Die goudkewers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174831
Скачать книгу
huiwer net ’n oomblik voordat sy Karl se sakhorlosie en portefeulje oorhandig.

      Lu-Shi deursoek laasgenoemde haastig. Nie te veel geld het in die beursie oorgebly nie. Dis te verstane – die man was lank genoeg hier. Sy vingers raak aan ’n ronde voorwerp. Hy haal dit uit. Dit is ’n outydse goue amulet van die soort wat dames soms nog dra, gewoonlik met ’n foto of ’n haarlok van ’n kind of geliefde daarin. Hy draai dit om. Die naam van ’n vrou is op die agterkant gegraveer: Jutta Mannheim. Lu-Shi maak die amulet oop. Dit bevat ’n kunstig geskilderde miniatuurportretjie van ’n uitsonderlike mooi jong man. Jonger as die een wat hier in doodsweet lê. Lu-Shi kyk weer na Karl se vervalle gesig. Dit kan tóg hy wees. Wat traak dit hom? Hy klap die amulet toe en plaas dit terug in die portefeulje.

      “Jy kan die geld vir jou vat. Al die ander goed sit jy terug,” beveel hy die jig-jig-meisie. “Presies soos dit was en waar dit was, verstaan.”

      Liu-Hohan buig twee maal diep om haar respek en begrip te toon. Lu-Shi is magtig en hy is die vader van Happy Valley se jig-jig-meisies.

      Lu-Shi ignoreer haar en loop by haar verby na buite, uiters bekommerd.

      Liu-Hohan hurk langs Karl en vee die sweet van sy gesig af met ’n reeds deurweekte laken. Sy sal hom was, hom skoonmaak. As hy in só ’n toestand van hierdie lewe die boot neem na die ander lewe, sal hy beslis die lot van ’n armsalige bedelaar tref. Sy werk flink om hom skoon te kry, want die tyd is min voor hulle hom kom haal.

      Iewers in haar roer daar ’n gevoel van jammerte vir hom. Uit sy gebrabbel het sy te hore gekom van sy ma. Sy was sy koningin. Sy het ook gehoor van ander: Sam, Clancey, Deborah … vir haar onbekende, betekenislose name. Hy is bang vir sy pa; sy pa maak almal dood, het hy gesê. Sy wens nou sy het gevra wie sy pa is, wie sy mense is. Maar sy ken nie eens sy naam nie. As sy geweet het waar om sy mense te kry, kon sy hulle miskien laat weet het … Maar dit sou dom gewees het. Dit sou haar ’n swaar straf op die hals gehaal het, want dit is wet in die Dragon Queen dat kliënte naamloos en klasloos geëer word. En gewoonlik eindig die meeste van die opiumpelgrims se reis juis hier tussen die rooi paneelmure.

      Liu-Hohan kom orent en kyk weer na die bewustelose man. Dan buig sy om die god in sy siel te groet. ’n Laaste eerbetoon.

      Die windklokkies aan die buitedeur rinkel. Sy hoor naderende manstemme. Hulle is hier. Hulle het hom kom haal. Liu-Hohan kom regop en staan eenkant en wag in die verwagte eerbiedige houding.

      Karl word orent gelig tot in ’n sittende posisie. Dan forseer hulle die stutstok agter by sy hemp en broek in. Daarna word die horisontale kruisbalk wat sy skouers moet stut flink aangeskroef. Die mans werk haastig en geoefend. Binne sekondes sal hulle die half bewustelose jong man op sy voete by die deur van die Dragon Queen uitmarsjeer. Twee sal hom wel stut, asof hy te diep in die bottel gekyk het, maar niemand wat hulle dophou, sal ooit raai dat die skynbaar beskonke mans wat die Dragon Queen so verlaat, eintlik lewende lyke is nie.

      “Mamma, help my! Help my, Mamma! Deborah – hulle kruisig my!” roep die jong man uit, en sweet pêrel weer op sy liggaam. “Moenie weggaan nie! Moet my nie verstoot nie … Deborah!”

      Liu-Hohan druk haar ore toe tot die krete in die verte wegsterf.

      Hoofstuk 1

      Tussen die kettings wat Simmondsstraat tussen Eckstein’s Corner en die Markplein vir voertuie afsluit, wemel dit van Johannesburgse sakemanne. Honderde makelaars en kopers ding daagliks hier mee om die grootste slag te slaan.

      Kit Malloy glimlag sardonies toe hy dink aan die heelwat kleiner aandelemark van ’n paar jaar gelede. Die mark is toe op ’n baie meer elitistiese manier bedryf en was geskool op sy Londense eweknie. Die gebou wat die beurs twee of drie jaar ná die ontstaan van die stad gehuisves het, was kleinerig, maar dit het die honderd-en-dertig lede met gemak geakkommodeer.

      Die myningenieur McNaught se verslag oor die fabelagtige diepte van die goudrif aan die Witwatersrand en die ongekende kwaliteit van die erts het sake egter verander. Dit het nie net ’n dolheid dwarsoor die wêreld ontlok nie, maar dit het ook plaaslik tot onmiddellike reaksie gelei.

