Die stomme aarde: 'n keur. Wilma Stockenström. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilma Stockenström
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780798173100
Скачать книгу
studeer.

      Gevolg deur ophou. Ophou kennis neem van

      en aandag bestee aan en in ag neem van.

      Ophou optel. Syfers. Gewig. ’n Lepel.

      Ophou slaap, lag, liefkoos. Ophou.

      Om in ’n sonnige stoepdroom te dut

      voor ’n blou huis met vrede op die hekkie,

      met selonsrose en ’n spaarkamer vir die uitgespaarde.

      Dan, berese en belese, skerpsinnig en vinnig

      stamp die kleinkinders die deure oop,

      vind vermaak in vermolmde dokumente,

      proes oor doopnaam en datums,

      die poses, potsierlik, van kamermaats op kiekies,

      en vergeet gou, en verveel hul, en verbrand:

      die kwitansies, die kontrakte, die knipsels.

      Pret vir ’n aand was die leeftyd van ’n mens.

      Aalwyn in die droogte

      Die ergste is dat die lewe dwarsdeur

      ’n droogte aangaan en dat dit nie

      wil endkry nie, die verbete beur

      van wortels vlak al in die rondte,

      dat die blare handewringend toevou

      om die gees, en, gevaarrooi geverf,

      krimpend asem ophou

      tot eindelik die vernedering oorgaan.

      I

      Nou is saamlooptyd. Later dy

      die winterhemelleegtes tussen ons

      net groter uit. Anderkant

      ons neonbeskrewe verblyf

      op die pad van nadink verby die bloekoms

      stap ons, versoen met wat

      om die draai wag, verenig

      teen die oop wit einder.

      II

      Van al my liggeel dae

      teken ek hierdie een op;

      dat ek later kan weet hoe swerms

      duiwe van die dakke waai,

      en dat ek, as ek wil,

      later kan lees van ’n liggeel

      dag en van jou hier langes my.

      III

      As ek dan sonder vriendskap moet klaarkom

      – die paddasagte beleefdheid wat daarvoor deurgaan –

      dan kies ek dit: reghoekige alleenheid

      wat ek self met ’n sirkel vul vol

      van die sagtheid van my liefde vir jou.

      IV

      Ek skenk jou my toegeboude dae,

      want dit is al wat ek besit.

      Vir jou my dae, die uitgediendes.

      Jy sal ’n stelsel daaruit opbou.

      Jy sal betekenis verleen aan wat stomp

      soos afgekapte bome staan. Ek

      bied jou my klaaglike verskrompeldheid.

      V

      Kwesbaar is die askese van trots, en nouliks sigbaar,

      soos die glas van groot geboue, tensy die son

      dit omtower in flonkering by wolklose opgaan en sak.

      Een fluitklank versplinter die fyn huls.

      Een kwashaal dui dit aan, een naderstap

      en een aanraking met die vingertoppe verraai die broosheid

      van die beleërde se beskerming. Ek vertel dit dat jy dit moet weet,

      dat jy my verdediging sal verontagsaam en haastig na my sal kom.

      VI

      Koeltorings spreek stomende

      verse, die motors in snoere

      stippel die strate met ’n kind se a b c

      en die hoogoond maak reklame

      vir die gloeiender dag.

      Maar wie lees die skrif van die reën

      wat ek afvee van jou wang,

      en wie verstaan

      die druppels wat ons dig?

      Die klip

      Teenaan ’n oupa van ’n ou klip

      het ek gaan platsit, toevallig, en die muf

      ingeadem van swamme en spore.

      Waaraan, wonder ek, meet ’n mens

      ’n klip? Waar omtrent begin

      ’n klip, en waar eindig

      ’n klip, soos die klip waarteen ek leun?

      Klippe is vir almal. Slakspore

      en pluisies spinnerak in holtetjies

      dui aan dat my klip as herberg

      dien, en dat ek, sou ek die krag

      hê om hom met ’n stewige paal

      om te rol, ’n plat nes vir ’n slang

      sou vind, of die ryskorrels van miereiers.

      Die klip wys sy gesig vir die wêreld.

      Hy het nie hande om voor sy gesig

      te hou nie, en is aangewese op my goedheid.

      Wawyd wakker, maar weerloos, lê

      die klip en luister of ek hom gaan kwaad doen.

      Hy het nie ’n mond om my te verwilder nie.

      ’n Mens sou dink hy is gedwee.

      Klippe is soms hoeders van fossiele,

      van ammoniete, soos iets ontluikend

      in ’n klipliggaam; van blare

      tot blote blyke van sigself gepers;

      van profetiese vistekens; van

      skedels en kootjies van vleisvretendes.

      Klippe is skatkamers van kristalle.

      Klippe is vol splinterheerlikheid,

      driftig gloeiend asof seewier versteen het,

      asof ’n krisant binne-in hulle

      verstar het en hul gelaai het met die kleur

      van woestyne en vygies, die gruwelkleure

      van die grillige nagkuns van drome,

      en die rooi van trukaatsers.

      My klip, my klip, sê my in jou stomheid

      wat jy bewaar. Sê my

      of jy jeug geken het, en of jou middeljare

      broos en puur was, gepoleer was

      en geskuur tot suiwerste karaat.

      Of is om klip te wees om oud te wees,

      te gewees het, en te weet jy sal dit altyd

      wees? Is oud wees klip wees, hard,

      maar blootgestel aan skoppe en verwering?

      Klip, my klip, die bloukopkoggelmander

      waak