk vies na die kind wat so heerlik staan en smul. Dit is nou te laat om die sjokolade terug te vat.

      Wat ’n antiklimaks. Vyftig sent se lekkers!

      “Het jy niks meer geld nie?” snou Trompie die seun toe.

      Die graadaggie skud sy kop. Nee, hy het niks meer nie. Net vyftig sent, dis al. Hy wys nou met sy hand wat bruin van die sjokolade is die taai muntstuk wat hy die hele tyd styf vashou.

      “Ons het nie lekkers vir vyftig sent nie,” sê Trompie vies.

      “Wat van al daardie?” vra ’n matriekseun wat naby ’n oop tas staan en na die drop wys.

      “Dit kos een rand stuk.”

      “Een rand?” Die matriekkind lyk verstom.

      “Ja.” Trompie sien hoe vies almal hom aankyk.

      Hy vervies hom nou ook en voeg by: “En wat daarvan? Ek en my vennote moet lewe. Ons moet darem ’n wins ook maak.”

      ’n Klomp seuns loop laggend weg – en dan volg die ander. Hulle praat sommer hardop oor kullery en diefstal. Waar op aarde het jy al ooit gehoor dat ’n mens een rand vir ’n stuk drop betaal?

      Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kyk mismoedig na mekaar. Die groot tasse met die wonderlike verskeidenheid lekkers in staan oop voor hulle. Hulle het niks verkoop nie en boonop ’n stuk sjokolade verniet weggegee.

      “Ek sê vir julle,” sê Blikkies, wat so ontsteld is dat hy skoon vergeet om die kougom in sy mond te kou, “ons gaan al ons geld verloor.”

      Dawie dink ook as dit so aanhou, gaan dit net ’n paar dae wees, dan is hulle bankrot. Hy kyk vies na Trompie.

      “Hoe moes ek weet daai kind het net vyftig sent?” brom Trompie.

      “Dit help nie om nou daaroor te stry nie,” sê Rooie. “Ons moet volgende pouse weer probeer.”

      Die Boksombende stap terug klaskamer toe met die vol tasse nog net so swaar soos toe hulle dit na die fietsafdakke toe gedra het.

      Hulle sit moedeloos in die klas en wonder of hulle besigheid sommer op die eerste dag al gaan misluk.

      Toe die klok uiteindelik vir tweede pouse lui, dra die vier hul tasse weer af na die fietsafdakke toe.

      Hierdie pouse is nog ’n groter fiasko as die eerste een. Toe het daar darem ’n hele klomp kinders opgedaag, al was dit net uit nuuskierigheid. Nou is daar niemand nie. Almal se nuuskierigheid is bevredig.

      Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie sit elkeen langs ’n oop tas en eet. As een lekker op is, steek hulle net hul hande in die tasse, vroetel rond, haal nog ’n lekker uit en begin weer kou. Soos Trompie mismoedig sê – hulle eet hulle kapitaal op. Maar daar is tog niks anders wat hulle met die kapitaal kan doen nie.

      Aan die begin van tweede pouse het hulle elke keer as iemand naby die fietsafdakke kom vir die persoon geskree om te kom lekkers koop. Maar niemand het gekom nie. Nou nooi die vier niemand meer nader nie. Dis tog net tydmors.

      “Weet julle wat?” vra Dawie peinsend.

      Die ander drie stel nie regtig belang om te weet nie.

      “Ons moet meer kapitaal kry!” kondig Dawie aan.

      “Om wat mee te maak?” vra Trompie. “Nog lekkers te koop? Ons kan dan nie eens al hierdie verkoop nie.”

      “Nee wag,” sê Dawie en lig sy hand vir stilte. “Ek het ’n plan.”

      3

      Dawie se plan

      Dawie sit met ’n frons op sy voorkop. Hy dink diep en ernstig.

      Trompie, Rooie en Blikkies sit en eet. Hulle loer af en toe na Dawie om te sien hoe die dinkwerk vorder. Hulle wonder wat sy plan is. As elkeen net sy geld kan terugkry, sal hulle tevrede wees.

      “Dit gaan nie te goed met ons besigheid nie, nè?” sê Dawie uiteindelik.

      “Dit gaan beroerd,” brom Trompie. “Ons doen dan niks besigheid nie.”

      “Presies,” sê Dawie. “So ons moet kyk of ons nie ’n deel van ons geld kan red nie.”

      Trompie, Rooie en Blikkies hou van hierdie idee. Maar hoe gemaak?

      “Julle weet mos my niggie, Isabel, kuier weer by ons?”

      Die drie knik. Hulle hou baie van Dawie se twintigjarige niggie. Toe sy verlede keer hier in Kwaggaberg gekuier het, was sy baie vrygewig. Sy het ’n paar keer vir hulle geld vir lekkers gegee.

      Trompie, Rooie en Blikkies kyk nou belangstellend na Dawie. As daar iemand is wat geld in ’n kwynende besigheid sal stort – of liewer, ’n besigheid wat nog nie eens bestaan nie – dan is dit Isabel.

      “Wat is jou plan, Dawie?” vra Trompie.

      “Ons bied vir Isabel ’n aandeel in die snoepwinkel aan – vir geld, natuurlik.”

      Trompie, Rooie en Blikkies dink hieroor na.

      “Maar ons kan dan nie eens dié lekkers verkoop nie,” sê Rooie en wys na die vier groot tasse. “Wat nog van die lekkers wat ons met haar geld koop?”

      “Ons hoef nie nog lekkers te koop nie,” antwoord Dawie en sy gesig straal. “Ons kan Isabel se geld hou. Dan kry elkeen van ons ’n deel daarvan.”

      “Slim plan!” sê Trompie opgewonde. “So kry ons darem elkeen ’n deel van ons verlore kapitaal terug.” Hy hou duidelik baie van Dawie se plan.

      Rooie en Blikkies hou ook daarvan. Soos Blikkies sê, dan verloor hulle darem nie alles wat hulle in die snoepwinkel gesteek het nie.

      “Onthou net,” sê Rooie ingenome, “ons verloor nie regtig geld nie, want al die lekkers gaan mos in ons mae eindig.”

      Trompie stel voor dat hulle Isabel moet probeer oorreed om sommer ’n groot bedrag in die snoepwinkel te stort.

      Die vier bespreek hierdie plan ’n rukkie al kouende, maar besluit dan dit sal nie regverdig wees nie. Hulle weet mos die winkel is besig om sy deure toe te maak. Om die waarheid te sê, dit het nog nie eintlik sy deure oopgemaak nie. Dit sal darem nie regverdig wees om vir Isabel te veel geld te vra nie. Hulle moet hul gewetens skoon hou.

      “Maar sê nou sy wil alles van die besigheid af weet?” vra Blikkies. “Sê nou sy vra hoeveel geld ons al gemaak het, hoeveel lekkers ons al verkoop het en sulke soort goed?”

      “Dan moet ons vir haar die waarheid vertel,” antwoord Trompie. “Maar miskien kan ons alles so verduidelik dat sy nie sulke vrae vra nie.”

      Dawie wil net vra hoe hulle dit gaan doen toe Trompie opkyk en skielik skree: “Haai, wil julle nie lekkers koop nie?”

      Die twee seuns op wie Trompie so gegil het, staan stil en kyk na die vier by die oop tasse.

      “Ons het nie geld nie,” roep die een kind.

      “En al het ons ook geld, sal ons nie by julle koop nie,” skree die ander een.

      “Hoekom nie?” Trompie lyk verontwaardig. “Ons het die lekkerste lekkers in die hele wêreld!”

      “Dit