Vurig op Flaminkevlei. Trish Goosen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Trish Goosen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624080565
Скачать книгу

      Jinne tog. Moet sy nou regtig hier af? Sy het ’n doodse vrees vir slange, en die bossies langs die voetpad lyk vir haar hoeka soos ’n klomp slangnessies. Tannie Wollie het juis gesê hier is baie slange op Velddrif, veral kobras.

      Belinda woon nou wel al sewe jaar op Mosselbaai, maar sy sal seker maar altyd ’n stadsjapie met kantoorvoetjies bly. Sy is gebore en getoë in Pretoria se betonoerwoud en sy het gedurende haar hoërskooljare in die Kaap gewoon. Hiér was slange en ander grillerige goed net in hokke by die dieretuin te vinde.

      Ag sies, nee! Die gedagte aan slange laat haar ril, maar sy het nie juis ’n ander keuse nie. Sy stap versigtig teen die kronkelpaadjie af terwyl sy haar voete dophou.

      Sheila blaf weer toe sy al amper halfpad is.

      Belinda gewaar die hond se rug tussen die biesies, links van die seehoof en dan hoor sy ’n luide plasgeluid. Dit duur ’n paar sekondes voor sy besef dat Sheila besig is om oor die rivier te swem.

      “Nee, Sheila! Sheila, kom hier!”

      Belinda draf die laaste entjie tot voor die seehoof. Die sparre is plek-plek weggevrot en boonop is hulle skeef op die houtstellasie vasgespyker. Die hele kontrepsie lyk onstabiel. Sy gaan so wragtiewaar nie op dié ding klim nie; een verkeerde trap en sy val dwarsdeur.

      “Sheila!”

      Die Deense hond klim met min moeite uit op die eerste eiland. Die groot skimmelgrys-en-swart agterlyf verdwyn weer tussen die biesies en die volgende oomblik sien Belinda net voëls trek. Op honderde flappende vlerke vlug hulle paniekerig van die eiland weg soos Sheila hulle verjaag.

      Dan begin die hond verwoed blaf. En Belinda herken die blaf. Dis haar jagblaf en dit is glad nie goeie nuus vir die voëls nie.

      O, vrek. “Sheila! Kom nou dadelik hier!”

      Daar vlug nog ’n paar geveerdes. ’n Angsbevange kwaakroep sny deur die lug toe een van hulle oor Belinda se kop vlieg.

      Sheila reageer nie op haar kwaai stemtoon nie. Dalk moet sy iets anders op die proef stel. Oor die rivier swem? Te gevaarlik. Skrap daai idee. Mooi praat? Dalk moet sy die biltong in die bakkie gaan haal en Sheila vanaf die seehoof probeer teruglok.

      Voor sy kan besluit, hoor sy vinnige voetstappe agter haar. Klink soos iemand wat draf.

      Sy swaai om en is net betyds om uit ’n haastige man se pad te tree. Die drawwer se arm tref haar skrams en dan is hy verby haar. Met een sprong is hy op die wankelrige seehoof, en drie blitsige treë verder glip hy gemaklik in ’n dobberende bootjie in. Hy het donker hare wat in sy oë hang, maar sy kan nie eintlik sien hoe hy lyk nie.

      Modieuse knielengte-kortbroek. Swart T-hemp. Belinda skat hom omtrent haar ouderdom. Hy praat met homself terwyl hy die boot van een van die vervalle houtkaai se pilare losmaak. Dan buk hy vooroor, vroetel vir ’n oomblik en kom met ’n spaan vanuit die boot se romp vorendag.

      Belinda se brein sit die legkaartstukke inmekaar en dan kliek sy: O, wonderlik! Haar hulp het gearriveer.

      “Meneer?” roep sy.

      Hy kyk nie op nie, want hy is besig om die boot met die spaan van die kaai af weg te stoot.

      “Meneer? Dankie!”

      Dan kyk hy reguit na haar. Die misnoeë op sy gesig vang haar onkant.

      O, hel. Wat het sy dan nou gesondig?

      “Dame, moenie vir my dankie sê nie. Ek doen dit nie vir jou nie. Ek kry die arme voëls jammer.” Hy draai sy lyf en gesig weg en begin na die eiland roei.

      Belinda voel hoe sy net daar op die plek klein raak en in die vleiland wegsmelt. O, die flippen verleentheid!

      Die stroom voer die roeier gou tot by die eiland. Sy voete sak in ’n sagte modderbank weg toe hy uit die bootjie klim en dit uit die vlak water tot op die eilandjie trek. Die modder lyk soos pikswart sokkies wat tot by sy stewige kuite opgetrek is. Ugh! Hopelik het hy nie sy beste skoene aan nie, want sy gaan so wragtiewaar nie vir hom ’n nuwe paar koop nie. Of miskien moet sy aanbied . . . seker die minste wat sy kan doen.