      Elke Johannesburger, van die hoogste tot die nederigste, wou sy deel van die rykdom hê. Uit alle uithoeke van die stad het hulle gekom – polisiemanne en perdetelers, sakemanne en winkeliers, myners en magnate. Almal wou die aandelebeurs se towergolf leer ry en spoedig het die oorspronklike beursgebou uit sy nate gebars. By gebrek aan ’n beter bymekaarkomplek vir die massa is ’n vierkant tussen Simmondsstraat en die Markplein afgespan. Dit het gou die hart van die Johannesburgse sakesentrum geword, want die vierkant is nie net benut as aandelebeurs nie, maar ook as eiendomsmark, meubelmark en heel dikwels sommer ook as vlooimark. Daar word ook politieke toesprake gehou en saans konsertuitvoerings gegee, en daar is selfs sprake dat die ou koningin, Haar Majesteit Victoria, se verjaardag dié jaar hier gevier gaan word.

      Weg is die byna eenvormige donker pakke en skoorsteenkeile waarmee die Johannesburgers die Londense sakemanne nageboots het; in die plek daarvan is informele drag nou aan die orde van die dag. Dié mengelmoes dui op ’n manier die ongebonde gees van die stad aan, en die waagmoed van sy kosmopolitiese burgers en entrepreneurs wat van oral oor die wêreld hul fortuin hier kom soek het.

      Kit skud sy kop. Soms is die bontspul nogal komieklik. Bykans enige soort hoofbedekking kan hier tussen die Kettings gesien word: Daar is die gewilde tropiese sonhelms, al is daar vandag geen sprake van son nie, heelwat klaphoede, en ’n see van formele hardebolhoedjies omdat dit nog steeds ’n ereplek onder die meeste here behou. Daar is ook heelwat tam-o’-shanters, want dit word al gewilder, en hier en daar selfs ’n pluiskeil.

      Sommige van die mans is geklee in rybroeke en lang leerkamaste met ’n peits byderhand. Dié is handig om die aandag van die makelaars te trek. Dan is daar die mans in deftige pakke wat ongetwyfeld die stempel van Savile Row in Londen dra. Húlle, die fortuinsoekers van gister, is die manne wat daarin geslaag het om hul drome te verwesenlik. Gister was hulle bloot myneienaars, vandag dra hulle trots ’n nuwe naam: goudkewers! Kewers, omdat hulle in hul soeke na goud al dieper skagte in die rif begin sink. Tonnels wat vir hulle die ongekende skatkamers van die Rand se riwwe behoort bloot te lê.

      Hulle het beslis waagmoed, gee Kit toe. Die nuwe diepmyntegniek is nie net duur nie, maar ook riskant. Hy het eerstehands gehoor dat die goudkewers tans probleme ondervind, ten spyte van die Rand se onberekenbare rykdomme. Blykbaar lê die probleem by die amalgamasieprosesse – hulle kon tot dusver slegs ’n geringe persentasie goud uit die ondergrondse erts suiwer.

      Kit kom orent waar hy teen die pilaar van Eckstein’s Corner House geleun het om die elite in hul deftige klere dop te hou. Twee kêrels in die groep staan opsigtelik uit: Hamilton, met sy kenmerkende kidleerhoed, en J.B. Robinson, met sy alewige wit sonhelm wat hy binne en buite dra, winter en somer. Albei mans klou nog koppig vas aan die ou diggers-uitrustings van ’n paar jaar gelede, ten spyte van die fortuine wat hulle reeds uit die Rand se goud gemaak het.

      Kit was die vorige dag by Robinson oor ’n nuwe uitvinding in Skotland waarvan hy toevallig by sy vriend Mac MacIntyre te hore gekom het. Hy was ná die onderhoud oortuig daarvan dat hy Robinson se belangstelling genoegsaam geprikkel het dat hy die artikel wat Kit hom gegee het sou lees. Kit voel hoe die opwinding van ’n nuwe uitdaging hom soos in die ou dae stimuleer. Indien hy Robinson kan oorreed tot ’n vennootskap sal hulle ’n koninklike fortuin daaruit kan maak – as hulle dit net suksesvol kan deurvoer.

      ’n Uitbundige groepie manne wat pas die Kettings betree het, word ’n oomblik die middelpunt van belangstelling. Daar is heelwat geld verwed op die polowedstryd wat teen elfuur gaan plaasvind, maar hierdie paar lede van die Wanderers se polospan voel duidelik dat die wedstryd ’n laer prioriteit geniet as wat vandag op die aandelemark gebeur.

      Kit, daarenteen, sal nie vandag aan die makelaars se frenetiese bedrywighede deelneem nie. Hy baan vir hom ’n weg deur die Babelse verwarring. Selfs al is die bulletjies vanoggend los tussen die Kettings – soos die manne altyd sê as die aandele ’n stygende verkoopskurwe toon – stel Kit nie vanmôre belang nie. Dinge is in elk geval na sy mening besig om te oorverhit, en so vroeg in die dag is dit vir hom ’n slegte voorteken. Dit het waarskynlik