      Maar nee, hy doen haar mos nie ’n guns nie. Hy doen die voëls ’n guns. Sy arrogante gat, man! Hy kan sy eie nuwe skoene gaan koop. Sy sien hoe hy deur die biesiemuur worstel en dan kan sy hom ook nie meer sien nie.

      Daar vlieg nie meer voëls uit die biesies nie, en Sheila het stil geraak. Die skielike vrede maak Belinda so effe senuweeagtig. Nevermind die kat, die gedagte aan een van daardie voëls in Sheila se bek laat haar maag sommer heeltemal omkeer. Sy dink nou eers daaraan dat Velddrif mos ook ’n gewilde bestemming vir voëlkykers is. Voëlmoord op dié dorp gaan definitief nie ongesiens verbygaan nie.

      Sy sal maar die lendelam seehoof móét aandurf, net ingeval sy iets mis, of vir die man skree hoe om vir Sheila te probeer lok. Die houtlatte buig met kraakgeluide onder haar voete, maar sy slaag daarin om tot in die middel van die struktuur te stap. Verder gaan sy dit nie waag nie. Die res van die stellasie is in ’n baie swakker toestand as dié deel wat sy reeds oorgesteek het.

      Belinda hou haar hande bakkie om haar mond en roep nog een keer: “Sheila! Waar’s Ma se honne?”

      Sheila bars meteens bonsend deur die biesies tot op die modderbank langs die boot. Haar stert swaai opgewonde toe sy vir Belinda op die stellasie gewaar. Haar pote en bene is ook swart gesmeer van die klewerige dik modder.

      Die terugswem gaan nie so maklik wees nie, want dit beteken die hond sal stroomop moet swem. Netnou verdrink sy! Klara sal verpletter wees. O nee, asseblief tog nie.

      “Meneer, die hond is hier by die boot!” skree Belinda op haar hardste.

      En dan: “Bly net daar, Sheila. Klim in die boot!” So asof die hond sal verstaan wat sy sê.

      Sheila trippel onseker nader en sit haar voorpote in die vlak water.

      “Nee, Sheila. Bly!”

      Dan kom die man weer uit die biesies te voorskyn. Hy praat steeds met homself en sy gesigsuitdrukking lyk op dié afstand nog net so stroef soos vroeër. Hy lyk soos ’n onsmaaklike mens. ’n Regte ou suurknol.

      Die hond draf dadelik na die man en spring hom byna onderstebo van blydskap. Hy kyk vir haar, vryf haar kop vir ’n oomblik en mik boot toe. Hy hoef niks te sê nie. Die hond klim saam met hom in die bootjie. Wat ’n verligting!

      Die suurknol sukkel teen die stroom op, maar dit lyk tog darem of die boot stadig nader beweeg.

      Belinda oefen solank haar bedankingstoespraak. Dit gaan maar ’n aangeplakte affêre wees, gevolg deur ’n geveinsde glimlag. Maar hy sal met haar poging tevrede moet wees. Al bring hy haar hond nou na veiligheid, is sy steeds vies vir hom.

      Toe hy naby die seehoof kom, steek hy die spaan na haar toe uit.

      “Kom nader. Trek ons in,” beveel hy bot.

      Onbeskof! ’n Asseblief sou nogal nice gewees het, maar laat sy maar haar mond hou. Sy is immers bitter verleë en dankbaar dat hy vir Sheila gaan red het.

      Belinda tree versigtig vorentoe op die volgende kromgetrekte houtlat en steek haar hand na die roeiding toe uit. Hulle oë ontmoet toe sy die spaan in haar hande neem en die boot nader trek.

      Sy oë is ’n pragtige groen kleur. Dit het diepte. Die oë pas nie eintlik by die mens wat hy vroeër aan haar geopenbaar het nie. Hy’s ook nogal nie te lelik nie, noudat sy hom van naderby bekyk.

      Belinda glimlag verleë vir hom, maar sy gesig bly emosieloos.

      Sy begin ongemaklik voel en verskuif haar aandag na die taak op hande.

      Die bootjie glip met min moeite tot teen die seehoof, en Sheila spring sommer dadelik uit.

      Belinda gryp haar aan die halsband en klik die leiband se metaalgespe in plek. “Nee, Sheila! Staan anderkant toe. Jy’s vieslik!” Maar dit is klaar te laat. Die hond kom leun met haar modderbesmeerde lyf teen Belinda se skoon broek. Dan druk sy haar groot kop onder haar ounooi se hand in